HOOFSTUK DERTIEN
“Roep dít uit onder die nasies”
1. Waarom kan die feit dat Jehovah met sy profeet gepraat het, met ’n leeu se gebrul vergelyk word?
HET jy al ooit ’n leeu hoor brul? Daar word gesê dat ’n leeu se gebrul harder is as die geluid van ’n lughamerboor. Wat sal jy doen as jy ’n leeu in die stilte van die nag naby jou hoor brul? Jy sal waarskynlik onmiddellik reageer. Amos, een van die 12 profete wie se geskrifte ons bespreek, het hierdie vergelyking gebruik: “’n Leeu het gebrul! Wie sal nie bang wees nie? Die Soewereine Heer Jehovah het gespreek! Wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:3-8). Sal jy nie soos Amos reageer as jy Jehovah hoor praat nie? Hy het onmiddellik opgetree en teen die tienstammeryk van Israel begin profeteer.
2. (a) Hoe kan jy Amos navolg in die uitvoering van die opdrag om te profeteer? (b) Wat gaan ons in hierdie hoofstuk bespreek?
2 Jy sê dalk: ‘Maar ek is nie ’n profeet nie!’ Jy voel miskien heel onbekwaam omdat jy nie formele opleiding as ’n profeet ontvang het nie. Maar dink aan Amos. Toe hy deur die kalfaanbiddende priester Amasia gekonfronteer is, het Amos gesê: “Ek was nie ’n profeet nie, en ook was ek nie die seun van ’n profeet nie; maar ek was ’n veewagter en ’n prikker van die vye van wildevyebome” (Amos 7:14). Hoewel Amos uit ’n nederige agtergrond gekom het, was hy bereid om sy opdrag as ’n profeet van Jehovah uit te voer. Wat van jou? Besef jy dat jy ’n toewysing gegee is wat in sekere opsigte ooreenkom met dié van die 12 profete? Jy moet God se boodskap vir vandag verkondig sowel as ander onderrig en dissipels maak. Hoe beskou jy hierdie ernstige toewysing? Wat is die boodskap wat jy onder die nasies moet uitroep, oftewel verkondig? Hoe deeglik volbring jy hierdie toewysing? Wat bepaal of jou werk suksesvol is? Kom ons kyk na die antwoorde.
‘DIE JONG BULLE VAN JOU LIPPE’
3. Hoe kan jy betrokke wees by ’n werk wat ooreenkom met dié van die profete wie se geskrifte ons bestudeer?
3 Is jy werklik betrokke by ’n werk soos dié van die profete? Jy het dalk nie die leeu hoor brul in die sin dat jy regstreeks deur Jehovah geïnspireer is nie. Maar jy het die dringende boodskap oor die naderende dag van Jehovah uit sy Woord, die Bybel, gehoor. Soos ons in Hoofstuk 1 van hierdie boek gesien het, het die woorde “profeet” en “profeties” ’n verskeidenheid betekenisse. Al is jy nie ’n profeet in die sin waarin Amos of die ander profete van die ou tyd was nie, kan jy nog steeds oor die toekoms praat. Hoe? Jy kan die profetiese boodskappe bekend maak wat jy in die Heilige Skrif bestudeer het, onder meer dié van die 12 profete. Dit is nou die tyd om juis dít te doen.
4. In watter sin word die profesie in Joël 2:28-32 vandag vervul?
4 Beskou die saak uit ’n ander oogpunt. Jehovah God het die profeet Joël vertel van ’n tyd wanneer allerhande soorte mense as ’t ware sou profeteer: “Daarna sal ek my gees op elke soort vlees uitstort, en julle seuns en julle dogters sal beslis profeteer. Wat julle ou manne betref, hulle sal drome droom. Wat julle jong manne betref, hulle sal visioene sien” (Joël 2:28-32). Op Pinksterdag van 33 G.J. het die apostel Petrus hierdie gedeelte toegepas op die uitstorting van die heilige gees op diegene wat in ’n bovertrek in Jerusalem bymekaar was en op hulle gevolglike verkondiging van “die luisterryke dinge van God” (Handelinge 1:12-14; 2:1-4, 11, 14-21). Dink nou aan ons tyd. Die grotere vervulling van Joël se profesie vind sedert vroeg in die 20ste eeu plaas. Geesgesalfde Christene—manlik en vroulik, oud en jonk—het begin “profeteer”, dit wil sê “die luisterryke dinge van God” begin verkondig, insluitende die goeie nuus van die Koninkryk, wat nou in die hemel opgerig is.
