Bybelboek nommer 27—Daniël
Skrywer: Daniël
Waar geskryf: Babel
Geskrif voltooi: ca. 536 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 618–ca. 536 v.G.J.
1. Watter soort geskiedenis bevat Daniël, en wat beklemtoon dit?
IN HIERDIE tyd wanneer al die nasies van die aarde op die rand van die afgrond staan, vestig die boek Daniël die aandag op uiters gewigtige profetiese boodskappe. Terwyl die Bybelboeke Samuel, Konings en Kronieke op ooggetuieverslae van die geskiedenis van God se tipiese koninkryk (die Dawidiese koningslyn) gebaseer is, skryf Daniël oor die nasies van die wêreld en gee hy voorskoue van die magstryd van die groot dinastieë vanaf Daniël se tyd tot “die tyd van die einde”. Dit is wêreldgeskiedenis wat vooruit geskryf is. Dit bereik ’n boeiende klimaks wanneer dit toon wat “aan die einde van die dae” sal gebeur. Soos Nebukadnesar moet die nasies deur bittere ondervinding leer “dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens” en dat hy dit uiteindelik aan iemand “soos die Seun van ’n mens”, die Messias en Vors, Christus Jesus, gee (Dan. 12:4; 10:14; 4:25; 7:13, 14; 9:25; Joh. 3:13-16). As ons noukeurig aandag skenk aan die profetiese vervullings van die geïnspireerde boek Daniël sal ons Jehovah se vermoë om te profeteer en sy versekeringe dat hy sy volk sal beskerm en seën nog meer waardeer.—2 Pet. 1:19.
2. Wat bevestig dat Daniël werklik bestaan het, en gedurende watter veelbewoë tydperk het hy geprofeteer?
2 Die boek is na sy skrywer vernoem. “Daniël” (Hebreeus, Da·ni·jeʼlʹ) beteken “God is my regter”. Esegiël, wat gedurende dieselfde tyd geleef het, bevestig dat Daniël werklik bestaan het deur hom saam met Noag en Job te noem (Eseg. 14:14, 20; 28:3). Daniël gee die tyd toe hy sy boek begin het aan as “die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda”. Dit was 618 v.G.J., Jojakim se derde jaar as skatpligtige koning aan Nebukadnesar.a Daniël se profetiese visioene het voortgeduur tot Kores se derde jaar, omstreeks 536 v.G.J. (Dan. 1:1; 2:1; 10:1, 4). Watter veelbewoë jare het Daniël tog deurleef! Hy het sy vroeë jare onder God se koninkryk in Juda deurgebring. Toe is hy as ’n tienderjarige vors, tesame met sy adellike Judese metgeselle, na Babel geneem, waar hy die opgang en val van daardie derde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis beleef het. Daniël het nog geleef om as regeringsamptenaar van die vierde wêreldmoondheid, Medo-Persië, te dien. Daniël moes bykans honderd jaar oud geword het.
3. Waardeur word die kanonisiteit en egtheid van die boek Daniël bewys?
3 Die boek Daniël is nog altyd in die Joodse katalogus van die geïnspireerde Skrif ingesluit. Fragmente van Daniël is onder dié van die ander kanonieke boeke in die Dooie See-rolle gevind, waarvan party uit die eerste helfte van die eerste eeu v.G.J. dateer. ’n Nog belangriker bewys van die boek se egtheid word egter in die verwysings daarna in die Christelike Griekse Geskrifte gevind. Jesus meld Daniël uitdruklik in sy profesie oor “die voleinding van die wêreld”, waar hy etlike kere uit die boek aanhaal.—Matt. 24:3; sien ook Dan. 9:27; 11:31; en 12:11—Matt. 24:15 en Mark. 13:14; Dan. 12:1—Matt. 24:21; Dan. 7:13, 14—Matt. 24:30.
4, 5. Hoe het die argeologie die bewerings van hoër kritici oor Daniël weerlê?
