Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Wat sal jou help om aan te hou om die Bybel te studeer?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
    • Les 12. ’n Ma en twee kinders studeer die Bybel met een van Jehovah se Getuies.

      LES 12

      Wat sal jou help om aan te hou om die Bybel te studeer?

      As jy die Bybel studeer, kan dit jou baie help, maar dit sal dalk nie altyd maklik wees nie. Soms wonder jy dalk of jy sal kan aanhou om die Bybel te studeer. Hoekom is dit die moeite werd om aan te hou met jou Bybelstudie? Wat kan jou help om nie op te hou nie, al is dit moeilik?

      1. Hoe kan Bybelstudie jou help?

      “Die woord van God is lewend en kragtig” (Hebreërs 4:12). Die Bybel kan jou help, want dit sê vir jou hoe God dink en hoe hy oor jou voel. Dit help jou nie net om kennis te kry nie, maar dit gee jou ook ware wysheid en hoop. Maar die belangrikste van alles is dat die Bybel jou help om Jehovah se vriend te word. Wanneer jy die Bybel studeer, laat jy toe dat die krag van die Bybel jou lewe beter maak.

      2. Hoekom moet ons besef dat Bybelwaarhede belangrik is?

      Die waarhede in die Bybel is soos kosbare skatte. Daarom sê die Bybel vir ons: “Koop waarheid en moet dit nooit verkoop nie” (Spreuke 23:23). Wanneer ons in gedagte hou dat Bybelwaarhede belangrik is, sal ons hard werk om aan te hou met ons Bybelstudie – selfs wanneer dit vir ons moeilik is. – Lees Spreuke 2:4, 5.

      3. Hoe kan Jehovah jou help om aan te hou met jou Bybelstudie?

      Jehovah is jou almagtige Skepper en Vriend, en hy wil jou help om van hom te leer. Hy kan jou “die begeerte en die krag [gee] om op te tree”. (Lees Filippense 2:13.) So, as jy soms meer motivering nodig het om te studeer of om toe te pas wat jy leer, kan hy jou help. As jy probleme het of as iemand dit vir jou moeilik maak om die Bybel te studeer, kan Jehovah vir jou meer krag gee om dit te hanteer. Vra Jehovah gereeld in gebed om jou te help om aan te hou om die Bybel te studeer. – 1 Tessalonisense 5:17.

      SOEK DIEPER

      Leer hoe jy kan aanhou om die Bybel te studeer, al is jy baie besig of al maak ander dit vir jou moeilik. Kyk dan hoe Jehovah jou sal help om aan te hou met jou Bybelstudie.

      4. Maak seker dat jou Bybelstudie een van die belangrikste dinge in jou lewe is

      Soms word die lewe so besig dat dit lyk asof ons nie genoeg tyd het om die Bybel te studeer nie. Wat kan help? Lees Filippense 1:10, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Wat dink jy is van “die belangriker dinge” in die lewe?

      • Hoe kan jy seker maak dat jou Bybelstudie een van die belangrikste dinge in jou lewe is?

      A. Collage: Tonele wat uitbeeld hoe ’n emmer vol klippe en sand gemaak word. 1. ’n Hoop sand en ’n hoop groot klippe. 2. ’n Emmer wat amper vol sand is. 3. Die groot klippe is bo-op die sand en van dit lê op die grond. B. Collage: 1. Dieselfde hoop sand en dieselfde hoop groot klippe. 2. Dieselfde emmer wat amper vol groot klippe is. 3. Sand pas tussen die groot klippe en maak die emmer vol. ’n Klein hopie sand lê langs die emmer.
      1. As jy sand in ’n emmer gooi en probeer om klippe by te sit, sal die klippe nie pas nie

      2. As jy die klippe eerste insit, sal daar plek wees vir die meeste van die sand. Net so, as jy “die belangriker dinge” eerste in jou lewe stel, sal jy tyd hê daarvoor en nog tyd hê vir ander dinge

      Ons het God nodig, en wanneer ons die Bybel studeer, bevredig ons ons behoefte om God te ken en hom te aanbid. Lees Matteus 5:3, en bespreek dan hierdie vraag:

      • Hoe help dit ons wanneer ons ons Bybelstudie een van die belangrikste dinge in ons lewe maak?

      5. Hou aan studeer, al maak ander dit vir jou moeilik

      Soms sal ander jou dalk probeer kry om op te hou om die Bybel te studeer. Kyk na Francesco se voorbeeld. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

      VIDEO: Beloon omdat hy nie opgegee het nie (5:22)

      ’n Toneel uit die video ‘Beloon omdat hy nie opgegee het nie’. Francesco loop weg van sy goeie vriende af nadat hy vir hulle gesê dat hy nie meer met hulle sal assosieer nie.
      • Hoe het Francesco se vriende en sy ma gereageer toe hy vir hulle vertel het van die dinge wat hy geleer het?

      • Hoe is hy beloon omdat hy nie opgegee het nie?

      Lees 2 Timoteus 2:24, 25, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Hoe voel jou familie en vriende oor wat jy leer?

      • Volgens hierdie teks, hoe moet jy reageer wanneer iemand nie daarvan hou dat jy die Bybel studeer nie? Hoekom?

      6. Vertrou op Jehovah om jou te help

      Hoe nader ons aan Jehovah kom, hoe meer wil ons hom gelukkig maak. Maar dit kan vir ons moeilik wees om veranderinge in ons lewe te maak sodat ons volgens Jehovah se standaarde kan lewe. As jy ooit so voel, moet jy nie opgee nie. Jehovah sal jou help. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

      VIDEO: Jehovah help ons om veranderinge te maak (3:56)

      • Watter veranderinge het Jim gemaak om Jehovah gelukkig te maak?

      • Wat beïndruk jou omtrent sy voorbeeld?

      Lees Hebreërs 11:6, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Wat sal Jehovah doen vir “dié wat hom ernstig soek” – dit wil sê dié wat hard probeer om hom te leer ken en hom gelukkig te maak?

      • Wat sê dit vir jou oor hoe Jehovah voel wanneer hy sien hoe hard jy probeer om die Bybel te studeer?

      IEMAND VRA DALK: “Hoekom studeer jy die Bybel?”

      • Hoe sal jy antwoord?

      WAT ONS GELEER HET

      Al is dit nie altyd maklik om die Bybel te studeer nie, kan dit jou help om die lewe vir ewig te geniet. Hou aan om op Jehovah te vertrou, en hy sal jou beloon.

      Hersiening

      • Hoekom is Bybelwaarhede vir jou belangrik?

      • Hoe kan jy “seker . . . maak van die belangriker dinge”?

      • Hoekom moet jy Jehovah vra om jou te help om aan te hou om die Bybel te studeer?

      Doelwit

      LEER MEER

      Kyk na vier dinge wat baie mense gehelp het om hulle tyd goed te gebruik.

      “Hoe om jou tyd verstandig te gebruik” (Ontwaak!, Februarie 2014)

      Kyk hoe Jehovah ’n vrou gehelp het wie se man nie verstaan het hoekom sy God gelukkig wou maak nie.

      Jehovah gee ons krag om ons vrag te dra (5:05)

      Kyk hoe ’n man gehelp is omdat sy vrou nie opgegee het nie.

      Ek het die waarheid getoets (6:30)

      Jehovah se Getuies word soms daarvan beskuldig dat hulle gesinne opbreek. Maar is dit waar?

      “Breek Jehovah se Getuies gesinne op?” (Web-artikel)

  • Hoe om goeie besluite te maak
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
    • Les 35. ’n Man doen navorsing oor karre op ’n webwerf terwyl sy vrou en kinders kyk wat hy doen.

      LES 35

      Hoe om goeie besluite te maak

      Ons almal moet besluite maak. Baie van hierdie besluite kan of goed of sleg wees vir ons, en dit kan ons vriendskap met Jehovah beïnvloed. Byvoorbeeld, ons moet dalk besluit waar ons gaan bly, hoe om geld te verdien en of ons sal trou of nie. Wanneer ons goeie besluite maak, kan ons ’n gelukkige lewe hê en Jehovah gelukkig maak.

      1. Hoe kan jy die Bybel gebruik om jou te help om goeie besluite te maak?

      Voordat jy ’n besluit maak, moet jy Jehovah vra om jou te help en kyk wat die Bybel sê om te sien hoe hy oor die saak voel. (Lees Spreuke 2:3-6.) Soms sê Jehovah reguit vir ons wat ons moet doen. Die beste besluit wat jy dan kan maak, is om aan hom gehoorsaam te wees.

      Maar wat as die Bybel nie reguit vir jou sê wat om te doen nie? Jehovah sal jou nog steeds lei “op die weg wat jy moet volg” (Jesaja 48:17). Hoe? Daar is dalk Bybelbeginsels wat jou kan help. Bybelbeginsels is basiese waarhede wat vir ons wys wat God dink en hoe hy voel. Baie keer leer ons hoe God oor sekere dinge voel wanneer ons iets in die Bybel lees. Wanneer ons sien hoe Jehovah voel, kan ons besluite maak waarmee hy tevrede is.

      2. Aan watter dinge moet jy dink voordat jy ’n besluit maak?

      Die Bybel sê: “Die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen” (Spreuke 14:15). Dit beteken dat ons tyd moet maak om te dink oor die verskillende opsies wat ons het voordat ons ’n besluit maak. Terwyl jy oor elke opsie dink, vra jouself: ‘Watter Bybelbeginsels kan my help? Hoe sal hierdie besluit my laat voel? Hoe sal my besluit ander laat voel? En die belangrikste van alles, sal dit Jehovah gelukkig maak?’ – Deuteronomium 32:29.

      Jehovah het die reg om vir ons te sê wat goed en wat sleg is. Wanneer ons sy wette en beginsels goed leer ken en ons bes probeer om gehoorsaam te wees daaraan, lei ons ons gewete op. Ons gewete is ’n gevoel binne in ons wat vir ons sê wat reg en wat verkeerd is (Romeine 2:14, 15). ’n Gewete wat opgelei is, sal ons help om goeie besluite te maak.

      SOEK DIEPER

      Leer hoe Bybelbeginsels en ons gewete ons help om besluite te maak.

      3. Laat die Bybel jou help

      Hoe kan Bybelbeginsels ons help wanneer ons besluite maak? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

      VIDEO: Laat Bybelbeginsels jou lei (5:54)

      • Wat is vrye wil?

      • Hoekom het Jehovah vir ons vrye wil gegee?

      • Wat het Jehovah vir ons gegee om ons te help om ons vrye wil op die beste moontlike manier te gebruik?

      Om ’n voorbeeld van ’n Bybelbeginsel te sien, lees Efesiërs 5:15, 16. Bespreek dan hoe jy “die beste gebruik van [jou] tyd” kan maak sodat jy . . . 

      • die Bybel gereeld kan lees.

      • ’n beter huweliksmaat, ouer, seun of dogter kan word.

      • vergaderinge kan bywoon.

      4. Lei jou gewete op om jou te help om goeie besluite te maak

      Wanneer die Bybel reguit vir ons sê wat om in ’n sekere situasie te doen, is dit dalk maklik om die regte besluit te maak. Maar wat as die Bybel nie vir ons sê wat om te doen nie? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

      VIDEO: “Behou ’n goeie gewete” (5:13)

      • Wat het die suster in die video gedoen om haar gewete op te lei en om ’n besluit te maak waarmee Jehovah tevrede sou wees?

      Hoekom moet ons nie ander vra om besluite vir ons te maak nie? Lees Hebreërs 5:14, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Dit lyk dalk makliker om ander te vra om besluite vir ons te maak, maar wat moet ons self kan doen?

      • Watter dinge is daar wat jou kan help om jou gewete op te lei en goeie besluite te maak?

      ’n Persoon ry ’n kar op ’n pad. ’n GPS op die paneelbord help die bestuurder om op die regte pad te bly.

      Net soos ’n padkaart ons help om te weet in watter rigting om te gaan, help ons gewete ons om besluite in die lewe te maak

      5. Respekteer ander se gewete

      Verskillende mense sal verskillende besluite maak. Hoe kan ons wys dat ons ander se gewete respekteer? Kyk na twee situasies:

      Situasie 1: ’n Suster wat daarvan hou om grimering te dra, trek na ’n gemeente toe waar dit baie susters pla wanneer hulle iemand sien wat grimering dra.

      Lees Romeine 15:1 en 1 Korintiërs 10:23, 24, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Wat sal daardie suster dalk besluit nadat sy hierdie verse gelees het? Wat sal jy doen as jy saam met iemand is wie se gewete hom laat voel dat dit verkeerd is om iets te doen wat jou gewete jou toelaat om te doen?

      Situasie 2: ’n Broer weet dat die Bybel nie sê dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie, maar hy kies om nie enige alkohol te drink nie. Hy word genooi om saam met broers te kuier, en hy sien dat hulle alkohol drink.

      Lees Prediker 7:16 en Romeine 14:1, 10, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Wat sal hierdie broer dalk besluit nadat hy hierdie verse gelees het? Wat sal jy doen as jy sien dat iemand anders iets doen wat jou gewete jou nie toelaat om te doen nie?

      Wat sal jou help om goeie besluite te maak?

      ’n Vrou bid.

      1. Vra Jehovah om jou te help om te besluit wat om te doen. – Jakobus 1:5.

      Dieselfde vrou gebruik die Bybel, Bybelpublikasies en ’n rekenaar om navorsing te doen.

      2. Doen navorsing in die Bybel en Bybelpublikasies om beginsels te kry wat jou kan help. Jy kan ook raad vra by broers en susters wat ’n sterk verhouding met Jehovah het.

      Dieselfde vrou dink.

      3. Dink aan die uitwerking wat die besluit op jou gewete en op ander se gewete sal hê.

      PARTY MENSE SÊ: “Jy het die reg om te doen net wat jy wil. Dit maak nie saak wat ander mense dink nie.”

      • Hoekom moet dit vir ons saak maak hoe God en ander mense voel?

      WAT ONS GELEER HET

      Ons maak goeie besluite wanneer ons uitvind hoe Jehovah oor iets voel en wanneer ons dink aan of die dinge wat ons doen, ander sal help of hulle sal seermaak.

      Hersiening

      • Hoe kan jy besluite maak waarmee Jehovah tevrede is?

      • Hoe kan jy jou gewete oplei?

      • Hoe kan jy wys dat jy ander se gewete respekteer?

      Doelwit

      LEER MEER

      Hoe kan jy besluite maak wat jou vriendskap met God sal versterk?

      “Neem besluite wat God eer” (Die Wagtoring, 15 April 2011)

      Leer meer oor hoe Jehovah ons raad gee.

      Jehovah lei sy volk (9:50)

      Vind uit wat een man gehelp het om ’n moeilike besluit te maak.

      Jehovah belowe om vir ons alles te gee wat goed is (5:46)

      Leer meer oor hoe om Jehovah gelukkig te maak wanneer hy nie reguit vir ons gesê het wat om te doen nie.

      “Het jy altyd ’n Bybelgebod nodig?” (Die Wagtoring, 1 Desember 2003)

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel