-
Die geskil—Hoe dit alles begin hetOntwaak! – 2003 | Januarie 8
-
-
Die geskil—Hoe dit alles begin het
STRATTON, OHIO, VSA, is ’n klein gemeenskap naby die Ohio-rivier, wat Ohio van Wes-Virginië skei. Dit word geklassifiseer as ’n dorpie en het ’n burgemeester. Hierdie klein gemeenskap van minder as 300 mense het skielik in 1999 die middelpunt van ’n geskil geword toe die plaaslike owerheid Jehovah se Getuies, sowel as ander, probeer verplig het om ’n permit te kry voordat hulle die huise van die plaaslike mense met hulle Bybelse boodskap besoek.
Waarom is dit ’n belangrike geskil? In die loop van ons bespreking sal jy sien dat hierdie soort owerheidsordonnansie en -beheer in werklikheid nie net Jehovah se Getuies se regte in verband met vryheid van spraak sou beperk nie, maar almal s’n wat in die Verenigde State woon.
Hoe die konflik ontwikkel het
Die inwoners van Stratton is jare lank deur bedienaars van die plaaslike Wellsville-gemeente van Jehovah se Getuies besoek, wat al sedert 1979 probleme gehad het met ’n paar plaaslike amptenare oor hierdie huis-tot-huis-bediening. In die vroeë 1990’s het ’n plaaslike polisiebeampte ’n groep Getuies uit die dorp gejaag en gesê: “Ek gee nie ’n flenter om vir julle regte nie.”
In 1998 het die saak ’n kritieke punt bereik toe die burgemeester van Stratton self vier van Jehovah se Getuies voorgekeer het. Hulle was op pad uit die dorpie nadat hulle teruggegaan het na inwoners wat daarin belanggestel het om oor die Bybel te praat. Volgens een van die vroue wat voorgekeer is, het die burgemeester gesê dat hy hulle in die tronk sou gooi as hulle mans was.
Die oorsaak van die jongste konflik was ’n munisipale ordonnansie vir die “Regulering van ongenooide smousery en werwing op privaat eiendom”, waarvolgens enigiemand wat deur-tot-deur-werk wou doen,’n permit moes hê, wat gratis by die burgemeester gekry kon word. Jehovah se Getuies het hierdie ordonnansie as ’n skending van vryheid van spraak, godsdiensvryheid en persvryheid beskou. Gevolglik het hulle ’n hofsaak by die federale hof aanhangig gemaak nadat die dorp geweier het om hulle toepassing van hierdie ordonnansie te wysig.
Op 27 Julie 1999 het die saak voor ’n regter gekom van ’n Amerikaanse streekhof vir die Suidelike Streek van Ohio. Hy het die grondwetlikheid van die dorp se permitordonnansie gehandhaaf. Daarna, op 20 Februarie 2001, het die Amerikaanse Appèlhof vir die Sesde Afdeling ook die grondwetlikheid van die ordonnansie bekragtig.
Om die geskil te besleg, het die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van New York en die plaaslike Wellsville-gemeente van Jehovah se Getuies aansoek gedoen dat die Amerikaanse Hooggeregshof die saak hersien.
-
-
Die Hooggeregshof neem die saak aanOntwaak! – 2003 | Januarie 8
-
-
Die Hooggeregshof neem die saak aan
IN ONLANGSE JARE het die Hooggeregshof jaarliks sowat 80 tot 90 sake uit meer as 7 000 aansoeke aangeneem vir amptelike geskrewe opinies—’n bietjie meer as 1 persent!
In Mei 2001 het Jehovah se Getuies hulle Aansoek om ’n Verlof tot Appèl (toestemming om die saak te hersien) by die Hooggeregshof ingedien en gevra: “Is godsdiensbedienaars wat deelneem aan ’n eeue oue skriftuurlike werk om hulle godsdiensoortuigings van deur tot deur bekend te maak volgens die grondwet dieselfde as smouse en onderhewig aan die voorafbepaalde beperking om munisipale toestemming te verkry sodat hulle oor die Bybel kan praat of Bybellektuur kosteloos kan aanbied?”
Op 15 Oktober 2001 is die Regsdepartement van die Wagtoringgenootskap in kennis gestel dat die Amerikaanse Hooggeregshof Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., et al. v. Village of Stratton et al. vir hersiening aangeneem het!
