-
‘Skenk meer as die gewone aandag’Die Wagtoring – 2002 | September 15
-
-
‘Skenk meer as die gewone aandag’
“Dit [is] nodig dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het, sodat ons nooit sal wegdryf nie.”—HEBREËRS 2:1.
1. Lig toe hoe afleidings rampspoedige gevolge kan hê.
MOTORONGELUKKE eis elke jaar ongeveer 37 000 lewens in die Verenigde State alleen. Kenners sê dat baie van hierdie sterftes vermy kan word as bestuurders hulle aandag meer op die pad bepaal. Party motoriste se aandag word afgetrek deur tekens en reklameborde of omdat hulle op hulle selfoon praat. Dan is daar ook diegene wat eet terwyl hulle bestuur. In al hierdie situasies kan afleidings rampspoedige gevolge hê.
2, 3. Watter raad het Paulus aan die Hebreeuse Christene gegee, en waarom was dit gepas?
2 Bykans 2 000 jaar voor die motor uitgevind is, het die apostel Paulus ’n soort afleiding geïdentifiseer wat vir sommige Hebreeuse Christene rampspoedig was. Paulus het beklemtoon dat die verrese Jesus Christus ’n hoër posisie as al die engele gegee is, aangesien hy aan die regterhand van God gaan sit het. Toe het die apostel gesê: “Daarom is dit nodig dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het, sodat ons nooit sal wegdryf nie.”—Hebreërs 2:1.
3 Waarom moes die Hebreeuse Christene “meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat [hulle] gehoor het” aangaande Jesus? Omdat daar toe reeds byna 30 jaar verloop het sedert Jesus die aarde verlaat het. Noudat hulle Heer afwesig was, het party Hebreeuse Christene van die ware geloof af begin wegdryf. Hulle aandag is afgelei deur Judaïsme, hulle vorige vorm van aanbidding.
Hulle moes meer aandag skenk
4. Waarom sou party Hebreeuse Christene dalk na Judaïsme wou terugkeer?
4 Waarom sou ’n Christen dalk na Judaïsme wou terugkeer? Wel, die stelsel van aanbidding onder die Wet het tasbare dinge behels. Mense kon die priesters sien en die brandende offerandes ruik. In sekere opsigte was die Christelike geloof egter baie anders. Christene het ’n Hoëpriester, Jesus Christus, gehad, maar dit was drie dekades sedert hy laas op die aarde gesien is (Hebreërs 4:14). Hulle het ’n tempel gehad, maar die hemel self was die heiligdom daarvan (Hebreërs 9:24). In teenstelling met vleeslike besnydenis onder die Wet was Christelike besnydenis “dié van die hart deur gees” (Romeine 2:29). Gevolglik kon die Christelike geloof dalk vir die Hebreeuse Christene ietwat abstrak begin lyk het.
5. Hoe het Paulus getoon dat die stelsel van aanbidding wat deur Jesus ingestel is, verhewe was bo die stelsel onder die Wet?
5 Die Hebreeuse Christene moes iets baie belangriks besef omtrent die stelsel van aanbidding wat deur Christus ingestel is. Dit was meer op geloof as aanskouing gegrond, maar dit was verhewe bo die Wet wat deur die profeet Moses oorgedra is. “As die bloed van bokke en van bulle en die as van ’n vers wat gesprinkel word op dié wat verontreinig is, sodanig heilig dat die vlees rein word”, het Paulus geskryf, “hoeveel te meer sal dan die bloed van die Christus, wat homself deur ’n ewige gees sonder smet aan God geoffer het, ons gewetens van dooie werke reinig sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig?” (Hebreërs 9:13, 14). Ja, die vergifnis wat deur geloof in die losprysoffer van Jesus Christus moontlik gemaak is, is in baie opsigte ver verhewe bo die vergifnis wat deur middel van offerandes onder die Wet verkry is.—Hebreërs 7:26-28.
6, 7. (a) Waarom was dit dringend dat die Hebreeuse Christene “meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat [hulle] gehoor het”? (b) Hoeveel tyd was daar nog oor vir Jerusalem toe Paulus sy brief aan die Hebreërs geskryf het? (Sien voetnoot.)
6 Daar was nog ’n rede waarom die Hebreeuse Christene noulettend aandag moes skenk aan die dinge wat hulle oor Jesus gehoor het. Hy het voorspel dat Jerusalem vernietig sou word. Jesus het gesê: “Die dae sal oor jou kom wanneer jou vyande ’n verskansing met spits pale rondom jou sal bou en jou sal omsingel en jou van alle kante in benoudheid sal bring, en hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter, en hulle sal in jou nie ’n klip op ’n klip laat nie, omdat jy nie die tyd waarin jy geïnspekteer is, onderskei het nie.”—Lukas 19:43, 44.
7 Wanneer sou dit gebeur? Jesus het nie gesê wat die dag en uur sou wees nie. Hy het eerder hierdie opdrag gegee: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is, nie daar ingaan nie” (Lukas 21:20, 21). Gedurende die 30 jaar nadat Jesus hierdie woorde gespreek het, het party Christene in Jerusalem hulle gevoel van dringendheid verloor en is hulle aandag deur ander dinge afgelei. Hulle het as ’t ware nie meer op die pad gekonsentreer nie. As hulle sou versuim om hulle denke reg te stel, sou dit gewis tot rampspoed lei. Of hulle so gedink het of nie, Jerusalem se vernietiging was op hande!a Hopelik sou Paulus se woorde Christene in Jerusalem wat geestelik aan die slaap geraak het, maan om wakker te word.
Skenk vandag “meer as die gewone aandag”
8. Waarom moet ons “meer as die gewone aandag skenk” aan die waarhede van God se Woord?
8 Soos die eerste-eeuse Christene moet ons “meer as die gewone aandag skenk” aan die waarhede van God se Woord. Waarom? Omdat ons ook ’n naderende vernietiging in die gesig staar, nie net van een nasie nie, maar van ’n hele stelsel van dinge (Openbaring 11:18; 16:14, 16). Ons ken natuurlik nie die presiese dag en uur waarop Jehovah sal optree nie (Matteus 24:36). Ons sien nietemin hoe Bybelprofesieë vervul word wat duidelik toon dat ons in “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5). Daarom moet ons waak teen enigiets wat ons aandag kan aflei. Ons moet aandag skenk aan God se Woord en ’n intense gevoel van dringendheid behou. Slegs dan sal ons “daarin . . . slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur”.—Lukas 21:36.
-
-
‘Skenk meer as die gewone aandag’Die Wagtoring – 2002 | September 15
-
-
a Die brief aan die Hebreërs is waarskynlik in 61 G.J. geskryf. Indien wel, was dit net sowat vyf jaar later dat Jerusalem deur die leërkampe van Cestius Gallus omsingel is. Kort daarna het hierdie leërs teruggetrek, en waaksame Christene kon toe vlug. Vier jaar later is die stad deur die Romeinse leërs onder generaal Titus vernietig.
-