4 Hoewel hoër kritici van die Bybel die historiese egtheid van Daniël se boek betwis het, het argeologiese vondste deur die jare heen hulle bewerings heeltemal weerlê. Hierdie kritici het byvoorbeeld Daniël se verklaring dat Belsasar koning in Babel was in die tyd dat Nabonidus na bewering heerser was, bespot (Dan. 5:1). Die argeologie het nou onomstootlik bewys dat Belsasar werklik geleef het en dat hy in die laaste jare van die Babiloniese Ryk ’n medebewindhebber van Nabonidus was. ’n Ou wigskrifteks wat beskryf word as die “Versverslag van Nabonidus” bevestig byvoorbeeld duidelik dat Belsasar koninklike gesag in Babel uitgeoefen het en verduidelik hoe hy medeheerser saam met Nabonidus geword het.b Ander wigskrifgetuienis staaf die beskouing dat Belsasar koninklike funksies verrig het. ’n Tablet, wat uit die 12de jaar van Nabonidus dateer, bevat ’n eed wat in die naam van Nabonidus, die koning, en Belsasar, die koning se seun, gedoen is, waaruit dit blyk dat Belsasar op een lyn gestel is met sy vader.c Dit is ook van belang omdat dit verklaar waarom Belsasar aangebied het om Daniël “derde in rang in die koninkryk” te maak as hy die handskrif op die muur kon uitlê. Nabonidus sou as die eerste heerser beskou word, Belsasar as die tweede en Daniël sou tot derde heerser uitgeroep word (5:16, 29). Een navorser sê: “Wigskriftoespelinge op Belsasar het soveel lig gewerp op die rol wat hy gespeel het dat sy plek in die geskiedenis nou baie duidelik is. Daar is baie tekste wat daarop dui dat Belsasar feitlik gelyk was aan Nabonidus wat posisie en aansien betref. Dubbele heerskappy gedurende die grootste deel van die laaste Neo-Babiloniese regering is ’n vasstaande feit. Nabonidus het oppergesag vanuit sy paleis in Tema in Arabië uitgeoefen, terwyl Belsasar in die tuisland as medebewindhebber opgetree het met Babel as sy invloedsentrum. Dit is duidelik dat Belsasar nie ’n swak onderkoning was nie; ‘die koningskap’ is aan hom toevertrou.”d
5 Sommige het Daniël se verslag oor die vuuroond (hfst. 3) probeer diskrediteer deur te sê dat dit ’n legendariese versinsel is. ’n Ou-Babiloniese brief lui ten dele: “Jou heer Rîm-Sin sê: Omdat hy die slaweseun in die oond gewerp het, moet jy die slaaf in die vuuroond werp.” Dit is interessant dat G. R. Driver in ’n verwysing hierna gesê het dat hierdie straf “in die verhaal van die Drie Heilige Manne verskyn (Dan. III 6, 15, 19-27)”.e
6. Uit watter twee dele bestaan die boek Daniël?
6 Die Jode het die boek Daniël nie onder die Profete nie maar onder die Geskrifte geplaas. Die Afrikaanse Bybel volg andersyds die katalogusvolgorde van die Griekse Septuagint en die Latynse Vulgaat deur Daniël tussen die groot en die klein profete te plaas. Die boek bestaan in werklikheid uit twee dele. Die eerste, hoofstukke 1 tot 6, gee die ondervindinge van Daniël en sy metgeselle in regeringsdiens van 617 v.G.J. tot 538 v.G.J. in chronologiese volgorde weer (Dan. 1:1, 21). Die tweede deel, wat uit hoofstukke 7 tot 12 bestaan, is deur Daniël as skrywer in die eerste persoon geskryf en beskryf private visioene en gesprekke met engele wat Daniël van omstreeks 553 v.G.J.f tot om en by 536 v.G.J. gehad het (7:2, 28; 8:2; 9:2; 12:5, 7, 8). Die twee dele saam vorm die een harmoniese boek Daniël.
INHOUD VAN DANIËL
7. Wat lei daartoe dat Daniël en sy metgeselle Babiloniese regeringsdiens betree?
7 Voorbereiding vir staatsdiens (1:1-21). In 617 v.G.J. kom Daniël saam met die gevange Jode in Babel aan. Die heilige voorwerpe van Jerusalem se tempel word ook saamgebring en word in ’n heidense skathuis bewaar. Daniël en sy drie Hebreeuse metgeselle is onder die Judese jeugdiges uit die koninklike geslag wat gekies word vir ’n driejarige opleidingskursus in die koning se paleis. Daniël, wat hom in sy hart voorgeneem het om hom nie met die koning se heidense lekkernye en wyn te verontreinig nie, stel ’n tiendaagse groentedieet by wyse van ’n proef voor. Die afloop van die toets is ten gunste van Daniël en sy metgeselle, en God gee hulle kennis en wysheid. Nebukadnesar stel die vier aan om hom as raadgewers te dien. Die laaste vers van hoofstuk 1, wat moontlik bygevoeg is lank nadat die voorgaande deel geskryf is, gee te kenne dat Daniël nagenoeg 80 jaar ná hy in ballingskap gegaan het, wat omstreeks 538 v.G.J. sou wees, nog in koninklike diens was.
