Hoofstuk vyf
Jehovah verneder dié wat hulleself verhef
1, 2. Waarom is Jesaja se profetiese boodskap aan die Jode van sy dag vir ons van belang?
VIR die profeet Jesaja is die toestand van Jerusalem en Juda afstootlik, en hy wend hom nou tot Jehovah God en sê: “U het u volk verstoot, die huis van Jakob” (Jesaja 2:6a). Wat het daartoe gelei dat God die volk verwerp het wat hy self as sy “spesiale eiendom” gekies het?—Deuteronomium 14:2.
2 Jesaja se veroordeling van die Jode van sy tyd is vir ons van groot belang. Waarom? Want die toestand van die Christendom is vandag baie soortgelyk aan dié van Jesaja se volk, en so ook die oordeel wat Jehovah uitspreek. As ons op Jesaja se verklaring ag slaan, sal ons duidelik verstaan wat God veroordeel en sal dit ons help om gebruike wat hom mishaag te vermy. Kom ons skenk dus noukeurig aandag aan Jehovah se profetiese woord, soos dit in Jesaja 2:6–4:1 opgeteken staan.
In trots buig hulle hulle neer
3. Watter sonde van sy volk bely Jesaja?
3 Jesaja bely die sonde van sy volk en sê: “Hulle het vol geword van wat uit die Ooste kom, en hulle is beoefenaars van die toorkuns soos die Filistyne, en dit wemel by hulle van die kinders van uitlanders” (Jesaja 2:6b). Sowat 800 jaar vroeër het Jehovah sy uitverkore volk beveel: ‘Julle moet julle nie deur enige van hierdie dinge onrein maak waardeur die nasies wat ek voor julle wegstuur hulle onrein gemaak het nie’ (Levitikus 18:24). Aangaande diegene wat hy as sy spesiale eiendom gekies het, het Jehovah Bileam gedwing om te sê: “Van die top van die rotse af sien ek hulle, en van die heuwels af aanskou ek hulle. Kyk, as ’n volk bly hulle afgesonderd woon, en onder die nasies reken hulle hulleself nie” (Numeri 23:9, 12). Maar teen Jesaja se dag het Jehovah se uitverkore volk die afskuwelike gebruike van die omliggende nasies aangeneem en is hulle ‘vol van wat uit die Ooste kom’. Pleks van geloof in Jehovah en sy woord te stel, beoefen hulle “toorkuns soos die Filistyne”. In plaas van hulle van die nasies afgesonder te hou, “wemel” die land van “die kinders van uitlanders”—ongetwyfeld uitlanders by wie God se volk goddelose gebruike leer.
4. Hoe laat rykdom en militêre mag die Jode optree, in plaas van Jehovah te dank?
4 Die destydse ekonomiese welvaart en die militêre mag van Juda onder koning Ussia laat Jesaja sê: “Hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen einde aan hulle skatte nie. En hulle land is vol perde, en daar is geen einde aan hulle strydwaens nie” (Jesaja 2:7). Dank die volk Jehovah vir hierdie rykdom en militêre mag? (2 Kronieke 26:1, 6-15). Glad nie! Hulle vertrou eerder op die rykdom self, en hulle keer hulle rug op die Bron daarvan, Jehovah God. Die resultaat? “Hulle land is vol waardelose gode. Voor die werk van hulle hande buig hulle hulle neer, voor wat hulle vingers gemaak het. En die aardse mens buig hom neer en die man verlaag hom, en u kan hulle onmoontlik vergewe” (Jesaja 2:8, 9). Hulle draai hulle gesig weg van die lewende God en hulle buig hulle voor lewelose afgode neer.
5. Waarom is dit nie ’n daad van nederigheid om jou voor afgode neer te buig nie?
5 Om jou neer te buig, kan ’n teken van nederigheid wees. Maar om voor lewelose dinge neer te buig, is tevergeefs en “verlaag” die afgodedienaar. Hoe kan Jehovah so ’n sonde vergewe? Wat sal hierdie afgodedienaars doen wanneer Jehovah hulle tot verantwoording roep?
‘Hoogmoedige oë moet verlaag word’
6, 7. (a) Wat gebeur op die dag van Jehovah se oordeel met dié wat hulleself verhef? (b) Oor wat en wie gee Jehovah uiting aan sy toorn, en waarom?
6 Jesaja gaan voort: “Gaan in die rots in en kruip in die grond weg weens die verskrikking van Jehovah en vir sy luisterryke verhewenheid” (Jesaja 2:10). Maar geen rots sal groot genoeg wees om hulle te beskerm nie, geen bedekking sal dik genoeg wees om hulle vir Jehovah, die Almagtige, te verberg nie. Wanneer hy kom om sy oordeel te voltrek, sal “die hoogmoedige oë van die mens . . . verlaag word, en die verwaandheid van die manne sal neergebuig word; en Jehovah alleen sal in dié dag hoog verhef word.”—Jesaja 2:11.
7 “Die dag wat aan Jehovah van die leërs behoort”, kom nader. Dit sal ’n tyd wees wanneer God uiting gee aan sy toorn “oor al die seders van die Libanon wat hoog en verhewe is en oor al die yslike bome van Basan; en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels; en oor elke hoë toring en oor elke versterkte muur; en oor al die skepe van Tarsis en oor al die begeerlike bote” (Jesaja 2:12-16). Ja, daar sal op die dag van Jehovah se gramskap aandag gegee word aan elke organisasie wat die mens as ’n simbool van sy trots opgerig het sowel as aan elke goddelose persoon. Daarom sal “die hoogmoed van die mens . . . neergebuig word, en die verwaandheid van die manne sal verlaag word; en Jehovah alleen sal in dié dag hoog verhef word”.—Jesaja 2:17.
8. Hoe kom die voorspelde oordeelsdag in 607 v.G.J. oor Jerusalem?
8 Die voorspelde oordeelsdag kom in 607 v.G.J. oor die Jode wanneer die Babiloniese koning Nebukadnesar Jerusalem vernietig. Die inwoners daarvan sien hoe hulle geliefde stad in vlamme opgaan; sy trotse geboue is afgebreek, sy groot muur vernietig. Die tempel van Jehovah lê in puin. Nie hulle skatte of hulle strydwaens is van enige nut op “die dag wat aan Jehovah van die leërs behoort” nie. En hulle afgode? Dit vind plaas net soos Jesaja voorspel: “Die waardelose gode sal heeltemal verdwyn” (Jesaja 2:18). Die Jode—die vorste sowel as die sterk manne—word in ballingskap na Babilon weggevoer. Jerusalem gaan 70 jaar lank woes lê.
9. Hoe is die toestand van die Christendom soortgelyk aan dié van Jerusalem en Juda in Jesaja se dag?
9 Hoe kom die toestand van die Christendom tog ooreen met dié van Jerusalem en Juda in Jesaja se dag! Die Christendom het beslis ’n hegte verhouding met die nasies van hierdie wêreld aangekweek. Hulle is geesdriftige ondersteuners van die Verenigde Nasies en het hulle huis met afgode en onskriftuurlike gebruike gevul. Hulle lidmate is materialisties en stel hulle vertroue in militêre mag. En gee hulle nie aan hulle geestelikes titels en eerbewyse omdat hulle hulle as uiters eerbiedwaardig beskou nie? Die Christendom se selfverheffing sal beslis tot ’n einde gebring word. Maar wanneer?
Die naderende “dag van Jehovah”
10. Na watter “dag van Jehovah” wys die apostels Paulus en Petrus?
10 Die Skrif praat van ’n “dag van Jehovah” wat van baie groter belang sal wees as die oordeelsdag oor die eertydse Jerusalem en Juda. Die apostel Paulus het die komende “dag van Jehovah” onder inspirasie met die teenwoordigheid van die gekroonde Koning, Jesus Christus, geassosieer (2 Tessalonisense 2:1, 2). Petrus het daardie dag in verband gebring met die skepping van ‘nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin regverdigheid sal woon’ (2 Petrus 3:10-13). Dit is die dag waarop Jehovah sy oordeel aan die hele goddelose stelsel van dinge, wat die Christendom insluit, gaan voltrek.
11. (a) Wie sal “standhou” onder die komende “dag van Jehovah”? (b) Hoe kan ons Jehovah ons toevlug maak?
11 “Ag, die dag”, sê die profeet Joël, “want die dag van Jehovah is naby, en soos ’n plundering van die Almagtige sal dit kom!” Aangesien daardie “dag” so naby is, behoort veiligheid dan nie vir almal gedurende daardie vreesinboesemende tyd van belang te wees nie? “Wie kan daaronder standhou?” vra Joël. Hy antwoord: “Jehovah sal ’n toevlug vir sy volk wees” (Joël 1:15; 2:11; 3:16). Sal Jehovah God ’n toevlug wees vir diegene wat ’n hoogmoedige gees het en wat hulle vertroue in rykdom, militêre mag en mensgemaakte gode stel? Onmoontlik! God het selfs sy uitverkore volk verwerp toe hulle so opgetree het. Hoe noodsaaklik is dit tog dat al God se knegte ‘regverdigheid en sagmoedigheid soek’ en dat hulle ernstig aandag gee aan die belangrikheid van Jehovah se aanbidding in hulle lewe!—Sefanja 2:2, 3.
“Vir die skeerbekmuise en vir die vlermuise”
12, 13. Waarom is dit gepas dat die afgodedienaars hulle gode op die dag van Jehovah “vir die skeerbekmuise en vir die vlermuise” gooi?
12 Hoe sal afgodedienaars hulle afgode gedurende Jehovah se groot dag beskou? Jesaja antwoord: “Mense sal in die grotte van die rotse en in die gate van die grond ingaan weens die verskrikking van Jehovah en weg van sy luisterryke verhewenheid af, wanneer hy opstaan om die aarde te laat bewe. In dié dag sal die mens sy waardelose gode van silwer en sy waardelose gode van goud . . . vir die skeerbekmuise en vir die vlermuise gooi, om in die holtes van die rotse en in die skeure van die kranse in te gaan, weens die verskrikking van Jehovah en weg van sy luisterryke verhewenheid af, wanneer hy opstaan om die aarde te laat bewe. Bly om julle eie ontwil weg van die mens wie se asem in sy neusgate is, want op grond waarvan moet hy in aanmerking geneem word?”—Jesaja 2:19-22.
13 Skeerbekmuise woon in gate in die grond, en vlermuise slaap in donker en verlate grotte. Daarbenewens stink dit verskriklik en is daar ’n dik laag mis waar ’n groot aantal vlermuise slaap. Dit is gepas om afgode in sulke plekke in te gooi. ’n Plek van duisternis en onreinheid is al wat hulle verdien. Wat die volk betref, hulle sal op die dag van Jehovah se oordeel skuiling soek in grotte en klowe in die kranse. So sal die lot van die afgode en hulle aanbidders dieselfde wees. Soos Jesaja se profesie gesê het, het lewelose afgode nie hulle aanbidders of Jerusalem in 607 v.G.J. uit Nebukadnesar se hande gered nie.
14. Wat sal wêreldsgesinde mense doen gedurende die komende dag van Jehovah se oordeel oor die wêreldryk van valse godsdiens?
14 Wat sal mense doen gedurende die komende dag van Jehovah se oordeel oor die Christendom en ander dele van die wêreldryk van valse godsdiens? Aangesien hulle wêreldwyd verslegtende toestande in die gesig staar, sal die meeste mense waarskynlik tot die besef kom dat hulle afgode waardeloos is. Hulle sal heel moontlik dan by niegeestelike, wêreldse organisasies toevlug en beskerming soek, moontlik ook by die Verenigde Nasies, die “skarlakenkleurige wilde dier” van Openbaring hoofstuk 17. Dit is “die tien horings” van daardie simboliese wilde dier wat Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, waarvan die Christendom ’n vername deel is, sal vernietig.—Openbaring 17:3, 8-12, 16, 17.
15. Hoe sal Jehovah alleen op sy oordeelsdag “hoog verhef word”?
15 Hoewel dit hierdie simboliese tien horings is wat Babilon die Grote vernietig en verbrand, is dit in werklikheid die voltrekking van Jehovah se oordeel. Openbaring 18:8 sê van Babilon die Grote: “Dit is waarom haar plae in een dag sal kom: dood en verdriet en hongersnood, en sy sal heeltemal met vuur verbrand word, want Jehovah God, wat haar geoordeel het, is sterk.” Jehovah God, die Almagtige, kry dus die eer vir die bevryding van die mensdom van oorheersing deur valse godsdiens. Soos Jesaja sê: “Jehovah alleen moet in dié dag hoog verhef word. Want dit is die dag wat aan Jehovah van die leërs behoort.”—Jesaja 2:11b, 12a.
‘Leiers laat jou dwaal’
16. (a) Wat is die “steun en stut” van ’n mensegemeenskap? (b) Hoe sal Jesaja se volk ly as gevolg van die verwydering van die “steun en stut” van hulle gemeenskap?
16 Die mensegemeenskap sal slegs stabiel wees as dit ‘gesteun en gestut’ word—noodsaaklikhede soos voedsel en water, en nog belangriker, betroubare leiers wat die volk kan rig en orde in die gemeenskap kan handhaaf. Van eertydse Israel voorspel Jesaja egter: “Kyk! die ware Heer, Jehovah van die leërs, neem uit Jerusalem en uit Juda steun en stut weg, die hele steun van brood en die hele steun van water, die sterk man en die krygsman, die regter en die profeet, en die waarsêer en die bejaarde, die hoof oor vyftig en die hooggeagte en die raadgewer en die een wat bedrewe is in toorkunste en die ervare besweerder” (Jesaja 3:1-3). Blote seuns sal vorste word en sal op impulsiewe wyse regeer. Nie alleen sal die heersers die volk onderdruk nie, maar “die mense sal mekaar tiranniseer . . . Hulle sal teen mekaar uitvaar, die seun teen die ou man, en die geringgeagte teen die een wat geëer moet word” (Jesaja 3:4, 5). Kinders ‘vaar uit teen’ ouer persone sonder enige respek. Die toestande sal so sleg wees dat die een mens vir ’n ander wat glad nie bevoeg is om ’n heerser te wees nie, sal sê: “Jy het ’n mantel. ’n Diktator behoort jy vir ons te word, en hierdie onvergewerpte hoop moet onder jou hand wees” (Jesaja 3:6). Maar diegene wat só genooi word, sal weier en volhou dat hulle nie die vermoë het om die beskadigde land te genees of ryk genoeg is om die verantwoordelikheid te aanvaar nie. Hulle sal sê: “Ek sal nie ’n wondverbinder word nie; en in my huis is daar geen brood of mantel nie. Julle moet my nie as diktator oor die volk aanstel nie.”—Jesaja 3:7.
17. (a) In watter sin was die sonde van Jerusalem en Juda “soos dié van Sodom”? (b) Vir wie blameer Jesaja vir die toestand van sy volk?
17 Jesaja gaan voort: “Jerusalem het gestruikel, en Juda het geval, omdat hulle tong en hulle handelinge teen Jehovah is, deurdat hulle hulle opstandig gedra in die oë van sy heerlikheid. Die uitdrukking van hulle gesigte getuig teen hulle, en van hulle sonde soos dié van Sodom vertel hulle. Hulle het dit nie weggesteek nie. Wee hulle siel! Want hulle het rampspoed oor hulleself gebring” (Jesaja 3:8, 9). God se volk het in woord en daad teen die ware God in opstand gekom. Selfs die skaamtelose en onberouvolle uitdrukking op hulle gesig lê hulle sondes bloot, wat so gruwelik is soos dié van Sodom. Hulle is in ’n verbond met Jehovah God, maar hy sal nie sy standaarde vir hulle verander nie. “Sê dat dit goed sal gaan met die regverdige, want hulle sal die vrug van hulle handelinge eet. Wee die goddelose!—Rampspoed; want die behandeling wat deur sy hande gegee is, sal aan hom gegee word! Wat my volk betref, hulle taakgewers tree streng op, en vroue heers oor hulle. O my volk, dié wat jou lei, laat jou dwaal, en die weg van jou paaie het hulle verwar.”—Jesaja 3:10-12.
18. (a) Watter oordeel spreek Jehovah uit oor die oudstes en die vorste van Jesaja se dag? (b) Watter les leer ons uit Jehovah se veroordeling van die oudstes en vorste?
18 Jehovah ‘vel die vonnis’ en ‘tree in die gerig’ met die oudstes en die vorste in Juda: “Julle het die wingerd afgebrand. Wat van die geteisterde geroof is, is in julle huise. Wat bedoel julle daarmee dat julle my volk verbrysel en dat julle die geteisterdes verdruk?” (Jesaja 3:13-15). Pleks dat die leiers hulle vir die welsyn van die volk beywer, is hulle besig om die mense te bedrieg. Hulle misbruik hulle gesag deur hulleself te verryk en die armes en behoeftiges hulp te ontsê. Maar hierdie leiers moet aan Jehovah van die leërs verantwoording doen omdat hulle die geteisterdes onderdruk het. Wat ’n waarskuwing is dit tog vir diegene wat vandag verantwoordelike posisies beklee! Mag hulle altyd versigtig wees om nie hulle gesag te misbruik nie.
19. Aan watter onderdrukking en vervolging het die Christendom hulle skuldig gemaak?
19 Die Christendom—veral hulle geestelikes en vooraanstaande lidmate—het op bedrieglike wyse baie goed ingepalm wat eintlik aan die gewone mense moes behoort, wat deur hulle onderdruk is, en steeds onderdruk word. Hulle het ook God se volk geslaan, vervolg en mishandel en Jehovah se naam groot oneer aangedoen. Jehovah sal hulle beslis op sy tyd veroordeel.
“’n Brandmerk in plaas van skoonheid”
20. Waarom veroordeel Jehovah “die dogters van Sion”?
20 Nadat hy die oortreding van die leiers veroordeel het, vestig Jehovah sy aandag op die vroue van Sion, of Jerusalem. Dit is blykbaar in die mode onder “die dogters van Sion” om “voetkettinkies” te dra—klein kettinkies om hulle enkels wat melodieus klingel. Die vroue gee kort treetjies en loop “met trippelgang”, wat hulle as ’n elegante, vroulike manier van loop beskou. Maar wat is dan hiermee verkeerd? Dit is die gesindheid van hierdie vroue. Jehovah sê: “Omdat die dogters van Sion hoogmoedig geword het en hulle met uitgerekte nekke loop en met hulle oë lok” (Jesaja 3:16). Sulke hoogmoed sal beslis vergeld word.
21. Hoe raak Jehovah se veroordeling van Jerusalem die Joodse vroue?
21 Hierdie hoogmoedige “dogters van Sion” sal derhalwe alles verloor wanneer Jehovah se oordeel oor die land kom—selfs die skoonheid waarop hulle so trots is. Jehovah voorspel: “Jehovah [sal] die kroon van die kop van die dogters van Sion ook skurf maak, en Jehovah sal hulle voorkop ontbloot. In dié dag sal Jehovah die prag van die voetringe wegneem en die hoofbande en die maanvormige sierade, die oorbelle en die armbande en die sluiers, die hooftooisels en die voetkettinkies en die borsbande en die ‘huise van die siel’ [waarskynlik parfuumhouers] en die ornamentele suisskulpe [of gelukbringers], die vingerringe en die neusringe, die feesklere en die oorklere en die mantels en die beurse, en die handspieëls en die onderkledingstukke en die tulbande en die groot sluiers.” (Jesaja 3:17-23; sien voetnote in naslaanuitgawe.) Wat ’n tragiese ommekeer!
22. Wat verloor die vroue van Jerusalem buiten hulle ornamente?
22 Die profetiese boodskap sê verder: “In plaas van balsemolie sal daar net ’n mufreuk wees; en in plaas van ’n gordel ’n tou; en in plaas van ’n kunstige haarkapsel kaalhoofdigheid; en in plaas van ’n ryk kleed ’n omgording met saklinne; ’n brandmerk in plaas van skoonheid” (Jesaja 3:24). In 607 v.G.J. verval die trotse vroue van Jerusalem van rykdom tot armoede. Hulle verloor hulle vryheid en ontvang “’n brandmerk” van slawerny.
“Hy sal beslis uitgeskud word”
23. Wat sê Jehovah van Jerusalem?
23 Jehovah sê nou van die stad Jerusalem: “Jou manne sal deur die swaard val, en jou sterkte deur oorlog. En sy ingange sal moet treur en aan smart uiting moet gee, en hy sal beslis uitgeskud word. Hy sal op die grond gaan sit” (Jesaja 3:25, 26). Die manne van Jerusalem, selfs sy magtiges, sal sneuwel. Die stad sal met die grond gelykgemaak word. Vir “sy ingange” sal dit ’n tyd wees om ‘te treur en aan smart uiting te gee’. Jerusalem sal “uitgeskud” en woes gelê word.
24. Die verlies van manne deur die swaard het watter ernstige gevolge vir die vroue van Jerusalem?
24 Die verlies van manne deur die swaard sal ernstige gevolge vir die vroue van Jerusalem hê. Jesaja sluit hierdie deel van sy profetiese boek af en voorspel: “Sewe vroue sal in dié dag een man gryp en sê: ‘Ons sal ons eie brood eet en ons eie mantels dra; laat jou naam net oor ons genoem word, om ons smaad weg te neem’” (Jesaja 4:1). Die tekort aan hubare mans sal so ernstig raak dat etlike vroue hulle tot een man sal verbind sodat sy naam oor hulle genoem kan word—dit wil sê sodat hulle in die openbaar as sy vrouens bekend kan staan—en dat hulle gevolglik vry sal wees van die skande om sonder ’n man te wees. Die Mosaïese Wet het vereis dat ’n man vir sy vrou kos en klere moet voorsien (Eksodus 21:10). Maar hierdie vroue is bereid om die man van sy wetlike verpligtinge vry te stel, want hulle stem in om ‘hulle eie brood te eet en hulle eie klere te dra’. In wat ’n desperate situasie verkeer die “dogters van Sion” tog wat vroeër so hoogmoedig was!
25. Wat lê voor vir dié wat hulleself verhef?
25 Jehovah verneder dié wat hulleself verhef. In 607 v.G.J. laat hy die hoogmoed van sy uitverkore volk inderdaad ‘neerbuig’ en “verlaag” hy hulle “verwaandheid”. Mag ware Christene nooit vergeet nie dat ‘God die hoogmoediges teëstaan, maar onverdiende goedhartigheid aan die nederiges gee’.—Jakobus 4:6.
[Prent op bladsy 50]
Afgode, rykdom en militêre vermoë het Jerusalem nie gered op die dag van Jehovah se oordeel nie
[Prent op bladsy 55]
Op “die dag van Jehovah” gaan die wêreldryk van valse godsdiens vernietig word