Die Hof het die saak beperk tot ’n spesifieke geskilpunt in verband met vryheid van spraak, naamlik of die Eerste Wysiging se waarborg van vryheid van spraak mense se reg insluit om met ander oor ’n saak te praat sonder om hulle eers by ’n regeringsowerheid te identifiseer.
Die saak sou dus mondelings voor die nege regters van die Amerikaanse Hooggeregshof bepleit moes word. Die Getuies sou hulle regsgeleerdes hê; en die dorpie Stratton, hulle regspan. Wat sou in die hof gebeur?
[Venster op bladsy 5]
WAT IS DIE EERSTE WYSIGING?
“WYSIGING I (DIE STIGTING VAN GODSDIENS; VRYHEID VAN GODSDIENSBEOEFENING, SPRAAK, PERS, BYEENKOMS, PETISIE) Die Kongres sal geen wet maak met betrekking tot die stigting van ’n godsdiens of die verbod op die vrye beoefening daarvan; of die beperking van vryheid van spraak of persvryheid; of die reg van die mense om vreedsaam te vergader en om die Regering te versoek om hulle griewe uit die weg te ruim nie.”—The U.S. Constitution.
“Die Eerste Wysiging is die grondslag van die demokratiese proses in die Verenigde State. Die Eerste Wysiging verbied Kongres om wette aan te neem wat vryheid van spraak, van die pers of vreedsame byeenkoms of van petisie beperk. Baie mense beskou vryheid van spraak as die belangrikste vryheid en die grondslag van alle ander vryhede. Die Eerste Wysiging verbied Kongres ook om wette aan te neem vir die stigting van ’n staatsgodsdiens of wette wat godsdiensvryheid beperk” (The World Book Encyclopedia). Interessant genoeg, in Cantwell v. Connecticut, 310 U.S. 296 (1940), ’n baie belangrike beslissing waarby Jehovah se Getuies betrokke was, het die Amerikaanse Hooggeregshof beslis dat die waarborge van die Eerste Wysiging nie net die “Kongres” nie (die federale regering) maar ook plaaslike owerhede (staats- en munisipale owerhede) verbied om wette aan te neem wat op ongrondwetlike wyse die regte van die Eerste Wysiging skend.
[Prente op bladsy 5]
Die geskil raak verskeie vorme van deur-tot-deur-aktiwiteite
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Photograph by Franz Jantzen, Collection of the Supreme Court of the United States
-
-
Die eerste uitdaging—mondelinge pleitrede voor die HooggeregshofOntwaak! – 2003 | Januarie 8
-
-
Die eerste uitdaging—mondelinge pleitrede voor die Hooggeregshof
DIE DATUM VIR die mondelinge pleitrede voor die hoofregter William Rehnquist en agt mederegters van die Hooggeregshof was 26 Februarie 2002. Jehovah se Getuies is deur ’n span van vier prokureurs verteenwoordig.
Die hoofprokureur vir die Getuies het sy pleitrede met ’n boeiende inleiding begin: “Dit is 11:00 Saterdagoggend in die dorpie Stratton. [Hy het toe drie keer op die rostrum geklop.] ‘Goeie môre. In die lig van onlangse gebeure het ek ’n spesiale poging aangewend om met u te kom praat oor wat die profeet Jesaja iets beters genoem het. Dit is die goeie nuus waaroor Christus Jesus gepraat het, die goeie nuus van die Koninkryk van God.’”
Hy het verder gesê: “Dit is ’n misdaad om in die dorpie Stratton van deur tot deur te gaan en hierdie boodskap aan mense mee te deel tensy jy eers ’n permit van die dorpsowerheid gekry het om dit te doen.”
‘Julle vra nie geld nie?’
Regter Stephen G. Breyer het ’n paar pertinente vrae oor die Getuies gestel. Hy het gevra: “Is dit so dat jou kliënte nie enige geld vra nie, nie ’n pennie nie, en [dat] hulle nie Bybels of enigiets anders verkoop nie, al wat hulle sê is: ‘Ek wil met jou oor godsdiens praat’?”
Die prokureur vir die Getuies het geantwoord: “U Edelagbare, die rekord is baie duidelik, Jehovah se Getuies in die dorpie Stratton het nie geld gevra nie. In ander jurisdiksies is die rekord net so duidelik dat hulle soms van ’n vrywillige bydrae melding sal maak. . . . Ons bedel nie om fondse nie. Ons wil net met mense oor die Bybel praat.”
Is toestemming van dorpsowerheid nodig?
Regter Antonin Scalia het hierdie betekenisvolle vraag gevra: “Gaan jy nie van die standpunt uit dat julle nie na die burgemeester hoef te gaan om toestemming te vra om met ’n buurman oor iets interessants te praat nie?” Die Getuies se prokureur het geantwoord: “Ons dink nie dat hierdie Hof ’n regulasie van ’n dorpsowerheid moet goedkeur wat ’n burger verplig om ’n lisensie te kry sodat hy met ’n ander burger by sy huis kan gaan praat nie.”
Die verdediging se pleitrede
Dit was nou Stratton se beurt om hulle saak te stel. Die hoofadvokaat het Stratton se ordonnansie so verduidelik: “Stratton oefen sy owerheidsgesag uit wanneer dit die privaatheid van sy inwoners probeer beskerm, wanneer dit misdaad probeer voorkom. Die ordonnansie teen werwing of smousery op privaat eiendom vereis bloot dat persone vooraf registreer en ’n permit by hulle het wanneer hulle van deur tot deur gaan.”
Regter Scalia het dadelik tot die kern van die saak deurgedring toe hy gevra het: “Weet julle van enige ander saak wat ons [die Hooggeregshof] al gehad het waarby ’n ordonnansie van hierdie omvang betrokke was, wat verband hou met werwing, waar niemand geld vra of goedere verkoop nie, maar iets soos: ‘Ek wil oor Jesus Christus praat’ of ‘Ek wil oor omgewingsbewaring praat?’ Het ons al so ’n saak gehad?”
Regter Scalia het verder gesê: “Ek weet nie of daar gedurende die laaste tweehonderd jaar sulke sake was nie.” Waarop hoofregter Rehquist skertsend gesê het: “Jy is in elk geval nie so oud nie.” Almal in die hofsaal het gelag. Regter Scalia het sy punt beklemtoon: “Die omvang van hierdie saak is vir my iets nuuts.”
’n Goeie idee?
Regter Anthony M. Kennedy het ’n pertinente vraag gevra: “U dink dit is ’n goeie idee dat ek die owerheid toestemming moet vra voordat ek in die straat afgaan, waar ek nie al die mense ken nie, om vir hulle te sê: Ek wil met julle praat omdat ek besorg is oor die vullisverwydering, of omdat ek besorg is oor ons Kongreslid, of wat ook al. Moet ek die owerheid vra voordat ek dit kan doen?” Hy het bygevoeg: “Dis verstommend.”
Toe het regter Sandra Day O’Connor die punt verder gevoer: “En wat van kinders wat op Allerheiligeaand na jou deur toe kom? Moet hulle ’n permit kry?” Regters O’Connor en Scalia het albei hierdie redenasie gebruik. Regter O’Connor het bygevoeg: “Sê nou ek wil ’n koppie suiker by my buurvrou leen? Moet ek ’n permit kry om ’n koppie suiker by my buurvrou te leen?”
Is die Getuies werwers?
Regter David H. Souter het gevra: “Waarom word Jehovah se Getuies uitgesonder? Is hulle werwers, smouse of reisende handelaars van goedere of dienste? Hulle is nie een van hierdie dinge nie, is hulle?” Stratton se advokaat het groot dele van die ordonnansie aangehaal en bygevoeg dat die laerhof Jehovah se Getuies as werwers beskryf. Hierop het regter Souter geantwoord: “Dan het jy ’n baie breë definisie van werwers as dit Jehovah se Getuies insluit.”
Regter Breyer het toe die woordeboekdefinisie van ’n werwer aangehaal om te toon dat dit nie op die Getuies van toepassing is nie. Hy het bygevoeg: “Ek het niks in julle pleitstuk gelees wat sê waarom hierdie mense [Jehovah se Getuies] wat nie geld wil maak, iets wil verkoop of selfs stemme wil werf nie, na die stadsaal moet gaan om hulle te registreer nie. Wat wil julle daardeur bereik?”
Die “voorreg” om te kommunikeer
Stratton se advokaat het toe aangevoer dat “hulle wil voorkom dat die huiseienaar lastig geval word”. Hy het verder verduidelik dat hulle inwoners teen bedrog en misdadigers wil beskerm. Regter Scalia het die ordonnansie aangehaal om te toon dat die burgemeester verdere inligting kan versoek aangaande die geregistreerde en sy oogmerke sodat hy “die aard van die verlangde voorreg akkuraat kan beskryf”. Hy het toe reguit gesê: “Die voorreg om jou medeburgers oor die een of ander saak te gaan oortuig—ek kan dit eenvoudig nie verstaan nie.”
Regter Scalia het weer eens gevra: “Moet julle dus vereis dat enigiemand wat ’n deurklokkie lui, se vingerafdrukke eers by die stadsaal geneem word voordat [hy] ’n deurklokkie kan lui? Gee die skrale moontlikheid dat ’n misdaad gepleeg kan word julle genoeg rede om te vereis dat enigiemand wat ’n deurklokkie wil lui, hom by die stadsaal registreer? Natuurlik nie.”
Beskerming vir inwoners?
Nadat die advokaat vir Stratton se 20 minute verby was, het die prokureur-generaal vir die staat Ohio die pleitrede verder gevoer. Hy het geredeneer dat die ordonnansie teen werwing die inwoners beskerming bied teen besoeke deur ’n vreemdeling, “wat beslis ’n ongenooide persoon op my eiendom is . . . en ek dink die dorp het die reg om te sê: ‘Ons is besorg oor hierdie soort aktiwiteit.’”
Regter Scalia het toe gesê: “Al is daar mense wat Jehovah se Getuies verwelkom, eensame mense wat graag met enigiemand oor enigiets wil praat, sê die dorp nogtans dat hierdie mense [Jehovah se Getuies] hulle by die burgemeester moet registreer om die voorreg te kry om deurklokkies te lui.”
“’n Baie redelike beperking”
Gedurende die ondervraging het regter Scalia ’n baie goeie punt gemaak toe hy gesê het: “Ons sal almal saamstem dat die veiligste gemeenskappe in die wêreld totalitêre diktatorskappe is. Daar is baie min misdaad. Dit is ’n algemene verskynsel, en een van die pryse wat vir vryheid betaal word, is tot ’n sekere mate ’n groter risiko van onwettige bedrywighede, en die vraag is of hierdie ordonnansie genoeg onwettige bedrywighede bekamp sodat dit die opoffering van die voorreg om iemand se deurklokkie te lui, regverdig.” Daarna het die prokureur-generaal geantwoord dat “dit ’n baie redelike beperking is”. Regter Scalia het toe gesê dat dit so redelik is dat “ons nie ’n enkele geval kan vind waarin ’n munisipaliteit ooit hierdie soort ordonnansie uitgevaardig het nie. Ek dink nie dit is redelik nie.”
Uiteindelik het een van die regters die prokureur-generaal sover gekry om te erken: “Ek twyfel of ’n mens kan sê dat jy ’n algehele verbod daarop kan plaas om deurklokkies te lui of aan deure te klop.” Op daardie noot het sy pleitrede geëindig.
Die Getuies se prokureur het in sy teenargument daarop gewys dat die ordonnansie geen bevestigingsmeganisme het nie. “Ek kan na die stadsaal gaan en sê: ‘Ek is [so-en-so]’, en ’n permit kry en van deur tot deur gaan.” Hy het ook gesê dat die burgemeester kan weier om ’n permit aan ’n persoon uit te reik wat sê dat hy nie aan ’n organisasie verbonde is nie. “Ons meen dat dit duidelik ’n handeling volgens eie goeddunke is”, het hy gesê en bygevoeg: “Ek wil met die grootste respek sê dat ons [Jehovah se Getuies] bedrywighede inderdaad verband hou met die kern van die Eerste Wysiging.”
Kort daarna het die hoofregter Rehnquist die mondelinge pleitredes afgesluit en gesê: “Die saak sal deur [die Hooggeregshof] beslis word.” Die hele proses het net meer as ’n uur geneem. Die belangrikheid van daardie uur sou gesien word in die geskrewe uitspraak wat in Junie aangekondig is.
[Prente op bladsy 6]
Hoofregter Rehnquist
Regter Breyer
Regter Scalia
[Erkennings]
Rehnquist: Collection, The Supreme Court Historical Society/Dane Penland; Breyer: Collection, The Supreme Court Historical Society/Richard Strauss; Scalia: Collection, The Supreme Court Historical Society/Joseph Lavenburg
[Prente op bladsy 7]
Regter Souter
Regter Kennedy
Regter O’Connor
[Erkennings]
Kennedy: Collection, The Supreme Court Historical Society/Robin Reid; O’Connor: Collection, The Supreme Court Historical Society/Richard Strauss; Souter: Collection, The Supreme Court Historical Society/Joseph Bailey
[Prent op bladsy 8]
Die hofsaal
[Erkenning]
Photograph by Franz Jantzen, Collection of the Supreme Court of the United States
-
-
Die Hooggeregshof se beslissing ten gunste van vryheid van spraakOntwaak! – 2003 | Januarie 8
-
-
Die Hooggeregshof se beslissing ten gunste van vryheid van spraak
DIE GROOT DAG het op 17 Junie 2002 aangebreek, toe die Hooggeregshof sy geskrewe opinies gepubliseer het. Wat was die beslissing? Koerantopskrifte het die uitslag bekend gemaak. The New York Times het berig: “Hof skrap beperking op besoeke deur Jehovah se Getuies.” The Columbus Dispatch van Ohio het gesê: “Hooggeregshof verklaar permitvereiste ongeldig.” The Plain Dealer van Cleveland, Ohio, het eenvoudig gesê: “Werwers het nie goedkeuring van stadsaal nodig nie.” Die meningsblad van die USA Today het gesê: “Vryheid van spraak seëvier.”
Die beslissings van die laerhof teen Jehovah se Getuies is met 8 stemme teen 1 tersyde gestel! Die amptelike Opinie van die Hof wat 18 bladsye lank was, is deur regter John Paul Stevens geskryf. Die beslissing was ’n verreikende herbevestiging van die beskerming wat die Eerste Wysiging die openbare bediening van Jehovah se Getuies bied. In die hersiening het die Hof verduidelik dat die Getuies nie vir ’n permit aansoek gedoen het nie omdat hulle sê dat “die Skrif hulle die gesag gee om te preek”. Toe het die Hof die getuienis aangehaal wat in hulle pleitstuk verskyn het: “Ons meen dat dit as ’t ware ’n belediging vir God sal wees as ons ’n permit van ’n munisipaliteit moet kry om te preek.”
Die Opinie van die Hof het gesê: “Die Hof het reeds meer as 50 jaar lank beperkings op werwingswerk en die verspreiding van pamflette van deur tot deur ongeldig verklaar. Dit is meer as blote toeval dat die meeste van hierdie sake gehandel het oor regte onder die Eerste Wysiging en deur Jehovah se Getuies aanhangig gemaak is, want deur-tot-deur-werwingswerk word deur hulle godsdiens vereis. Soos ons gesien het in Murdock v. Pennsylvania, . . . (1943), sê Jehovah se Getuies dat ‘hulle die voorbeeld van Paulus volg deur “in die openbaar en van huis tot huis” te leer. Handelinge 20:20. Hulle neem die opdrag van die Skrif letterlik op: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” Markus 16:15. Deur dit te doen, glo hulle dat hulle ’n opdrag van God gehoorsaam.’”
Die Opinie het toe weer uit die saak van 1943 aangehaal: “Hierdie vorm van godsdiensbedrywigheid beklee dieselfde hoë posisie onder die Eerste Wysiging as aanbidding in die kerke en die hou van preke van die kansels af. Dit het dieselfde reg op beskerming as die ortodokser en konvensioneler beoefening van godsdiens.” Die Opinie het uit ’n saak van 1939 aangehaal en gesê: “Om sensuur in te stel deur ’n lisensie te vereis, wat die vrye en onbelemmerde verspreiding van pamflette onmoontlik maak, bedreig die fondamente van die grondwetlike waarborge.”—Hulle kursiveer.
Die Hof het toe ’n betekenisvolle opmerking gemaak: “Die sake toon dat die pogings van Jehovah se Getuies om die regulering van spraak teë te staan nie net ’n stryd om hulle regte was nie.” Die Opinie het verduidelik dat die Getuies “nie die enigste gewone mense is wat moontlik die swye opgelê kan word deur regulasies soos dié van die Dorp nie”.
Die Opinie het vervolgens gesê dat die ordonnansie “’n belediging is—nie net vir die waardes wat deur die Eerste Wysiging beskerm word nie, maar vir die hele konsep van ’n vry gemeenskap—dat ’n burger in die konteks van gewone openbare gesprekvoering eers die owerheid in kennis moet stel dat sy met haar bure wil praat en dan ’n permit moet kry om dit te doen. . . . ’n Wet wat ’n permit vereis om aan sulke gesprekvoering deel te neem, is ’n drastiese afwyking van ons nasionale erfenis en grondwetlike tradisie.” Die Opinie het toe gepraat van “die skadelike uitwerking van so ’n permitvereiste”.