8. Watter droom en uitleg openbaar God aan Daniël, en hoe toon Nebukadnesar sy waardering?
8 Die droom van die verskriklike beeld (2:1-49). In die tweede jaar van sy koningskap (wat waarskynlik van Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. getel is) word Nebukadnesar deur ’n droom verontrus. Sy towerpriesters kan nie die droom en die uitleg daarvan bekend maak nie. Hy bied hulle groot geskenke aan, maar hulle protesteer dat niemand behalwe die gode die koning die ding wat hy vra te kenne kan gee nie. Die koning word woedend en beveel dat die wyse manne omgebring word. Aangesien die vier Hebreërs by hierdie bevel ingesluit is, vra Daniël tyd om die droom te openbaar. Daniël en sy metgeselle bid tot Jehovah om leiding. Jehovah openbaar die droom en die betekenis daarvan aan Daniël, wat dan na die koning gaan en sê: “Daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur” (2:28). Daniël beskryf die droom. Dit handel oor ’n ontsaglike beeld. Die hoof van die beeld is van goud, sy bors en arms van silwer, sy buik en lendene van koper en sy bene van yster, met voete wat gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei is. ’n Klip tref en verbrysel die beeld en word ’n groot berg wat die hele aarde vul. Wat beteken dit? Daniël maak bekend dat die koning van Babel die hoof van goud is. Na sy koninkryk sal daar ’n tweede, ’n derde en ’n vierde wees. Laastelik “sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie . . . ; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (2:44). Vol dankbaarheid en waardering verheerlik die koning Daniël se God as “die God van die gode” en stel hy Daniël as “heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel” aan. Daniël se drie metgeselle word bestuurders in die koninkryk gemaak.—2:47, 48.
9. Waartoe lei die drie Hebreërs se moedige stellinginname teen beeldaanbidding?
9 Die drie Hebreërs oorleef die vuuroond (3:1-30). Nebukadnesar rig ’n ontsaglike goue beeld op, 60 el (26,7 meter) hoog, en beveel die heersers van die ryk om vir die inwyding daarvan bymekaar te kom. Wanneer hulle spesiale musiek hoor, moet almal neerval en die beeld aanbid. Enigiemand wat versuim om dit te doen, sal in die brandende vuuroond gegooi word. Daar word berig dat Daniël se drie metgeselle, Sadrag, Mesag en Abednego, nie die bevel gehoorsaam het nie. Hulle word voor die woedende koning gebring, waar hulle vrymoedig getuig: ‘Ons God wat ons dien, is in staat om ons te verlos. Ons sal die goue beeld wat u opgerig het, nie aanbid nie’ (3:17, 18). Die koning is woedend en beveel dat die oond sewe keer warmer as gewoonlik gemaak word en dat die drie Hebreërs vasgebind en daarin gegooi word. Wanneer die laksmanne dit doen, word hulle deur die vlamme van die vuur gedood. Nebukadnesar word bang. Wat sien hy in die oond? Vier manne loop ongedeerd binne-in die vuur rond, en ‘die vierde lyk soos ’n godeseun’ (3:25). Die koning versoek die drie Hebreërs om uit die vuur te kom. Hulle kom sonder ’n skroeimerk uit en ruik nie eens na vuur nie! As gevolg van hulle moedige stellinginname vir ware aanbidding kondig Nebukadnesar vryheid van aanbidding vir die Jode dwarsdeur die ryk aan.
