Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Openbaring—I
TERWYL die bejaarde apostel Johannes ’n gevangene op die eiland Patmos is, ontvang hy ’n reeks van 16 visioene. Daarin sien hy wat Jehovah God en Jesus Christus doen gedurende die dag van die Here—die tydperk wat strek vanaf die oprigting van God se Koninkryk in 1914 tot die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy. Die boek Openbaring, wat omstreeks die jaar 96 G.J. deur Johannes geskryf is, is ’n opwindende verslag van hierdie visioene.
Kom ons kyk nou na glanspunte uit Openbaring 1:1–12:17, wat die eerste sewe visioene dek wat Johannes ontvang het. Hierdie visioene is vir ons van belang omdat dit verband hou met wat nou op die wêreldtoneel plaasvind en toon hoe Jehovah in die nabye toekoms sal optree. Diegene wat die verslag van hierdie visioene met geloof lees, vind dit beslis vertroostend en bemoedigend.—Heb. 4:12.
“DIE LAM” MAAK SES VAN DIE SEWE SEËLS OOP
Eerstens sien Johannes die verheerlikte Jesus Christus en ontvang hy ’n reeks boodskappe wat hy ‘in ’n boekrol moet skryf en aan die sewe gemeentes moet stuur’ (Op. 1:10, 11). Dan volg die visioen van ’n troon wat in die hemel staan. In die regterhand van die Een wat op die troon sit, is ’n boekrol wat met sewe seëls verseël is. Die een wat “waardig [is] om die boekrol oop te maak”, is niemand anders nie as “die Leeu wat uit die stam Juda is”, of “’n lam . . . met sewe horings en sewe oë”.—Op. 4:2; 5:1, 2, 5, 6.
Die derde visioen openbaar wat gebeur wanneer “die Lam” die eerste ses seëls die een ná die ander oopmaak. Wanneer die sesde seël oopgemaak word, vind ’n groot aardbewing plaas en breek die groot dag van gramskap aan (Op. 6:1, 12, 17). Die volgende visioen toon egter ‘vier engele wat die vier winde van die aarde styf vashou’ totdat die verseëling van die 144 000 voltooi is. “’n Groot menigte” van dié wat nie verseël is nie, word gesien waar hulle “voor die troon en voor die Lam staan”.—Op. 7:1, 9.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:4; 3:1; 4:5; 5:6—Waarop dui die uitdrukking “die sewe geeste”? Die getal sewe dui op volkomenheid vanuit God se standpunt. Die boodskap aan “die sewe gemeentes” is dus uiteindelik van toepassing op al God se knegte wat regoor die aarde in meer as 100 000 gemeentes bymekaargebring is (Op. 1:11, 20). Aangesien heilige gees gegee word volgens wat die werking daarvan moet verrig, dui die uitdrukking “die sewe geeste” op die volledige werking van die heilige gees om begrip te gee en seëninge te verskaf aan diegene wat op die profesie ag slaan. Dit wil voorkom of die boek Openbaring in reekse van sewes verloop. Die getal sewe stel hier volkomenheid voor, en die boek handel dan ook oor die feit dat “die heilige geheim van God” “tot ’n einde”, of voltooiing, gebring word.—Op. 10:7.
1:8, 17—Na wie verwys die titels “die Alfa en die Omega” en “die Eerste en die Laaste”? Die titel “die Alfa en die Omega” is op Jehovah van toepassing en beklemtoon dat daar voor hom geen almagtige God was nie en dat daar ná hom nie een sal wees nie. Hy is “die begin en die einde” (Op. 21:6; 22:13). Hoewel daar in Openbaring 22:13 na Jehovah verwys word as “die eerste en die laaste”, in die sin dat daar voor of ná hom geen ander is nie, toon die konteks in die eerste hoofstuk van Openbaring dat die titel “die Eerste en die Laaste” hier op Jesus Christus van toepassing is. Hy was die eerste mens wat tot onsterflike geeslewe opgewek is en die laaste wat op hierdie wyse deur Jehovah self opgewek is.—Kol. 1:18.
2:7—Wat is “die paradys van God”? Aangesien hierdie woorde aan gesalfde Christene gerig word, moet die paradys hier verwys na die paradysagtige hemelse ryk—die teenwoordigheid van God self. Die getroue gesalfdes sal die beloning ontvang om “van die boom van die lewe” te eet. Hulle sal onsterflikheid ontvang.—1 Kor. 15:53.
3:7—Wanneer het Jesus “die sleutel van Dawid” ontvang, en hoe het hy hierdie sleutel al gebruik? By sy doop in 29 G.J. het Jesus die aangewese Koning in die geslagslyn van Dawid geword. Maar Jesus het eers in 33 G.J. die sleutel van Dawid ontvang toe hy tot die regterhand van God in die hemel verhef is. Daar het hy al die regte van die Dawidiese Koninkryk geërf. Sedertdien gebruik Jesus die sleutel om geleenthede en voorregte in verband met die Koninkryk te ontsluit. In 1919 het Jesus “die sleutel van die huis van Dawid” op die skouer van “die getroue en verstandige slaaf” gelê deur hierdie slaafklas “oor al sy besittings” aan te stel.—Jes. 22:22; Matt. 24:45, 47.
3:12—Wat is die “nuwe naam” van Jesus? Hierdie naam het te doen met Jesus se nuwe amp en voorregte (Fil. 2:9-11). Hoewel niemand anders hierdie naam op dieselfde wyse as Jesus leer ken nie, skryf Jesus dit op sy getroue broers in die hemelse ryk en bring hy hulle sodoende in ’n hegte verhouding met hom (Op. 19:12). Hy deel selfs sy voorregte met hulle.
Lesse vir ons:
1:3. “Die vasgestelde tyd is naby” vir die voltrekking van God se oordele aan Satan se wêreld, en daarom is dit dringend dat ons die boodskap van die boek Openbaring verstaan en daarvolgens optree.
3:17, 18. Om geestelik ryk te wees, moet ons “goud . . . wat deur vuur gelouter is”, by Jesus koop. Dit wil sê, ons moet daarna streef om ryk in goeie werke te wees (1 Tim. 6:17-19). Ons moet ook “wit boklere” aantrek, wat ons identiteit as volgelinge van Christus openbaar, en “oogsalf” gebruik, soos raad wat in Die Wagtoring gepubliseer word, om geestelike onderskeidingsvermoë te verkry.—Op. 19:8.
7:13, 14. Die 24 ouderlinge stel die 144 000 voor in hulle hemelse heerlikheid, waar hulle nie net as konings dien nie, maar ook as priesters. Hulle is afgebeeld deur die priesters in eertydse Israel, wat koning Dawid in 24 afdelings georganiseer het. Een van die ouderlinge openbaar die identiteit van die groot menigte aan Johannes. Die opstanding van gesalfde Christene moet dus die een of ander tyd voor 1935 begin het. Waarom? Omdat die juiste identiteit van die groot menigte in daardie jaar aan God se gesalfde knegte op aarde geopenbaar is.—Luk. 22:28-30; Op. 4:4; 7:9.
SEWE TROMPETSTOTE WANNEER DIE SEWENDE SEËL OOPGEMAAK WORD
Die Lam maak die sewende seël oop. Sewe engele ontvang sewe trompette. Ses van die engele blaas op hulle trompette, waardeur hulle oordeelsboodskappe aankondig oor “’n derde” van die mensdom—die Christendom (Op. 8:1, 2, 7-12; 9:15, 18). Dit is wat Johannes in die vyfde visioen sien. Johannes neem deel aan die volgende visioen deur die boekrolletjie te eet en die tempelheiligdom te meet. Ná die sewende trompetstoot kondig harde stemme aan: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here en van sy Christus geword.”—Op. 10:10; 11:1, 15.
Die sewende visioen wei uit oor wat in Openbaring 11:15, 17 gesê word. ’n Groot teken word in die hemel gesien. Die hemelse vrou gee geboorte aan ’n seun, ’n manlike kind. Die Duiwel word uit die hemel gewerp. Weens sy gramskap teen die hemelse vrou gaan hy weg “om oorlog te voer teen die oorblywendes van haar saad”.—Op. 12:1, 5, 9, 17.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
8:1-5—Waarom het daar ’n stilte in die hemel gekom, en wat is daarna na die aarde geslinger? ’n Simboliese stilte het in die hemel gekom sodat “die gebede van die heiliges” op die aarde gehoor kon word. Dit was aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog. Gesalfde Christene het nie aan die einde van die Heidense Tye na die hemel opgevaar, soos baie verwag het nie. Hulle het gedurende die oorlog moeilike tye deurgemaak. Daarom het hulle toe vurig om leiding gebid. In antwoord op hulle gebede het die engel ’n simboliese vuur na die aarde geslinger wat die gesalfde Christene in geestelike sin aan die brand gesteek het. Al was daar min van hulle, het hulle ’n wêreldwye predikingsveldtog begin wat God se Koninkryk ’n brandende geskil gemaak het en so ’n vuur in die Christendom aangesteek het. Dawerende waarskuwings uit die Bybel het weerklink, flitse van Bybelwaarheid is bekend gemaak en die fondamente van die ryk van valse godsdiens is geskud, net soos geboue deur ’n aardbewing geskud word.
8:6-12; 9:1, 13; 11:15—Wanneer het die sewe engele hulle gereedgemaak om op hulle trompette te blaas, en wanneer en hoe het die trompetstote weerklink? Terwyl die engele hulle gereedgemaak het om op die sewe trompette te blaas, het hulle onder andere vanaf 1919 tot 1922 leiding aan die verlewendigde lede van die Johannes-klas op aarde voorsien. Hierdie gesalfdes het toe besig geraak om die openbare bediening te herorganiseer en uitgewersfasiliteite op te bou (Op. 12:13, 14). Die trompetstote stel die vreeslose aankondigings van Jehovah se oordele teen Satan se wêreld voor wat God se volk in samewerking met die engele doen. Dit het in die besonder met die byeenkoms in Cedar Point, Ohio, in 1922 begin en duur voort tot by die groot verdrukking.
8:13; 9:12; 11:14—In watter opsig is die laaste drie trompetstote “weë”? Terwyl die eerste vier trompetstote aankondigings is wat die geestelik dooie toestand van die Christendom blootlê, is die laaste drie trompetstote weë in die sin dat hulle met spesifieke gebeure te doen het. Die vyfde trompetstoot hou verband met die vrylating van God se volk uit “die afgrond” van onbedrywigheid in 1919 sowel as met hulle volgehoue getuieniswerk, wat vir die Christendom soos ’n folterende plaag geword het (Op. 9:1). Die sesde handel oor die grootste ruiteraanval in die geskiedenis en die wêreldwye predikingsveldtog wat in 1922 begin het. Die laaste trompetstoot het te doen met die geboorte van die Messiaanse Koninkryk.
Lesse vir ons:
9:10, 19. Die gesaghebbende Bybelse verklarings in die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” bevat ’n pynigende boodskap (Matt. 24:45). Hierdie boodskap kom ooreen met die sprinkane se sterte wat “angels soos skerpioene” het en met die perde van ’n ruitermag, wie se “sterte . . . soos slange” is. Waarom? Omdat hierdie publikasies waarsku teen “die dag van [Jehovah se] wraak” (Jes. 61:2). Laat ons dit moedig en ywerig versprei.
9:20, 21. Talle sagmoedige mense wat in sogenaamde nie-Christelike lande woon, het gunstig gereageer op die boodskap wat ons verkondig. Ons verwag egter nie ’n massabekering van mense buite die ryk van die Christendom nie, na wie daar verwys word as “die res van die mense”. Nietemin volhard ons in die bediening.
12:15, 16. “Die aarde”—elemente binne Satan se eie stelsel, of die heersende magte in verskeie lande—het godsdiensvryheid gehandhaaf. Vanaf die 1940’s het hierdie magte “die rivier [van vervolging] verswelg wat die draak uit sy bek uitgespoeg het”. Ja, wanneer Jehovah wil, kan hy regeringsmagte beïnvloed om sy wil uit te voer. Spreuke 21:1 sê dus heel gepas: “’n Koning se hart is soos waterstrome in die hand van Jehovah. Hy lei dit oral waar dit hom behaag.” Dit behoort ons geloof in God te versterk.