-
Die goeie herder en “hierdie stal” van homDie Wagtoring – 1984 | April 1
-
-
Die goeie herder en “hierdie stal” van hom
1, 2. (a) Hoe het koning Dawid Jehovah in Psalm 23:1 beskryf? (b) Waarom was dit gepas om Jehovah met ’n herder en Israel met sy skape te vergelyk?
“DIE HERE [Jehovah, NW] is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” Met daardie woorde het die eertydse herderseun en harpspeler, wat later ’n koning van die nasie Israel geword het, een van sy gewilde melodieë ingelei.—Psalm 23:1, 2.
2 Dit was aan geen ander nasie as eertydse Israel dat ’n ander psalmis die woorde van Psalm 95:6, 7 kon rig nie: “Laat ons kniel voor [Jehovah] wat ons gemaak het. Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand.” Hoewel Israel se mensekoning met ’n herder vergelyk kon word, kon die nasie vergelyk word met skape van die allerhoogste Herder, Jehovah God. Hy is die beste Herder wat nagevolg kan word deur manne wat as figuurlike herders in ’n gemeente van Jehovah se toegewyde volk dien.
3. Hoe was dit gepas om Jehovah selfs ten opsigte van Jesus ’n Herder te noem?
3 Koning Dawid het Jesus Christus afgeskadu. Laasgenoemde is egter veel groter as Dawid van die ou tyd, wat sy koninklike voorvader was. Hy kon heel gepas Dawid se woorde aanhaal en dit sy eie maak: “[Jehovah] is my herder.” Het sy voorloper, Johannes die Doper, nie sy omstanders se aandag op die naderende Jesus Christus gevestig en gesê nie: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”? (Johannes 1:29, 36). Toe Johannes van Jesus gepraat het as ’n skaaplam, het hy moontlik die woorde van Jesaja 53:7 in gedagte gehad: “Hy is . . . soos ’n lam wat na die slagplek gelei word.” In die heel laaste boek van die Bybel, van Openbaring 5:6 af aan, word die verheerlikte Jesus 28 keer ’n figuurlike Lam genoem.
4. Hoe het Jesus soos ’n skaap in ’n skaapstal geword, en wat was daardie skaapstal?
4 In die jaar 2 v.G.J. is hy deur ’n wonderdadige geboorte op aarde in die nasie Israel gebore. Sodoende het hy onder die Wetsverbond gekom wat Jehovah, die Herder van Israel, met daardie uitverkore volk gesluit het. Daardie Wetsverbond, met sy Tien Gebooie, is deur middel van die profeet Moses aan die nasie Israel gegee (Galasiërs 4:4, 5). En as ’n lid van daardie uitverkore volk is Jesus as een van die figuurlike skape gebore waarvan Jehovah die Opperherder was. Jesus self was dus in ’n figuurlike skaapstal, die begunstigde verhouding met die Goddelike Herder wat deur die muuragtige Mosaïese Wetsverbond beskerm is.
5. Waarom het ons nou ’n ander beskouing van die skaapstal van Johannes 10:1?
5 Identifiseer ons die “skaapstal” van Johannes hoofstuk 10, vers 1, hier as die Mosaïese Wetsverbondreëling? Ja! Die vorige verduideliking dat die skaapstal die Abrahamitiese verbond is, was gebaseer op die beskouing dat Johannes hoofstuk 10 slegs een stal regstreeks meld en dat die Abrahamitiese verbond daarom die logiese betekenis sou wees. Maar verdere studie van hierdie hoofstuk het getoon dat Jesus in werklikheid van meer as een skaapstal gepraat het. Soos ons sal sien, is ’n wysiging in die uitleg daarvan dus gepas.
6. Hoe voel jy oor sulke aanpassings in ons begrip van Bybelse gedagtes?
6 Sulke aanpassings is van tyd tot tyd nodig, want Spreuke 4:18 deel ons mee: “Die pad van die regverdige is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” O, afvallige teëstanders van die waarheid ‘kners wel op die tande’ teen sulke progressiewe openbarings, maar dit ontstel ons nie (Handelinge 7:54). Ons dank Jehovah eerder dat ‘lig vir die regverdige gesaai is en vrolikheid vir die opregtes van hart’ (Psalm 97:11). Ons is seker dat jy bly sal wees om te weet presies watter betekenis Jesus se gelykenis van die skaapstalle vandag vir jou en alle ander getuies van Jehovah het.
’n Vroeë skaapstal, onder die Wet
7. Hoe het Jesus in 29 G.J. ’n nuwe rol ten opsigte van die Israelitiese skaapstal aangeneem?
7 Wat dan van daardie skaapstal, die Mosaïese Wetsverbond? Nadat Jesus deur Johannes die Doper gedoop is, deur Jehovah se heilige gees gesalf is en 40 dae van versoeking in die woestyn van Judea deurgebring het, het hy in die jaar 29 G.J. as ’n geestelike Herder na die Israelitiese skaapstal gekom. Jesus Christus het gesê dat hy spesifiek na “die verlore skape van die huis van Israel” gestuur is (Mattheüs 10:6; 15:24). Tot met sy doop was hy bloot een van die natuurlike Israeliete wat in die skaapstalreëling, die Mosaïese Wetsverbond, gelewe het. Maar nou, nadat hy deur Jehovah se gees gesalf en verwek is, kon Jesus Christus in sy nuwe rol as “die goeie herder” na daardie skaapstal kom.—Johannes 10:11.
8. Wie was die figuurlike deurwagter van Johannes 10:3, en hoe so?
8 Johannes die Doper was die eerste een wat Jesus erken het as die Ware Herder wat deur die Opperherder, Jehovah God, aangestel is. Jesus het nie gekom om die skaapstal te beroof nie, maar het op wettige sake gekom. Hy kon hom eerbaar as ’n geestelike Herder vir die skaapstal van die nasie Israel aanbied. Ooreenkomstig die profesie in Maleagi 4:5 (vergelyk Mattheüs 11:12-14; Lukas 1:13-17) is Johannes deur die Opperherder aangestel as die figuurlike “deurwagter” van die Israelitiese skaapstal (Johannes 1:15, 17, 19-28; 10:3). Johannes het Jesus Christus se getuigskrifte as die Onderherder van Jehovah God erken en was dadelik bereid om hom te laat binnekom, om hom as die voorspelde Messiaanse Herder te identifiseer wat sy skape by die naam sou noem en hulle sou uitlei sodat hulle kan wei.
9, 10. Hoe het Jesus aan sy eie beskrywing van ’n herder voldoen, en hoe het Israelitiese herders hulle skape behandel?
9 Jesus het aan sy eie beskrywing van die Ware en Goeie Herder in Johannes 10:1-5 voldoen: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ’n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”
10 Die herder in eertydse Israel het sy skape baie goed leer ken. Hy het ’n algemene roep gehad wat net hy gebruik het en waarmee hy al sy skape bymekaar geroep het sodat hulle sy persoonlike aandag kon kry. Daarbenewens het hy aan elk van sy skape ’n naam gegee. Elke skaap het gehoorsaam gereageer wanneer sy naam uitgeroep is. Die skape het die toon en timbre van die stem van hulle herder herken en sou dus nie op die stem van vreemdelinge reageer nie.
11. Hoe moet ons persoonlik oor Jesus se rol as herder voel?
11 Watter troos is dit eweneens vir ons om verseker te word dat ons geestelike Herder elkeen van ons by die naam ken en ons sy persoonlike sorg en aandag kan gee! Laat ons nie soos baie van die hoorders in Jesus se dag wees wat nie die strekking van sy sinvolle gelykenis gesnap het nie. As ’n waarskuwende voorbeeld vir ons staan daar in Johannes 10:6 geskryf: “Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle [sy Joodse hoorders] vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie.”