10. Watter skrikwekkende droom van “sewe tydperke” het Nebukadnesar gehad, en is dit op hom vervul?
10 Die droom van die “sewe tydperke” (4:1-37). Hierdie droom kom in die verslag voor as Daniël se weergawe van ’n staatsdokument van Babel. Dit is deur die verootmoedigde Nebukadnesar geskryf. Nebukadnesar erken eerstens die mag en koninkryk van die Allerhoogste God. Dan vertel hy ’n vreeswekkende droom en hoe dit op hom vervul is. Hy het ’n boom gesien wat tot aan die hemel gereik en skuiling en voedsel aan alle vlees verskaf het. ’n Wag het uitgeroep: ‘Kap die boom af. Sit yster- en koperbande om sy stomp. Laat sewe tydperke daaroor heengaan, sodat dit bekend sal wees dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en die nederige onder die mense daaroor aanstel’ (4:14-17). Daniël het die droom uitgelê en bekend gemaak dat die boom Nebukadnesar afgebeeld het. Hierdie profetiese droom is weldra vervul. Toe die koning eenkeer groot trots uitspreek, is hy deur kranksinnigheid getref; en hy het sewe jaar soos ’n dier in die veld gelewe. Daarna het hy sy gesonde verstand teruggekry en het hy Jehovah se oppermag erken.
11. Gedurende watter losbandigheid sien Belsasar die noodlottige handskrif, hoe lê Daniël dit uit, en hoe word dit vervul?
11 Belsasar se fees: die handskrif word uitgelê (5:1–6:1). Dit is die noodlottige nag van 5 Oktober 539 v.G.J. Koning Belsasar, seun van Nabonidus, berei as medebewindhebber van Babel ’n groot fees vir duisend van sy maghebbers. Onder die invloed van wyn laat die koning die heilige goue en silwervoorwerpe van Jehovah se tempel haal, en hieruit drink Belsasar en sy gaste in hulle losbandigheid, terwyl hulle hul heidense gode prys. Onmiddellik verskyn ’n hand en skryf dit ’n geheimsinnige boodskap op die muur. Die koning is verskrik. Sy wyse manne kan nie die handskrif uitlê nie. Uiteindelik word Daniël ingebring. Die koning bied aan om hom die derde in rang in die koninkryk te maak as hy die skrif kan lees en uitlê, maar Daniël sê dat hy sy geskenke vir homself kan hou. Dan maak hy die skrif en die betekenis daarvan bekend: “Mene, mene, tekel ufarsin. . . . God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak; . . . u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; . . . u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee” (5:25-28). Dieselfde nag word Belsasar gedood, en Darius die Meder ontvang die koninkryk.
12. Hoe loop ’n sameswering teen Daniël op niks uit nie, en watter bevel vaardig Darius dan uit?
12 Daniël in die leeukuil (6:2-29). Hoë amptenare in Darius se regering smee onheil teen Daniël deur die koning ’n wet te laat aanneem waarvolgens niemand 30 dae lank ’n versoek tot enige god of mens behalwe die koning mag rig nie. Enigiemand wat dit oortree, moet vir die leeus gegooi word. Daniël weier om hierdie wet wat sy aanbidding raak te gehoorsaam en wend hom tot Jehovah in gebed. Hy word in die leeukuil gegooi. Op wonderdadige wyse sluit Jehovah se engel die bekke van die leeus, en die volgende oggend is koning Darius bly om Daniël ongedeerd aan te tref. Die vyande word nou as voedsel vir die leeus gegooi, en die koning vaardig ’n bevel uit dat die God van Daniël gevrees word, aangesien ‘hy die lewende God is’ (6:27). Daniël is voorspoedig in diens van die regering, en later ook in die regering van Kores.
13. Watter visioen het Daniël in ’n persoonlike droom van vier diere en die heerskappy van die Koninkryk?
13 Visioene van die diere (7:1–8:27). Ons gaan terug na “die eerste jaar van Belsasar”, wie se regering blykbaar in 553 v.G.J. begin het. Daniël ontvang ’n persoonlike droom, wat hy in Aramees opteken.g Hy sien vier groot en vreeslike diere een na die ander verskyn. Die vierde is buitengewoon sterk, en ’n horinkie kom tussen sy ander horings op en ‘spreek groot dinge’ (7:8). Die Oue van dae verskyn en neem sy sitplek in. “Duisend maal duisende” dien hom. ‘Een soos die Seun van ’n mens’ kom voor hom en ontvang “heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer” (7:10, 13, 14). Dan ontvang Daniël die uitleg van die visioen van die vier diere. Hulle stel vier konings, of koninkryke, voor. ’n Horinkie kom tussen die tien horings van die vierde dier op. Dit word magtig en voer oorlog teen die heiliges. Die hemelse Gereg tree egter tussenbeide en gee “die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel . . . aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste”.—7:27.
14. Watter visioen het Daniël oor ’n bokram en ’n ram met twee horings? Hoe lê Gabriël dit uit?
14 Twee jaar later, lank voor Babel se val, sien Daniël nog ’n visioen, wat hy in Hebreeus opteken. ’n Bokram met ’n opvallende horing tussen sy oë worstel met en oorwin ’n trotse ram wat twee horings het. Die bokram se groot horing word afgebreek en vier kleiner horings kom uit. Uit een van dié kom ’n horinkie wat groot word, dermate dat dit selfs die leër van die hemele uitdaag. ’n Tydperk van 2 300 dae word voorspel totdat die heiligdom tot sy “regte staat” gebring sal word (8:14). Gabriël lê die visioen vir Daniël uit. Die ram verteenwoordig die konings van Medië en Persië. Die bokram is die koning van Griekeland, wie se koninkryk in vier verdeel sal word. Later sal ’n koning, hard van aangesig, “teen die Vors van die vorste” opstaan. Aangesien die visioen “op ’n verre toekoms” sien, moet Daniël dit voorlopig geheim hou.—8:25, 26.
15. Wat laat Daniël tot Jehovah bid, en wat maak Gabriël nou oor “sewentig sewetalle” bekend?
15 Messias die Vors word voorspel (9:1-27). “In die eerste jaar van Darius . . . van die Meders” bestudeer Daniël Jeremia se profesie. In die besef dat Jerusalem se voorspelde 70 jaar van verwoesting ten einde loop, bid Daniël tot Jehovah en bely hy sy eie sondes en dié van Israel (Dan. 9:1-4; Jer. 29:10). Gabriël verskyn om bekend te maak dat daar “sewentig sewetalle”, of weke, sal wees “om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen”. Messias die Vors sal aan die einde van 69 weke kom, waarna hy afgesny sal word. Die verbond sal vir baie tot die einde van die 70ste week van krag bly, en ten slotte sal daar verwoesting en ’n uitwissing wees.—Dan. 9:24-27, vgl. NW.
16. Onder watter omstandighede verskyn ’n engel weer aan Daniël?
16 Die noorde teen die suide, Migael staan op (10:1–12:13). Dit is “die derde jaar van Kores”, en gevolglik omstreeks 536 v.G.J., nie lank ná die Jode se terugkeer na Jerusalem nie. Na ’n drie weke lange vas is Daniël by die wal van die Hiddekelrivier (Dan. 10:1, 4; Gen. 2:14). ’n Engel verskyn aan hom en verduidelik dat ‘die vors van Persië’ hom probeer verhinder het om na Daniël te kom, maar dat “Migael, een van die vernaamste vorste”, hom gehelp het. Hy gee Daniël nou ’n visioen wat vir “die einde van die dae” geld.—Dan. 10:13, 14.
17. Watter profetiese geskiedenis van die koning van die noorde en die koning van die suide teken Daniël nou op?
17 Wanneer hierdie boeiende visioen begin, handel dit oor die Persiese dinastie en ’n komende stryd met Griekeland. ’n Magtige koning met groot heerskappy sal opstaan, maar sy koninkryk sal in vier dele verdeel word. Uiteindelik sal daar twee lang koningslyne wees, die koning van die suide teenoor die koning van die noorde. Die magstryd sal heen en weer swaai. Hierdie onverbeterlik slegte konings sal aan een tafel leuens bly spreek. “Op die vasgestelde tyd” sal die oorlog weer opvlam. God se heiligdom sal ontheilig word en die “gruwel [wat verwoesting veroorsaak]”, sal opgestel word (11:29-31, vgl. NW). Die koning van die noorde sal wonderbaarlike dinge teen die God van die gode spreek en die god van die vestings vereer. Wanneer die koning van die suide “in die tyd van die einde” met die koning van die noorde in botsing kom, sal die koning van die noorde baie lande instroom en ook “die Pragtige Land” binnedring. Verontrus deur gerugte uit die ooste en die noorde sal hy voortwoed en “sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag”. Hy sal dus “aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie”.—11:40, 41, 45.
