Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ’n Erfenis waarop jy kan staatmaak
    Die Wagtoring – 2004 | Oktober 1
    • ’n Erfenis waarop jy kan staatmaak

      “AS JY per pos deur ’n ‘boedelagent’ in kennis gestel word dat daar ’n onopgeëiste erfenis op jou wag, pas op. Jy kan die teiken van ’n geslepe swendelaar wees.”

      Dit is ’n waarskuwing wat die Verenigde State se Posinspeksiediens op hulle webwerf gesit het. Waarom? Omdat duisende mense ’n kennisgewing in die pos ontvang het wat gesê het: ‘Een van jou familielede is oorlede en het vir jou ’n erfenis nagelaat.’ Gevolglik het baie ’n fooi van R210 of meer gestuur sodat hulle ’n ‘boedelverslag’ kon kry wat glo sou verduidelik waar die erfenis is en hoe dit opgeëis kon word. Hulle is erg teleurgestel. Al hierdie mense het dieselfde verslag ontvang—en die kanse dat enigiemand enigiets sou erf, was feitlik nul.

      Sulke bedrieglike skemas buit mense se natuurlike begeerte uit om ’n erfenis te ontvang. En tog praat die Bybel met goedkeuring van diegene wat ’n erfenis voorsien wanneer dit sê: “Iemand wat goed is, sal ’n erfenis vir kleinkinders nalaat” (Spreuke 13:22). Trouens, Jesus Christus self het hierdie welbekende stelling wat baie mense na aan die hart lê, in sy Bergpredikasie gemaak: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërf.”—Matteus 5:5, King James Version.

      Jesus se woorde herinner ons aan wat koning Dawid van eertydse Israel geïnspireer is om eeue vroeër te skryf: “Die sagmoediges sal die aarde beërf; en hulle sal hulle verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11, KJ.

      “Die aarde beërf”—wat ’n opwindende vooruitsig! Maar kan ons seker wees dat dit nie net nog ’n bedrieglike skema is wat bedoel is om mense van iets te ontneem nie? Ja ons kan. Aangesien die aarde deel is van Jehovah se wonderlike skepping, het hy as die Maker en Eienaar daarvan die wetlike reg om dit te gee aan wie hy wil. Deur koning Dawid het Jehovah hierdie profetiese belofte aan Sy geliefde Seun, Jesus Christus, gemaak: “Vra my, sodat ek nasies as jou erfdeel kan gee en die eindes van die aarde as jou besitting” (Psalm 2:8). Daarom het die apostel Paulus Jesus beskryf as die een “wat [God] as erfgenaam van alles aangestel het” (Hebreërs 1:2). Ons kan dus vol vertroue wees dat Jesus, toe hy gesê het dat die sagmoediges “die aarde sal beërf”, dit te goeder trou gedoen het, en dat hy die gesag het om sy belofte te vervul.—Matteus 28:18.

      Die deurslaggewende vraag is dan: Hoe sal hierdie belofte bewaarheid word? Oral waar ons vandag kyk, lyk dit asof aggressiewe en hooghartige mense die oorhand kry en vat net wat hulle wil hê. Wat sal vir die sagmoediges oorbly? Daarbenewens word die aarde geteister deur ernstige probleme met besoedeling en sy hulpbronne word deur hebsugtige en kortsigtige mense uitgebuit. Sal daar op die ou end ’n aarde wees om te beërf? Ons nooi jou om die volgende artikel te lees om die antwoord op hierdie en ander belangrike vrae te kry.

  • “Die sagmoediges sal die aarde beërf”—Hoe?
    Die Wagtoring – 2004 | Oktober 1
    • “Die sagmoediges sal die aarde beërf”—Hoe?

      “JY KEN waarskynlik Jesus se bemoedigende woorde dat ‘die sagmoediges die aarde sal beërf’. Maar met die oog op wat mense aan mekaar en aan die aarde doen, wonder ’n mens dalk: Wat sal oorbly vir die sagmoediges om te beërf?”—Matteus 5:5; Psalm 37:11; King James Version.

