Is onfeilbare liefde moontlik?
“Die gloed [van die liefde] is die gloed van ’n vuur, die vlam van Jah.”—HOOGL. 8:6.
1, 2. Wie kan baat vind by ’n noukeurige ondersoek van die Hooglied van Salomo, en waarom? (Sien prent aan begin van artikel.)
‘KYK hoe liefdevol kyk hulle na mekaar en hoe teer hou hulle mekaar vas! Hulle is beslis baie lief vir mekaar!’ Dit is wat deur die ouer man se gedagtes gaan wat die paartjie so pas getrou het. Terwyl die pasgetroudes by die onthaal grasieus oor die dansvloer beweeg, kan hy nie anders as om te wonder nie: ‘Sal hulle huwelik hou? Sal hulle liefde met verloop van tyd sterker word of sal dit vervaag?’ Wanneer die liefde tussen ’n man en ’n vrou onwankelbaar en blywend is, is dit werklik iets moois. Maar omdat so baie huwelike verbrokkel, is dit nie onredelik om te wonder of blywende liefde werklik moontlik is nie.
2 Ware liefde was selfs in die dae van koning Salomo van eertydse Israel iets seldsaams. Salomo het oor die sedelike klimaat van sy dag geskryf: “Een regskape man uit duisend het ek gevind, maar ’n vrou het ek onder hulle almal nie gevind nie. Kyk! Net dít het ek gevind, dat die ware God die mensdom regskape gemaak het, maar hulle het baie planne bedink” (Pred. 7:26-29, vtn. in NW). Die invloed van uitlandse vroue wat Baälaanbidding beoefen het, het grootliks daartoe bygedra dat sedelike standaarde in Salomo se dag so laag gedaal het dat dit vir hom moeilik was om ’n man of ’n vrou met goeie sedes te vind.a Maar die gedig wat hy sowat 20 jaar vroeër geskryf het, die Hooglied van Salomo, toon dat daar wel blywende liefde tussen ’n man en ’n vrou kan wees. Dit beeld ook op ’n treffende manier uit wat hierdie liefde is en hoe dit getoon word. Getroude sowel as ongetroude aanbidders van Jehovah kan baie oor hierdie liefde leer as hulle hierdie Bybelboek noukeurig ondersoek.
WARE LIEFDE IS MOONTLIK!
3. Waarom is ware liefde tussen ’n man en ’n vrou moontlik?
3 Lees Hooglied 8:6. Die uitdrukking “die vlam van Jah” wat gebruik word om liefde te beskryf, spreek boekdele. Ware liefde is “die vlam van Jah” in die sin dat Jehovah die Oorsprong van sulke liefde is. Hy het die mens na sy beeld geskep met die vermoë om lief te hê (Gen. 1:26, 27). Toe God die eerste vrou, Eva, na die eerste man, Adam, gebring het, het Adam sy gevoelens in digterlike taal uitgespreek. En Eva het ongetwyfeld na aan Adam gevoel, die man “uit [wie sy] geneem” is (Gen. 2:21-23). Aangesien Jehovah mense die vermoë gegee het om liefde te betoon, is dit vir ’n man en ’n vrou moontlik om onwankelbare en onfeilbare liefde vir mekaar te hê.
4, 5. Vertel kortliks die verhaal van die Hooglied van Salomo.
4 Die liefde tussen ’n man en ’n vrou het ook ander kenmerke buiten dat dit onwankelbaar en blywend kan wees. Party van hierdie kenmerke word pragtig beskryf in die Hooglied van Salomo. Dit is as ’n lied geskryf wat vergelyk kan word met die teks van ’n opera, en dit vertel die verhaal van die liefde tussen ’n jong vrou van die dorpie Sunem, of Sulem, en haar geliefde herder. Omdat die meisie se skoonheid Salomo beïndruk het, word sy in sy kamp ingebring, wat naby die wingerde is wat sy bewaak. Maar dit is van die begin af duidelik dat sy lief is vir die herder. Terwyl Salomo haar liefde probeer wen, maak die meisie geen geheim daarvan dat sy graag by haar beminde wil wees nie (Hoogl. 1:4-14). Die herder gaan in die kamp in, en wanneer hy haar vind, druk hulle hulle liefde vir mekaar met pragtige woorde uit.—Hoogl. 1:15-17.
5 Salomo keer terug na Jerusalem en neem die jong vrou saam met hom; die herder volg haar (Hoogl. 4:1-5, 8, 9). Al Salomo se pogings om die meisie se liefde te wen, is tevergeefs (Hoogl. 6:4-7; 7:1-10). Uiteindelik laat die koning haar toe om terug te keer huis toe. Die lied sluit af met die meisie se versoek dat haar geliefde so vinnig “soos ’n jong takbok” na haar toe moet kom.—Hoogl. 8:14.
6. Waarom is dit moeilik om die karakters in die drama te identifiseer?
6 Hoewel hierdie betekenisvolle en pragtige lied Salomo se “voortreflikste lied” genoem word, is dit nie maklik om vas te stel wie die sprekers is in die dialoë, alleensprake en drome nie (Hoogl. 1:1). Volgens The New Interpreter’s Dictionary of the Bible is dinge soos “die storielyn, verhaalontwikkeling en karakteridentifisering nie werklik van die grootste belang nie”. Die name van die karakters is moontlik uitgelaat om nie die aandag af te trek van die liriese en digterlike styl van die lied nie. Maar dit is moontlik om vas te stel wie aan die woord is as ons let op wat hulle sê of wat vir hulle gesê word.b
“JOU LIEFDESBLYKE IS BETER AS WYN”
7, 8. Wat kan gesê word oor die “liefdesblyke” in die Hooglied van Salomo? Gee voorbeelde.
7 Die Hooglied van Salomo is propvol “liefdesblyke” wat die jong vrou en die herder teenoor mekaar uitspreek. Die liefdesblyke klink vandag dalk vreemd vir lesers omdat die drama sowat 3 000 jaar gelede in die Ooste afgespeel het, maar dit is ryk aan betekenis, en die gevoelens wat daardeur oorgedra word, is nie vir ons vreemd nie. Die herder komplimenteer byvoorbeeld die meisie se sagte en liefdevolle oë deur dit te vergelyk met “dié van duiwe” (Hoogl. 1:15). Sy vergelyk nie sy oë met dié van duiwe nie, maar met duiwe self. (Lees Hooglied 5:12.) Die donker iris wat deur wit omring is, was vir haar so mooi soos ’n duif wat in melk bad.
8 Nie al die liefdesblyke in die lied vestig die aandag op fisiese skoonheid nie. Kyk byvoorbeeld wat die herder sê oor die jong vrou se spraak. (Lees Hooglied 4:7, 11.) Hy sê dat haar lippe “drup van heuningstroop”. Waarom? Omdat heuningstroop soeter en geuriger is as heuning wat aan lug blootgestel is. “Heuning en melk is onder [haar] tong”, wat beteken dat haar spraak, soos heuning en melk, aangenaam en goed is. Wanneer die herder vir die meisie sê: “Jy is in alle opsigte pragtig . . . en jy is sonder gebrek”, is dit duidelik dat hy nie net na haar fisiese skoonheid verwys nie.
9. (a) Wat behels die liefde tussen huweliksmaats? (b) Waarom is dit belangrik dat huweliksmaats mekaar van hulle liefde verseker?