18. Watter dinge gebeur terwyl Migael ten behoewe van ‘die kinders van God se volk’ staan?
18 Die indrukwekkende visioen gaan voort: Migael staan ten behoewe van ‘die kinders van God se volk’. Daar sal “’n tyd van benoudheid” wees soos daar nog nooit in die mensegeskiedenis was nie, maar diegene wat in die boek opgeskrywe staan, sal ontkom. Baie sal uit die stof tot ewige lewe ontwaak, “en die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel”. Hulle sal baie tot regverdigheid lei. Daniël moet die boek “tot die tyd van die einde” verseël. “Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly?” Die engel meld tydperke van drie en ’n halwe tye, 1 290 dae, en 1 335 dae en sê dat net “die verstandiges sal verstaan”. Gelukkig is húlle! Ten slotte doen die engel die gerusstellende belofte aan Daniël dat hy sal rus en dan “aan die einde van die dae” tot sy bestemming sal opstaan.—12:1, 3, 4, 6, 10, 13.
WAAROM NUTTIG
19. Watter goeie voorbeelde van onkreukbaarheid en gebedsvertroue op Jehovah word in die boek Daniël gevind?
19 Dit is wys vir almal wat vasbeslote is om hulle onkreukbaarheid in ’n vyandige wêreld te handhaaf om die goeie voorbeeld van Daniël en sy drie metgeselle in oënskou te neem. Ongeag hoe kwaai die bedreiging, hulle het godvrugtige beginsels bly naleef. Toe hulle lewe in gevaar was, het Daniël ‘slim en verstandig’ en met respek vir die koning se hoër gesag opgetree (2:14-16). Toe die saak op die spits gedryf is, het die drie Hebreërs die brandende vuuroond bo ’n daad van afgodery verkies, en Daniël het die leeukuil verkies bo die verlies van sy voorreg om tot Jehovah te bid. In albei gevalle het Jehovah beskerming verskaf (3:4-6, 16-18, 27; 6:11, 12, 24). Daniël self is ’n uitstekende voorbeeld van gebedsvertroue op Jehovah God.—2:19-23; 9:3-23; 10:12.
20. Watter vier visioene is oor die wêreldmoondhede opgeteken, en waarom is dit geloofversterkend om hulle vandag te ondersoek?
20 ’n Ondersoek van Daniël se visioene is aangrypend en geloofversterkend. Beskou eerstens die vier visioene oor die wêreldmoondhede: (1) Daar is die visioen van die verskriklike beeld, wie se hoof van goud die dinastie van Babiloniese konings voorstel wat met Nebukadnesar begin, waarna drie ander koninkryke opkom, wat deur die ander dele van die beeld afgebeeld word. Dit is hierdie koninkryke wat deur die “klip” verbrysel word, wat op sy beurt “’n koninkryk” word “wat in ewigheid nie vernietig sal word nie”, God se Koninkryk (2:31-45). (2) Dan volg Daniël se persoonlike visioene, waarvan die eerste dié van die vier diere is wat “vier konings” afbeeld. Hulle is soos ’n leeu, ’n beer, ’n luiperd met vier koppe, en ’n dier wat groot ystertande, tien horings en later ’n horinkie het (7:1-8, 17-28). (3) Vervolgens is daar die visioen van die ram (Medo-Persië), die bokram (Griekeland) en die horinkie (8:1-27). (4) Laastelik het ons die visioen van die koning van die suide en die koning van die noorde. Daniël 11:5-19 gee ’n akkurate beskrywing van die wedywer tussen die Egiptiese en Seleucide-takke van Alexander se Griekse Ryk ná Alexander se dood in 323 v.G.J. Vanaf vers 20 beskryf die profesie steeds die opeenvolging van nasies van die suide en die noorde. Jesus se verwysing na “die gruwel wat verwoesting veroorsaak” (11:31, NW) in sy profesie oor die teken van sy teenwoordigheid toon dat hierdie magstryd van die twee konings tot “die voleinding van die wêreld” voortduur (Matt. 24:3). Hoe vertroostend is die profesie se versekering tog dat Migael self in die “tyd van benoudheid . . . soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie” sal opstaan om goddelose nasies uit die weg te ruim en vrede vir die gehoorsame mensdom te bring!—Dan. 11:20–12:1.
21. Hoe het Daniël se profesie van die “sewentig sewetalle” ’n merkwaardige vervulling gehad?
21 Dan is daar Daniël se profesie van die “sewentig sewetalle”, of weke. Na 69 weke sou “’n Gesalfde, ’n Vors”, verskyn. Dit is merkwaardig dat Jesus van Nasaret 483 jaar (69 keer 7 jaar) na “die uitgang van die woord” om Jerusalem te herbou, soos gemagtig deur Artasasta (Artaxerxes) in sy 20ste jaar en uitgevoer deur Nehemia in Jerusalem, in die Jordaanrivier gedoop en met heilige gees gesalf is, waardeur hy Christus, of Messias (dit wil sê, Gesalfde), geword het.h Dit was in die jaar 29 G.J. Daarna was daar, soos Daniël ook voorspel het, “’n verwoester” toe Jerusalem in 70 G.J. verwoes is.—Dan. 9:24-27; Luk. 3:21-23; 21:20.
22. Watter les leer ons uit die verootmoediging van Nebukadnesar?
22 In Nebukadnesar se droom van die afgekapte boom, soos opgeteken deur Daniël in hoofstuk 4, word daar vertel dat die koning, wat oor sy eie prestasies gespog en vertroue in sy eie mag gestel het, deur Jehovah God verootmoedig is. Hy moes soos ’n dier van die veld lewe totdat hy erken het “dat die Allerhoogste mag het oor [“Heerser is in”, NW] die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Dan. 4:32). Sal ons vandag soos Nebukadnesar wees en oor ons eie prestasies spog en ons vertroue in die mag van mense stel, sodat God ons moet straf, of sal ons verstandig wees en erken dat Hy die Heerser in die koningskap van die mens is en ons vertroue in sy Koninkryk stel?
23. (a) Hoe word die Koninkrykshoop dwarsdeur Daniël beklemtoon? (b) Wat moet hierdie boek van profesieë ons aanspoor om te doen?
23 Die Koninkrykshoop word dwarsdeur die boek Daniël op ’n geloofinboesemende wyse beklemtoon! Jehovah God word uitgebeeld as die Oppersoewerein wat ’n Koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie en wat alle ander koninkryke sal verbrysel (2:19-23, 44; 4:25). Selfs die heidense konings Nebukadnesar en Darius moes Jehovah se oppermag erken (3:28, 29; 4:2, 3, 37; 6:26-28). Jehovah word verhoog en verheerlik as die Oue van dae wat regspreek in die Koninkryksgeskil en aan iemand “soos die Seun van ’n mens” die ewige “heerskappy en eer en koningskap” gee sodat “al die volke en nasies en tale . . . Hom vereer”. Dit is “die heiliges van die Allerhoogste” wat met Christus Jesus, “die Seun van die mens”, in die Koninkryk deel (Dan. 7:13, 14, 18, 22; Matt. 24:30; Openb. 14:14). Hy is Migael, die groot vors, wat sy Koninkryksmag gebruik om al die koninkryke van hierdie ou wêreld te verbrysel en daar ’n einde aan te maak (Dan. 12:1; 2:44; Matt. 24:3, 21; Openb. 12:7-10). ’n Begrip van hierdie profesieë en visioene moet liefhebbers van geregtigheid aanspoor om hulleself in te span en die bladsye van God se Woord te deursoek om die waarlik “wonderbaarlike dinge” van God se Koninkryksvoornemens te vind wat vir ons deur die geïnspireerde en nuttige boek Daniël geopenbaar word.—Dan. 12:2, 3, 6.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 1269.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 283.
c Archaeology and the Bible, 1949, George A. Barton, bladsy 483.
d The Yale Oriental Series · Researches, Dl. XV, 1929.
e Archiv für Orientforschung, Dl. 18, 1957-58, bladsy 129.
f Belsasar het blykbaar van Nabonidus se derde jaar af as medebewindhebber begin regeer. Aangesien daar gemeen word dat Nabonidus in 556 v.G.J. begin regeer het, was die derde jaar van sy heerskappy en “die eerste jaar van Belsasar” blykbaar 553 v.G.J.—Daniël 7:1; sien Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 283; Dl. 2, bladsy 457.
g Daniël 2:4b–7:28 is in Aramees geskryf, terwyl die res van die boek in Hebreeus geskryf is.
h Nehemia 2:1-8; sien ook Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 899-901.