5. (a) Watter voorreg het ons almal? (b) Wat beteken dit vir jou om “die jong bulle van [jou] lippe” aan te bied, en wat vereis dit van jou?
5 Hoewel hulle nie deur heilige gees verwek is om kinders van God te wees nie, sê “’n groot menigte” “ander skape” vir die gesalfde volgelinge van Jesus Christus: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Openbaring 7:9; Johannes 10:16; Sagaria 8:23). Hetsy jy die hoop op ewige lewe in die hemel of op die aarde het, jy het die voorreg om “die jong bulle van [jou] lippe” aan te bied (Hosea 14:2). Wat beteken hierdie uitdrukking in Hosea se profesie? “Jong bulle . . . was die beste diere vir dankoffers”, sê die Bybelgeleerde C. F. Keil. Die apostel Paulus het na Hosea 14:2 verwys en geskryf: “Laat ons . . . altyd aan God ’n lofoffer bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Ja, die uitdrukking “die jong bulle van ons lippe” verwys na die allerbeste van ons lippe, die woorde wat ons tot lof van Jehovah spreek.
6. Waarom moet ons die gehalte van ons lofoffers ondersoek?
6 Jy bring lofoffers aan Jehovah wanneer jy opregte gebede tot hom rig, by Christelike vergaderinge kommentare van waardering oor hom lewer en in die openbare bediening geesdriftig met ander praat. Elkeen van ons kan egter vra: ‘Wat is die gehalte van my offer wanneer ek aan hierdie bedrywighede deelneem?’ Wat jy gestudeer het, het jou ongetwyfeld minagting laat kry vir die priesters van Maleagi se dag wat onbeskaamd gebreklike diere na God se altaar gebring het. Deur Maleagi moes Jehovah hulle aandag vestig op die swak gehalte van hulle offerandes, want hulle het nie gedink dat hulle die tafel van Jehovah verag nie (Maleagi 1:8). Dit sal gevolglik verstandig van ons wees om die gehalte van ons offers te ondersoek om te verseker dat dit die allerbeste is en nie in enige opsig gebrekkig is nie.
DIE BOODSKAP WAT VERKONDIG MOET WORD
7. Moed is nodig om watter aspek van ons tweeledige boodskap te verkondig?
7 Dit verg moed om “die jong bulle van ons lippe” in die bediening aan te bied, nie waar nie? Dit is omdat die boodskap wat ons na mense neem, tweeledig is, en een van die aspekte daarvan is beslis nie gewild nie. Die profeet Joël het vir God se volk gesê: “Roep dít uit onder die nasies: ‘Heilig ’n oorlog! Wek die kragtige manne op! Laat hulle nader kom! Laat hulle optrek, al die krygsmanne!’” (Joël 3:9). Wat ’n uitdaging is dit tog aan die nasies, aangesien dit in ons dag van toepassing is! Dit is ’n verklaring van Jehovah se regverdige oorlog teen godtartende mense. Terwyl Jehovah sy volk beveel om “van hulle swaarde ploegskare [te] smee en van hulle spiese snoeimesse”, sê hy vir die vyandelike nasies om “van [hulle] ploegskare swaarde [te smee] en van [hulle] snoeimesse lanse” (Miga 4:3; Joël 3:10). Ja, God se vyande moet hulle voorberei om die Skepper van die heelal in oorlog te ontmoet. Dit is beslis nie ’n gerusstellende boodskap wat ons moet oordra nie.
8. Waarom word “die oorblywendes van Jakob” met ’n leeu vergelyk?
8 In die profeet Miga se boodskap word diegene wat ‘die jong bulle van hulle lippe’ aanbied, met ’n leeu vergelyk. Hy het geskryf: “Die oorblywendes van Jakob sal onder die nasies . . . soos ’n leeu onder die diere van ’n woud word, soos ’n jong maanhaarleeu onder troppe skape, wat, wanneer hy deurtrek, beslis vertrap sowel as verskeur; en daar is geen verlosser nie” (Miga 5:8). Waarom hierdie vergelyking? In ons dag moet God se volk, met die gesalfde oorblyfsel aan die voorpunt, leeuemoed aan die dag lê wanneer hulle die waarskuwingsboodskap aan die nasies verkondig.a
9. (a) Wanneer moet jy leeuemoed aan die dag lê? (b) Hoe kan jy moedig wees wanneer jy voor teenstand of onverskilligheid te staan kom?
9 Is jy so moedig soos ’n leeu wanneer jy die waarskuwende aspek van die boodskap verkondig? Jy het moontlik nie net sulke moed nodig wanneer jy voor mense in gesagsposisies staan nie, maar ook wanneer jy met jou portuurs by die skool of by die werk of met jou ongelowige familielede praat (Miga 7:5-7; Matteus 10:17-21). Hoe kan jy moed bymekaarskraap wanneer jy voor teenstand of onverskilligheid te staan kom? Luister wat Miga in staat gestel het om die gedugte taak uit te voer om oor die vernietiging van Samaria sowel as Jerusalem te waarsku: “Ek . . . het vol krag geword, met die gees van Jehovah, en geregtigheid en mag, om aan Jakob sy opstandigheid te verkondig en aan Israel sy sonde” (Miga 1:1, 6; 3:8). Jy kan ook ‘vol krag word’, want jy kan ook God se versterkende gees in oorvloedige mate ontvang (Sagaria 4:6). Biddende vertroue op God sal jou in staat stel om die woorde bekend te maak wat ore kan laat tuit.—2 Konings 21:10-15.
10. Hoe kan ons Sefanja navolg wanneer ons die boodskap oor “die dag van Jehovah” verkondig?
10 Jy wil moedig wees, maar jy moet ook taktvol wees wanneer jy die waarskuwingsboodskap aan mense oordra. Ons moet “teer [of, “taktvol”] wees teenoor almal”, selfs wanneer die boodskap oor die naderende “dag van Jehovah” handel (2 Timoteus 2:24, voetnoot in NW; Joël 2:1, 11; Sefanja 1:14). Ons kan weer eens by die 12 profete leer. Hulle het oordeelsboodskappe van Jehovah met vrymoedigheid bekend gemaak, en tog het hulle diegene wat wou luister, in ag geneem. Die profeet Sefanja het byvoorbeeld nie doekies omgedraai toe hy met die hardnekkige vorste (of, edelmanne) van sy dag gepraat het nie, maar hy het getroue koning Josia nie by daardie kritiek ingesluit nie (Sefanja 1:8). Kan ons, wanneer ons die waarskuwingsboodskap bekend maak, mense help deur hulle as moontlike skape te beskou en nie ’n negatiewe beskouing van hulle te hê nie?—Matteus 25:32-34.
11. (a) Wat is die tweede aspek van die tweeledige boodskap wat ons dra? (b) Hoe kan jy die 12 profete navolg wanneer jy die dag van Jehovah verkondig?
11 Wat is die ander aspek van die tweeledige boodskap wat ons dra? Hierdie aspek word in Miga hoofstuk 5 beklemtoon. “Die oorblywendes van Jakob sal tussen baie volke soos dou van Jehovah word, soos oorvloedige reënbuie op die plante, wat nie op die mens hoop of op die mensekinders wag nie” (Miga 4:1; 5:7). As gevolg van die goeie nuus wat hulle vandag aan “baie volke” bring, is “die oorblywendes” van geestelike Jakob, of Israel, en hulle metgeselle soos verkwikkende “dou van Jehovah” en “oorvloedige reënbuie op die plante”. Ons behoort baie uit die laaste 12 boeke van die Hebreeuse Geskrifte oor hierdie tweede aspek van ons boodskap te leer, aangesien daardie profete nie net vernietiging nie, maar ook herstel verkondig het. Beklemtoon jy in jou bediening die positiewe aspek van die boodskap oor die dag van Jehovah?