12. Wie was die “vreemdes” waarvan Jesus gepraat het, en hoe was dit die geval?
12 Dit was ander Israeliete wat gekom en beweer het dat hulle die beloofde Messias of Christus is wat deur Jesus as “vreemdes” bestempel is. Hulle is nie deur Jehovah se aangestelde “deurwagter”, naamlik Johannes, as Sy Messiaanse Herder voorgestel nie. En dit was na Johannes wat Jesus self gekom het om gedoop te word. Hierin het Jesus geen fout begaan nie (Mattheüs 3:1-7; Markus 1:1-7; Lukas 3:1-9). Dit was met die doel om die volk te beskerm dat Jesus dit nou goedgedink het om homself te identifiseer as die Een wat deur Jehovah na hulle gestuur is as hulle geestelike Herder en om die bedrieglike herders aan die kaak te stel.
’n Nuwe stal onder die Goeie Herder
13. Watter verandering het God ten opsigte van sy skaapstal aangebring?
13 Die belangrike saak, destyds en vandag, is dat ’n persoon in die regte “skaapstal” kom. Wil ons daardeur te kenne gee dat daar ’n verandering kon wees in die skaapstalle wat deur Jehovah God goedgekeur word? Ja. Beide Jesus se volgende woorde in Johannes hoofstuk 10 en die geskiedkundige feite toon dat God die Israelitiese skaapstal onder die Wet deur ’n nuwe stal sou vervang. Let hierop terwyl ons Jesus se woorde verder bespreek.
14, 15. Waarom is dit duidelik dat Jesus in Johannes 10:7-10 na ’n nuwe skaapstal verwys het?
14 “Jesus het toe weer”, in Johannes 10:7-10, “vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers: maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
15 Let in hierdie gedeelte op dat Jesus van homself praat as die deur van die stal wat hy nou meld, die deur na hierdie stal van die Opperherder, Jehovah God. Jesus was nie die figuurlike deur tot die skaapstal van natuurlike Israel nie, want hyself is daarin gebore deur sy geboorte uit die Joodse maagd Maria. Jesus was nie die deuragtige middelaar van die Wetsverbond waardeur die nasie Israel in ’n eksklusiewe verhouding met Jehovah God gebring is nie. Dit was lank voor Jesus se aardse geboorte dat Jehovah God vir die nasie Israel gesê het: “Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde” (Amos 3:2). Dit was uit die simboliese Joodse skaapstal dat die ware Onderherder van Jehovah God die eerste skape van sy kudde moes roep en na ’n spesiale geestelike weiveld moes lei. Jesus het dus ongetwyfeld nou begin praat van ’n nuwe skaapstal waarvan hy, die Goeie Herder, in ’n ander sin die deur was.
16. (a) Watter vroeëre aanduiding was daar dat Jehovah ’n nuwe skaapstal sou hê? (b) Hoe het Jesus getoon dat die nuwe skaapstal kort daarna in aansyn sou kom?
16 Die Jode wat geweier het om sy dissipels te word, het gemeen dat hulle stal die enigste skaapstal was wat Jehovah God in gedagte gehad het en dat dit ongetwyfeld tot in die onbepaalde toekoms sou voortbestaan. Hulle het nie die “nuwe verbond” in aanmerking geneem wat Jehovah God in die profesie in Jeremia 31:31-34 beloof het om te sluit nie. Dit het ’n nuwe verhouding met Jehovah God, en, gevolglik, ’n nuwe, figuurlike skaapstal beteken. Jesus Christus was nie die deur tot ’n skaapkraal wat verouderd sou word en nie langer deur die muur van Jehovah se beskerming omsluit sou wees nie (Hebreërs 8:7-13). Die nag toe Jesus sy laaste Pasga saam met sy Joodse dissipels gevier het, het hy betekenisvolle woorde gebesig toe hy vir hulle die Pasgawyn gegee het. Hy het ’n simboliese betekenis aan die wyn geheg deur te sê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.”—Lukas 22:20, NAV; Mattheüs 26:27-29.
17, 18. (a) Wat was hierdie nuwe skaapstal waarvan Jesus die Goeie Herder was? (b) Hoe kon hy ook met die deur van hierdie nuwe stal vergelyk word?
17 Jesus Christus sou die deur na ’n blywende skaapkraal wees, een wat die vorige skaapkraal vir die natuurlike Israeliete onder die Mosaïese Wetsverbond sou vervang. Toe Jesus 40 dae na sy opstanding sy dissipels op aarde agtergelaat het en opgevaar het hemel toe, was hy steeds in besit van sy reg op volmaakte menselewe, ’n reg wat hy nie deur enige sonde in die vlees verbeur het nie (Jesaja 53:3-12; Handelinge 8:30-35). Hy was gevolglik toegerus om as ’n Middelaar te dien en om hierdie lewensreg, wat deur sy bloed afgebeeld is, aan te wend om ’n nuwe en beter verbond ten behoewe van sy dissipels op aarde te beseël. Dit is wat hy gedoen het, uiterlik op Pinksterdag van 33 G.J., toe die heilige gees uitgestort is op sy gehoorsame Joodse dissipels wat in Jerusalem gewag het.
18 Hierdie dissipels is aldus in die nuwe verbond ingebring, en ’n nuwe skaapkraal het in aansyn gekom, naamlik ’n verhouding met Jehovah God op grond van die nuwe verbond wat deur die bloed van Jesus Christus beseël is. Die simboliese skape in hierdie nuwe kraal is deur Jehovah se gees verwek en met sy gees gesalf. Jesus Christus was die deur tot hierdie kraal sowel as Jehovah se aangestelde Goeie Herder oor die skape in hierdie kraal of stal.
19. Hoe is die profesie in Sagaria 13:7 vervul?
19 Gedurende die dele van drie dae wat Jesus onder arres en in die graf dood was, moes hy die versorging van sy dissipels geheel en al aan die Opperherder, Jehovah God, oorlaat. Dit was toe dat Jehovah se woorde in Sagaria 13:7 vervul is, naamlik: “Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word; en Ek sal my hand weer uitstrek oor die geringes.” Die hand van die almagtige Herder, Jehovah, is oor hierdie geringe dissipels uitgestrek totdat hulle weer aan die sorg van sy verrese Onderherder, Jesus Christus, toevertrou kon word.—Mattheüs 26:31, 32.
20. Hoe laat die woorde in Johannes 10:16 ons nog ’n stal verwag, en waarom moet dit vir ons van belang wees?
20 Maar met hierdie nuwe skaapstal onder die Goeie Herder in gedagte, kan ons oplet wat Jesus in Johannes 10:16 gesê het: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei.” Toon dit nie dat hy ’n ander, ’n tweede, stal sou hê waarvan hy die Goeie Herder sou wees nie? Indien wel, wanneer sou dit bestaan en wie sou die skape daarin wees? Dit was uiters tydige vrae, en die antwoorde daarop kan ’n regstreekse uitwerking op jou hoop en ewige vooruitsigte hê. Kom ons ondersoek dus die saak.
Hoe sal jy die volgende beantwoord?
◻ Hoe het Jesus deur sy geboorte in ’n skaapstal gekom, en wie was die Herder daarvan?
◻ Watter nuwe rol het Jesus in 29 G.J. aangeneem?
◻ ln watter hoedanigheid het Johannes die Doper ten opsigte van die Israelitiese skaapstal gedien?
◻ Wat was die nuwe skaapstal waarvan Jesus die Goeie Herder was?
◻ Wat toon dat daar nog ’n skaapstal in aansyn sou kom?
-
-
Die onlangse kraal vir “ander skape”Die Wagtoring – 1984 | April 1
-
-
Die onlangse kraal vir “ander skape”
“Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.”—JOHANNES 10:16.
1. Hoe was daar in 36 G.J. ’n byvoeging tot die skaapstal van geestelike Israel?
MET die ontstaan van die nuwe skaapstal van geestelike Israel op Pinksterdag van 33 G.J. het die voormalige skaapstal vir die natuurlike Jode onder die Mosaïese Wetsverbond verbygegaan as iets wat aan sy doel beantwoord het. Drie en ’n halwe jaar later is die Romeinse hoofman Cornelius en sy gelowige gesin en vriende in Cesarea bekeer, gedoop en met gees gesalf. Sodoende is nie-Jode wat nie proseliete of besnede was nie in die skaapstal ingebring waarvan Jesus Christus “die deur” is (Handelinge, hoofstuk 10). Hierdie stal sluit “die Israel van God”, Israeliete na die gees, of geestelike Israeliete, in. Kon daar van enige van hulle—Jood of nie-Jood—gesê word dat hulle “nie aan hierdie stal behoort nie”, dit wil sê, aan die stal wat kragtens die nuwe verbond in aansyn gekom het? Beslis nie!—Galasiërs 6:16; Johannes 10:16.
2. Hoe dien Jesus nog steeds as die Goeie Herder van diegene in die nuwe verbond?
2 Daar is vandag nog steeds ’n oorblyfsel van hierdie Israel van God op aarde, en hierdie feit bewys dat Jesus Christus, die Middelaar van die nuwe verbond, ’n Getroue en Goeie Herder is. Selfs vandag nog, meer as 19 eeue later, kan die verheerlikte Jesus Christus dus met reg en sonder om groot te praat sê wat hy voor sy dood en opstanding gesê het en wat ons in Johannes 10:14, 15 kan lees: “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. Net soos die Vader [die Opperherder] My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.”
3, 4. Waarom moet ’n onderskeid getref word tussen die “ander skape” en die “klein kuddetjie”?
3 Toe het Jesus hierdie merkwaardige maar groothartige verklaring gedoen: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal [of, “kraal”, NAV; Die Lewende Bybel] behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Johannes 10:16). Na wie het hy as “ander skape” verwys?
4 Aangesien daardie “ander skape” nie aan “hierdie stal” behoort het nie, sou hulle nie deel wees van die Israel van God waarvan die lede ’n geestelike of hemelse erfenis het nie. Hierdie geestelike Israeliete sou hoogstens ’n “klein kuddetjie” wees, want Jesus het vir sy dissipels wat in aanmerking kon kom vir die heilige gees wat op Pinkster uitgegiet sou word, gesê: Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). Die klein kuddetjie skape aan wie die hemelse Koninkryk gegee gaan word en wat saam met die Goeie Herder, Jesus Christus, in daardie Koninkryk gaan regeer, sal uit slegs 144 000 geestelike Israeliete bestaan.—Openbaring 7:1-8; 14:1-5.
5. Hoe kan jy Openbaring 14:4 gebruik om te toon dat die ander skape logies ’n ander hoop as die klein kuddetjie het?
5 Openbaring 14:4 sê: “Dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.” Hoe kon daardie 144 000 geestelike Israeliete simboliese eerstelinge uit die mense wees as daar geen ander vrugte, geen na-oes, sou wees nie? Benewens die 144 000 geestelike Israeliete wat die klein kuddetjie koninklike skape in die “nuwe verbond”-skaapstal uitmaak, móét daar dus eenvoudig ander skape wees wat later bymekaargemaak sou word. En dit is hoe sake verloop het, nie waar nie?
6, 7. Hoe word Openbaring 22:17 vervul, en wie word nie hier genooi om te “kom” nie?
6 In Openbaring 22:17 is daar voorspel dat “die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” Die geestelike bruid van Christus rig nie die uitnodiging “Kom!” aan haarself, dit wil sê, aan diegene wat Jehovah God nog sou nodig hê as deel van die bruidsklas sodat dit uit 144 000 lede kan bestaan nie. Dit is gedurende hierdie “voleinding van die wêreld”, wat in 1914 begin het, dat ons hoor hoedat die “bruid”, in samewerking met die heilige gees van die Opperherder, die uitnodiging rig.—Mattheüs 24:3.
7 Daardie uitnodiging word gerig aan mense hier op aarde wat volmaakte menselewe na God se beeld en gelykenis wil verkry in die Paradys wat God se Koninkryk in die hande van Christus op die aarde gaan herstel. Vandag, gedurende die voleinding van die stelsel, is die genooides die “ander skape” van Jesus se verreikende profesie in Johannes 10:16. Hulle behoort nie aan “hierdie stal” wat die Goeie Herder, Jesus, daar gemeld het nie. Maar hulle ontvang die uitnodiging deur die oorblyfsel van die “skape” wat in “hierdie stal” is, en saam met die geestelike oorblyfsel rig hulle die uitnodiging aan nog ander reg tot aan die einde van hierdie voleinding van die stelsel.
8. Watter beskouing van die ander skape is in 1905 gehuldig?
8 In Zion’s Watch Tower se nommer van 15 Maart 1905 is ’n artikel gepubliseer met die titel “Ware Herder, ware skape, ware stal”. Dit het ’n onderskeid getref tussen die skape van “hierdie stal” en dié wat die ander skape genoem word. Dit het beklemtoon dat “hierdie stal” verband hou met die gemeente Christene wat gedurende die sogenaamde “Evangelie-eeu” bymekaargemaak word. Na die tussenhofies “Ander skape van ’n ander kudde” en “Mede-erfgename van dieselfde belofte” (bladsye 89, 90) is daar gesê:
“Die kudde wat die Here ten tye van hierdie gelykenis bymekaargemaak het, was nie natuurlike Israel nie, maar geestelike Israel. . . . Die beskouing van sommige dat ons wat uit die nie-Jode of die gemelde ‘ander skape” kom nou in die een stal ingebring word, is gevolglik nie korrek nie. . . . Hierdie gemelde ‘ander skape’ in hierdie gelykenis is klaarblyklik diegene wat die Here se skape sal word nadat die huidige ‘klein kuddetjie’ voltallig is.”
9, 10. (a) Waarom kan die gelykenis van die skape en die bokke nie gedurende die Millennium van toepassing wees nie? (b) Wanneer sou die ander skape ingesamel word?
9 In ’n latere paragraaf van daardie artikel word die “ander skape” gelykgestel met die “skape” wat beskryf word in Jesus se gelykenis van die skape en die bokke, soos uiteengesit in Mattheüs 25:31-46. In 1905 is daar gemeen dat daardie gelykenis van toepassing sou wees gedurende die Duisendjarige Bewind van Christus na “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” op die slagveld genaamd Armageddon (Openbaring 16:14-16). Ons moet egter in gedagte hou dat die gelykenis van die skape en die bokke die laaste deel van Jesus se antwoord was op sy dissipels se vraag oor die teken van sy “teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel” (Mattheüs 24:3, NW). Die vervulling van hierdie gelykenis moet dus verwesenlik word gedurende die voleinding van die stelsel wat in die jaar 1914 begin het.
10 Ons besef dus dat die Goeie Herder Jesus Christus nie begin het om die “ander skape” van Johannes 10:16 in die eerste eeu bymekaar te maak toe daar begin is om die besnede Samaritane tot die Christelike godsdiens te bekeer nie. En hy het dit ook nie gedoen toe die Romeinse hoofman, die onbesnede nie-Jood Cornelius, omstreeks 36 G.J. bekeer is nie. Wel, wanneer het die Goeie Herder dan begin om sy ander skape bymekaar te maak? Baie eeue later, ja, in hierdie 20ste eeu, volgens die feite van die saak.—Handelinge 8:4-17; 10:9-48.
11. Waarop het die geestelike Israeliete hulle tot 1935 toegespits?
11 Ons merk dat die oorblyfsel geestelike Israeliete wat in “hierdie stal” hoort tot die noordelike lente van die jaar 1935 besig was om die laaste lede na daardie stal of kraal te bring sodat die 144 000 geestelike Israeliete voltallig sou wees. Hulle sou die laaste persone wees wat ingebring word in die nuwe verbond wat bemiddel is deur die Goeie Herder, wat as die Lam van God gesterf het om “die bloed van die ewige verbond” te voorsien (Hebreërs 13:20, NAV; Psalm 50:5). Wat het dan in 1935 gebeur?
12. Wat was buitengewoon omtrent die byeenkoms in 1935?
12 ’n Algemene byeenkoms van Jehovah se Getuies is gehou in die hoofstad van die Verenigde State van Amerika, Washington, D.C., en Godvresende Bybelstudente, wat soos die nie-Israelitiese Jonadab was, is in die besonder daarheen uitgenooi. Op die tweede dag van die byeenkoms, 31 Mei, is die byeenkomsgangers aangegryp deur die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap se toespraak oor Openbaring 7:9-17 oor die “groot menigte” (Openbaring 7:9). Hy het verduidelik dat hierdie voorspelde “groot menigte” sou bestaan uit die “ander skape”, wat afgeskadu is deur Jonadab, die nie-Israelitiese man wat Jehu, die koning van Israel, vergesel het in vertoning van ywer vir Jehovah en téén die aanbidders van die valse God Baal (2 Konings 10:15-28; Jeremia 35:6-19). Jehu het aldus sy “ywer vir die HERE” getoon, of, soos die New World Translation sê, dat hy “geen mededinging met Jehovah duld nie”.—2 Konings 10:16.
13, 14. (a) Wie het hedendaagse Jonadabs geword? (b) Wat moes hulle gepas doen, en waarom?
13 Honderde van diegene wat soos Jonadab en onder die “ander skape” van die Goeie Herder wou wees, het die gepubliseerde uitnodiging aangeneem en die byeenkoms in Washington bygewoon. Om hedendaagse, teenbeeldige Jonadabs te word, was dit vir hulle Skriftuurlik nodig om hulself ten volle aan Jehovah God toe te wy deur sy Goeie Herder en hierdie toewyding deur algehele onderdompeling in water te simboliseer, net soos die skape wat aan “hierdie stal” behoort, gedoen het. So het dit dan gekom dat 840 byeenkomsgangers op Saterdag, 1 Junie 1935, in water gedoop is. Dit het ooreengekom met die massadoop wat op Pinksterdag van die jaar 33 G.J. in Jerusalem plaasgevind het. Watter indrukwekkende, tydvakskeppende wyse was dit tog vir die Goeie Herder om te toon dat hy nou gereed was om die ander skape wat na sy stem as dié van hulle gekose Herder sou luister, onder sy herderlike toesig te bring! Hoe bly moes dit hom tog gemaak het! Na die byeenkoms van 1935 in Washington is die belangrike toespraak ter verduideliking van Openbaring 7:9-17 in The Watchtower se nommers van 1 en 15 Augustus 1935 gepubliseer onder die titel “Die groot menigte” (Dele 1 en 2).
14 Derduisende lesers het toe gesien dat hulle die voorreg het om waarlik ander skape van die Goeie Herder te word en om na die regte stal of kraal toegewys te word. Te dien einde het hulle hulle by die eerste geleentheid laat doop as simbool van hulle intelligente toewyding aan die Opperherder deur sy Onder-herder, Jesus Christus. Omdat hulle erken dat Jehovah se Onderherder sy mensesiel vir al die skape gegee het, het hulle as ’t ware hulle identifiserende “klere gewas” in die “bloed” van hierdie “Lam” van God en “hul klere wit gemaak” om nie tydens die goddelike inspeksie afgekeur te word nie.—Openbaring 7:14.
15. Hoe talryk het die ander skape geword, en waarvan getuig dit?
15 Met die oog op die feit dat die Goeie Herder sy lewensreddende aandag op die ander skape gevestig het, het die voleinding van die stelsel, wat aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 begin het, nie in 1935 geëindig nie. Maar dit het voortgeduur tot vanjaar, 1984, en die einde moet nog bereik word nadat die finale Koninkrykspredikingswerk volbring is. Miljoene het reeds by vierings van die Here se Aandmaal getoon dat hulle in die stal van die ander skape is, terwyl tallose ander nog na die stal kom. Hulle is reeds baie meer as die voorbestemde getal van 144 000, ’n beperkte getal wat vasgestel is vir diegene wat ingebring word in “hierdie stal” wat bewaar word vir die geestelike Israeliete, die mede-erfgename van die Goeie Herder in sy hemelse Koninkryk. Hierdie feit is verdere bewys dat hulle nie in “hierdie stal” van die Goeie Herder se “klein kuddetjie” is nie.—Lukas 12:32.
16, 17. (a) Wat is die verhouding tussen die ander skape en die klein kuddetjie? (b) Hoe is Jesus se woorde dat hulle “een kudde” sou word, vervul?
16 Het hulle verskillende verwagtinge—die hemelse hoop vir die skape in “hierdie stal” en die aardse hoop vir die ander skape in die ander stal wat onlangs voorsien is—hulle beïnvloed om uitmekaar te gaan asof hulle niks met mekaar gemeen het nie? Die verwikkelinge sedert die jaar 1935 antwoord: Beslis nie! Jesus, die Goeie Herder, het voorspel dat dit nie die geval sou wees nie, want hy het voorts gesê: “En dit sal wees een kudde” (Johannes 10:16). Ons merk op dat hy nie gesê het ‘een kudde in een stal’ nie. Hoewel daar aparte stalle sou wees, sou daar slegs “een herder” wees, en dit is die Herder-Koning wat sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 in die hemele regeer. Dienooreenkomstig het die “skape” die een, gemeenskaplike taak, naamlik om ‘hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies te verkondig’ voordat die einde van hierdie ou wêreld kom.—Mattheüs 24:14.
17 Die ander skape meen glad nie dat hulle van die klein kuddetjie afgeskei is nie. Hulle maak saam die een kudde skape van die Goeie Herder uit. Die ander skape verbly hulle oor hulle intieme omgang met die klein kuddetjie en beskou dit as ’n groot voorreg om ’n ruk lank te dien saam met daardie toekomstige konings en priesters wie se onderdane hulle gedurende die Duisendjarige Koninkryk gaan wees.
18. (a) Wat hou die toekoms vir die nuwe verbond en die gesalfde skape in “hierdie stal” in? (b) Watter vooruitsig het die ander skape?
18 Wanneer die oorblyfsel geestelike Israeliete op God se bestemde tyd hulle aardse loopbaan voltooi en van die toneel verdwyn om hulle hemelse beloning te ontvang, sal die nuwe verbond op grond van die bloed van die Middelaar, die Goeie Herder, Jesus Christus, nie meer geld nie daar dit aan sy doel beantwoord het. Dan sal die viering van die Here se Aandmaal op die Pasgadag van elke jaar ophou. Dan sal “hierdie stal” vir die kudde geestelike Israeliete ook ophou bestaan. Die toegewyde, gedoopte ander skape sal op die aarde agterbly om die seëninge te ontvang wat die Koninkryk, wat uit die Goeie Herder, Jesus Christus, en sy 144 000 mede-priesters en -konings bestaan, dan op hulle sal uitstort. Die kudde wat op die gereinigde aarde gaan agterbly, sal slegs uit die verenigde ander skape bestaan. Hulle sal voortgaan om te luister na die stem van hulle Herder-Koning, en dit sal meebring dat hulle die ewige lewe in menslike volmaaktheid op ’n paradysaarde verkry.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat toon dat die ander skape verskil van diegene in die klein kuddetjie?
◻ Hoe word Openbaring 22:17 vandag vervul?
◻ Wanneer en waar het die ander skape na vore begin kom?
◻ Hoe maak hulle almal een kudde uit, aangesien die ander skape in ’n ander stal as die gesalfdes is?
-