-
’n Stryd teen twee wrede diereOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
25. (a) Hoe beskryf Johannes ’n ander simboliese wilde dier wat op die wêreldtoneel verskyn? (b) Wat word aangedui deur die twee horings van die nuwe wilde dier en deur die feit dat hy uit die aarde kom?
25 Maar nou verskyn ’n ander wilde dier op die wêreldtoneel. Johannes vertel: “En ek het ’n ander wilde dier uit die aarde sien opkom, en hy het twee horings gehad soos ’n lam, maar hy het soos ’n draak begin praat. En hy oefen al die gesag van die eerste wilde dier voor sy oë uit. En hy maak dat die aarde en dié wat daarop woon, die eerste wilde dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees het. En hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel na die aarde laat neerdaal ten aanskoue van die mense” (Openbaring 13:11-13). Hierdie wilde dier het twee horings, wat ’n vennootskap van twee politieke moondhede aandui. En daar word gesê dat hy uit die aarde kom, nie uit die see nie. Hy kom dus uit Satan se reeds gevestigde aardse stelsel van dinge. Hy moet ’n wêreldmoondheid wees wat reeds bestaan en wat gedurende die dag van die Here ’n betekenisvolle rol speel.
26. (a) Wat is die wilde dier met die twee horings, en hoe hou hy verband met die oorspronklike wilde dier? (b) In watter sin is die horings van die tweehoringdier soos dié van ’n lam, en hoe is hy “soos ’n draak” wanneer hy praat? (c) Wat aanbid nasionalistiese mense in werklikheid, en waarmee is nasionalisme vergelyk? (Sien voetnoot.)
26 Wat kan hy wees? Die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid—dieselfde as die sewende kop van die eerste wilde dier, maar in ’n spesiale rol! Die feit dat hy in die visioen as ’n afsonderlike wilde dier voorgestel word, help ons om duideliker te sien hoe hy onafhanklik op die wêreldtoneel optree. Hierdie figuurlike wilde dier met die twee horings bestaan uit twee gelyktydig bestaande politieke moondhede wat onafhanklik is van mekaar maar saamwerk. Sy twee horings “soos ’n lam” dui aan dat hy hom as saggeaard en onskadelik voorstel, met ’n verligte regeringsvorm waartoe die hele wêreld hulle moet wend. Maar hy praat “soos ’n draak” in die sin dat hy druk en dreigemente en selfs openlike geweld gebruik oral waar sy vorm van heerskappy nie aanvaar word nie. Hy het nie onderworpenheid aan God se Koninkryk onder die heerskappy van die Lam van God aangemoedig nie, maar eerder onderworpenheid aan die belange van Satan, die groot draak. Hy het nasionalistiese verdeeldheid en haat bevorder wat op aanbidding van die eerste wilde dier neerkom.c
-
-
’n Stryd teen twee wrede diereOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
c Kommentators het opgemerk dat nasionalisme in werklikheid ’n godsdiens is. Mense wat nasionalisties is, aanbid dus in werklikheid die deel van die wilde dier wat verteenwoordig word deur die land waarin hulle woon. Wat nasionalisme in die Verenigde State betref, lees ons: “Nasionalisme, gesien as ’n godsdiens, het baie in gemeen met ander groot godsdiensstelsels van die verlede . . . Die hedendaagse godsdienstige nasionalis is bewus van sy afhanklikheid van sy eie nasionale god. Hy voel ’n behoefte aan Sy magtige hulp. Hy herken in Hom die bron van sy eie volmaaktheid en geluk. Hy onderwerp hom, in enge godsdienstige sin, aan Hom. . . . Die nasie word as ewig beskou, en die dood van sy lojale seuns dra bloot by tot sy onverganklike roem en heerlikheid.”—Carlton J. F. Hayes, soos aangehaal op bladsy 359 van die boek What Americans Believe and How They Worship, deur J. Paul Williams.
-