Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • “Dis nie my skuld nie”
    Ontwaak! – 1996 | September 22
    • “Dis nie my skuld nie”

      HOE dikwels hoor jy vandag dat iemand sê: ‘Ek is jammer. Dit was my skuld. Ek is geheel en al daarvoor verantwoordelik!’? Dit is selde dat sulke opregte eerlikheid nog gehoor word. Trouens, selfs wanneer mense wel ’n fout erken, probeer hulle hard om die skuld te skuif op iemand anders of op versagtende omstandighede waaroor die kwaaddoener sê hy geen beheer gehad het nie.

      Party blameer selfs hulle gene! Maar is dit aanvaarbaar? Die boek Exploding the Gene Myth bevraagteken die oogmerke en doeltreffendheid van sommige aspekte van geennavorsing. Die Australiese joernalis Bill Deane het in sy oorsig van die boek tot hierdie gedagteprikkelende gevolgtrekking gekom: “Dit lyk of sosiale deterministe in die laaste tyd begin glo het dat hulle so te sê onfeilbare bewyse gevind het vir hulle filosofie dat niemand vir hulle dade verantwoordelik gehou moet word nie: ‘Dis nie sy skuld dat hy haar keel afgesny het nie, U Edele—dis in sy gene.’”

      Nie werklik ’n nuwe neiging nie

      Omdat hierdie geslag vinnig besig is om te ontwikkel tot wat een skrywer die “nie-ek-nie”-geslag noem, lyk dit dalk of hierdie neiging toeneem. Die geskiedenis toon egter dat die mens sedert sy begin reeds die skuld op ander skuif deur te sê: “Dis nie eintlik my skuld nie.” Adam en Eva se reaksie ná hulle eerste sonde, deur die vrugte te eet wat God hulle verbied het, was ’n klassieke voorbeeld van verontskuldiging. In Genesis vind ons ’n verslag van die gesprek wat plaasgevind het, met God wat eerste praat: “Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”—Genesis 3:11-13.

      Sedertdien het die mens verskillende opvattings gevorm en na die eienaardigste verskonings gesoek om hulle van enige werklike aanspreeklikheid vir hulle dade vry te stel. ’n Goeie voorbeeld hiervan was die eertydse opvatting van die noodlot. ’n Boeddhistiese vrou wat opreg aan Karma geglo het, het gesê: “Ek het gedink dat dit geen sin het om te boet vir iets waarmee ek gebore is, maar waarvan ek niks geweet het nie. Ek moes dit as my lot aanvaar.” Die leerstelling van voorbeskikking wat deur Johannes Calvyn geleer is, het daartoe gelei dat dit ook algemeen in die Christendom voorkom. Geestelikes vertel dikwels vir bedroefde familielede dat ’n sekere ongeluk God se wil was. Daarbenewens blameer talle welmenende Christene Satan ook vir alles wat in hulle lewe verkeerd loop.

      Ons begin nou gedrag bespeur waarvoor mense nie aanspreeklik gehou word nie en wat deur die wet en gemeenskap goedgekeur word. Ons lewe in ’n era waarin die individu se regte vermeerder en sy verantwoordelikhede verminder.

      Navorsing oor mensegedrag het vermoedelik wetenskaplike bewys gelewer wat na party se mening vrye teuels kan gee aan gedrag wat wissel van onsedelikheid tot moord. Dit toon hoe gretig die gemeenskap is om die skuld op enigiets of enigiemand behalwe die individu te skuif.

      Die volgende vrae moet beantwoord word: Wat het die wetenskap in werklikheid ontdek? Word mensegedrag nét deur ons gene bepaal? Of word ons gedrag deur innerlike sowel as uiterlike faktore beheers? Wat word werklik deur die bewyse geopenbaar?

  • Bepaal ons gene wat met ons gaan gebeur?
    Ontwaak! – 1996 | September 22
    • Bepaal ons gene wat met ons gaan gebeur?

      “ONS het altyd gedink dat ons lot deur die sterre bepaal word. Nou weet ons dat ons lot grotendeels deur ons gene bepaal word.” Dit is hoe James Watson aangehaal is in die begin van die boek Exploding the Gene Myth deur Ruth Hubbard en Elijah Wald. Maar reg onder Watson se aanhaling word die woorde van R. C. Lewontin, Steven Rose en Leon J. Kamin aangehaal: “Ons kan nie aan enige betekenisvolle menslike sosiale gedrag dink wat so in ons gene ingebou is dat dit nie deur sosiale omstandighede gevorm kan word nie.”

      Die omslag van daardie boek som dele van die inhoud op en begin met die toepaslike vraag: “Is mensegedrag geneties?” Met ander woorde, word mensegedrag geheel en al bepaal deur die gene wat die oorerflike biologiese karaktertrekke en eienskappe van die organisme oordra? Moet sekere onsedelike gedrag goedgekeur word op grond van die feit dat dit geneties is? Moet misdadigers behandel word asof hulle slagoffers van hulle genetiese kode is sodat hulle vanweë ’n geenpredisposisie aanspraak kan maak op verminderde toerekenbaarheid?

      Wetenskaplikes het onteenseglik talle voordelige ontdekkings in hierdie eeu gedoen. Onder hierdie ontdekkings is die fassinerende DNS, die so genoemde bloudruk van ons genetiese samestelling. Die inligting in die genetiese kode het wetenskaplikes sowel as leke nuuskierig gemaak. Wat het navorsing oor die genetika werklik onthul? Hoe word bevindinge gebruik om die hedendaagse leerstelling van voorprogrammering of voorbeskikking te staaf?

      Wat van ontrouheid en homoseksualiteit?

      Volgens ’n artikel wat in The Australian verskyn het, toon sekere geennavorsing dat “ontrouheid waarskynlik in ons gene is. . . . Dit wil voorkom of ons bedrieglike hart veronderstel is om so te wees.” Stel jou net voor watter verwoesting hierdie beskouing in huwelike en gesinne kan aanrig deur ’n skuiwergat te bied vir enigiemand wat aanspraak wil maak op verminderde toerekenbaarheid vir ’n promiskue lewenswyse!

      Wat homoseksualiteit betref, het die tydskrif Newsweek die opskrif “Aangebore of aangeleer?” gehad. Die artikel het gesê: “Die wetenskap en psigiatrie sukkel om nuwe navorsing te verstaan wat daarop dui dat homoseksualiteit dalk met die gene verband hou en nie met die manier waarop ouers kinders grootmaak nie. . . . In die homoseksuele gemeenskap verwelkom baie die aanduiding dat homoseksualiteit in die chromosome begin.”

      Die artikel haal dan dr. Richard Pillard aan, wat gesê het: “’n Genetiese komponent in seksuele voorkeur sê: ‘Dit is nie ’n fout nie, en dit is nie jou skuld nie.’” Frederick Whitam, ’n navorser op die gebied van homoseksualiteit, verleen krag aan hierdie argument dat dit “nie jou skuld” is nie en sê dat “mense geneig is om ’n sug van verligting te slaak wanneer daar vir hulle gesê word dat homoseksualiteit biologies is. Dit bevry die families en homoseksuele van skuldgevoelens. Dit beteken ook dat die gemeenskap nie bekommerd hoef te wees oor homoseksuele onderwysers en dies meer nie.”

      Soms word sogenaamde bewyse dat homoseksuele neigings deur die gene bepaal word deur die media as feitelik en oortuigend eerder as ’n moontlikheid en onoortuigend aangebied.

      Die tydskrif New Statesman & Society plaas ’n demper op van hierdie retoriek: “Die verbysterde leser het dalk nie gesien dat daar maar eintlik min oortuigende fisiese bewyse is nie—of dat daar in werklikheid geen grondslag is vir die wetenskaplik ongehoorde [verregaande] bewering dat promiskuïteit ‘in die manlike gene geprogrammeer is en in die stroombane van die manlike brein ingebou is’ nie.” In hulle boek Cracking the Code voeg David Suzuki en Joseph Levine hulle besorgdheid by oor die huidige geennavorsing: “Hoewel ’n mens kan redeneer dat gene gedrag oor die algemeen kan beïnvloed, is dit iets heeltemal anders om te sê dat ’n spesifieke geen—of ’n paar gene of selfs ’n klomp gene—spesifieke besonderhede van ’n dier se reaksie op sy omgewing beheers. Op hierdie stadium is dit redelik om te vra of enigiemand, in die streng molekulêre sin van opsporing en manipulering, enige dele van die DNS gevind het wat spesifieke gedrag beïnvloed soos verwag is.”

      Gene vir alkoholisme en misdadigheid

      Die studie van alkoholisme het deur die jare heen talle genetiese navorsers gefassineer. Party het beweer dat studies getoon het dat die teenwoordigheid of die afwesigheid van sekere gene verantwoordelik is vir alkoholisme. The New England Journal of Medicine het byvoorbeeld in 1988 gesê dat “drie afsonderlike ondersoeke gedurende die afgelope dekade oortuigende bewys gelewer het dat alkoholisme ’n oorerflike karaktertrek is”.

      Sommige spesialiste op die gebied van verslawing betwis egter nou die beskouing dat alkoholisme hoofsaaklik deur biologiese faktore beïnvloed word. ’n Berig in The Boston Globe van 9 April 1996 het gesê: “Daar is nie ’n alkoholisme-geen in sig nie, en sommige navorsers erken dat hulle dalk hoogstens genetiese vatbaarheid sal vind wat party mense in staat stel om te veel te drink sonder om aangeklam te raak—’n karaktertrek wat hulle vir alkoholisme vatbaar kan maak.”

      The New York Times het verslag gedoen van ’n konferensie by die Universiteit van Maryland met die titel: “Die betekenis en belangrikheid van navorsing oor genetika en misdadigheid.” Die gedagte aan ’n misdaadgeen is ’n lekker oplossing. Dit lyk of baie kommentators gretig is om met die stroom saam te gaan. ’n Wetenskapskrywer in The New York Times Magazine het gesê dat boosheid dalk “in die chromosoomkettings is wat ons ouers tydens bevrugting aan ons oordra”. ’n Artikel in The New York Times het gesê dat die voortdurende bespreking van gene wat tot misdadigheid lei die indruk skep dat misdaad “’n gemeenskaplike oorsprong [het]—iets abnormaals in die brein”.

      Jerome Kagan, ’n sielkundige by Harvard, voorspel dat die tyd sal aanbreek wanneer genetiese toetse kinders sal identifiseer wat geneig is om gewelddadig te wees. Volgens party mense is daar dalk hoop dat misdaad deur middel van biologiese manipulasie in plaas van deur maatskaplike hervorming beheers kan word.

      Die taal wat gebruik word in berigte oor hierdie bespiegelings aangaande die genetiese grondslag vir gedrag is dikwels vaag en onduidelik. Die boek Exploding the Gene Myth praat van ’n studie deur Lincoln Eaves, ’n gedragsgenetikus, wat gesê het dat hy bewyse gevind het van ’n genetiese oorsaak van depressie. Nadat Eaves vroue bestudeer het wat blykbaar geneig is tot depressie, het hy “aan die hand gedoen dat [die vroue se] depressiewe sienswyse en optrede dalk die moontlikheid van sulke toevallige probleme vergroot het”. Wat is hierdie “toevallige probleme”? Die vroue wat bestudeer is, is “verkrag, aangerand of afgedank”. Het depressie dus tot hierdie traumatiese gebeure aanleiding gegee? “Watter soort redenasie is dit?” sê die boek voorts. “Die vroue is verkrag, aangerand of afgedank, en hulle was depressief. Hoe traumatieser die gebeure wat hulle ondervind het, hoe langduriger die depressie. . . . Dit sou miskien die moeite werd gewees het om na ’n genetiese skakel te soek as hy [Eaves] bevind het dat die depressie nie met enige wedervaring in hulle lewe verband gehou het nie.”

      Daardie selfde publikasie sê hierdie stories is “kenmerkend van die meeste huidige verslae oor genetika [gedragsgenetika] in die media en in wetenskaplike tydskrifte. Hulle bevat ’n mengelmoes interessante feite, onbevestigde veronderstellings en wilde oordrywings oor die belangrikheid van gene in ons lewe. ’n Kenmerk van baie van hierdie geskrifte is die feit dat dit so vaag is.” Dit sê voorts: “Daar is ’n groot verskil tussen die assosiasie van gene met toestande wat ’n Mendeliaanse patroon van oorerwing volg en die gebruik van denkbeeldige genetiese ‘neigings’ om ingewikkelde toestande soos kanker of hoë bloeddruk te verduidelik. Wetenskaplikes maak nog ’n gevolgtrekking wanneer hulle aan die hand doen dat genetiese navorsing kan help om mensegedrag te verklaar.”

