-
Wat is die heilige gees?Die Wagtoring — 2009 | Oktober 1
-
-
Wat is die heilige gees?
JESUS het sy dissipels eenkeer gevra: “Watter vader onder julle sal, as sy seun ’n vis vra, hom miskien ’n slang in plaas van ’n vis gee? Of as hy ook ’n eier vra, hom ’n skerpioen gee?” (Lukas 11:11, 12). Galilese kinders het van eiers en vis gehou; hulle het geweet wat hulle wou hê.
Jesus het gesê dat ons moet aanhou om vir heilige gees te vra, soos ’n honger kind wat kos vra (Lukas 11:9, 13). As ons verstaan wat die heilige gees is, sal dit ons help om te begryp dat dit ’n sleutelrol in ons lewe kan speel. Laat ons dus eers ondersoek wat die Bybel ons omtrent die heilige gees leer.
“Krag van die Allerhoogste”
Die Skrif toon duidelik dat die heilige gees ’n krag is wat God gebruik om sy wil te volbring. Toe die engel Gabriël vir Maria vertel het dat sy ’n seun sou hê hoewel sy ’n maagd was, het die engel vir haar gesê: “Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word” (Lukas 1:35). Volgens Gabriël se woorde bestaan daar ’n verband tussen die heilige gees en die “krag van die Allerhoogste”.
’n Soortgelyke gedagte kom op ander plekke in die Bybel voor. Die profeet Miga het gesê: “[Ek] het vol krag geword, met die gees van Jehovah” (Miga 3:8). Jesus het sy dissipels belowe: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom” (Handelinge 1:8). En die apostel Paulus het van “die krag van die heilige gees” gepraat.—Romeine 15:13, 19.
Wat kan ons dus uit die voorgaande aflei? Daar is ’n noue verband tussen die heilige gees en die krag van God. Jehovah oefen sy krag deur middel van die heilige gees uit. Eenvoudig gestel, die heilige gees is God se toegepaste krag, of sy werkende krag. En wat ’n krag is dit tog! Ons kan ons nie eens voorstel hoeveel krag nodig was om die ganse heelal te skep nie. Jehovah het deur middel van die profeet Jesaja voorgestel dat ons oor die volgende nadink: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—Jesaja 40:26.
Die Bybel toon dus dat die heelal met al sy orde en harmonie danksy die “dinamiese energie”, of krag, van God die Almagtige bestaan. Dit is duidelik dat God se werkende krag verstommend is en dat ons eie voortbestaan daarvan afhang.—Sien die venster “Die heilige gees in werking”.
Jehovah kan sy heilige gees op groot skaal gebruik, soos met die skepping van die heelal. Maar hy kan dit ook ten behoewe van sy menseskepping gebruik. Die Bybel is vol verwysings van hoe God se werkende krag sy knegte op aarde krag gegee het.
“Jehovah se gees is op my”
Jesus se bediening gee ons ’n fassinerende blik op hoe God se heilige gees sy knegte krag kan gee. “Jehovah se gees is op my”, het Jesus vir die mense van Nasaret gesê (Lukas 4:18). Wat het Jesus in “die krag van die gees” uitgerig? (Lukas 4:14). Hy het elke soort siekte genees, die golwe van ’n stormagtige see laat bedaar, duisende mense met ’n paar brode en visse gevoed en selfs dooies opgewek. Die apostel Petrus het Jesus beskryf as “’n man wat in die openbaar deur God aan julle getoon is deur middel van kragtige werke en voortekens en tekens wat God deur hom . . . gedoen het”.—Handelinge 2:22.
Vandag bring die heilige gees nie sulke wonderwerke tot stand nie. Dit kan nietemin merkwaardige dinge vir ons doen. Jehovah gee sy heilige gees gewilliglik aan sy aanbidders, soos Jesus sy dissipels verseker het (Lukas 11:13). Die apostel Paulus kon derhalwe sê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:13). Kan die heilige gees so ’n rol in jou lewe speel? Die volgende artikel sal hierdie vraag bespreek.
[Venster/Prent op bladsy 5]
Waarom die heilige gees nie ’n persoon is nie
Die Bybel vergelyk die heilige gees met water. Toe God toekomstige seëninge vir sy volk belowe het, het hy gesê: “Ek sal water op die dorstige uitgiet, en stroompies op die droë plek. Ek sal my gees op jou saad uitstort, en my seën op jou nakomelinge.”—Jesaja 44:3.
Wanneer God sy gees op sy knegte uitstort, word hulle “vol heilige gees”, of “met heilige gees vervul”. Daar word van Jesus, Johannes die Doper, Petrus, Paulus, Barnabas en die dissipels wat op Pinksterdag 33 HJ byeen was, gesê dat hulle vol heilige gees was, of daarmee vervul was.—Lukas 1:15; 4:1; Handelinge 4:8; 9:17; 11:22, 24; 13:9.
Dink hieraan: Kan ’n persoon op ’n klomp verskillende individue ‘uitgestort’ word? Sou jy sê dat een persoon ’n hele groep persone kan ‘vul’? Dit is nie logies nie. Die Bybel praat wel van mense wat met wysheid, begrip of selfs juiste kennis vervul word, maar dit verwys nooit na ’n persoon wat met ’n ander persoon vervul word nie.—Eksodus 28:3; 1 Konings 7:14; Lukas 2:40; Kolossense 1:9.
Die Griekse woord wat met “gees” vertaal word, is pneuʹma, wat ook die gedagte van ’n onsigbare krag oordra. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words toon dat die woord pneuʹma “hoofsaaklik dui op die wind . . . , ook op asem; dan, in die besonder op die gees, wat, soos die wind, onsigbaar, onstoflik en kragtig is”.
Dit is dus duidelik dat die heilige gees nie ’n persoon is nie.a
[Voetnoot]
a Vir meer inligting, sien “Die waarheid omtrent die Vader, die Seun en die heilige gees”, bladsye 201-204, in die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Erkenning]
Photodisc/SuperStock
-
-
Die heilige gees—’n Krag wat jy in jou lewe nodig hetDie Wagtoring — 2009 | Oktober 1
-
-
Die heilige gees—’n Krag wat jy in jou lewe nodig het
“MOET my nie voor u aangesig wegwerp nie; en moet tog nie u heilige gees van my af wegneem nie” (Psalm 51:11). Dit was koning Dawid se innige gebed nadat hy ’n tragiese fout begaan het.
Dawid het jare lank die krag van die heilige gees ondervind. Toe hy nog ’n tiener was, het dit hom in staat gestel om Goliat—’n gedugte krygsman—te verslaan (1 Samuel 17:45-50). Dit het hom ook in staat gestel om van die mooiste psalms te skryf wat nog gekomponeer is. “Die gees van Jehovah het deur my gespreek, en sy woord was op my tong”, het Dawid verduidelik.—2 Samuel 23:2.
Jesus Christus self het die rol van die heilige gees in Dawid se lewe bevestig. By een geleentheid het Jesus vir sy toehoorders gesê: “Deur die heilige gees het Dawid self gesê: ‘Jehovah het vir my Here gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande onder jou voete stel”’” (Markus 12:36; Psalm 110:1). Jesus het geweet dat Dawid deur die heilige gees gelei is toe hy sy psalms geskryf het. Is hierdie selfde heilige gees beskikbaar om ons te help?
“Hou aan vra, en vir julle sal gegee word”
Jy sal dalk nooit ’n psalm skryf nie. Maar jy sal heel moontlik voor struikelblokke te staan kom wat net so skrikwekkend is soos ’n reusagtige Goliat. Beskou die voorbeeld van Isabel.a Haar man het haar vir ’n jonger vrou verlaat. Hy het haar met ’n klomp skuld gelaat en haar geen finansiële ondersteuning gegee om vir hulle twee jong dogters te sorg nie. “Dit het gevoel of ek verraai is en soos vuilgoed behandel is”, sê sy. “Maar vandat hy my verlaat het, het ek gevoel dat God se heilige gees my onderskraag.”
Het Isabel dit as vanselfsprekend aanvaar dat sy heilige gees sou ontvang? Nee, sy het God elke dag vir sy gees gesmeek. Sy het geweet dat sy God se krag nodig het om moed vir die toekoms te hê, om behoorlik vir haar kinders te sorg en om haar verpletterde gevoel van eiewaarde te herstel. Sy het Jesus se woorde ter harte geneem: “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word.”—Matteus 7:7.
Roberto het ook gevoel dat hy God se gees nodig het, maar om ander redes. Hy was verslaaf aan tabak en dagga, wat hy heeltyd gerook het. Hy het twee jaar lank gesukkel om sy verslawing te oorkom en verskeie terugslae gehad. “’n Mens worstel met angstigheid wanneer jy ophou om dwelms te gebruik”, verduidelik Roberto. “Dag ná dag smag jou liggaam na die dwelm.”
Roberto vertel verder: “Maar ek was vasbeslote om my lewe te verander sodat ek God op aanneemlike wyse kon dien. Ek het my verstand met positiewe gedagtes uit die Bybel probeer vul. Ek het elke dag vurig gebid en God gevra om my die krag te gee om my lewe reg te ruk. Ek het geweet dat ek niks op my eie kon regkry nie. En ek het gesien hoe Jehovah my gebede verhoor, veral wanneer ek ná ’n terugslag moedeloos gevoel het. Ek glo dat God se heilige gees my hernieude krag gegee het; sonder sy gees sou ek nooit my verslawing kon oorkom nie.”—Filippense 4:6-8.
Vaar op “met vlerke soos arende”
Soos Isabel en Roberto, het miljoene Getuies van Jehovah die krag van die heilige gees in hulle lewe ervaar. Jehovah se werkende krag—die krag agter die skepping van die heelal—is tot jou beskikking as jy dit wil hê. God is gewillig en gretig om van sy gees vir jou te gee as jy opreg daarvoor vra. Maar om hierdie gees te ontvang, moet jy die waarheid omtrent hom leer en sy wil opreg probeer doen.—Jesaja 55:6; Hebreërs 11:6.
Die versterkende krag van die heilige gees kan jou in staat stel om God met welslae te dien en enige uitdagings waarvoor jy dalk te staan sal kom, die hoof te bied. Die Bybel verseker ons hiervan en sê: “[Jehovah] gee die vermoeide krag; en aan die een sonder dinamiese energie skenk hy volle sterkte in oorvloed. . . . Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry. Hulle sal opvaar met vlerke soos arende. Hulle sal hardloop en nie afgemat raak nie; hulle sal loop en nie moeg raak nie.”—Jesaja 40:28-31.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
[Lokteks op bladsy 8]
‘Ek het elke dag vurig gebid en God gevra om my krag te gee. Ek het geweet dat ek niks op my eie kon regkry nie. En ek het gesien hoe hy my gebede verhoor’
[Venster/Prente op bladsy 7]
DIE HEILIGE GEES IN WERKING
God het die heilige gees gebruik om die aarde en die res van die heelal te skep. “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het”, het die psalmis uitgeroep. “As u u gees uitstuur, word hulle geskep.”—Psalm 104:24, 30; Genesis 1:2; Job 33:4.
Heilige gees het godvrugtige manne geïnspireer om die Bybel te skryf. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, het die apostel Paulus geskryf (2 Timoteus 3:16). Die Griekse woord wat met “deur God geïnspireer” vertaal word, beteken letterlik “deur God ingeblaas”. Jehovah se asem, of gees, het die Bybelskrywers se gedagtes gerig sodat hulle “die woord van God” oorgedra het.—1 Tessalonisense 2:13.
Heilige gees het God se knegte in staat gestel om die toekoms akkuraat te voorspel. Die apostel Petrus het verduidelik “dat geen profesie van die Skrif uit enige eie uitlegging voortspruit nie. Want profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”—2 Petrus 1:20, 21; Joël 2:28.
Heilige gees het Jesus en ander manne van geloof gehelp om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en wonderwerke te verrig. Jesus het gesê: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak, hy het my uitgestuur om ’n vrylating aan die gevangenes te verkondig en ’n herstel van gesig aan die blindes.”—Lukas 4:18; Matteus 12:28.
[Venster/Prente op bladsy 9]
MANIERE WAAROP DIE HEILIGE GEES ONS KAN HELP
Heilige gees kan jou versterk om versoeking te weerstaan en skadelike gewoontes te oorkom. Die apostel Paulus het gesê: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13.
Heilige gees kan jou help om godvrugtige eienskappe aan te kweek. “Die vrugte van die gees . . . is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing.”—Galasiërs 5:22, 23.
Heilige gees kan jou versterk om beproewinge te verduur. “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13.
-