      Myriam, een van Jehovah se Getuies, het hierdie vraag gebruik om ’n Bybelbespreking met ’n man te begin. As Jesus hierdie belofte gemaak het, het die man geantwoord, sal die aarde beslis ’n erfenis wees wat die moeite werd is en nie ’n verwoeste of onbewoonbare puinhoop nie.

      Dit was ongetwyfeld ’n optimistiese antwoord. Maar het ons rede om so ’n positiewe beskouing te hê? Ja ons het, want die Bybel gee ons kragtige redes om te glo dat dié belofte bewaarheid sal word. Eintlik hou die vervulling van daardie belofte ten nouste verband met God se voorneme met die mensdom en met die aarde. En ons word verseker dat God sy voornemens sal uitvoer (Jesaja 55:11). Maar wat was God se oorspronklike voorneme met die mens, en hoe sal dit alles volbring word?

      God se ewige voorneme met die aarde

      Jehovah God het die aarde met ’n spesifieke doel geskep. “Só het Jehovah gesê, die Skepper van die hemele, Hy, die ware God, die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan, Hy, wat dit stewig gevestig het, wat dit nie verniet geskep het nie, wat dit gevorm het om bewoon te word: ‘Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie’ ” (Jesaja 45:18). Die aarde is dus spesifiek geskep vir die mens om dit te bewoon. Verder is dit God se voorneme dat die aarde ’n ewige tuiste vir die mensdom moet wees. “Hy het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie.”—Psalm 104:5; 119:90.

      God se voorneme met die aarde blyk ook duidelik uit die opdrag wat hy aan die eerste mensepaar gegee het. Jehovah het vir Adam en Eva gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees” (Genesis 1:28). Die aarde, wat God aan Adam en Eva toevertrou het, moes ’n ewige tuiste vir hulle en hulle nageslag wees. “Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel”, het die psalmis baie eeue later gesê, “maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee.”—Psalm 115:16.

      Om daardie wonderlike vooruitsig te verwesenlik, moes Adam en Eva, sowel as hulle nageslag, as individue erken dat Jehovah God, die Skepper en Lewegewer, hulle Soewerein is en bereid wees om hom te gehoorsaam. Jehovah het geen ruimte gelaat vir twyfel in dié verband toe hy hierdie bevel aan die mens gegee het nie: “Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:16, 17). As Adam en Eva in die tuin van Eden wou bly lewe, moes hulle daardie eenvoudige en duidelike bevel gehoorsaam. Dit sou ’n blyk wees van hulle waardering vir alles wat die hemelse Vader vir hulle gedoen het.

      Toe Adam en Eva opsetlik ongehoorsaam was aan God deur die bevel te oortree wat hy hulle gegee het, het hulle in werklikheid die een wat hulle van alles voorsien het wat hulle gehad het, die rug toegekeer (Genesis 3:6). Sodoende het hulle hulle pragtige Paradystuiste verloor, nie net vir hulleself nie, maar ook vir hulle nageslag (Romeine 5:12). Het die ongehoorsaamheid van die eerste mensepaar die voorneme waarmee God die aarde geskep het, verydel?

      ’n God wat nie verander het nie

      Deur sy profeet Maleagi het God verklaar: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Die Franse Bybelgeleerde L. Fillion het op hierdie vers kommentaar gelewer en gesê dat hierdie verklaring ten nouste verband hou met die vervulling van goddelike beloftes. “Jehovah kon sy opstandige volk uitgewis het”, het Fillion geskryf, “maar omdat hy onveranderlik is wat sy beloftes betref, sal hy, ten spyte van alles, die beloftes gestand doen wat hy in die verlede gemaak het.” God se beloftes, of dit nou aan ’n individu, ’n nasie of aan die hele mensdom gemaak is, sal nie vergeet word nie, maar op sy bestemde tyd uitgevoer word. “Hy het aan sy verbond gedink, ja, tot onbepaalde tyd, die woord wat hy beveel het, tot in duisend geslagte.”—Psalm 105:8.