      Maar in die lig van al die voorafgaande bestaan die vrae wat so dikwels gevra word nog steeds: Waarom vind ons soms dat veranderde gedragspatrone in ons lewe na vore kom? En watter beheer het ons oor sulke situasies? Hoe verkry en behou ons beheer oor ons lewe? Die volgende artikel kan moontlik help om antwoorde op hierdie vrae te voorsien.

      [Venster/Prent op bladsy 6]

      Geenterapie—Is daar aan die verwagtinge voldoen?

      Wat van geenterapie—wanneer pasiënte met korrektiewe gene ingespuit word om hulle van aangebore genetiese siektes te genees? ’n Paar jaar gelede het wetenskaplikes hoë verwagtinge gekoester. “Is geenterapie ’n tegnologie waarvoor die tyd aangebreek het?” vra The Economist van 16 Desember 1995 en sê: “Te oordeel na wat die deskundiges op hierdie gebied in die openbaar sê asook die baie persdekking, kan ’n mens so dink. Maar ’n span van Amerika se beste wetenskaplikes stem nie saam nie. Veertien uitmuntende wetenskaplikes is deur Harold Varmus, die hoof van die Nasionale Institute vir Gesondheid (NIH), gevra om die onderwerp na te gaan. Nadat hulle dit sewe maande lank goed ontleed het, het hulle in ’n verslag wat verlede week uitgegee is, gesê dat, hoewel geenterapie belowend lyk, die sukses wat dit tot dusver behaal het, ‘oordryf’ is.” Toetse is gedoen waarby 597 pasiënte betrokke was wat aan ’n tekort aan adenosiendeaminase (ADA) ly of aan een van tientalle ander siektes wat moontlik deur die toediening van vreemde gene behandel kan word. “Volgens die span”, sê The Economist, “het nie een van die pasiënte werklik baat gevind deur aan so ’n toets deel te neem nie.”

      [Prente op bladsy 7]

      Ten spyte van sommige mense se bewerings oor geenpredisposisie kan mense wel kies hoe hulle wil optree

  • Verkry nóú beheer oor jou lewe!
    Ontwaak! – 1996 | September 22
    • Verkry nóú beheer oor jou lewe!

      WETENSKAPLIKE navorsing oor menslike gedrag en motivering het ons op baie gebiede gehelp. Miskien is ons gehelp om ’n siekte te verduur omdat ons dit beter verstaan het. Terselfdertyd is dit verstandig om versigtig te wees wat sensasionele teorieë betref, veral dié wat lyk of hulle goedgevestigde beginsels weerspreek.

      Oor die onderwerp van genetika en gedrag ontstaan vrae soos: Kan ons ons verantwoordelikhede ontduik en geen skuld vir ons dade aanvaar nie? Kan ons ons verontskuldig van ’n onbesonne daad of oortreding of selfs iemand of iets anders daarvoor blameer en sodoende by die toenemende getalle van hierdie “nie-ek-nie”-geslag aansluit? Glad nie. Die meeste mense is gewillig om erkenning vir enige suksesse in die lewe te ontvang, waarom sal hulle dan nie net so gewillig wees om verantwoordelikheid vir hulle foute te aanvaar nie?

      Daarom kan ons dalk vra: Wat sê God se Woord, die Heilige Bybel, oor wie of wat ons lewe vandag beheers?

      Wat is die Bybel se beskouing?

      Die eerste ding wat ons moet besef, is dat ons almal gebore is in sonde wat ons van ons eerste ouers, Adam en Eva, oorgeërf het (Psalm 51:7). Daarbenewens lewe ons in ’n spesiale tyd, wat “die laaste dae” genoem word, wanneer mense “kritieke tye” beleef “wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Dit toon dat ons oor die algemeen meer probleme ondervind om goeie beheer oor ons lewe uit te oefen as wat ons voorouers ondervind het.

      Alle mense het nietemin wilsvryheid, daarom kan hulle hulle eie persoonlike besluite neem. In dié mate het hulle beheer oor hulle lewe. Dit is reeds sedert die vroegste tye die geval en kan gesien word uit Josua se woorde

Afrikaanse publikasies (1975-2026)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel