Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • God se wysheid—duidelik in die natuur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
    • God se wysheid​—Duidelik in die natuur

      “Hy is die Een wat ons meer leer as die diere van die aarde, en hy maak ons wyser as selfs die voëls van die hemel.”—JOB 35:11.

      VOËLS beskik oor verbasende vermoëns. Hulle voer bewegings in die lug uit wat deur vliegtuigontwerpers beny word. Party spesies vlieg duisende kilometers oor kenmerklose oseane en kom altyd by hulle bestemming uit.

      Nog ’n uitsonderlike vermoë van voëls—wat die wysheid van hulle Maker selfs verder openbaar—is dat hulle deur middel van roepe en sang kan kommunikeer. Kyk na ’n paar voorbeelde.

      Kommunikasie tussen voëls

      Party voëlspesies begin kommunikeer nog voordat hulle uitgebroei het. ’n Kwartelwyfie lê byvoorbeeld tot agt eiers, teen ’n tempo van een eier per dag. As al die eiers ewe lank geneem het om uit te broei, sou dit oor ’n tydperk van agt dae plaasgevind het. Die ma sou dan die moeilike taak gehad het om vir energieke week oue kuikens te sorg terwyl sy nog op ’n onuitgebroeide eier sit. Wat egter wel gebeur, is dat ’n broeisel van agt kwartelkuikens almal binne ’n tydperk van ses uur uit hulle doppe breek. Hoe is dit moontlik? ’n Sleutelrede, doen navorsers aan die hand, is dat kwartelembrio’s vanuit die eiers met mekaar kommunikeer en op die een of ander manier sorg dat hulle byna gelyktydig uitbroei.

      Wanneer voëls volwassenheid bereik, is dit gewoonlik die mannetjie wat sing. Hy doen dit veral gedurende paartyd om sy gebied af te baken of ’n maat te lok. Elk van die duisende voëlspesies het as ’t ware sy eie taal, en dit help die wyfies om maats van hulle eie spesie te identifiseer.

      Voëls sing hoofsaaklik vroegoggend en met sonsondergang, en dit met goeie rede. Daar is gedurende hierdie tye minder wind en agtergrondgeluide. Navorsers het ontdek dat voëlgesang in die oggend en in die aand tot 20 keer verder gehoor word as in die middel van die dag.

      Hoewel dit meestal die mannetjies is wat sing, gee mannetjies sowel as wyfies ’n verskeidenheid roepe, oftewel kort, afgebroke geluide, wat spesifieke betekenisse het. Gryskoppies het byvoorbeeld nege verskillende roepe. Hulle gebruik een soort roep om te waarsku teen ’n gevaar in die lug—soos ’n roofvoël—maar gee ’n ander roep om te waarsku teen ’n gevaar op die grond.

      ’n Voortrefliker gawe

      Die instinktiewe wysheid van voëls is beslis indrukwekkend. Maar wat kommunikasievaardighede betref, is mense baie indrukwekkender. God het mense “wyser as selfs die voëls van die hemel” gemaak, sê Job 35:11. Slegs mense het die vermoë om abstrakte, ingewikkelde gedagtes en idees oor te dra deur middel van geluide wat deur die stembande voortgebring word of deur middel van gebare.

      In teenstelling met alle ander skepsele is babas blykbaar geprogrammeer om ingewikkelde tale te leer. Die Internettydskrif American Scientist sê: “Klein kindertjies kan ’n taal aanleer selfs wanneer hulle ouers nie direk met hulle praat nie; dowe kinders sal selfs met hulle eie gebaretaal vorendag kom as hulle nie by die huis aan gebaretaal blootgestel word nie.”

  • God se wysheid—duidelik in die natuur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
    • Watter uitwerking het dit op jou?

      Watter uitwerking het dit op jou wanneer jy luister na pragtige voëlgesang of na ’n kind wat leer om sy eerste woordjies te sê? Sien jy God se wysheid in die dinge wat hy gemaak het?

      Nadat die psalmis Dawid gepeins het oor hoe hy gemaak is, het dit hom beweeg om vir God te sê: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet” (Psalm 139:14). As jy die wysheid van God wat duidelik in die skepping gesien kan word, met waardering ondersoek, sal dit beslis jou geloof versterk in sy vermoë om jou van betroubare leiding te voorsien.

  • God se krag—waarneembaar in die sterre
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
    • God se krag—Waarneembaar in die sterre

      “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—JESAJA 40:26.

      ONS son is ’n ster van net gemiddelde grootte. Nietemin is die massa daarvan 330 000 keer groter as dié van die aarde. Die meeste van die nabygeleë sterre is kleiner as die son. Maar ander sterre, soos die een wat V382 Cygni genoem word, het ’n massa wat ten minste 27 keer groter is as dié van ons son.

      Hoeveel energie straal ons son uit? Stel jou voor hoe hewig ’n vuur sal moet wees as jy 15 kilometer daarvandaan is en nog steeds die hitte kan voel. Die son is gemiddeld sowat 150 miljoen kilometer van die aarde af. Maar op ’n sonnige dag kan die hitte daarvan blase op jou vel brand! Dit is opmerkenswaardig dat net omtrent ’n miljardste van die son se energie die aarde bereik. En tog is hierdie fraksie van die son se krag genoeg om lewe op die planeet te onderhou.

      Trouens, wetenskaplikes het bereken dat die totale energie wat ons son alleen uitstraal, genoeg is om sowat 31 biljoen planete soos die aarde te onderhou. Of om hierdie ontsaglike hoeveelheid energie op ’n ander manier te meet: As al die son se krag vir net een sekonde vasgevang kan word, sal dit die Verenigde State voorsien “van genoeg energie, teen hulle huidige verbruik, vir die volgende 9 000 000 jaar”, sê die Space Weather Prediction Center (SWPC) se webwerf.

      Die son se energie is afkomstig van sy kern—’n kernreaktor wat atome teen mekaar laat bots en ’n geweldige hoeveelheid krag vrystel. Die son is so groot en sy kern is so dig dat dit miljoene jare neem vir die energie wat in die kern voortgebring word om tot by die oppervlak te kom. “As die Son vandag sou ophou om energie voort te bring”, sê die SWPC se webwerf, “sou dit 50 000 000 jaar neem voordat ’n wesenlike uitwerking op Aarde gevoel word!”

      Dink nou aan hierdie feit: Wanneer jy op ’n helder nag opkyk, sien jy duisende sterre, wat elkeen, soos ons son, groot hoeveelhede energie uitstraal. En wetenskaplikes bereken dat daar miljarde der miljarde sterre in die heelal is!

      Waar het al hierdie sterre vandaan gekom? Die meeste navorsers meen tans dat die heelal, om redes wat hulle nog nie verstaan nie, sowat 14 miljard jaar gelede skielik ontstaan het. Die Bybel sê eenvoudig: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Die Een wat die ontsaglike energiebronne geskep het wat ons sterre noem, kan ongetwyfeld beskryf word as “sterk in krag”.—Jesaja 40:26.

Afrikaanse publikasies (1975-2021)
Teken af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel