“Ek beroep my op Caesar!”
’N OPROERIGE skare gryp ’n weerlose man en begin hom slaan. Hulle voel dat hy die dood verdien. Net toe dit lyk of hy beslis gaan sterf, daag daar soldate op en bevry hulle die slagoffer met moeite uit die hande van die gewelddadige skare. Die man is die apostel Paulus. Sy aanvallers is Jode wat heftig beswaar maak teen Paulus se predikingswerk en hom daarvan beskuldig dat hy die tempel verontreinig. Hy word gered deur Romeine, onder leiding van hulle bevelvoerder, Claudius Lisias. In die verwarring word Paulus as ’n vermeende kwaaddoener in hegtenis geneem.
Die laaste sewe hoofstukke van die boek Handelinge sit die saak uiteen wat op hierdie inhegtenisname gevolg het. ’n Begrip van Paulus se regsagtergrond, die aanklagte teen hom, sy verdediging en iets oor die Romeinse strafprosesreg werp lig op hierdie hoofstukke.
Onder bewaking van Claudius Lisias
Een van Claudius Lisias se pligte was om die orde in Jerusalem te handhaaf. Hy het onder bevel van die Romeinse goewerneur van Judea gestaan, wat in Sesarea gewoon het. Lisias se optrede in Paulus se geval kan gesien word as die beskerming van ’n individu teen geweld en as die aanhouding van ’n onrusstoker. Die Jode se reaksie het Lisias beweeg om sy gevangene na die soldate se kwartiere in die Toring van Antonia te neem.—Handelinge 21:27–22:24.
Lisias moes uitvind wat Paulus gedoen het. Gedurende die chaos het hy niks wys geword nie. Daarom het hy sonder meer beveel dat Paulus “onder geseling ondervra moet word, sodat hy . . . kon weet om watter rede hulle . . . teen hom skreeu” (Handelinge 22:24). Geseling was algemeen gebruik om ’n getuienis by misdadigers, slawe en ander mense van ’n laer stand af te dwing. Die gesel (flagel) was dalk doeltreffend, maar dit was ’n verskriklike instrument. Aan party van hierdie gesels het daar metaalballetjies aan kettings gehang. Ander het rieme gehad waarin daar skerp bene en stukkies metaal gevleg was. Dit het pynlike wonde veroorsaak en die vlees in repe geskeur.
Op daardie stadium het Paulus sy Romeinse burgerskap bekend gemaak. ’n Onveroordeelde Romein kon nie gegesel word nie, en daarom het dit dadelik die gewenste uitwerking gehad toe Paulus op sy regte aanspraak maak. ’n Romeinse offisier kon sy posisie verloor as hy ’n Romeinse burger mishandel of gestraf het. Dit is te verstane dat Paulus, van toe af, nie soos ’n gewone gevangene behandel is nie, maar besoekers kon ontvang.—Handelinge 22:25-29; 23:16, 17.
Omdat Lisias nie seker was van die aanklagte nie, het hy Paulus voor die Sanhedrin gebring om ’n verduideliking vir die opskudding te probeer kry. Maar Paulus het ’n twis laat ontstaan toe hy meld dat hy oor die kwessie van die opstanding geoordeel word. Die onenigheid was so erg dat Lisias bang was dat Paulus verskeur sou word, en weer moes Lisias hom uit die hande van die woedende Jode bevry.—Handelinge 22:30–23:10.
Lisias wou nie vir ’n vermoorde Romein verantwoordelik gehou word nie. Toe hy te hore kom van ’n komplot om Paulus dood te maak, het hy gou gereël dat sy gevangene afgeneem word na Sesarea. Regsformaliteite het vereis dat verslae waarin die saak uiteengesit word, gevangenes na ’n hoër regsowerheid moes vergesel. Daardie verslae het die aanvanklike ondersoek se uitslae bevat, asook die redes vir die stappe wat geneem is en die ondersoekbeampte se mening oor die saak. Lisias het gerapporteer dat Paulus ‘beskuldig is oor vraagstukke van die Joodse Wet, nie van enigiets wat die dood of boeie verdien nie’, en hy het Paulus se beskuldigers beveel om hulle klagtes voor die prokurator, Feliks, te bring.—Handelinge 23:29, 30.
Goewerneur Feliks lewer geen uitspraak nie
Provinsiale wetstoepassing was gegrond op Feliks se mag en gesag. As hy wou, kon hy plaaslike gebruike of die wetlike strafreg volg—wat op diegene in hoë kringe en op staatsamptenare van toepassing was. Dit het as die ordo, of lys, bekend gestaan. Hy kon ook op extra ordinem-wetstoepassing besluit, wat in die geval van enige misdaad gebruik kon word. Daar is van ’n provinsiale goewerneur verwag om ‘nie te oorweeg wat in Rome gedoen word nie, maar wat oor die algemeen gedoen behoort te word’. Baie is dus aan sy oordeel oorgelaat.
Nie al die besonderhede oor die eertydse Romeinse wet is bekend nie, maar Paulus se saak word beskou as “’n uitstekende voorbeeld van die provinsiale strafprosesreg, extra ordinem”. Die goewerneur, bygestaan deur raadgewers, sou beskuldigings deur private individue aanhoor. Die aangeklaagde is ingeroep om teenoor sy beskuldiger te staan, en hy kon homself verdedig, maar die bewyslas het op die eiser gerus. Die magistraat het enige straf opgelê wat na sy mening gepas was. Hy kon onmiddellik ’n besluit neem of sy uitspraak onbepaald uitstel, in welke geval die aangeklaagde in aanhouding sou bly. “Met sulke arbitrêre mag”, sê die geleerde Henry Cadbury, “was die prokurator ongetwyfeld in die posisie om voor ‘onbehoorlike invloed’ te swig en om omgekoop te word—om of vry te spreek, te veroordeel of uit te stel”.
Die hoëpriester Ananias, Joodse ouer manne en Tertullus het Paulus amptelik voor Feliks aangekla as ‘’n pes wat opstande onder die Jode verwek het’. Hulle het beweer dat hy ’n leier van “die sekte van die Nasareners” is en dat hy die tempel probeer ontheilig het.—Handelinge 24:1-6.
Paulus se oorspronklike aanvallers het gedink dat hy die nie-Jood genaamd Trofimus in die voorhof ingebring het wat slegs vir die Jode bedoel was (Handelinge 21:28, 29).a Die vermeende oortreder was streng gesproke Trofimus. Maar as die Jode van mening was dat Paulus se veronderstelde optrede die onregmatige betreding ondersteun en aangespoor het, kon dit ook as ’n halsmisdaad verklaar word. En dit lyk of Rome die toegewing gemaak het dat hierdie misdaad die doodsvonnis kon kry. As Paulus dus deur die Joodse tempelpolisie gearresteer is en nie deur Lisias nie, kon die Sanhedrin hom sonder meer verhoor en gevonnis het.
Die Jode het geredeneer dat die dinge wat Paulus mense geleer het, nie Judaïsme, of wettige godsdiens (religio licita), was nie. Dit moes eerder as onwettig, selfs ondermynend, beskou word.
Hulle het ook beweer dat Paulus “opstande onder al die Jode dwarsdeur die hele bewoonde aarde verwek” (Handelinge 24:5). Keiser Claudius het kort tevore teen Aleksandrynse Jode uitgevaar omdat hulle “’n universele plaag oor die hele wêreld verwek het”. Die ooreenkoms is treffend. “Dit was presies die soort aanklag om gedurende die heerskappy van Claudius of die vroeë jare van Nero teen ’n Jood in te bring”, sê die geskiedskrywer A. N. Sherwin-White. “Die Jode het die goewerneur probeer oorhaal om te verklaar dat Paulus se predikingswerk daarop neerkom dat hy burgerlike onluste dwarsdeur die hele Joodse bevolking van die Ryk veroorsaak. Hulle het geweet dat die goewerneurs teësinnig was om iemand skuldig te bevind op suiwer godsdienstige aanklagte, en daarom het hulle ’n politieke kleur aan die godsdienstige aanklag probeer gee.”
Paulus het homself punt vir punt verdedig. ‘Ek het geen oproerigheid veroorsaak nie. Ek behoort weliswaar aan wat hulle ’n “sekte” noem, maar dit impliseer dat ek Joodse voorskrifte onderhou. Sekere Jode uit Asië het die oproer begin. As hulle ’n klagte het, moet hulle hier wees om dit te maak.’ Paulus het basies die klagtes afgemaak as ’n godsdiensgeskil onder Jode, waaroor Rome min regsbevoegdheid gehad het. Versigtig om nie die Jode wat reeds so weerspannig was, nog verder te irriteer nie, het Feliks hulle verdaag en in werklikheid ’n wetlike dooie punt afgedwing. Paulus is nie aan die Jode, wat beweer het dat hulle die regsbevoegdheid het, oorgelewer nie, hy is ook nie volgens die Romeinse wet geoordeel nie en hy is ook nie vrygelaat nie. Feliks kon nie gedwing word om ’n uitspraak te lewer nie, en buiten dat hy die Jode se guns wou hê, het hy die saak om ’n ander rede uitgestel—hy het gehoop dat Paulus hom sou omkoop.—Handelinge 24:10-19, 26.b
Die krisis onder Porcius Festus
Twee jaar later het die Jode in Jerusalem hulle klagtes opnuut voor Porcius Festus, die nuwe goewerneur, gebring en gevra dat Paulus aan hulle jurisdiksie oorgelewer moet word. Maar Festus het onversetlik hierop gereageer: “Dit [is] nie die Romeinse prosedure . . . om enige mens as guns oor te lewer voordat die beskuldigde van aangesig tot aangesig teenoor sy beskuldigers gestel word en ’n kans kry om in verband met die klag ter verdediging van homself te spreek nie.” Die geskiedkundige Harry W. Tajra sê: “Festus het vinnig besef dat daar ’n geregtelike lynch teen ’n Romeinse burger beplan word.” Die Jode is dus aangesê om hulle saak in Sesarea te stel.—Handelinge 25:1-6, 16.
Daar het die Jode volgehou dat Paulus “nie langer behoort te lewe nie”; tog het hulle geen bewys gelewer nie, en Festus het bemerk dat Paulus niks gedoen het wat die dood verdien nie. “Hulle het slegs sekere geskille met hom gehad oor hulle eie aanbidding van die godheid en oor ’n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus bly verklaar het dat hy lewe”, het Festus aan ’n ander amptenaar verduidelik.—Handelinge 25:7, 18, 19, 24, 25.
Dit was duidelik dat Paulus onskuldig was aan enige politieke aanklag, maar wat die godsdiensgeskil betref, het die Jode waarskynlik aangevoer dat hulle hof die enigste bevoegde hof was. Sou Paulus na Jerusalem toe gaan vir uitspraak oor hierdie kwessies? Festus het Paulus gevra of hy dit sou doen, maar dit was werklik ’n onvanpaste voorstel. Om die verhoor in Jerusalem te hervat waar die beskuldigers regters sou word, het beteken dat Paulus aan die Jode oorgelewer sou word. “Ek staan voor die regterstoel van Caesar, waar ek geoordeel behoort te word”, het Paulus gesê. “Ek het die Jode geen onreg aangedoen nie . . . Geen mens [kan] my as guns aan hulle oorlewer nie. Ek beroep my op Caesar!”—Handelinge 25:10, 11, 20.
As ’n Romein hierdie woorde uitgespreek het, het dit alle provinsiale regsmag onderbreek. Sy reg tot appèl (provocatio) was “geldig, omvattend en doeltreffend”. Nadat Festus dus sy raadgewers oor die tegniese punte geraadpleeg het, het hy verklaar: “Op Caesar het jy jou beroep; na Caesar sal jy gaan.”—Handelinge 25:12.
Festus was bly om van Paulus ontslae te raak. Soos hy ’n paar dae later aan Herodes Agrippa II erken het, was die saak vir hom verwarrend. Festus moes toe vir die keiser ’n verklaring van die saak opstel, maar vir Festus het die aanklagte sulke ingewikkelde kwessies in verband met die Joodse wet bevat dat dit vir hom onverstaanbaar was. Agrippa was egter ’n deskundige op hierdie gebied, en toe hy dus belangstelling toon, is hy onmiddellik gevra om die brief te help opstel. Omdat Festus nie Paulus se daaropvolgende getuienis voor Agrippa verstaan het nie, het hy uitgeroep: “Jy word kranksinnig, Paulus! Groot geleerdheid dryf jou tot kranksinnigheid!” Maar Agrippa het dit baie goed verstaan. “Jy sal my in ’n kort tydjie oorreed om ’n Christen te word”, het hy gesê. Wat hulle ook al van Paulus se pleidooi gedink het, Festus en Agrippa het saamgestem dat Paulus onskuldig is en dat hy vrygelaat kon geword het as hy hom nie op Caesar beroep het nie.—Handelinge 25:13-27; 26:24-32.
Die einde van ’n lang regstryd
Toe Paulus in Rome aankom, het hy die vername manne van die Jode ontbied, nie net om vir hulle te getuig nie, maar ook om te sien wat hulle van hom weet. Dit kon iets oor sy aanklaers se bedoelings aan die lig gebring het. Dit was nie ongewoon vir die owerhede in Jerusalem om in ’n hofsaak die hulp van Romeinse Jode in te roep nie, maar Paulus het gehoor dat hulle geen instruksies oor hom gehad het nie. Hangende die verhoor is Paulus toegelaat om ’n huis te huur en vryelik te getuig. Sulke toegeeflikheid het dalk beteken dat Paulus in die Romeine se oë ’n onskuldige man was.—Handelinge 28:17-31.
Paulus was nog twee jaar in aanhouding. Waarom? Die Bybel gee nie enige besonderhede nie. ’n Appellant is gewoonlik aangehou totdat sy aanklaers opgedaag het om klagtes te lê, maar miskien het die Jode van Jerusalem besef hoe swak hulle saak is en net nooit opgedaag nie. Deur nie op te daag nie, was dalk die doeltreffendste manier om Paulus vir so lank as moontlik die swye op te lê. Hoe dit ook al sy, dit lyk of Paulus voor Nero gestaan het, onskuldig bevind is en uiteindelik vrygelaat is om met sy sendingwerk voort te gaan—ongeveer vyf jaar nadat hy in hegtenis geneem is.—Handelinge 27:24.
Teenstanders van die waarheid probeer lank reeds ‘onheil deur die wet stig’ om die Christelike predikingswerk te dwarsboom. Dit behoort ons nie te verbaas nie. Jesus het gesê: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Psalm 94:20, King James Version; Johannes 15:20). Maar Jesus verseker ons ook dat ons die vryheid sal hê om die goeie nuus aan die hele wêreld te verkondig (Matteus 24:14). Net soos die apostel Paulus dus volhard het ondanks vervolging en teenstand, sal Jehovah se Getuies van vandag ‘die goeie nuus verdedig en wetlik bevestig’.—Filippense 1:7.
[Voetnote]
a ’n Versierde klipreling, wat drie el hoog was, het ’n skeiding tussen die voorhof van die heidene en die binneste voorhof gemaak. In hierdie muur was daar oral waarskuwings, party in Grieks en party in Latyn: “Laat geen uitlander ingaan binne die versperring en die skeidsmuur om die heiligdom nie. Wie ook al gevang word, sal vir sy gevolglike dood verantwoordelik wees.”
b Dit was natuurlik onwettig. Een bron sê: “Onder die bepalings van die wet op afpersing, die Lex Repetundarum, is enigiemand wat ’n mags- of administratiewe posisie beklee het, verbied om omkoopgeld te vra of te aanvaar, om ’n man in boeie te slaan of vry te spreek, om ’n uitspraak te lewer of te weerhou of om ’n gevangene vry te laat.”