Donderdag 28 Maart
Tot stof sal jy terugkeer. – Gen. 3:19.
Ons wil beslis nie dieselfde fout maak wat Adam en Eva gemaak het nie. As ons nie daardie selfde fout wil maak nie, moet ons aanhou om meer oor Jehovah te leer, sy eienskappe waardeer en probeer verstaan hoe hy dink. As ons dit doen, sal ons liefde vir Jehovah beslis sterker word. Dink aan Abraham. Hy was baie lief vir Jehovah. Selfs wanneer dit vir hom moeilik was om Jehovah se besluite te verstaan, het hy nie daarteen gerebelleer nie. Hy het eerder probeer om Jehovah beter te leer ken. Byvoorbeeld, toe Abraham uitgevind het dat Jehovah Sodom en Gomorra wou vernietig, was hy eers bang dat “die Regter van die hele aarde” die regverdiges saam met die goddeloses sou vernietig. Dit het nie vir Abraham sin gemaak nie, en daarom het hy Jehovah nederig ’n hele paar vrae gevra. Jehovah het hom geduldig geantwoord. Uiteindelik het Abraham besef dat Jehovah die harte van elke mens ondersoek en dat Hy nooit die onskuldige saam met die skuldige straf nie. – Gen. 18:20-32. w22.08 28 ¶9-10
Vrydag 29 Maart
Die betroubare persoon kan iets vertroulik hou. – Spr. 11:13.
In 455 VHJ, nadat goewerneur Nehemia die mure van Jerusalem herbou het, het hy gesoek na betroubare manne wat goed vir die stad sou sorg. Nehemia het Hananja as die hoof van die Vesting gekies. Die Bybel beskryf Hananja as “’n baie betroubare man [wat] die ware God meer gevrees [het] as baie ander mense” (Neh. 7:2). Liefde vir Jehovah en ’n vrees om hom seer te maak, het Hananja beweeg om enige toewysing wat hy gekry het, ernstig op te neem. Daardie eienskappe sal ons ook help om betroubaar te wees in ons diens aan God. Kyk na die voorbeeld van Tigikus, ’n betroubare vriend van die apostel Paulus. Paulus het op Tigikus staatgemaak en hom beskryf as ’n “getroue bedienaar” (Ef. 6:21, 22). Paulus het hom nie net vertrou om briewe vir die broers in Efese en Kolosse te neem nie, maar ook om hulle aan te moedig en te vertroos. Tigikus herinner ons aan die getroue, betroubare manne wat vandag na ons geestelike behoeftes omsien. – Kol. 4:7-9. w22.09 9-10 ¶5-6
Saterdag 30 Maart
Die liefde bedek baie sondes. – 1 Pet. 4:8.
Josef het baie moeilike dinge deurgemaak wat omtrent 13 jaar lank aangehou het. Josef kon gedink het dat Jehovah nie lief is vir hom nie. En hy kon gewonder het of Jehovah hom in sy tyd van nood verlaat het. Maar Josef het nie bitter geword nie. Hy het eerder helder van verstand gebly deur kalm te bly. Toe hy die kans gehad het om sy broers terug te kry, het hy dit nie gedoen nie, maar hy het eerder liefde aan hulle betoon en hulle vergewe (Gen. 45:4, 5). Josef het so opgetree omdat hy helder gedink het. Eerder as om op sy probleme te fokus, het hy die groter prentjie gesien – wat Jehovah wou hê (Gen. 50:19-21). Wat is die les? As jy sleg behandel word, moenie verbitterd word teenoor Jehovah of wonder of hy jou verlaat het nie. Dink eerder na oor hoe hy jou help om die probleem te verduur. En wanneer ander jou sleg behandel, moet jy probeer om hulle onvolmaakthede met liefde te bedek. w22.11 21 ¶4