-
Hou aan om te beoefen wat julle geleer hetDie Wagtoring – 2002 | September 15
-
-
Verwerp “valse stories”
8. (a) Hoe probeer Satan ons geloof vandag vernietig? (b) Watter waarskuwing gee Paulus in 2 Timoteus 4:3, 4?
8 Satan probeer ons onkreukbaarheid ondermyn deur saadjies van twyfel te saai oor wat ons geleer is. Vandag, soos in die eerste eeu, is afvalliges en ander daarop uit om die geloof van onskuldiges te vernietig (Galasiërs 2:4; 5:7, 8). Soms gebruik hulle die media om verdraaide inligting of selfs blatante leuens oor die metodes en beweegredes van Jehovah se volk te versprei. Paulus het gewaarsku dat party oorgehaal sou word om die waarheid te verlaat. “Daar sal ’n tyd wees”, het hy geskryf, “wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word; en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer en hulle tot valse stories wend.”—2 Timoteus 4:3, 4.
9. Wat het Paulus moontlik in gedagte gehad toe hy na “valse stories” verwys het?
9 In plaas daarvan om aan die patroon van gesonde woorde vas te hou, is sommige se nuuskierigheid deur “valse stories” geprikkel. Wat was hierdie valse stories? Paulus het moontlik vergesogte legendes in gedagte gehad, soos dié wat in die apokriewe boek Tobias gevind word.a Valse stories het dalk ook sensasionele en twyfelagtige gerugte ingesluit. Dan was daar ook party wat—“ooreenkomstig hulle eie begeertes”—moontlik verstandelik mislei is deur dié wat ’n permissiewe beskouing van God se standaarde voorgestaan het of wat krities was teenoor diegene wat die leiding in die gemeente geneem het (3 Johannes 9, 10; Judas 4). Watter struikelblokke daar ook al was, party het klaarblyklik leuens bo die waarhede van God se Woord verkies. Kort voor lank het hulle opgehou om die dinge te beoefen wat hulle geleer het, en dit het tot hulle geestelike ondergang gelei.—2 Petrus 3:15, 16.
10. Watter valse stories kom vandag voor, en hoe het Johannes beklemtoon dat ons versigtig moet wees?
10 Ons kan vandag keer dat ons deur valse stories mislei word as ons selektief is in wat ons lees en waarna ons luister en as ons dit noukeurig ondersoek. Byvoorbeeld, die media bevorder dikwels onsedelikheid. Baie mense staan agnostisisme of algehele ateïsme voor. Hoër kritici spot met die Bybel se bewering dat dit deur God geïnspireer is. En hedendaagse afvalliges hou aan om saadjies van twyfel te probeer saai sodat hulle die geloof van Christene kan ondermyn. Die apostel Johannes het gewaarsku teen ’n soortgelyke gevaar wat valse profete in die eerste eeu ingehou het: “Geliefdes, moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het, want talle valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1). Ons moet dus versigtig wees.
11. Wat is een manier om te toets of ons in die geloof is?
11 Paulus het in dié verband geskryf: “Toets voortdurend of julle in die geloof is” (2 Korintiërs 13:5). Die apostel het ons aangespoor om onsself voortdurend te toets sodat ons kan vasstel of ons by al die Christelike oortuigings bly. As ons dit geniet om na mense te luister wat onvergenoeg is, moet ons onsself biddend ondersoek (Psalm 139:23, 24). Is ons geneig om fout te vind met Jehovah se knegte? Indien wel, waarom? Het iemand se woorde of dade ons seergemaak? As dit die geval is, hou ons sake in die regte perspektief? Enige verdrukking wat ons in hierdie stelsel van dinge verduur, is tydelik (2 Korintiërs 4:17). Selfs al is daar iets in die gemeente wat ons beproef, waarom ophou om God te dien? Is dit nie veel beter om, wanneer ons ontsteld is, te doen wat ons kan om die probleem op te los en sake dan in Jehovah se hande te laat nie?—Psalm 4:4; Spreuke 3:5, 6; Efesiërs 4:26.
12. Hoe het die Bereane ’n goeie voorbeeld vir ons gestel?
12 Laat ons dit vermy om krities te wees en eerder ’n geestelik gesonde beskouing behou van die inligting wat ons deur persoonlike studie en gemeentelike vergaderinge verkry (1 Korintiërs 2:14, 15). Hoeveel verstandiger sal dit tog wees om God se Woord nie in twyfel te trek nie, maar eerder die gesindheid van die eerste-eeuse Bereane te hê wat die Skrif noukeurig ondersoek het! (Handelinge 17:10, 11). Laat ons dus toepas wat ons leer, valse stories verwerp en aan die waarheid vashou.
13. Hoe kan ons onwetend valse stories versprei?
13 Daar is nog ’n soort valse storie waarteen ons moet waak. ’n Mag der menigte sensasionele stories doen die rondte, dikwels deur middel van e-pos. Dit is verstandig om op ons hoede te wees vir sulke stories, veral as ons nie weet wat die oorsprong van die inligting is nie. Al is ’n ondervinding of storie deur ’n gerespekteerde Christen gestuur, het hy dalk nie eerstehandse kennis van die feite nie. Daarom is dit belangrik dat ons dit vermy om onbevestigde verslae oor te vertel of aan te stuur. Ons sal beslis nie “goddelose mites” of “valse stories wat skend wat heilig is”, wil oorvertel nie (1 Timoteus 4:7; New International Version). Aangesien ons ook verplig is om die waarheid met mekaar te praat, tree ons verstandig op as ons enigiets vermy wat kan veroorsaak dat ons onwetend onwaarhede versprei.—Efesiërs 4:25.
-
-
Hou aan om te beoefen wat julle geleer hetDie Wagtoring – 2002 | September 15
-
-
a Tobias, wat waarskynlik in die derde eeu v.G.J. geskryf is, sluit die bygelowige fabel in van ’n Jood met die naam Tobias. Hy het glo die krag verkry om mense te genees en demone uit te dryf deur die hart, die gal en die lewer van ’n monsteragtige vis te gebruik.
-