-
Verligting van spanning—Praktiese hulpDie Wagtoring – 2001 | Desember 15
-
-
Onder die juk
9, 10. Waarvan was die juk in die ou tyd ’n simbool, en waarom het Jesus mense genooi om sy juk op hulle te neem?
9 Het jy opgemerk dat Jesus in die woorde wat uit Matteus 11:28, 29 aangehaal word, gesê het: “Neem my juk op julle en leer by my.” Destyds het die gewone mens dalk gevoel asof hy onder ’n juk werk. Die juk is van ouds af as ’n simbool van slawerny of knegskap beskou (Genesis 27:40; Levitikus 26:13; Deuteronomium 28:48). Baie van die dagwerkers wat Jesus teëgekom het, het met ’n letterlike juk op hulle skouers gewerk en swaar laste gedra. Na gelang van hoe ’n juk gemaak is, het dit of gemaklik op die nek en skouers gepas of dit het die persoon geskaaf. As ’n timmerman het Jesus moontlik jukke gemaak, en hy sou geweet het hoe om een te maak wat “sag” is. Dalk het hy die dele wat aan die nek en skouers raak, met leer of materiaal beklee om die juk so gemaklik as moontlik te maak.
10 Toe Jesus gesê het: “Neem my juk op julle”, het hy hom dalk vergelyk met iemand wat gemaklike jukke gemaak het wat “sag” op die werker se nek en skouers sou rus. Daarom het Jesus bygevoeg: “My vrag is lig.” Dit het aangedui dat die jukstok nie onaangenaam was om te gebruik nie, en die werk was ook nie slawearbeid nie. Deur sy luisteraars te nooi om sy juk te aanvaar, het Jesus weliswaar nie onmiddellike verligting belowe van alle verdrukkende toestande wat destyds geheers het nie. Tog sou die verandering in sienswyse wat hy gebied het, groot verkwikking meebring. Veranderinge in hulle lewens- en handelswyse sou ook verligting bring. Nog belangriker, ’n duidelike en vaste hoop sou hulle help om die spanning in hulle lewe beter te verwerk.
Jy kan verkwikking geniet
11. Waarom impliseer Jesus se woorde nie bloot ’n verruiling van jukke nie?
11 Let asseblief op dat Jesus nie gesê het dat mense een juk vir ’n ander een sou verruil nie. Rome sou nog steeds oor die land regeer, net soos hedendaagse regerings in die lande regeer waar Christene woon. Eerste-eeuse Romeinse belasting sou nie weggedoen word nie. Gesondheids- en ekonomiese probleme sou nog daar wees. Onvolmaaktheid en sonde sou steeds ’n uitwerking op mense hê. Nogtans kon hulle verkwikking geniet deur Jesus se leringe te aanvaar, net soos vandag met ons die geval kan wees.
12, 13. Waarop het Jesus die klem gelê wat verkwikking sou meebring, en hoe het party gereageer?
12 ’n Belangrike toepassing van Jesus se illustrasie van die juk het duidelik geword in verband met die dissipelmaakwerk. Dit ly geen twyfel nie dat onderrigting Jesus se vernaamste werk was, met die klem op God se Koninkryk (Matteus 4:23). Toe hy dus gesê het: “Neem my juk op julle”, sou dit beslis ingesluit het dat hy in daardie selfde werk nagevolg moet word. Die Evangelieverslag toon dat Jesus opregte mense beweeg het om van beroep te verander, iets wat belangrik in die lewe van baie was. Onthou hoe hy Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes genooi het: “Kom agter my aan, en ek sal maak dat julle vissers van mense word” (Markus 1:16-20). Hy het aan daardie vissermanne getoon hoe bevredigend dit sou wees as hulle die werk doen wat hy eerste in sy lewe gestel het en as hulle dit onder sy leiding en met sy hulp sou doen.
13 Party van sy Joodse luisteraars het die punt gesnap en dit toegepas. Stel jou die strandtoneel voor waarvan ons in Lukas 5:1-11 lees. Vier vissermanne het die hele nag deur geswoeg, maar niks gevang nie. Skielik was hulle nette vol! Dit was nie per toeval nie; dit was deur Jesus se toedoen. Toe hulle in die rigting van die strand kyk, het hulle ’n menigte mense gesien wat opreg in Jesus se leringe belanggestel het. Dit het gehelp om te verklaar wat Jesus vir daardie vier gesê het: “Van nou af sal [julle] mense lewend vang.” Wat was hulle reaksie? “Hulle het dus die bote teruggebring land toe en alles laat staan en hom gevolg.”
14. (a) Hoe kan ons vandag verkwikking vind? (b) Watter verkwikkende goeie nuus het Jesus verkondig?
14 Jy kan op soortgelyke wyse reageer. Die werk om mense Bybelwaarheid te leer, word nog steeds gedoen. Regoor die wêreld het ongeveer sesmiljoen Getuies van Jehovah Jesus se uitnodiging aanvaar om ‘sy juk op hulle te neem’; hulle het “vissers van mense” geword (Matteus 4:19). Party doen dit voltyds; ander doen soveel as wat hulle kan deeltyds. Almal vind dit verkwikkend, en daarom verwerk hulle die spanning in die lewe beter. Dit beteken dat hulle doen wat hulle geniet, naamlik om ander van die goeie nuus te vertel—“die goeie nuus van die koninkryk” (Matteus 4:23). Dit is altyd aangenaam om oor goeie nuus te praat, maar veral hierdie goeie nuus. Die Bybel bevat al die inligting wat ons nodig het om baie mense daarvan te oortuig dat hulle ’n minder spanningsvolle lewe kan lei.—2 Timoteus 3:16, 17.
15. Hoe kan ons by Jesus se leringe oor die lewe baat vind?
15 In sekere mate het selfs mense wat maar onlangs van God se Koninkryk begin leer het, baat gevind by Jesus se leringe oor hoe om te lewe. Baie kan in alle eerlikheid sê dat Jesus se leringe hulle verkwik het en hulle gehelp het om hulle lewe te verander. Jy kan jou hiervan vergewis deur te kyk na party van die lewensbeginsels wat in die verslae aangaande Jesus se lewe en bediening uiteengesit word, veral die Evangelieverslae wat deur Matteus, Markus en Lukas geskryf is.
’n Manier om verkwikking te vind
16, 17. (a) Waar kan jy party van Jesus se vernaamste leringe vind? (b) Wat is nodig om verkwikking te vind deur die toepassing van Jesus se leringe?
16 In die lente van 31 G.J. het Jesus ’n toespraak gehou wat tot vandag toe wêreldbekend is. Dit word gewoonlik die Bergpredikasie genoem. Dit staan opgeteken in Matteus hoofstukke 5 tot 7 en in Lukas hoofstuk 6, en dit som baie van sy leringe op. Jy kan nog leringe van Jesus in die res van die Evangelies vind. Baie van wat hy gesê het, is duidelik en verstaanbaar, hoewel dit moeilik kan wees om dit toe te pas. Lees gerus daardie hoofstukke sorgvuldig en peinsend deur. Laat die krag van sy gedagtes jou denke en gesindheid beïnvloed.
17 Jesus se leringe kan natuurlik op verskillende maniere gerangskik word. Kom ons groepeer die vernaamste leringe sodat daar een vir elke dag van die maand is, met die doel om dit in jou lewe toe te pas. Hoe? Wel, moenie dit te vinnig lees nie. Onthou die ryk heerser wat vir Jesus Christus gevra het: “Deur wat te doen, sal ek die ewige lewe beërf?” Toe Jesus noodsaaklike vereistes van God se Wet opgenoem het, het die man gesê dat hy dit alreeds nakom. Hy het nietemin besef dat hy meer moes doen. Jesus het hom aangespoor om hom in groter mate in te span om godvrugtige beginsels op praktiese maniere toe te pas, om ’n aktiewe dissipel te wees. Die man was klaarblyklik nie bereid om so ver te gaan nie (Lukas 18:18-23). Iemand wat vandag Jesus se leringe wil leer, moet derhalwe in gedagte hou dat dit een ding is om met daardie leringe saam te stem en iets heeltemal anders is om dit daadwerklik aan te neem, wat dan spanning verlig.
18. Lig toe hoe jy die bygaande venster nuttig kan gebruik.
18 As ’n eerste stap in ’n studie van Jesus se leringe en die toepassing daarvan kan ons na punt 1 in die bygaande venster kyk. Dit verwys na Matteus 5:3-9. Om die waarheid te sê, enigeen van ons kan ’n hele ruk lank oor die wonderlike raad in hierdie verse peins. Maar wat leer jy aangaande gesindhede as jy na al die verse kyk? Wat sal jou help as jy werklik die uitwerking van te veel spanning in jou lewe wil oorkom? Hoe kan dit ’n goeie uitwerking op jou hê as jy meer aandag aan geestelike sake gee en jy meer daaraan dink? Is daar iets in jou lewe waaraan jy minder waarde moet heg sodat jy meer aandag aan geestelike sake kan wy? As jy dít doen, sal dit nou reeds tot jou geluk bydra.
19. Wat kan jy doen om groter insig en begrip te verkry?
19 Neem die saak nou ’n stap verder. Waarom bespreek jy nie hierdie verse met ’n ander kneg van God nie, dalk jou huweliksmaat, ’n familielid of ’n vriend? (Spreuke 18:24; 20:5). Hou in gedagte dat die ryk heerser iemand anders—Jesus—oor ’n verwante saak gevra het. Die antwoord daarop kon sy vooruitsig op geluk en ewige lewe verbeter het. Die medeaanbidder met wie jy hierdie verse bespreek, sal nie gelyk aan Jesus wees nie; tog sal die bespreking oor Jesus se leringe julle albei baat. Probeer dit so gou moontlik doen.
20, 21. Watter program kan jy volg om Jesus se leringe te leer, en hoe kan jy jou vooruitgang bepaal?
20 Kyk weer na die bygaande venster “Leringe wat jou sal help”. Hierdie leringe word so gegroepeer dat jy na ten minste een lering per dag kan kyk. Jy kan eers lees wat Jesus gesê het in die verse wat aangegee word. Dink dan na oor sy woorde. Peins oor hoe jy dit in jou lewe kan toepas. As jy meen dat jy dit alreeds doen, kan jy peins oor wat jy nog kan doen om volgens dié Goddelike onderrigting te lewe. Probeer dit gedurende daardie dag toepas. As jy sukkel om dit te verstaan of om te sien hoe jy dit kan toepas, kan jy nog ’n dag daaraan afstaan. Maar hou in gedagte dat jy dit nie hoef te bemeester voordat jy aangaan na die volgende punt nie. Die volgende dag kan jy na ’n ander lering kyk. Aan die einde van ’n week kan jy terugkyk om te sien hoe goed jy daarin geslaag het om vier of vyf van Jesus se leringe jou eie te maak. Die tweede week kan jy elke dag nog een byvoeg. As jy vind dat jy nie heeltemal daarin geslaag het om ’n sekere lering toe te pas nie, moet jy nie mismoedig raak nie. Elke Christen sal dit ondervind (2 Kronieke 6:36; Psalm 130:3; Prediker 7:20; Jakobus 3:8). Gaan voort met die program tydens die derde en die vierde week.
21 Ná ’n maand of wat sal jy moontlik al 31 punte gedek het. Wat ook al die geval is, hoe sal jy daarna voel? Sal jy nie ietwat gelukkiger, dalk meer ontspanne, wees nie? Al was daar net ’n geringe verbetering, sal jy waarskynlik minder spanning ervaar, of jy sal jou spanning ten minste beter kan verwerk, en jy sal ’n metode hê om mee voort te gaan. Moenie vergeet dat daar baie ander goeie punte in Jesus se leringe is wat nie op die lys verskyn nie. Kyk gerus wat party van hulle is en probeer dit toepas.—Filippense 3:16.