      Maar hoe kan ons seker wees dat Jehovah nie sy oorspronklike voorneme met die aarde verander het nie? Ons kan hiervan seker wees omdat daar in God se geïnspireerde Woord, die Bybel, deurgaans melding gemaak word van die goddelike voorneme om die aarde aan gehoorsame mense te gee (Psalm 25:13; 37:9, 22, 29, 34). Wat meer is, die Skrif sê dat diegene wat deur Jehovah geseën word, in veiligheid woon, dat elkeen “onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom” sit “sonder dat iemand hulle laat bewe” (Miga 4:4; Esegiël 34:28). Diegene wat deur Jehovah gekies is, “sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet”. Hulle sal selfs in vrede lewe met die diere van die veld.—Jesaja 11:6-9; 65:21, 25.

      Die Bybel voorsien op nog ’n manier ’n voorskou van God se belofte. Gedurende die heerskappy van koning Salomo het die nasie Israel ’n tyd van vrede en voorspoed geniet. Onder sy heerskappy het “Juda en Israel . . . in veiligheid gewoon, elkeen onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo” (1 Konings 4:25). Die Bybel sê dat Jesus “meer as Salomo” is, en toe die psalmis van Sy heerskappy gepraat het, het hy geprofeteer: “In sy dae sal die regverdige bloei, en die oorvloed van vrede totdat die maan nie meer is nie.” Dan sal “daar . . . volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees”.—Lukas 11:31; Psalm 72:7, 16.

      Jehovah God sal sy woord gestand doen en seker maak dat die beloofde erfenis nie net beskikbaar is nie, maar ook tot sy volle prag herstel word. God se Woord sê in Openbaring 21:4 vir ons dat God in die beloofde nuwe wêreld ‘elke traan van [mense se] oë sal afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie’. Wat belowe word, is beslis ’n paradys.—Lukas 23:43.

      Hoe om die beloofde erfenis te ontvang

      Die aarde sal in ’n paradys omskep word onder ’n regering wat vanuit die hemel sal heers, ’n Koninkryk met Jesus Christus as Koning (Matteus 6:9, 10). Eerstens sal daardie Koninkryk “die verderwers van die aarde . . . verderf” (Openbaring 11:18; Daniël 2:44). Dan sal Jesus Christus, as die “Vredevors”, hierdie profetiese woorde vervul: “Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie” (Jesaja 9:6, 7). Onder daardie Koninkryk sal miljoene mense, insluitende diegene wat deur middel van die opstanding weer sal lewe, die geleentheid hê om die aarde te beërf.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

      Wie sal in aanmerking kom vir daardie wonderlike erfenis? Beskou Jesus se woorde: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Wat beteken dit om saggeaard, of sagmoedig, te wees? Woordeboeke definieer “sagmoedig”, of “saggeaard”, oor die algemeen as sag, gematig, onderdanig, stil en selfs skugter. Maar die oorspronklike Griekse woord wat gebruik is, beteken veel meer. “Daar is sagtheid” in dié woord, sê William Barclay se New Testament Wordbook, “maar agter die sagtheid is daar die krag van staal”. Dit dui op ’n geestesgesindheid wat iemand in staat stel om onreg te verduur sonder om gegriefd te voel of wraakgedagtes te koester, wat alles die gevolg is van ’n goeie verhouding met God, en daardie verhouding word vir hom ’n bron van krag.—Jesaja 12:2; Filippense 4:13.

      Iemand wat sagmoedig is, aanvaar nederig God se standaarde in alle aspekte van sy persoonlike lewe; hy dring nie daarop aan om sy eie beskouing of dié van ander te volg nie. Hy is ook bereid om deur Jehovah geleer te word. Die psalmis Dawid het geskryf: “[Jehovah] sal die sagmoediges in sy regterlike beslissing laat wandel, en hy sal die sagmoediges sy weg leer.”—Psalm 25:9; Spreuke 3:5, 6.

      Sal jy onder “die sagmoediges” wees wat die aarde sal beërf? As jy kennis van Jehovah en sy wil inneem deur middel van ’n ywerige studie van sy Woord en toepas wat jy leer, kan jy ook daarna uitsien om ’n aardse paradys te beërf en vir ewig daarop te woon.—Johannes 17:3.

Afrikaanse publikasies (1975-2023)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2023 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel