-
Die onvrugbare vrou is blyJesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
-
-
Die identiteit van die “vrou”
3. Waarom sal die onvrugbare vrou rede tot vreugde hê?
3 Hoofstuk 54 begin op ’n blye noot: “‘Roep met vreugde uit, onvrugbare vrou wat nie geboorte gegee het nie! Word vrolik met vreugdegeroep en juig, jy wat geen geboortepyne gehad het nie, want die kinders van die verlate vrou is talryker as die kinders van die vrou met ’n eggenoot-eienaar’, het Jehovah gesê” (Jesaja 54:1). Hoe bly moet Jesaja tog wees om hierdie woorde te kan uitspreek! En hoe vertroostend sal die vervulling daarvan tog wees vir die Jode wat in ballingskap in Babilon is! Jerusalem sal op daardie tyd nog woes lê. Uit ’n menslike standpunt sal daar skynbaar geen hoop wees dat die stad ooit weer bevolk sal word nie, net soos ’n onvrugbare vrou gewoonlik nie kan hoop om op haar oudag kinders te baar nie. Maar ’n groot seëning lê vir hierdie “vrou” voor—sy sal vrugbaar word. Jerusalem sal oorloop van vreugde. Sy sal weer wemel van “kinders”, of inwoners.
4. (a) Hoe help die apostel Paulus ons om te sien dat Jesaja hoofstuk 54 ’n groter vervulling as die een in 537 v.G.J. moet hê? (b) Wat is die “Jerusalem daar bo”?
4 Jesaja weet dit dalk nie, maar sy profesie sal meer as een vervulling hê. Die apostel Paulus haal uit Jesaja hoofstuk 54 aan en verduidelik dat die “vrou” iets beteken wat baie belangriker is as die aardse stad Jerusalem. Hy skryf: “Die Jerusalem daar bo is vry, en sy is ons moeder” (Galasiërs 4:26). Wat is hierdie “Jerusalem daar bo”? Klaarblyklik nie die stad Jerusalem in die Beloofde Land nie. Daardie stad is ’n aardse stad, nie “daar bo” in die hemelse ryk nie. Die “Jerusalem daar bo” is God se hemelse “vrou”, sy organisasie van magtige geesskepsele.
5. Wie word, in die simboliese drama wat in Galasiërs 4:22-31 geskets word, afgebeeld deur (a) Abraham? (b) Sara? (c) Isak? (d) Hagar? (e) Ismael?
5 Maar hoe kan Jehovah twee simboliese vrouens hê—een in die hemel en een op aarde? Is dit ’n teenstrydigheid? Glad nie. Die apostel Paulus toon dat die antwoord in die profetiese afbeelding lê wat deur Abraham se familie voorsien is (Galasiërs 4:22-31; sien “Abraham se familie—’n profetiese afbeelding”, op bladsy 218). Sara, “die vry vrou” en Abraham se vrou, beeld Jehovah se gemalinorganisasie van geesskepsele af. Hagar, ’n slavin en Abraham se sekondêre vrou, of byvrou, beeld die aardse Jerusalem af.
6.In watter opsig was God se hemelse organisasie lank onvrugbaar?
6 Met hierdie agtergrond kan ons die groot betekenis van Jesaja 54:1 begin sien. Ná dekades van onvrugbaarheid het Sara aan Isak geboorte gegee toe sy 90 jaar oud was. So ook was Jehovah se hemelse organisasie lank onvrugbaar. Destyds in Eden het Jehovah belowe dat sy “vrou” die “saad” sou voortbring (Genesis 3:15). Meer as 2000 jaar later het Jehovah sy verbond oor die Saad van die belofte met Abraham gesluit. Maar God se hemelse “vrou” moes nog eeue lank wag voordat sy daardie Saad kon voortbring. Nogtans het die tyd aangebreek dat die kinders van hierdie eens “onvrugbare vrou” meer as dié van vleeslike Israel was. Die illustrasie van die “onvrugbare vrou” help ons om te sien waarom die engele so gretig was om die koms van die voorspelde Saad te sien (1 Petrus 1:12). Wanneer het dit uiteindelik plaasgevind?
7. Wanneer het die “Jerusalem daar bo” rede tot vreugde gehad, soos in Jesaja 54:1 voorspel is, en waarom sê jy so?
7 Jesus se geboorte as ’n menslike kind was beslis vir die engele ’n rede tot groot vreugde (Lukas 2:9-14). Maar dit was nie die gebeurtenis wat in Jesaja 54:1 voorspel is nie. Eers toe Jesus in 29 G.J. met heilige gees verwek is, het hy ’n geestelike seun van die “Jerusalem daar bo” geword en is hy in die openbaar deur God self as sy “Seun, die geliefde” erken (Markus 1:10, 11; Hebreërs 1:5; 5:4, 5). Tóé het God se hemelse “vrou” rede tot vreugde gehad, ter vervulling van Jesaja 54:1. Uiteindelik het sy die beloofde Saad, die Messias, voortgebring! Haar eeue lange onvrugbaarheid was verby. Maar dit is nie al waaroor sy vreugdevol sou wees nie.
Baie kinders vir die onvrugbare vrou
8. Waarom het God se hemelse “vrou” rede tot vreugde gehad nadat sy die beloofde Saad voortgebring het?
8 Ná Jesus se dood en opstanding het God se hemelse “vrou” hierdie geliefde Seun met vreugde as “die eersgeborene uit die dode” terugontvang (Kolossense 1:18). Toe het sy nog meer geestelike kinders begin voortbring. Op Pinkster 33 G.J. is omtrent 120 van Jesus se volgelinge met heilige gees gesalf, waardeur hulle as Christus se mede-erfgename aangeneem is. Later daardie dag is nog 3 000 bygevoeg (Johannes 1:12; Handelinge 1:13-15; 2:1-4, 41; Romeine 8:14-16). Hierdie groep kinders het aangehou om toe te neem. Gedurende die vroeë eeue van die Christendom se afvalligheid het die momentum van die groei drasties afgeneem. Maar dit sou in die 20ste eeu verander.
-
-
Die onvrugbare vrou is blyJesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
-
-
[Prent op bladsy 220]
Ná Jesus se doop is hy met heilige gees gesalf en het die belangrikste vervulling van Jesaja 54:1 begin
-