22. Wat kan die gevolg wees as ons Jesus se leringe volg, maar watter bykomende aspek verdien ons ondersoek?
22 Jy kan sien dat Jesus se juk, hoewel dit nie gewigloos is nie, waarlik sag is. Die vrag van sy leringe en van dissipelskap is lig. Ná meer as 60 jaar van persoonlike ondervinding het die apostel Johannes, Jesus se geliefde vriend, hiermee saamgestem: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Jy kan dieselfde vertroue hê. Hoe langer jy Jesus se leringe toepas, hoe meer sal jy vind dat dinge wat vir baie mense vandag groot spanning in die lewe veroorsaak, nie vir jou so erg sal wees nie. Jy sal sien dat jy groot verligting gevind het (Psalm 34:8, NW). Maar daar is nog ’n aspek van Jesus se sagte juk wat jy moet ondersoek. Jesus het ook gemeld dat hy “saggeaard en nederig van hart” is. Hoe pas dit in by die feit dat ons by Jesus moet leer en hom moet navolg? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.—Matteus 11:29.
-
-
“Leer by my”Die Wagtoring – 2001 | Desember 15
-
-
“Leer by my”
“Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.”—MATTEUS 11:29.
1. Waarom kan dit aangenaam en verrykend wees om by Jesus te leer?
JESUS CHRISTUS se denke, onderrigting en optrede was altyd gepas. Sy tyd op die aarde was kort, maar hy het ’n lonende en bevredigende loopbaan gehad en gelukkig gebly. Hy het dissipels gemaak en hulle geleer hoe om God te aanbid, mense lief te hê en die wêreld te oorwin (Johannes 16:33). Hy het hulle harte met hoop vervul en “lig op lewe en onverderflikheid gewerp . . . deur die goeie nuus” (2 Timoteus 1:10). As jy jouself as een van sy dissipels beskou, wat dink jy beteken dit om ’n dissipel te wees? Deur te kyk wat Jesus oor dissipelskap sê, kan ons leer hoe ons ons lewe kan verryk. Dit behels dat ons sy beskouing ons eie maak en sekere basiese beginsels toepas.—Matteus 10:24, 25; Lukas 14:26, 27; Johannes 8:31, 32; 13:35; 15:8.
2, 3. (a) Wat is ’n dissipel van Jesus? (b) Waarom is dit belangrik om ons af te vra: ‘Wie se dissipel het ek geword?’
2 In die Christelike Griekse Geskrifte beteken die woord wat met “dissipel” vertaal word, iemand wat sy verstand op iets rig of iemand wat iets leer. ’n Verwante woord kom in ons temateks, Matteus 11:29, voor: “Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.” Ja, ’n dissipel is ’n leerling. Die Evangelies gebruik gewoonlik die woord “dissipel” met verwysing na Jesus se intieme volgelinge, dié wat saam met hom gereis het terwyl hy gepreek het en wat deur hom onderrig is. Party mense het dalk eenvoudig Jesus se leringe aangeneem, en dit soms in die geheim (Lukas 6:17; Johannes 19:38). Die Evangelieskrywers het ook verwys na “die dissipels van Johannes [die Doper] en die dissipels van die Fariseërs” (Markus 2:18). Aangesien Jesus sy volgelinge gewaarsku het om ‘op hulle hoede te wees vir die leer van die Fariseërs’, kan ons ons afvra: ‘Wie se dissipel het ek geword?’—Matteus 16:12.
3 As ons Jesus se dissipels is, as ons by hom geleer het, dan behoort ander geestelik verkwik te voel in ons teenwoordigheid. Hulle behoort te kan sien dat ons meer saggeaard en nederig van hart geword het. As ons bestuursverantwoordelikhede by die werk het, as ons ouers of herders in die Christengemeente is, kan ons vra: Voel diegene onder my sorg dat ek hulle behandel soos Jesus mense onder sy sorg behandel het?
Hoe Jesus mense behandel het
4, 5. (a) Waarom is dit nie moeilik om uit te vind hoe Jesus mense met probleme behandel het nie? (b) Watter ondervinding het Jesus gehad toe hy in die huis van ’n Fariseër geëet het?
4 Dit is vir ons belangrik om te weet hoe Jesus mense behandel het, veral dié met ernstige probleme. Dit behoort nie moeilik te wees om uit te vind nie; die Bybel bevat baie verslae van Jesus se handelinge met ander, waarvan party probleme gehad het. Ons kan ook let op die manier waarop die godsdiensleiers, veral die Fariseërs, mense met soortgelyke probleme behandel het. Die verskil sal insiggewend wees.
5 In die jaar 31 G.J., terwyl Jesus op ’n predikingsreis in Galilea was, het “een van die Fariseërs [Jesus] bly vra om by hom te kom eet”. Jesus het die uitnodiging geredelik aanvaar. “Gevolglik het hy in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel gaan lê. En kyk! ’n vrou wat in die stad as ’n sondares bekend gestaan het, het verneem dat hy in die huis van die Fariseër vir ’n maaltyd aan tafel lê, en sy het ’n albaste fles welriekende olie gebring en ’n plek agter by sy voete ingeneem, en sy het gehuil en sy voete met haar trane begin natmaak en hulle met die hare van haar kop afgedroog. Ook het sy sy voete teer gesoen en hulle met die welriekende olie gesalf.”—Lukas 7:36-38.
6. Waarom was die vrou wat “’n sondares” was, moontlik by die huis van ’n Fariseër?
6 Kan jy jou dit voorstel? Een naslaanwerk sê: “Die vrou (v.37) het die maatskaplike gebruike benut waarvolgens behoeftiges na so ’n feesmaal kon kom om van die oorskietkos te kry.” Dit verklaar dalk hoe iemand ongenooid kon inkom. Daar was moontlik ander wat gehoop het om aan die einde van die maaltyd van die oorskietkos te kry. Maar hierdie vrou se gedrag was ongewoon. Sy het nie van die kant af toegekyk en gewag vir die ete om te eindig nie. Sy het ’n slegte reputasie gehad en was algemeen bekend as “’n sondares”, sodat Jesus gesê het dat hy geweet het van “haar sondes, hoewel hulle baie [was]”.—Lukas 7:47.
7, 8. (a) Hoe sou ons gereageer het onder omstandighede soos dié wat in Lukas 7:36-38 opgeteken staan? (b) Hoe het Simon gereageer?
7 Stel jou voor dat jy destyds gelewe het en in Jesus se plek was. Hoe sou jy gereageer het? Sou jy ongemaklik gevoel het as hierdie vrou jou genader het? Hoe sou so ’n situasie jou geraak het? (Lukas 7:45). Sou jy ontsteld, geskok, gewees het?
8 Sou jy, as jy een van die ander gaste was, in ’n mate soos Simon die Fariseër geredeneer het? “Toe die Fariseër wat [Jesus] genooi het dit sien, het hy by homself gesê: ‘As hierdie man ’n profeet was, sou hy geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is’” (Lukas 7:39). Jesus was daarenteen ’n man van innige medelye. Hy het die vrou se netelige situasie verstaan en haar foltering aangevoel. Daar word nie vir ons gesê hoe sy in ’n sondige lewenswyse verval het nie. As sy werklik ’n prostituut was, het die manne van die stad, toegewyde Jode, haar blykbaar nie gehelp nie.
9. Hoe het Jesus gereageer, en wat was moontlik die gevolg?
9 Maar Jesus wou haar help. Hy het vir haar gesê: “Jou sondes is vergewe.” Toe het hy bygevoeg: “Jou geloof het jou gered; gaan heen in vrede” (Lukas 7:48-50). Die verslag eindig hier. Iemand maak dalk beswaar en sê dat Jesus nie veel vir haar gedoen het nie. Hy het haar basies met sy seën weggestuur. Dink jy dat sy waarskynlik na haar betreurenswaardige lewenswyse teruggekeer het? Hoewel ons nie met sekerheid kan sê nie, kan ons let op wat Lukas hierna gesê het. Hy het vertel dat Jesus ‘van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis het en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk bekend gemaak’ het. Lukas het ook berig dat “sekere vroue” saam met Jesus en sy dissipels was, “wat hulle met [die vroue se] besittings bedien het”. Die moontlikheid kan nie uitgesluit word dat hierdie berouvolle en dankbare vrou onder hulle was nie; dat sy ’n godvrugtige lewenswyse begin lei het met ’n skoon gewete, hernieude doelgerigtheid en baie groter liefde vir God.—Lukas 8:1-3.
Die verskil tussen Jesus en die Fariseërs
10. Waarom is dit nuttig om die verslag van Jesus en die vrou by Simon se huis te bespreek?
10 Wat kan ons uit hierdie treffende verslag leer? Dit ontroer ons, nie waar nie? Stel jou voor jy was in Simon se huis. Hoe sou jy gevoel het? Sou jy soos Jesus gereageer het, of sou jy in ’n mate soos sy gasheer, die Fariseër, gevoel het? Jesus was die Seun van God, en daarom kan ons nie presies soos hy voel en optree nie. Daarenteen sal ons dalk nie graag wil dink dat ons soos Simon, die Fariseër, is nie. Min mense sou trots daarop wees om soos ’n Fariseër te wees.
11. Waarom wil ons nie soos die Fariseërs wees nie?
11 Uit ’n studie van Bybelse en sekulêre getuienis kan ons aflei dat die Fariseërs ’n hoë dunk van hulleself gehad het as bewakers van die volkswelsyn. Hulle was nie tevrede met die feit dat God se Wet in wese duidelik en maklik verstaanbaar was nie. Waar dit ook al vir hulle gelyk het of die Wet nie spesifiek is nie, het hulle die skynbare leemtes met definitiewe toepassings probeer vul sodat ’n gewete glad nie nodig sou wees nie. Hierdie godsdiensleiers het ’n grondreël probeer ontwerp om gedrag in alle situasies te beheer, selfs in nietighede.a
12. Hoe het die Fariseërs hulleself beskou?
12 Die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josefus toon duidelik dat die Fariseërs hulleself as goedhartig, saggeaard, regverdig en heeltemal bevoeg vir hulle taak beskou het. Party van hulle het ongetwyfeld baie van hierdie eienskappe gehad. Jy dink dalk aan Nikodemus (Johannes 3:1, 2; 7:50, 51). Sommige van hulle het mettertyd die Christelike weg aangeneem (Handelinge 15:5). Die Christenapostel Paulus het oor sekere Jode, soos die Fariseërs, geskryf: “Hulle [het] ’n ywer vir God . . . ; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Romeine 10:2). Maar in die Evangelies word hulle uitgebeeld soos die gewone mense hulle beskou het—hoogmoedig, verwaand, eiegeregtig, krities, veroordelend en vol minagting.
Jesus se beskouing
13. Wat het Jesus oor die Fariseërs gesê?
13 Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs as huigelaars bestraf. “Hulle bind swaar vragte saam en sit dit op die skouers van die mense, maar self is hulle nie bereid om dit met hulle vinger te verroer nie.” Ja, die vrag was swaar, en die juk wat op die volk geplaas is, was onderdrukkend. Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs verder “dwase” genoem. ’n Dwaas is ’n gevaar vir die gemeenskap. Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs ook “blinde gidse” genoem en gesê dat hulle “die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam [het], naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid”. Wie sal wil hê dat Jesus hom as ’n Fariseër moet beskou?—Matteus 23:1-4, 16, 17, 23.
14, 15. (a) Wat toon Jesus se handelinge met Matteus Levi omtrent die houding van die Fariseërs? (b) Watter belangrike lesse kan ons uit hierdie verslag leer?
14 Feitlik enige leser van die Evangelieverslae kan sien dat die meeste Fariseërs ’n kritiese gesindheid gehad het. Nadat Jesus Matteus Levi, die belastinggaarder, genooi het om ’n dissipel te word, het Levi ’n groot onthaal vir hom gegee. Die verslag sê: “Hierop het die Fariseërs en hulle skrifgeleerdes by sy dissipels begin murmureer en gesê: ‘Waarom eet en drink julle saam met belastinggaarders en sondaars?’ Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: ‘ . . . Ek het nie gekom om regverdiges tot berou te roep nie, maar sondaars.’”—Lukas 5:27-32.
15 Levi het ook iets anders verstaan wat Jesus by daardie geleentheid gesê het: “Gaan dan en leer wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie’” (Matteus 9:13). Hoewel die Fariseërs beweer het dat hulle in die geskrifte van die Hebreeuse profete glo, het hulle nie hierdie woorde van Hosea 6:6 aanvaar nie. As hulle ’n fout sou begaan, het hulle seker gemaak dat dit ten gunste van gehoorsaamheid aan oorlewering sou wees. Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Het ek die reputasie dat ek erg gesteld is op sekere reëls, soos dié wat persoonlike opvattings of die algemene siening van sake weerspieël? Of beskou ander my eerstens as barmhartig en goed?’
16. Wat het die Fariseërs gedoen, en hoe kan ons dit vermy om soos hulle te wees?
16 Pik, pik, pik. Dit is wat die Fariseërs gedoen het. Die Fariseërs het gesoek na die kleinste ou foutjie—hetsy werklik of denkbeeldig. Hulle het mense altyd verdedigend laat optree en hulle aan hulle tekortkominge herinner. Die Fariseërs het daarop geroem dat hulle tiendes gee van die kleinste kruiesoorte, soos kruisement, dille en komyn. Hulle het hulle vroomheid vertoon deur hulle kleredrag en het die volk probeer lei. As ons wil hê dat ons dade in ooreenstemming met Jesus se voorbeeld moet wees, moet ons sekerlik die neiging vermy om altyd na ander se foute te soek en die aandag daarop te vestig.
Hoe het Jesus probleme hanteer?
17-19. (a) Verduidelik hoe Jesus ’n situasie hanteer het wat baie ernstige gevolge kon gehad het. (b) Wat het die situasie gespanne en onaangenaam gemaak? (c) Hoe sou jy gereageer het as jy daar was toe die vrou Jesus genader het?
17 Die manier waarop Jesus probleme hanteer het, was heeltemal anders as dié van die Fariseërs. Kyk hoe Jesus ’n situasie hanteer het wat baie ernstig kon gewees het. Dit het te doen gehad met ’n vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Jy kan die verslag in Lukas 8:42-48 lees.
18 Markus se verslag sê dat die vrou “bang en bewend” was (Markus 5:33). Waarom? Ongetwyfeld omdat sy geweet het dat sy God se Wet oortree het. Volgens Levitikus 15:25-28 was ’n vrou met ’n onnatuurlike bloedvloeiing onrein solank sy dit gehad het, en nog ’n week daarna. Alles waaraan sy geraak het en enigiemand met wie sy in aanraking gekom het, het onrein geword. Om by Jesus uit te kom, moes hierdie vrou tussen die skare deur beweeg. Wanneer ons nou 2 000 jaar later na die verslag kyk, gaan ons hart uit na daardie vrou in haar moeilike situasie.
19 Hoe sou jy die situasie beskou het as jy daardie dag daar was? Wat sou jy gesê het? Let op dat Jesus hierdie vrou op ’n goedhartige, liefdevolle en bedagsame manier behandel het en nie eers verwys het na enige probleme wat sy kon veroorsaak het nie.—Markus 5:34.
20. Voor watter uitdaging sou ons te staan gekom het as Levitikus 15:25-28 vandag ’n vereiste was?
20 Kan ons iets uit hierdie voorval leer? Gestel jy is vandag ’n ouer man in ’n Christengemeente. En gestel dan ook dat Levitikus 15:25-28 vandag ’n Christelike vereiste is en dat ’n Christenvrou daardie wet verbreek het en nou angstig en hulpeloos voel. Hoe sou jy reageer? Sou jy haar in die openbaar verneder met kritiese raad? “O nee”, sê jy, “ek sal nooit so iets doen nie! Ek sal Jesus se voorbeeld navolg en alles in my vermoë doen om goedhartig, liefdevol en bedagsaam op te tree.” Baie goed! Maar die uitdaging is om dit te doen, om Jesus se voorbeeld na te volg.
21. Wat het Jesus mense aangaande die Wet geleer?
21 Mense is oor die algemeen deur Jesus verkwik, versterk en aangemoedig. Waar God se Wet spesifiek was, het dit bedoel wat dit gesê het. As dit gelyk het of dit nie spesifiek was nie, kon hulle hulle gewete in groter mate gebruik en deur hulle besluite hulle liefde vir God toon. Die Wet was buigsaam (Markus 2:27, 28). God het sy volk liefgehad, hy het voortdurend dinge vir hulle beswil gedoen en hy was bereid om barmhartig te wees wanneer hulle verkeerd gedoen het. Jesus was dieselfde.—Johannes 14:9.
-