Gevaar van misdade
Wat van die beskouing dat die permit beskerming bied teen inbrekers en ander misdadigers? Die Hof se argument was: “Hoewel ons erken dat hierdie belange geldig is, is dit volgens ons presedent duidelik dat daar ’n balans moet wees tussen hierdie belange en die impak van die regulasies op regte onder die Eerste Wysiging.”
Die Opinie van die Hof het voortgegaan: “Dit lyk onwaarskynlik dat die afwesigheid van ’n permit misdadigers sal keer om aan deure te klop en gesprekke te voer wat nie deur die ordonnansie gedek word nie. Hulle kan byvoorbeeld vra hoe om by ’n plek uit te kom of om die telefoon te gebruik, . . . of hulle kan onder ’n vals naam registreer sonder om vervolg te word.”
Die Hof het terugverwys na beslissings van die 1940’s en geskryf: “Die soort taal wat in die opinies gedurende die era van die Tweede Wêreldoorlog gebruik is en petisionarisse [Wagtoringgenootskap] se medegelowiges gevrywaar het teen kleinlike vervolgings, het getoon watter waarde die Hof heg aan die vryhede onder die Eerste Wysiging en wat by hierdie saak betrokke is.”
Wat was die Hof se beslissing? “Die beslissing van die Appèlhof is tersyde gestel en die saak is terugverwys vir verdere stappe ooreenkomstig hierdie opinie. Op las van die hof.”
Die uiteinde van die saak was dus soos die Chicago Sun-Times dit gestel het: “Hof steun Jehovah se Getuies”, en dit met ’n meerderheid van 8 teen 1.
Wat van die toekoms?
Hoe het Jehovah se Getuies in die nabygeleë Wellsville-gemeente hierdie oorwinning in die Hooggeregshof beskou? Daar is beslis geen rede om ten koste van die inwoners van Stratton daaroor te spog nie. Die Getuies het geen kwade gevoelens teenoor die goeie mense van die dorp nie. Gregory Kuhar, ’n plaaslike Getuie, het gesê: “Ons wou nie werklik hof toe gaan nie. Maar die ordonnansie was eenvoudig verkeerd. Wat ons gedoen het, was nie net vir ons nie, maar vir almal.”
Die feite toon dat die Getuies uit hulle pad gegaan het om nie die plaaslike mense te ontstel nie. Gene Koontz, ’n ander Getuie, het verduidelik: “Die laaste keer wat ons in Stratton getuig het, was op 7 Maart 1998—meer as vier jaar gelede.” Hy het bygevoeg: “Daar is vir my gesê dat ek in hegtenis geneem sou word. Deur die jare het ons baie verslae ontvang waar die polisie ons met inhegtenisname gedreig het. Wanneer ons dan gevra het om die geskrewe ordonnansie te sien, het ons nooit ’n antwoord gekry nie.”
Koontz het verder gesê: “Ons wil graag in vrede met ons bure lewe. As party nie wil hê dat ons hulle besoek nie, respekteer ons daardie besluit. Maar daar is ander wat vriendelik is en dit verwelkom om oor die Bybel te praat.”
Gregory Kuhar het verduidelik: “Ons het nie hierdie saak verder gevoer om met die mense van Stratton te baklei nie. Ons wou eenvoudig wetlike bevestiging van ons vryheid van spraak onder die Grondwet kry.”
Hy het toe gesê: “Ons hoop om uiteindelik na Stratton terug te gaan. Ek sal graag die eerste een wil wees om aan ’n deur te klop wanneer ons teruggaan. Teruggaan, sal ons moet, want dit is wat Christus ons beveel het.”
Die uitslag van “Watchtower v. Village of Stratton” het verreikende gevolge gehad. Nadat verskeie Amerikaanse munisipale amptenare van die Hooggeregshof se beslissing gehoor het, het hulle besef dat plaaslike ordonnansies nie langer gebruik kan word om die evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies te beperk nie. Tot op hede is probleme in verband met die huis-tot-huisbediening in ongeveer 90 gemeenskappe in die Verenigde State uit die weg geruim.
-