-
Jy kan baat vind by die nuwe verbondGod se woord vir ons deur Jeremia
-
-
5. Waarom het Jehovah die nuwe verbond voorspel?
5 Ons kan dus begin sien waarom God Jeremia, selfs terwyl die Wetsverbond nog van krag was, laat vooruitwys het na ’n ander verbond, die nuwe verbond. Weens sy liefde en goedhartigheid wou Jehovah blywende hulp vir meer as een nasie beskikbaar stel. Deur Jeremia het God aangaande dié in hierdie toekomstige verbond gesê: “Ek sal hulle oortreding vergewe, en aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie” (Jer. 31:34). Hoewel hierdie belofte in Jeremia se dag gemaak is, bied dit ’n wonderlike vooruitsig vir die hele mensdom. Hoe?
6, 7. (a) Hoe voel party oor hulle sondige toestand? (b) Waarom kan ’n bespreking van die nuwe verbond jou aanmoedig?
6 Ons is nog steeds onvolmaak en word dikwels bewus van hierdie feit. Dit word toegelig deur ’n broer wat met ’n groot persoonlike probleem geworstel het. Hy sê: “Wanneer ek teruggeval het, het ek verskriklik gevoel. Ek het gedink dat ek nooit sal kan vergoed vir wat ek gedoen het nie. Dit was vir my moeilik om te bid. Ek het gewoonlik begin deur te sê: ‘Jehovah, ek weet nie of u hierdie gebed gaan hoor nie, maar . . . ’” Party wat teruggeval het of ’n sonde gepleeg het, het gevoel asof “’n wolkmassa” verhinder dat hulle gebede God bereik (Klaagl. 3:44). Ander word jare ná ’n oortreding nog geteister deur herinneringe daaraan. Selfs Christene wat andersins voorbeeldig is, kan dinge sê waaroor hulle later spyt is.—Jak. 3:5-10.
7 Nie een van ons moet voel dat ons ons nooit aan ongepaste gedrag skuldig sal maak nie (1 Kor. 10:12). Selfs die apostel Paulus het besef dat hy gesondig het. (Lees Romeine 7:21-25.) Dit moet ons aan die nuwe verbond laat dink. Volgens God se belofte sou ’n belangrike aspek van die nuwe verbond wees dat hy nie meer aan sondes sou dink nie. Wat ’n onvergelyklike seën! Toe Jeremia dit voorspel het, moes dit hom diep geraak het, en dit kan ons eweneens diep raak wanneer ons meer oor die nuwe verbond leer en sien hoe ons daarby kan baat vind.
-
-
Jy kan baat vind by die nuwe verbondGod se woord vir ons deur Jeremia
-
-
8, 9. Wat het dit van Jehovah geverg om vergifnis van sonde moontlik te maak?
8 Hoe beter jy Jehovah leer ken, hoe meer besef jy hoe goedhartig en barmhartig hy teenoor onvolmaakte mense is (Ps. 103:13, 14). Toe Jeremia die nuwe verbond voorspel het, het hy die aandag daarop gevestig dat Jehovah “hulle oortreding [sal] vergewe” en nie meer aan hulle sonde sal dink nie (Jer. 31:34). Jy kan jou voorstel dat Jeremia moontlik gewonder het hoe God hierdie vergifnis sou bewerkstellig. Hy kon ten minste verstaan dat God, toe Hy van ’n nuwe verbond gepraat het, bedoel het dat daar ’n ooreenkoms, of kontrak, tussen Hom en mense sou wees. Jehovah sou op die een of ander manier deur middel van hierdie verbond bewerkstellig wat hy Jeremia geïnspireer het om oor te skryf, met inbegrip van vergifnis. Fynere besonderhede sou moes wag totdat God sy voorneme, insluitende wat die Messias sou doen, verder sou openbaar.
9 Jy het moontlik al ouers gesien wat hulle kinders bederf en hulle nie dissiplineer nie. Sou jy verwag dat Jehovah so sou wees? Beslis nie! Dit blyk duidelik uit die manier waarop die nuwe verbond van krag geword het. God het sondes nie bloot gekanselleer nie, maar het sy eie standaard van geregtigheid nougeset gehandhaaf deur die wetlike grondslag vir vergifnis van sondes te voorsien, hoewel dit ’n groot opoffering van hom geverg het. Jy kan insig hierin verkry deur te let op wat Paulus geskryf het toe hy die nuwe verbond bespreek het. (Lees Hebreërs 9:15, 22, 28.) Paulus het van ‘bevryding deur ’n losprys’ gepraat en gesê: “Tensy bloed uitgestort word, vind geen vergifnis plaas nie.” In die geval van die nuwe verbond het dit nie verwys na die offerbloed van bulle of bokke soos dié wat onder die Wet geoffer is nie. Nee, die nuwe verbond het deur Jesus se bloed van krag geword. Op grond van hierdie volmaakte offerande kon Jehovah vir altyd ‘oortreding en sonde vergewe’ (Hand. 2:38; 3:19). Maar wie sou in hierdie nuwe verbond wees en daardie vergifnis ontvang? Nie die Joodse nasie nie. Jesus het gesê dat God die Jode, dié wat diereoffers onder die Wet gebring het, sou verwerp en ’n ander nasie sou kies (Matt. 21:43; Hand. 3:13-15). Dit was “die Israel van God”, wat bestaan uit Christene wat met heilige gees gesalf is. Eenvoudig gestel, die Wetsverbond was tussen God en natuurlike Israel, terwyl die nuwe verbond tussen Jehovah God en geestelike Israel is, met Jesus as die Middelaar.—Gal. 6:16; Rom. 9:6.
10. (a) Wie is die “spruit” vir Dawid? (b) Hoe kan mense by die “spruit” baat vind?
10 Jeremia het die Een wat sou kom, die Messias, beskryf as die “spruit” vir Dawid. Dit is gepas. Terwyl Jeremia nog as profeet gedien het, is Dawid se koninklike stamboom as ’t ware afgekap. Maar die stomp was nie dood nie. Later is Jesus in koning Dawid se geslagslyn gebore. Hy kon “Jehovah is ons regverdigheid” genoem word, wat beklemtoon hoe belangrik hierdie eienskap vir God is. (Lees Jeremia 23:5, 6.) Jehovah het toegelaat dat sy enigverwekte Seun lyding op die aarde verduur en sterf. Toe kon Jehovah—in ooreenstemming met geregtigheid—die waarde van die losprysoffer van die “spruit” vir Dawid as ’n grondslag vir vergifnis aanwend (Jer. 33:15). Dit het dit moontlik gemaak vir party mense om ‘vir die lewe regverdig verklaar’ en met heilige gees gesalf te word, waardeur hulle deelgenote aan die nuwe verbond word. Nog ’n bewys dat regverdigheid vir God belangrik is, is die feit dat ander wat nie regstreeks by hierdie verbond betrokke is nie, daarby kan baat vind en wel daarby baat vind, soos ons sal sien.—Rom. 5:18.
-