HOE VERKONDIG JY HIERDIE BOODSKAP?
12, 13. (a) Wat beteken dit dat God se volk met swerms insekte vergelyk word? (b) Hoe voel jy oor wat jy in Joël 2:7, 8 lees?
12 Hoe verkondig jy dan hierdie tweeledige boodskap? Die profeet Joël het die werk van God se volk vergelyk met ’n reeks plae deur insekte, onder andere sprinkane (Joël 1:4). Maar waarom sê ons dat Jehovah se volk soos swerms insekte is, van alle dinge? Omdat God, volgens Joël 2:11, hierdie insekte as “sy krygsmag” identifiseer. (God se volk word ook in die boek Openbaring deur sprinkane afgebeeld. Sien Openbaring 9:3, 4.) Die werk van die insekte wat Joël beskryf het, was soos ’n verterende vuur, en waar hulle gegaan het, het hulle wat soos “die tuin van Eden” gelyk het, in “’n verlate wildernis” verander (Joël 2:2, 3). Hoe kan jy toon dat jy bewus is van die betekenis van Joël se profesie?
13 Dink aan hoe deeglik hierdie diertjies is. Joël het dit soos volg gestel: “Soos kragtige manne hardloop hulle. Soos krygsmanne klim hulle teen ’n muur op. En hulle gaan elkeen in sy eie weë, en hulle verander nie hulle paaie nie. En hulle stamp mekaar nie. Soos ’n man op sy weg, bly hulle gaan; en as party tussen die werpspiese val, wyk die ander nie van koers af nie” (Joël 2:7, 8). Geen “muur” van teenstand sal hulle en die plaag wat hulle veroorsaak, keer nie. “As party tussen die werpspiese val”, soos al die geval was met lojale Christene wat deur onderdrukkende vyande tereggestel is, sal ander die werk oorneem en die opdrag volbring wat Jehovah vir hulle het. Is jy vasbeslote om vol te hou met die toewysing om die dag van Jehovah te verkondig totdat God sien dat dit volbring is? Jy sit dalk selfs die werk voort in die plek van sommige getroue Christene wat gesterf het.
14. Hoe kan jy daartoe bydra dat die predikingswerk deeglik gedoen word?
14 Deeglikheid is die sleutel. Hoe kan jy persoonlik daartoe bydra dat die predikingswerk deeglik gedoen word, soos beskryf word in Joël se profesie? Deur aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem en dan terug te gaan om die mense te onderrig wat belangstelling getoon het. Jy gaan ook terug om in aanraking te kom met diegene wat nie by die huis was nie. So toon jy dat jy hierdie profetiese beeld verstaan. En wanneer jy vir mense op straat getuig, sal jy dalk diegene teëkom wat jy nie andersins sou kon bereik nie. Hier is nog ’n manier: Jy kan moontlik mense in jou buurt help wat uit ander lande geëmigreer het.b Is jy op die uitkyk na al hierdie geleenthede waardeur jy daartoe sal bydra dat die predikingswerk vandag deeglik gedoen word?
WAT BEPAAL JOU SUKSES?
15. Wat is opmerkenswaardig omtrent mense se reaksie op die boodskappe van die 12 profete?
15 Hoe reageer mense op die boodskap oor die vreesinboesemende dag van Jehovah? Dit moet jou nie verbaas as jy teenstand of onverskilligheid teëkom nie. Dit was die geval met baie van God se profete, waarvan die meeste kragtige waarskuwingsboodskappe moes oordra (Jeremia 1:17-19; 7:27; 29:19). Nietemin het ’n aantal profete positiewe resultate gesien! Ten minste vyf van hulle—Jona, Miga, Sefanja, Haggai en Sagaria—kon die harte van party mense beweeg om berou te toon oor hulle vorige sondes en hulle weë te verander.
16. Watter vrugte het Miga se pogings as ’n profeet afgewerp?
16 Sefanja se werk as ’n profeet het koning Josia blykbaar beweeg om rein aanbidding te begin herstel. Miga het ’n oordeelsboodskap teen die hoofde van Juda met vrymoedigheid verkondig, en koning Hiskia se dade het met Miga se woorde ooreengestem (Miga 3:1-3). Dit is interessant dat party ouer manne van Jeremia se dag na Hiskia se reaksie verwys het as ’n goeie voorbeeld toe hulle gesê het dat die koning ‘Jehovah gevrees het en die aangesig van Jehovah versag het’ (Jeremia 26:18, 19; 2 Konings 18:1-4). Onder Hiskia se leierskap het die volk van Juda en gewilliges uit die noordelike koninkryk die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Koeke gevier en selfs die fees met nog ’n week verleng. Wat was die gevolg van hulle terugkeer tot ware aanbidding? “Daar was groot blydskap in Jerusalem” (2 Kronieke 30:23-26). Miga het God se oordeelsboodskap aan die afvallige nasie onder koning Agas begin verkondig. Die profeet kon nietemin die goeie vrugte van sy pogings sien toe Agas se seun Hiskia gunstig gereageer het.
17. Wat het Haggai en Sagaria reggekry?
17 Dink ook aan die profete Haggai en Sagaria. Hulle het die teruggekeerde Jode gedien, wat onverskillig en egosentries geword het (Haggai 1:1, 2; Sagaria 1:1-3). Teen die tyd dat die twee profete in hulle toewysings begin dien het, het 16 jaar verloop sedert die fondament van die tempel gelê is. Mense ‘het rondgehardloop, elkeen vir sy eie huis’ terwyl Jehovah se huis ‘woes gelê’ het. Haggai het vir die Jode gesê: “‘Wees sterk, julle almal, volk van die land’, is die woord van Jehovah, ‘en werk.’” Wat het toe gebeur? Jehovah het “die gees” van goewerneur Serubbabel, hoëpriester Josua en “al die oorblywendes van die volk opgewek”. Gevolglik kon hulle die werk aan die tempel voltooi.—Haggai 1:9, 12, 14; 2:4.
18, 19. (a) Hoe reageer mense in party lande op die verkondiging van die dag van Jehovah? (b) Hoe sal jy reageer op die behoefte om die waarskuwingsboodskap aan alle mense bekend te maak?
18 Die meeste van die 12 profete het boodskappe bekend gemaak aan die nasie wat oorspronklik aan Jehovah toegewy was. Ons getuig dalk vir mense wat die ware God nog nooit geken het nie, maar ons kan nogtans uit die resultate van die profete se bedrywighede leer. Vandag reageer mense in baie gebiede ook op die dringende boodskap oor die dag van Jehovah. Ons sien resultate soos dié wat deur Sagaria voorspel is: “Baie nasies sal beslis in dié dag by Jehovah aansluit, en hulle sal my volk word; en ek sal in jou midde woon” (Sagaria 2:11). God se volk vind nou in ’n letterlike sin ’n gunstige reaksie onder “baie nasies” (Openbaring 7:9). Sagaria het voorspel: “Baie volke en magtige nasies sal kom om Jehovah van die leërs in Jerusalem te soek en om die aangesig van Jehovah te versag.” Hulle word beskryf as “tien man uit al die tale van die nasies” wat die slip van ’n geestelike Israeliet sou vasgryp en sê: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”—Sagaria 8:20-23.
19 Let op die verwysing na “al die tale van die nasies”. Die Bybel en Bybellektuur word in baie tale vertaal, en Jehovah se Getuies lei bedienaars op om mense van “al die tale van die nasies” te onderrig (Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8). Jy het dalk ’n ander taal geleer om mense in julle omgewing te help wat daardie taal praat. En heelparty was al bereid om een of twee nuwe tale te leer en na lande te verhuis waar baie die goeie nuus gretig aanvaar. Is dit vir jou moontlik om na so ’n vrugbare gebied te verhuis en sodoende ‘dít onder die nasies uit te roep’? Oorweeg dit biddend. As jy ’n gesin het, moet jy die moontlikheid van so ’n stap dikwels die onderwerp van gesinsgesprekke maak en só hierdie doelwit aan jou kinders voorhou terwyl hulle grootword.
20. Op watter gesindheid het Jehovah die aandag gevestig in verband met die mense van Nineve?
20 Nog ’n profeet wat met mense gepraat het wat teen alle verwagting in geluister het, was Jona. Die manne van Nineve, en selfs die koning, het gunstig gereageer op Jona se boodskap en geloof gestel in Jehovah. God het gevra: “Behoort ék nie jammer te voel vir Nineve, die groot stad, waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat glad nie die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand ken nie?” (Jona 4:11). Dink aan hoe hierdie woorde betrekking het op jou beweegrede om die vreesinboesemende dag van Jehovah aan ander te verkondig. Voel jy dat jy baie verskuldig is aan Jehovah omdat hy jou deur middel van die losprys gered het? Voel jy dat jy as ’n toegewyde kneg van Jehovah ’n verantwoordelikheid het? (1 Korintiërs 9:16, 17). Dit is geldige redes om die dag van Jehovah te verkondig. Maar voel jy ook “jammer” vir die mense aan wie jy die dag van Jehovah verkondig? Hoe bly kan jy tog wees as goddelike barmhartigheid jou beweeg om met mense oor daardie dag te praat!
21. Wat kan jy leer uit die voorbeeld wat Amos gestel het toe Amasia hom gedreig het?
21 Ons weet nie veel van die reaksies wat Joël, Obadja, Nahum, Habakuk en Maleagi ontvang het nie. Ons weet wel van ten minste een reaksie wat Amos ontvang het. Amasia het Amos sterk teëgestaan en die profeet daarvan beskuldig dat hy ’n sameswering teen die koning gesmee het en het Amos probeer verbied om in Bet-El te preek (Amos 7:10-13). Amos het die teenstand moedig die hoof gebied. Vandag probeer godsdiensyweraars dalk ook om party politieke leiers te beïnvloed om Jehovah se volk te vervolg of selfs om ’n verbod op hulle voordelige predikingswerk te plaas. Sal jy Amos navolg deur die goeie nuus met vrymoedigheid te verkondig ondanks teenstand?
22. Waarom kan jy sê dat die bediening in julle gebied suksesvol is?
22 Hoewel die 12 profete verskillende reaksies ondervind het, het hulle almal hulle opdrag uitgevoer. Die hoofsaak is nie dat mense gunstig reageer op die tweeledige boodskap wat ons dra nie, maar dat ons “die jong bulle van ons lippe”, ons allerbeste “lofoffer”, aan Jehovah bring (Hosea 14:2; Hebreërs 13:15). Dan kan ons die resultate aan God oorlaat. Hy sal diegene trek wat werklik skape is (Johannes 6:44). Verder kan jy as ’n verkondiger van die goddelike boodskap suksesvol wees ongeag hoe mense reageer. Jy kan seker wees dat “die voete van iemand wat goeie nuus bring, wat vrede verkondig”, lieflik is in die oë van diegene wat die goeie nuus met waardering aanneem. Maar hulle is bowenal lieflik in Jehovah se oë (Nahum 1:15; Jesaja 52:7). Aangesien die groot dag van Jehovah so naby is, moet jy vasbeslote wees om voort te gaan om te doen wat Joël vir ons tyd voorspel het: “Roep dít uit onder die nasies: ‘Heilig ’n oorlog! Wek die kragtige manne op!’” Dit beteken God se oorlog teen die nasies.—Joël 3:9.
a Die eerste vervulling van hierdie profesie het moontlik gedurende die Makkabese tydperk plaasgevind toe die Jode onder die Makkabeërs hulle vyande uit Juda verdryf het en die tempel weer toegewy het. Dit het ’n oorblyfsel van die Jode in staat gestel om die Messias te verwelkom toe hy verskyn het.—Daniël 9:25; Lukas 3:15-22.
b Die boekie Good News for People of All Nations, uitgegee deur Jehovah se Getuies, word met welslae gebruik om mense te help wat nie die hooftaal van jou omgewing praat nie.