9 Die huweliksreëling is nie net ’n kontrak of ’n formele ooreenkoms waarin liefde en geneentheid nie ’n rol speel nie. Trouens, ’n Christenhuwelik word deur liefde gekenmerk. Maar deur watter soort liefde? Is dit liefde wat deur Bybelbeginsels gerig word? (1 Joh. 4:8). Behels dit natuurlike geneentheid—die soort wat gesinslede vir mekaar het? Verwys hierdie liefde na hartlike en tere gehegtheid, soos die gehegtheid wat tussen ware vriende voorkom? (Joh. 11:3). Is dit romantiese liefde? (Spr. 5:15-20). Om die waarheid te sê, die ware en blywende liefde tussen huweliksmaats sluit dit alles in. Huweliksmaats moet hulle liefde vir mekaar deur hulle woorde en dade toon. Hoe belangrik is dit tog dat huweliksmaats nie toelaat dat ’n besige rooster hulle beroof van geleenthede om dit te doen nie! Liefdesblyke kan grootliks bydra tot die geluk en die gevoel van geborgenheid in ’n huwelik. In kulture waar huwelike dikwels gereël word, ken die man en vrou mekaar skaars voor hulle troudag. Namate hulle mekaar leer ken en hulle liefde vir mekaar toeneem, moet hulle mekaar van hulle liefde verseker. Dit sal hulle nader aan mekaar bring en hulle huwelik versterk.
10. Watter uitwerking kan herinneringe aan liefdesblyke hê?
10 Liefdesblyke tussen huweliksmaats versterk ’n huwelik op nog ’n manier. Koning Salomo wou vir die Sulammitiese meisie “goue ringe . . . maak, tesame met silwerknoppies”. Hy het haar oorlaai met komplimente en gesê dat sy “pragtig [is] soos die volmaan, rein soos die gloeiende son” (Hoogl. 1:9-11; 6:10). Maar die jong vrou het lojaal gebly aan haar geliefde herder. Wat het haar versterk en vertroos toe hulle nie bymekaar was nie? Sy vertel ons. (Lees Hooglied 1:2, 3.) Dit was die herinneringe aan die herder se “liefdesblyke”. Vir haar was dit “beter as wyn” wat die hart vrolik maak, en sy naam was so strelend soos wanneer welriekende “olie [op ’n mens se kop] uitgegiet” word (Ps. 23:5; 104:15). Ja, aangename herinneringe aan liefdesblyke kan die liefde tussen ’n man en ’n vrou versterk. Hoe belangrik is dit tog dat huweliksmaats mekaar dikwels van hulle liefde verseker!
MOENIE DIE LIEFDE WAKKER MAAK “VOORDAT DIT DAARTOE GENEIG VOEL NIE”
11. Wat kan ongetroude Christene leer uit die Sulammitiese meisie se versoek dat ander nie die liefde in haar probeer wakker maak nie?
11 Die Hooglied van Salomo bevat ook lesse vir ongetroude Christene, veral vir diegene wat ’n huweliksmaat soek. Die jong vrou was nie lief vir Salomo nie. Sy het die dogters van Jerusalem onder eed gestel en gesê: “[Moenie] die liefde in my probeer wakker maak of opwek voordat dit daartoe geneig voel nie” (Hoogl. 2:7; 3:5). Waarom nie? Omdat dit eenvoudig nie gepas is om romantiese gevoelens vir sommer enigiemand te ontwikkel nie. Dit is dus verstandig as ’n Christen wat graag wil trou, geduldig wag vir iemand wat hy of sy waarlik kan liefhê.
12. Waarom was die Sulammitiese meisie lief vir die herder?
12 Waarom was die Sulammitiese meisie lief vir die herder? Hy was wel aantreklik, “soos ’n gasel of ’n jong takbok”; sy hande was so sterk soos “goue silinders”; en sy bene was so mooi en sterk soos “marmerpilare”. Maar hy was nie net sterk en aantreklik nie. “Soos ’n appelboom onder die bome van die woud” was haar “beminde onder die seuns”. ’n Meisie wat getrou was aan Jehovah, sou slegs so gevoel het oor ’n geestelikgesinde man.—Hoogl. 2:3, 9; 5:14, 15.
13. Waarom was die herder lief vir die jong vrou?
13 Wat van die Sulammitiese meisie? Al was sy mooi genoeg om die aandag te trek van ’n koning wat op daardie stadium “sestig koninginne en tagtig byvrouens en meisies sonder tal” gehad het, het sy haarself beskou as “net ’n saffraan van die kusvlakte”—’n doodgewone blom. Die meisie was besonder beskeie en nederig. Geen wonder dat sy “soos ’n lelie tussen doringrige onkruid” was nie, allesbehalwe doodgewoon vir die herder! Sy was getrou aan Jehovah.—Hoogl. 2:1, 2; 6:8.
14. Wat leer Christene wat wil trou, uit die liefde wat in die Hooglied van Salomo uitgebeeld word?
14 In die Bybel word Christene streng vermaan om “net in die Here” te trou (1 Kor. 7:39). ’n Christen wat wil trou, knoop nie romantiese verhoudings met ongelowiges aan nie en soek net onder lojale aanbidders van Jehovah na ’n huweliksmaat. Wat meer is, om ondanks die stres van die lewe vrede in ’n huwelik te behou en geestelik sterk te bly, moet ’n man en ’n vrou geloof in God hê en toegewyd aan hom wees—noodsaaklike eienskappe waarna ’n mens in ’n toekomstige huweliksmaat moet soek. Dit is die eienskappe wat die herder en die jong vrou in mekaar gesien het.
MY BRUID IS “’N GESLOTE TUIN”
15. Hoe is die Sulammitiese meisie ’n voorbeeld vir ’n godvresende man en vrou wat mekaar die hof maak?
15 Lees Hooglied 4:12. Waarom beskryf die herder sy beminde as “’n geslote tuin”? ’n Ommuurde of omheinde tuin is nie oop vir die publiek nie. Net iemand wat die hek se sleutel het, kan toegang daartoe verkry. Die Sulammitiese meisie is soos daardie tuin omdat sy haar geneentheid beperk het tot haar toekomstige man—die herder. Sy het nie toegelaat dat die koning haar verlok nie en het so bewys dat sy soos “’n muur” is en nie soos “’n deur”, wat wyd oopswaai nie (Hoogl. 8:8-10). Net so beperk ’n godvresende man en vrou wat mekaar die hof maak, hulle liefde en geneentheid tot mekaar.
16. Wat kan ons uit die Hooglied van Salomo leer omtrent hofmakery?
16 Toe die herder die Sulammitiese meisie gevra het om op ’n lentedag saam met hom te gaan stap, het haar broers haar nie toegelaat om te gaan nie. Hulle het haar eerder die werk gegee om die wingerde te bewaak. Waarom? Het hulle haar nie vertrou nie? Het hulle dalk gedink dat sy onsedelike bedoelings het? Nee, hulle het in werklikheid voorsorgmaatreëls getref sodat hulle suster nie in ’n situasie sou beland wat tot versoeking kon lei nie (Hoogl. 1:6; 2:10-15). Die les is dus: Gedurende hofmakery moet paartjies die nodige voorsorgmaatreëls tref om hulle verhouding kuis te hou. Hulle moet afgesonderde plekke vermy, en hoewel rein liefdesblyke gepas is, moet hulle situasies vermy wat hulle in die versoeking kan bring.
17, 18. Hoe het jy baat gevind by hierdie bespreking van die Hooglied van Salomo?
17 Christenegpare begin gewoonlik hulle getroude lewe met baie liefde en geneentheid vir mekaar. Aangesien die huweliksreëling wat deur Jehovah ingestel is, ’n permanente reëling is, is dit noodsaaklik dat egpare daarna streef om hulle liefde lewendig te hou en om ’n atmosfeer te skep waarin liefde kan toeneem.—Mark. 10:6-9.
18 Wanneer jy ’n huweliksmaat soek, wil jy iemand vind vir wie jy waarlik lief kan wees en dan daardie liefde sterk en onuitblusbaar maak, soos die Hooglied van Salomo toon. Hetsy jy ’n huweliksmaat soek of reeds getroud is, mag jy ware liefde—“die vlam van Jah”—ondervind.—Hoogl. 8:6.
b Sien bladsye 926-927 in die New World Translation vir ’n uiteensetting van die inhoud van die Hooglied van Salomo.