-
Resultate van die predikingswerk—‘Die lande is wit vir die oes’God se Koninkryk regeer!
-
-
1, 2. (a) Waarom is die dissipels dronkgeslaan? (b) Van watter soort oes praat Jesus?
DIE dissipels is dronkgeslaan. Jesus het vir hulle gesê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes.” Hulle kyk in die rigting waarin Jesus wys, maar hulle sien net lande wat nie wit is nie, maar groen—die kleur van jong garsplantjies. ‘Watter oes?’ wonder hulle waarskynlik. ‘Dit is nog maande voor die oestyd.’—Joh. 4:35.
2 Maar Jesus praat nie van ’n letterlike oes nie. Hy benut eerder hierdie geleentheid om sy dissipels twee belangrike lesse oor ’n geestelike oes te leer—’n oes van mense. Wat is hierdie lesse? Om uit te vind, sal ons die verslag van naderby bekyk.
’n Oproep tot optrede en ’n belofte van vreugde
3. (a) Wat het Jesus moontlik beweeg om te sê dat ‘die lande wit is vir die oes’? (Sien die voetnoot.) (b) Hoe het Jesus duidelik gemaak wat hy bedoel het?
3 Jesus se gesprek met sy dissipels het aan die einde van 30 HJ plaasgevind, naby die Samaritaanse dorp Sigar. Terwyl sy dissipels die dorp binnegegaan het, het Jesus agtergebly by ’n put waar hy oor geestelike waarhede gepraat het met ’n vrou wat gou besef het hoe belangrik sy leringe is. Toe die dissipels na Jesus toe teruggekom het, het die vrou haar na Sigar gehaas om haar bure te vertel van die verbasende dinge wat sy geleer het. Wat sy hulle vertel het, het groot belangstelling gewek, en baie van haar bure het gou na die put gekom om Jesus te ontmoet. Dit was moontlik op hierdie oomblik—terwyl Jesus verby die lande gekyk het en in die verte ’n skare Samaritane sien aankom het—dat hy gesê het: “Aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes.”a Om duidelik te maak dat hy nie van ’n letterlike oes gepraat het nie, maar van ’n geestelike oes, het Jesus toe bygevoeg: “Die een wat oes, . . . versamel . . . vrug vir die ewige lewe.”—Joh. 4:5-30, 36.
4. (a) Watter twee lesse oor die oes het Jesus sy dissipels geleer? (b) Watter vrae sal ons bespreek?
4 Watter twee belangrike lesse oor die geestelike oes het Jesus sy dissipels geleer? Eerstens, die werk is dringend. Sy woorde dat “die lande . . . wit is vir die oes”, was vir sy volgelinge ’n oproep tot optrede. Om by sy dissipels tuis te bring presies hoe dringend die werk is, het Jesus bygevoeg: “Reeds ontvang die een wat oes, sy loon.” Ja, die oes het reeds begin—daar was geen tyd om te talm nie! Tweedens, die werkers is vreugdevol. Dié wat saai en dié wat oes, sou ‘saam bly wees’, het Jesus gesê (Joh. 4:35b, 36). Net soos Jesus ongetwyfeld bly was om te sien dat “baie van die Samaritane . . . geloof in hom gestel” het, sou sy dissipels groot vreugde ervaar terwyl hulle heelhartig aan die oes deelneem (Joh. 4:39-42). Hierdie eerste-eeuse verslag is vir ons van spesiale belang omdat dit toelig wat vandag gedurende die grootste geestelike oes van alle tye gebeur. Wanneer het hierdie hedendaagse oes begin? Wie neem daaraan deel? Wat is die resultate?
-
-
Resultate van die predikingswerk—‘Die lande is wit vir die oes’God se Koninkryk regeer!
-
-
a Jesus se opmerking dat ‘die lande wit is vir die oes’, kon verwys het na die wit klere wat die skare Samaritane dalk gedra het toe Jesus hulle sien aankom het.
-