Koninkryksverkondigers berig
Getuies gaan na die publiek in Frankryk
VAN vroeg Vrydagoggend, 29 Januarie 1999, af en gedurende die naweek het Jehovah se Getuies in Frankryk 12 miljoen eksemplare van ’n traktaat met die titel Mense van Frankryk, julle word mislei! op straat en later van huis tot huis entoesiasties versprei. Waarom is so ’n kampanje onderneem?
By ’n perskonferensie in Parys daardie Vrydagoggend is die rede vir die kampanje gegee. ’n Getuiewoordvoerder het verduidelik: “Ons wil vandag die feite omtrent onsself bekend maak en die lasterlike stellings wat oor ons versprei word, stilmaak. Ons is bereid om kritiek te aanvaar, maar ons sal nie meer luister na leuens en kommentare wat ons reputasie skend nie.”
Hoewel Jehovah se Getuies die derde grootste Christelike godsdiens in Frankryk is, is tientalle Getuiekinders al op skool beledig en geteister. Volwassenes het hulle werk verloor en is gedreig weens hulle godsdiens. Dit is ongelooflik dat ’n belasting van 60 persent selfs op die godsdiensbydraes gehef is wat hulle ontvang het. Hoe het die kampanje hierdie diskriminasie aangespreek?
Die traktaat sê: “Die 250 000 Getuies van Jehovah wat in Frankryk woon, sowel as diegene wat met hulle omgaan, TEKEN PROTES AAN teen die oneerlike wyse waarop hulle Christelike godsdiens, wat al sedert 1900 in Frankryk bestaan, van 1995 af saam met gevaarlike sektes geklassifiseer word. . . . TEKEN PROTES AAN teen die aanhoudende teistering waaraan hulle onderwerp is.” Die lasterlike klagtes wat teen die Getuies in Frankryk ingebring is en die slinkse maniere waarop lasteraars negatiewe publisiteit probeer skep het, is blootgestel. Die traktaat sluit af deur te sê: “Vandag woon meer as tweemiljoen Getuies van Jehovah en diegene wat met hulle omgaan in Europa. Hulle respekteer die wette van die lande waarvan hulle burgers is deur die waardes van die Evangelie te handhaaf. Mense van Frankryk, dít is die feite. Dit is ons plig om dit aan julle voor te lê soos dit werklik is!”
Vinnige, positiewe reaksie
Miljoene traktate is op die eerste dag uitgegee. In Parys alleen het meer as 7 000 Getuies teen die middag oor die 1,3 miljoen traktate by mense gelaat. Dit was beslis die eerste keer dat die mense soveel Getuies gesien het wat traktate op straat uitgee. Die media, waaronder nasionale en plaaslike koerante en televisie, het gunstig gereageer op die kampanje. Die koerant Le Progrès de Lyon het gesê: “Hierdie inisiatief . . . bring ’n misverstand oor ’n woord aan die lig. In die laaste tien jaar het die woord ‘sekte‘ . . . ’n perverse, gevaarlike en skadelike betekenis gekry. . . . Jehovah se Getuies is nie ’n gevaarlike organisasie nie en dit is onwaarskynlik dat hulle die gemeenskap sal destabiliseer.”
Diegene wat Jehovah se Getuies ken, waardeer hulle vreedsame geaardheid en hulle diepe respek vir die gevestigde maatskaplike orde. Baie mense op straat het dus hulle waardering en steun uitgespreek vir die tienduisende Getuies wat aan die kampanje deelgeneem het. Telefoonoproepe, fakse en briewe van mense wat hulle dank vir die traktaat uitgespreek het, is byna onmiddellik ontvang. Bowenal is opregte mense die kans gegee om die feite oor die Getuies te hoor en nie valse en sinlose opmerkings nie, en diegene wie se oortuigings belaster is, kon toon hoe hulle voel oor dít waaraan hulle waarde heg.