HOOFSTUK TWAALF
“Was dít nie omdat hy my geken het nie?”
1, 2. Waarom was dit onverstandig van Jojakim om sy bouprojek te onderneem?
KONING JOJAKIM was besig om ’n huis te bou, en dit sou luisterryk wees. Volgens die planne sou daar ruim vertrekke op ten minste twee verdiepings wees. Groot vensters sou sonlig asook vars lug laat instroom om die koning en sy familie gemaklik te hou. Die mure sou bedek word met panele van geurige sederhout uit Libanon. Vermiljoen, ’n ingevoerde verf, sou die binnekant die diep rooi kleur gee wat so gesog was onder die hooggeplaastes en magtiges van ander lande.—Jer. 22:13, 14.
2 Dit was ’n baie duur projek. Omstreeks hierdie tyd het die nasie se verdediging en die skatting wat Egipte hulle opgelê het, blykbaar die skatkis leeg gelaat (2 Kon. 23:33-35). Maar Jojakim het ’n manier gevind om vir sy nuwe paleis te betaal. Hy het die lone van die bouers teruggehou! Jojakim het hulle soos slawe behandel en het hulle sweet en arbeid as ’n bydrae tot sy koningskap gebruik.
3. Hoe het Jojakim van sy vader verskil, en waarom?
3 God het Jojakim deur middel van Jeremia vir sy selfsug veroordeel.a Hy het die koning daaraan herinner dat sy vader, koning Josia, buitengewone goedhartigheid en vrygewigheid teenoor die werkersklas en die armes bewys het. Josia het selfs hulle regsake in die hof verdedig. Jehovah het Jojakim se aandag gevestig op Josia se bedagsaamheid teenoor die geringes en het gevra: “Was dít nie omdat hy my geken het nie?”—Lees Jeremia 22:15, 16.
4. Waarom moet dit vir jou belangrik wees om Jehovah te ken?
4 Weens die verslegtende toestande in Satan se wêreld het ons die hulp en beskerming nodig wat Jehovah gee aan dié wat hom intiem ken. Ons moet derhalwe steeds nader aan God kom. Ons moet ook sy voortreflike eienskappe weerspieël as ons welslae in die verkondiging van die goeie nuus wil behaal. Maar jy wonder dalk: ‘Hoe kan ’n Christen Jehovah so goed leer ken soos koning Josia hom geken het?’
WAT DIT BETEKEN OM GOD TE KEN
5, 6. (a) Watter invloed het ’n goeie vader op sy kinders? (b) Hoe moet ons reageer op kennis van Jehovah se weë, in teenstelling met hoe Jojakim gereageer het?
5 Dink aan die maniere waarop ’n goeie vader sy kinders se lewe beïnvloed. Byvoorbeeld, wanneer hulle sien hoe hy aan minderbevoorregtes gee, sal hulle waarskynlik beweeg word om vrygewig te wees. As hulle sien hoe hy hulle moeder met liefde en respek behandel, sal dit hulle heel moontlik help om bedagsaam te wees teenoor persone van die teenoorgestelde geslag. Hulle hoor dat hulle vader daarvoor bekend is dat hy regverdig en eerlik is in geldsake, en dit behoort hulle te beweeg om regverdig en eerlik te wees. Ja, deur hulle vader se handelswyse en eienskappe te leer ken, sal hierdie kinders, wanneer hulle volwasse is, waarskynlik ander wil behandel soos hulle vader mense behandel.
6 ’n Christen wat Jehovah ken soos Josia hom geken het, erken Hom eweneens nie net as die Universele Soewerein nie. Deur die Bybel te lees, leer die Christen hoe God ander behandel, en dan wil hy sy hemelse Vader navolg. Sy liefde vir Jehovah neem toe terwyl hy dag ná dag God se voorkeure en afkeure in sy lewe weerspieël. Maar iemand wat God se wette en herinneringe ignoreer, en dus enige goddelike invloed in sy lewe verwerp, leer nie die ware God ken nie. Hy is soos Jojakim, wat Jehovah se woord deur Jeremia in die vuur gegooi het.—Lees Jeremia 36:21-24.
7. Waarom moet jy Jehovah wil ken soos koning Josia hom geken het?
7 Ons sukses in heilige diens en ons vooruitsigte op lewe in die nuwe wêreld hang daarvan af dat ons Jehovah werklik ken (Jer. 9:24). Kom ons ondersoek ’n paar van God se eienskappe soos dit in Jeremia se geskrifte geopenbaar word. Soek gedurende hierdie bespreking van God se persoonlikheid na maniere waarop jý hom kan leer ken en kan navolg soos koning Josia dit gedoen het.
Waarom kan ons sê dat koning Josia Jehovah intiem geken het? Wat behels dit om Jehovah te ken soos Josia hom geken het?
“SY LIEFDERYKE GOEDHARTIGHEID IS TOT ONBEPAALDE TYD!”
8. Wat is liefderyke goedhartigheid?
8 Die faset van God se persoonlikheid wat bekend staan as liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, kan in baie tale nie raak omskryf word nie. Volgens een Bybelwoordeboek beskryf die betrokke Hebreeuse woord die wisselwerking tussen krag, standvastigheid en liefde. Hierdie woordeboek sê verder: “Enige begrip van die woord wat nie al drie insluit nie, verloor noodwendig ’n mate van die rykheid daarvan.” Iemand wat liefderyke goedhartigheid bewys, is dus nie net ’n gawe persoon nie. Met diepe besorgdheid doen hy sy bes om ander te help om hulle behoeftes te bevredig, veral hulle geestelike behoeftes. Die hoofrede waarom hy so onselfsugtig optree, is sy begeerte om God die Almagtige te behaag.
9. Wat het die manier waarop Jehovah Israel behandel het, bewys?
9 Die beste manier om die volle betekenis van die Bybelse uitdrukking “liefderyke goedhartigheid” te begryp, is om te bestudeer hoe God sy ware aanbidders deur die eeue heen behandel het. Jehovah het die Israeliete gedurende die 40 jaar wat hulle in die wildernis deurgebring het, beskerm en van voedsel voorsien. In die Beloofde Land het God rigters voorsien om hulle van hulle vyande te red en om hulle na ware aanbidding terug te lei. Omdat Jehovah gedurende al daardie eeue, deur goeie en slegte tye, by hulle gebly het, kon hy vir die nasie sê: “Met ’n liefde tot onbepaalde tyd het ek jou liefgehad. Daarom het ek jou met liefderyke goedhartigheid getrek.”—Jer. 31:3.b
10. Soos toegelig deur die geval van die Jode in Babilon, hoe bewys Jehovah liefdevolle goedhartigheid in die manier waarop hy na gebede luister?
10 In ons dag bewys God nog steeds liefderyke goedhartigheid op maniere wat sy aanbidders regstreeks tot voordeel strek. Dink byvoorbeeld aan gebed. Jehovah gee ag op alle opregte gebede, maar hy skenk spesiale aandag wanneer sy toegewyde knegte tot hom bid. Selfs al hou ons jare lank aan om oor dieselfde chroniese probleme te bid, raak hy nie ongeduldig met ons nie; hy word ook nie moeg om ons gebede te hoor nie. Eenkeer het Jehovah Jeremia ’n boodskap laat stuur aan ’n groep Jode wat reeds in Babilon in gevangenskap was. Hulle was meer as 800 kilometer van die tempel af, ver van familie en vriende in Juda. Maar die feit dat hulle ver van die tempel af was, het Jehovah nie verhinder om hulle versoeke om sy guns en hulle lofbetuigings te hoor nie. Terwyl jy jou opregte gebede in gedagte hou, dink net hoe vertroos die Jode moes gevoel het toe hulle God se woorde gehoor het, wat in Jeremia 29:10-12 opgeteken staan.—Lees.
11, 12. (a) Wat het Jehovah vir die mense van Jerusalem in die vooruitsig gestel? (b) Watter hulp is beskikbaar vir iemand wat nodige dissipline ontvang het?
11 Ons sien nog ’n bewys van Jehovah se liefderyke goedhartigheid in sy positiewe uitkyk. Wat het die toekoms vir die Jode ingehou namate die val van Jerusalem nader gekom het en die stad se inwoners hulle opstand voortgesit het, wat in werklikheid opstand teen God was? Dalk die dood weens verhongering of ’n Babiloniese swaard? Op sy beste moontlik ’n lang ballingskap en die dood in ’n vreemde land. Maar Jehovah het ’n positiewe “goeie woord” gehad vir dié wat berou getoon het en hulle lewe verander het. Hy het belowe om ‘sy aandag op hulle te rig’. Hy sou hulle uit die verafgeleë Babilon “na hierdie plek terugbring”, na hulle vaderland (Jer. 27:22). Gevolglik sou hulle uitroep: “Prys Jehovah van die leërs, want Jehovah is goed; want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd!”—Jer. 33:10, 11.
12 Weens sy liefderyke goedhartigheid is Jehovah ’n Bron van aanmoediging vir dié wat vanuit ’n menslike oogpunt in baie moeilike omstandighede verkeer. Vandag is daar party wat vroeër deel van die Christengemeente was, maar wat nodige en regverdige dissipline ontvang het. Hulle voel dalk oorweldig deur skuldgevoelens en huiwer nou om weer met God se volk te assosieer. Hulle wonder dalk of Jehovah hulle ooit kan vergewe en kan terugneem. God die Almagtige het ’n “goeie woord” vir al hierdie persone. Hulle kan liefdevolle hulp ontvang om enige nodige veranderinge in hulle denke en handelinge aan te bring. En wat ons in die vorige paragraaf gelees het, kan in beginsel op hulle van toepassing wees—Jehovah sal hulle ‘terugbring na hulle plek’ tussen sy gelukkige volk.—Jer. 31:18-20.
13. Waarom moet Jehovah se ondersteuning van Jeremia jou aanmoedig?
13 As die God van liefderyke goedhartigheid ondersteun Jehovah ook sy getroue knegte lojaal. In hierdie laaste dae van Satan se wêreld het ons rede om te vertrou dat Jehovah almal wat eers sy Koninkryk soek, sal onderskraag en beskerm. Hou in gedagte dat Jeremia, gedurende die laaste dae van Jerusalem, op Jehovah vertrou het vir voedsel en beskerming. God het die profeet nooit in die steek gelaat nie. (Jeremia 15:15; lees Klaagliedere 3:55-57.) As jy onder groot druk van enige aard verkeer, kan jy seker wees dat Jehovah jou lojale dade onthou. Weens sy liefdevolle goedhartigheid wil hy jou ondersteun sodat jy nie ‘aan jou einde kom’ nie.—Klaagl. 3:22.
Watter aspek van Jehovah se liefdevolle goedhartigheid trek jou die meeste tot hom aan? Waarom voel jy so?
“SO WAAR AS JEHOVAH LEWE . . . IN GEREGTIGHEID!”
14. Watter onregte het jy onlangs gesien?
14 Party mense sit jare lank in die tronk vir misdade wat hulle nie gepleeg het nie. Daar was al gevalle waar ’n hof ’n man ter dood veroordeel het en waar bewyse van sy onskuld eers ná die teregstelling aan die lig gekom het. In sommige lande het ouers voedsel so dringend nodig dat hulle hulle kinders as slawe verkoop sodat die gesin iets kan kry om te eet. Hoe voel jy wanneer jy vandag van sulke onregte hoor? Hoe dink jy voel Jehovah? Die Bybel toon duidelik dat hy alle oorsake van lyding wil verwyder. Hy is die enigste Een wat die vermoë het om dit te doen. Die armes en onskuldiges wat vandag ly, kan dus moed skep. Jehovah, die God van geregtigheid, doen stappe om hulle uit hulle huidige ellende te red.—Jer. 23:5, 6.
15, 16. (a) Watter feit oor Jehovah het Jeremia beklemtoon? (b) Waarom kan jy op God se wette en beloftes vertrou?
15 In Jeremia se tyd was party bewus van God se verhewe eienskap van geregtigheid. Die profeet het byvoorbeeld die moontlikheid gemeld dat Israel oor hulle sondes berou sal hê en as ’t ware ’n stelling sal maak wat van hierdie verandering in gesindheid getuig deur te sê: “So waar as Jehovah lewe in waarheid, in geregtigheid en in regverdigheid!” (Jer. 4:1, 2). Dit is die geval omdat ongeregtigheid geen plek in Jehovah se voorneme het nie. Maar daar is nog bewyse dat Jehovah geregtigheid liefhet.
16 Daar bestaan geen twyfel dat God sy woord hou en nie huigelagtig is nie. Terwyl baie mense beloftes verbreek wat hulle aan ander maak, doen Jehovah dit nie. Selfs die natuurwette, wat hy daargestel het en waarby ons baat vind, kan nie verbreek word nie (Jer. 31:35, 36). Ons kan ook op sy beloftes en sy regterlike besluite vertrou, want dit is altyd goed.—Lees Klaagliedere 3:37, 38.
17. (a) Wat doen Jehovah wanneer hy sake beoordeel? (b) Waarom kan jy vertroue hê in die manier waarop die ouer manne probleme in die gemeente hanteer? (Sien die venster “Hulle spreek reg vir Jehovah”.)
17 Wanneer Jehovah oordeel, is hy nooit tevrede met hoe ’n saak bloot op die oog af lyk nie. Hy kyk dieper as die oppervlak om al die feite te kry. Hy bepaal ook die beweegredes van die betrokkenes. Dokters kan vandag gespesialiseerde toerusting en tegnieke gebruik om na ’n pasiënt se hart te kyk terwyl dit pomp en kan sodoende inligting oor die toestand daarvan inwin. Of hulle kan die niere ondersoek, wat die bloed filtreer. Jehovah kan baie meer doen. Hy ondersoek die figuurlike hart en bepaal ’n persoon se beweegredes en die figuurlike niere, wat ’n persoon se diepste gevoelens voorstel. Hy kan dus vasstel wat ’n persoon beweeg het om op ’n sekere manier op te tree en hoe hy oor sy dade voel. En die Almagtige word nie oorweldig deur die oorvloed besonderhede wat sy deeglike ondersoek aan die lig bring nie. Hy maak, beter as die wysste menseregter, op ’n korrekte en gebalanseerde wyse gebruik van al hierdie inligting om ons toekoms te bepaal.—Lees Jeremia 12:1a; 20:12.
18, 19. Watter uitwerking kan kennis van God se geregtigheid op ons hê?
18 Jy het dus ’n vaste grondslag om jou vertroue in Jehovah te stel, selfs as jou gewete jou soms kwel oor foute van die verlede. Moet nooit vergeet dat Jehovah nie ’n vasberade aanklaer is wat soek na ’n rede om te straf nie, maar dat hy eerder ’n medelydende Regter is wat wil help. As jy jou oor jou vorige lewenswyse of ’n kwessie met iemand anders kwel, kan jy Jehovah vra om “die regsake”, of emosionele worsteling, op te neem sodat jy daarvan kan vergeet.c Met sy hulp kan jy sien watter groot waarde God aan jou volgehoue deelname aan heilige diens heg.—Lees Klaagliedere 3:58, 59.
19 Dit is te verstane dat die God van volmaakte geregtigheid wil hê dat dié wat sy goedkeuring soek, self geregtigheid moet beoefen (Jer. 7:5-7; 22:3). Om die goeie nuus sonder vooroordeel te verkondig, is ’n belangrike manier om goddelike geregtigheid aan die dag te lê. Wanneer jy pligsgetrou herbesoeke doen en Bybelstudies hou, weerspieël jy God se verhewe standaard van geregtigheid op ’n waarlik voordelige wyse. Hoe so? Hy wil hê dat alle soorte mense van hom moet leer en redding moet verkry (Klaagl. 3:25, 26). Wat ’n voorreg het jy tog om God se medewerker te wees en sy geregtigheid in hierdie lewensreddende werk te weerspieël!
Hoe vertroos Jehovah se geregtigheid jou? Hoe kan jy ander vertroos deur God se geregtigheid na te volg?
“EK SAL NIE TOT ONBEPAALDE TYD GEBELG BLY NIE”
20. (a) Watter aspek van God se handelinge met mense het Jeremia beklemtoon? (b) Hoe hou ‘om spyt te voel’ verband met Jehovah se vergifnis? (Sien die venster “Hoe Jehovah ‘spyt voel’”.)
20 Baie beskou die boeke Jeremia en Klaagliedere as blote veroordelings van slegtheid. Hierdie beskouing verontagsaam die hartverblydende aanbod van vergifnis wat Jehovah telkemale aan sy volk gemaak het, soos in hierdie boeke opgeteken staan. Hy het die Jode aangespoor: “Keer asseblief terug, elkeen van sy slegte weg, en maak julle weë en julle handelinge goed.” By ’n ander geleentheid het Jeremia hulle vermaan: “Maak nou julle weë en julle handelinge goed, en gehoorsaam die stem van Jehovah julle God, en Jehovah sal spyt voel oor die rampspoed wat hy teen julle gespreek het” (Jer. 18:11; 26:13). In ons dag vergewe Jehovah nog steeds almal wat opregte berou toon en verkeerde gebruike stopsit.
21. Wat wil Jehovah bereik wanneer hy iemand vergewe?
21 Maar Jehovah praat nie net oor vergifnis nie. Hy tree dienooreenkomstig op. Jehovah het Jeremia die volk laat vermaan: “Keer tog terug, o afvallige Israel . . . Ek sal my aangesig nie toornig op julle laat afkyk nie . . . Ek sal nie tot onbepaalde tyd gebelg bly nie” (Jer. 3:12). God bly nie kwaad of verbitterd teenoor enige van sy knegte wat hy vergewe het nie. Al is ’n oortreding begaan, wil Jehovah eerder die beskadigde verhouding herstel. As die sondaar werklik berouvol is en God se vergifnis soek, sal Jehovah hom, ondanks die sondes wat hy gepleeg het, in Sy guns ‘terugbring’ en hom weer Sy seën laat geniet (Jer. 15:19). Hierdie versekering moet enigiemand wat nou van die ware God vervreemd is, aanspoor om tot hom terug te keer. Stem jy nie saam dat Jehovah se vergifnis ons tot hom aantrek nie?—Lees Klaagliedere 5:21.
22, 23. Wat moet jou doelwit wees wanneer jy Jehovah navolg deur ander te vergewe?
22 Sal jy Jehovah navolg wanneer iemand jou met onbedagsame woorde of dade aanstoot gee? Aangaande die eertydse Jode het God gesê dat hy diegene wat hy vergewe, sou “reinig”. (Lees Jeremia 33:8.) Hy kan reinig in die sin dat hy die oortreding van berouvolles vergeet en die persoon sodoende ’n nuwe begin in Sy diens gee. God se vergifnis beteken weliswaar nie dat die persoon van oorgeërfde onvolmaaktheid gereinig is sodat hy nou volmaak, sondeloos, is nie. Daar is nietemin ’n les vir ons in wat God gesê het oor sy reiniging van mense. Ons kan die oortreding van die ander persoon probeer vergeet, wat beteken dat ons die beskouing wat ons in ons hart van daardie persoon het, in figuurlike sin reinig. Hoe so?
23 Stel jou voor dat jy ’n bak of ’n blompot wat ’n erfstuk is, as ’n geskenk ontvang. Gestel dit word vuil of kry ’n vlek; sal jy dit onmiddellik weggooi? Heel waarskynlik nie. Jy sal heel moontlik moeite doen om dit versigtig skoon te maak deur van enige merke of vuilheid ontslae te raak en miskien die vlek te verwyder. Jy wil sien hoe mooi dit is, hoe dit in die sonlig glinster. Net so kan jy jou inspan om ontslae te raak van enige blywende bitterheid of gegriefdheid teenoor ’n broer of ’n suster wat jou aanstoot gegee het. Stry teen die neiging om oor die pynlike woorde of dade te tob. Wanneer jy daarin slaag om daarvan te vergeet, reinig jy die beeld en herinneringe wat jy in jou hart het van die een wat jy vergewe het. As jou hart gereinig is van negatiewe gedagtes oor daardie persoon, sal dit vir jou makliker wees om weer die hegte vriendskap te geniet wat skynbaar vir altyd verlore was.
24, 25. Watter voordele sal jy geniet as jy Jehovah leer ken soos koning Josia hom geken het?
24 Ons het net ’n paar van Jehovah se eienskappe en handelinge ondersoek waarvan ons leer wanneer ons hom beter leer ken. Ons kan sien dat die persoonlike voordele daarvan om Jehovah intiem te ken, ’n sterk dryfveer is om hom op aanneemlike wyse te aanbid. As ons Jehovah intiem leer ken soos koning Josia hom geken het, sal ons lewe oorloop van geluk, wat nog ’n aspek van God se persoonlikheid is.
25 As ons Jehovah beter leer ken, sal dit ons verhoudings met ander verryk. Wanneer ons ons daarop toelê om, soos Jehovah, liefdevolle goedhartigheid, geregtigheid en vergifnis te toon, sal ons vriendskappe in die Christengemeente hegter en kosbaarder word. Wat meer is, ons sal vind dat ons bekwamer onderrigters is wanneer ons in ons gebied herbesoeke doen en progressiewe Bybelstudies hou. Belangstellendes sal meer op hulle gemak voel met die Christelike lewenswyse wat hulle ons sien volg. Ons sal gevolglik beter toegerus wees om hulle te help om Jehovah op aanneemlike wyse te aanbid, om “die goeie weg” te volg.—Jer. 6:16.
Watter boodskap dra Klaagliedere 5:21 aan jou oor?
a In verband met Jojakim se tragiese einde, sien Hoofstuk 4, paragraaf 12, van hierdie boek.
b The New English Bible gee Jehovah se woorde soos volg weer: “Ek het jou van lank gelede af innig liefgehad, en ek behou nog steeds my onfeilbare liefde vir jou.”
c As ’n broer of ’n suster hom of haar skuldig gemaak het aan gedrag wat beslis God se wet verbreek, moet dit onder die aandag van die gemeentelike ouer manne gebring word sodat hulle die saak kan hanteer en skriftuurlike hulp kan voorsien.—Jak. 5:13-15.