-
Het ons die bewustheid van sonde verloor?Die Wagtoring — 2010 | Junie 1
-
-
Het ons die bewustheid van sonde verloor?
NIE so lank gelede nie het kerkgangers gereeld gehoor hoe hulle predikant van die preekstoel af uitvaar teen die sogenaamde “sewe hoofsondes”—wellus, vraatsug, gierigheid, luiheid, woede, jaloesie en trots. Gewoonlik het die predikant dan die droewige gevolge van sonde beskryf en sy gehoor gemaan om berou te toon. “Nou”, sê een skrywer, “ignoreer die meeste godsdiensboodskappe die ongemaklike werklikheid van sonde en fokus dit eerder op ‘goed-voel-temas’.”
Koerantrubriekskrywers het dieselfde tendens opgemerk. Hier volg ’n paar kommentare uit die pers:
▪ “Die ou kategorieë van sonde, berou en verlossing is uit, en die terapeutiese taal van eiewaarde en eieliefde is in.”—Star Beacon, Ashtabula, Ohio.
▪ “Die pynlike bewustheid van persoonlike sonde het so te sê verdwyn”.—Newsweek.
▪ “Ons vra nie meer: ‘Wat vereis God van my’ nie, maar eerder: ‘Wat kan God vir my doen?’”—Chicago Sun-Times.
In vandag se pluralistiese en verdraagsame samelewing is mense huiwerig om ander op sedelike gebied te veroordeel. Daar word vir ons gesê dat dit polities verkeerd is om dit te doen. Die grootste sonde is blykbaar om iemand anders se optrede te veroordeel. Mense redeneer dus soos volg: ‘Wat jy glo, werk dalk goed vir jou, maar jy moet regtig nie jou denke op enigiemand anders probeer afdwing nie. Deesdae reël mense hulle lewe volgens verskillende stelle waardes. Niemand het die monopolie op sedelike waarheid nie. Ander mense se waardes is net so geldig soos joune.’
Hierdie soort redenasie het ’n verandering in mense se woordeskat teweeggebring. Die woord “sonde” word nou selde in ’n ernstige verband gebruik. Vir baie het dit ’n onderwerp geword waaroor daar grappe gemaak word. Daar word nie meer gesê dat mense “in sonde lewe” nie; hulle “bly net saam”. Hulle is nie meer “egbrekers” nie; hulle “het ’n affair”. Hulle is nie meer “homoseksuele” nie; hulle verkies “’n alternatiewe lewenswyse”.
Dit wat mense bereid is om as “normaal” te aanvaar of as “sonde” te veroordeel, het ongetwyfeld verander. Maar waarom het gesindhede verander? Wat het van sonde geword? En maak dit werklik saak wat jou beskouing is?
-
-
Sonde—Wat het verander?Die Wagtoring — 2010 | Junie 1
-
-
Sonde—Wat het verander?
“DIE idee van Erfsonde—dat ons almal verbind word met die een of ander verskriklike sonde deur ons eerste ouers—vind nie by die moderne mens byval nie. Maar die idee van sonde op sigself ook nie. . . . Mense soos Adolf Hitler en Josef Stalin het dalk gesondig, maar die res van ons is slagoffers van omstandighede en wanaanpassing.”—The Wall Street Journal.
Soos die aanhaling hierbo toon, lyk dit of die konsep van sonde vandag in ’n groot krisis is. Maar waarom? Wat het verander? Trouens, wat is hierdie idee van sonde wat mense vandag so afstootlik vind?
Die konsep het twee aspekte—oorgeërfde sonde en ’n persoon se eie sondige gedrag. Die eerste is iets wat ons besit, of ons nou daarvan hou of nie, terwyl die tweede iets is wat ons beoefen. Kom ons ondersoek elke aspek van naderby.
Besmet deur erfsonde?
Die Bybel sê dat ons eerste ouers ’n sedelike gebrek—erfsonde—aan die hele mensdom oorgedra het. Gevolglik word ons almal met die smet van onvolmaaktheid gebore. “Alle onregverdigheid is sonde”, sê die Bybel.—1 Johannes 5:17.
Vir baie kerkgangers is die idee dat alle mense inherent gebrekkig is weens ’n oortreding in die verre verlede waaraan hulle geen aandeel gehad het en waarvoor hulle geensins verantwoordelik was nie, onverstaanbaar en onaanvaarbaar. Die leerstelling, sê Edward Oakes, ’n professor in teologie, “ontlok ’n verleë stilte, algehele verwerping of ten minste ’n soort halfhartige lippediens wat die leerstelling nie definitief verwerp nie, maar geen idee het waar dit in die lewe van godvrugtige mense pas nie”.
Een faktor wat dit vir mense moeilik maak om die konsep van erfsonde te aanvaar, is wat die kerke daaroor leer. By die Konsilie van Trente (1545-1563) het die kerk byvoorbeeld enigiemand veroordeel wat nie saamgestem het dat ’n pasgebore baba vir die vergifnis van sy sonde gedoop moet word nie. As ’n baba sterf sonder dat hy gedoop is, het die teoloë verklaar, sou sy ongereinigde sondes hom vir ewig verhinder om God se teenwoordigheid in die hemel te betree. Calvyn het so ver gegaan om te leer dat babas ‘hulle eie verdoemenis van hulle moeder se baarmoeder af met hulle saambring’. Hulle is van nature ‘vir God haatlik en verfoeilik’, het hy volgehou.
Die meeste mense voel instinktief dat pasgebore babas so onskuldig is dat dit teen die menslike natuur sou indruis om te dink dat hierdie babas weens oorgeërfde sonde moet ly. Dit is maklik om te sien waarom sulke kerkleerstellings mense van die lering van erfsonde weggedryf het. Trouens, sommige kerkleiers kon hulle nie sover kry om ’n ongedoopte baba tot die helse vuur te verdoem nie. Vir hulle het ’n baba se uiteindelike lot ietwat van ’n teologiese dilemma gebly. Hoewel dit nooit ’n kerkleerstelling geword het nie, was dit eeue lank die tradisionele Katolieke leer dat die siele van ongedoopte onskuldiges in die niemandsland Limbus sou bly.a
Nog ’n faktor wat geloof in erfsonde laat verswak het, was dat filosowe, wetenskaplikes en teoloë in die 19de eeu die geskiedkundige egtheid van Bybelverslae begin bevraagteken het. Weens Darwin se evolusieteorie het baie mense die verhaal van Adam en Eva bloot as ’n mite begin beskou. Die gevolg van al hierdie dinge is dat die Bybel nou eerder as ’n weerspieëling van die skrywers se denkwyse en tradisies beskou word as ’n goddelike openbaring.
Waar pas die leerstelling van erfsonde dan in? As kerkgangers oortuig word dat Adam en Eva nooit werklik bestaan het nie, is die logiese gevolgtrekking natuurlik dat geen eerste sonde ooit gepleeg is nie. Selfs vir diegene wat bereid is om te erken dat die mensdom basies gebrekkig is, is die konsep van erfsonde nie veel meer as ’n verklaring vir die mensdom se onvolmaakte natuur nie.
Dit dan wat erfsonde betref. Wat nou van die idee dat persoonlike sondes—iets anders as oorgeërfde sonde—God ook mishaag?
Is dit werklik sonde?
Wanneer mense oor persoonlike sondes gevra word, dink baie aan die Tien Gebooie—wat moord, ontrouheid, wellus, voorhuwelikse seks, diefstal, ensovoorts verbied. Die tradisionele leer van die kerke was dat enigiemand wat sterf sonder dat hy oor hierdie sondes berou getoon het, ewige foltering in die helse vuur sou ondergaan.b
As iemand so ’n lot wil vryspring, vereis die Katolieke Kerk dat hy sy sondes bely aan ’n priester, wat blykbaar die mag het om hom dit kwyt te skeld. Maar vir die meeste Katolieke behoort die ritus van belydenis, kwytskelding en boetedoening tot die verlede. Byvoorbeeld, volgens ’n onlangse opname gaan bieg meer as 60 persent van Italiaanse Katolieke nie meer nie.
Dit is duidelik dat die tradisionele konsep van persoonlike sonde en die gevolge daarvan—soos dit deur die kerke verduidelik word—mense nie gehelp het om op te hou om sonde te beoefen nie. Baie kerkgangers glo nie meer dat al hierdie dinge verkeerd is nie. Party redeneer byvoorbeeld dat dit geen kwaad doen as twee volwassenes konsensuele geslagsomgang het nie, solank ’n derde party nie daardeur benadeel word nie.
Een moontlike verklaring vir hierdie soort redenasie is dat die betrokke persone nie diep in hulle hart oortuig is van wat hulle oor sonde geleer is nie. Trouens, baie vind dit moeilik om te glo dat ’n liefdevolle God sondaars vir ewig in ’n helse vuur sal folter. En dalk verklaar sulke skeptisisme, ten minste in ’n mate, waarom “sonde” blykbaar glad nie meer so ’n ernstige saak is nie. Maar ander faktore het ook daartoe bygedra dat die bewustheid van sonde verdwyn het.
Tradisionele waardes word verwerp
Die gebeure van die afgelope paar eeue het ontsaglike veranderinge in die samelewing en in mense se denkwyse teweeggebring. Die twee wêreldoorloë, tallose kleiner oorloë en verskeie volksmoorde het baie mense die nut van tradisionele waardes laat bevraagteken. ‘Maak dit sin’, vra hulle, ‘om in ’n tegnologies gevorderde eeu volgens standaarde te lewe wat eeue gelede vasgestel is en wat geheel en al uit voeling is met moderne werklikhede?’ Baie rasionaliste en moraliste het tot die slotsom gekom dat dit nie sin maak nie. Hulle meen dat die samelewing sekere sedelike kettings en bygelowe moet afwerp en daarna moet streef om die mens se reusepotensiaal deur middel van opvoeding te bereik.
Hierdie denkwyse het ’n uiters sekulêre kultuur tot gevolg gehad. In baie Europese lande gaan min mense kerk toe. Al hoe meer mense glo nie juis in iets spesifieks nie, en baie is openlik gekant teen die kerke se geloofsbelydenisse, wat hulle as belaglik beskou. As mense bloot die produk van hulle omgewing en van natuurlike seleksie is, redeneer hulle, van watter nut is dit dan om oor aanspreeklikheid vir sedelike oortredings te praat?
’n Algemene verslapping van sedes in die Westerse wêreld gedurende die 20ste eeu het onder andere tot die sogenaamde seksuele revolusie gelei. Studentebetogings, teenkulturele bewegings en medies voorgeskrewe voorbehoedmiddels het alles ’n rol gespeel in die verwerping van tradisionele idees van welvoeglikheid. Dit was nie lank voordat Bybelse waardes verwerp is nie. ’n Nuwe geslag het ’n nuwe moraliteit en ’n nuwe gesindheid teenoor sonde aangehang. Van toe af, sê een skrywer, “was die enigste wet die wet van liefde”—wat basies tot uiting gekom het in die wydverspreide aanvaarding van ongeoorloofde seks.
’n Goed-voel-godsdienskultuur
Die tydskrif Newsweek het kommentaar gelewer oor die situasie in die Verenigde State en ronduit gesê: “Baie geestelikes wat in ’n kopersmark meeding, voel dat hulle dit nie kan bekostig om mense van hulle te vervreem nie.” Hulle is bang dat hulle hulle gemeentelede sal verloor as hulle hoë sedelike eise aan hulle stel. Mense wil nie hoor dat hulle nederigheid, selfdissipline en deugsaamheid moet aankweek of dat hulle aan hulle lastige gewete gehoor moet gee en oor hulle sondes berou moet hê nie. Daarom kies baie kerke ’n boodskap wat deur die Chicago Sun-Times beskryf word as “’n terapeutiese, utilitaristiese, selfs narsistiese ‘eie ek’-Christenboodskap [en] laat hulle die evangelie agter”.
Die gevolg van hierdie soort denkwyse is ’n godsdienskultuur wat God in sy eie terme omskryf, kerke wat nie die aandag vestig op God en wat hy van ons vereis nie, maar op die mens en op dit wat sy eiewaarde sal vergroot. Die hoofdoel is om in die behoeftes van die gemeente te voorsien. Die gevolg is ’n godsdiens sonder enige leerstellings. “Wat vul die leemte in die middel, waar die Christelike sedewet vroeër was?” vra The Wall Street Journal. “’n Etiek van opvallende medelye, waarvolgens alles verskoon word solank jy ‘’n gawe mens’ is.”
Die oes wat al hierdie dinge logieserwys oplewer, is die gesindheid dat enige godsdiens met ’n goed-voel-uitwerking heeltemal aanvaarbaar is. Enigeen wat so ’n beskouing het, sê The Wall Street Journal, “kan enige geloof aanneem solank dit geen werklike sedelike eise stel nie—solank dit vertroos, maar nie veroordeel nie”. En op hulle beurt is die kerke bereid om mense te aanvaar “net soos hulle is”, sonder om enige sedelike eise aan hulle te stel.
Die voorgaande herinner Bybellesers moontlik aan ’n profesie wat die apostel Paulus in die eerste eeu HJ opgeteken het. Hy het gesê: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word; en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer.”—2 Timoteus 4:3, 4.
Wanneer godsdiensleiers sonde deur die vingers sien, die bestaan daarvan ontken en hulle gemeentelede se ore ‘streel’ deur vir hulle te vertel wat hulle wil hoor pleks van wat die Bybel sê, bewys hulle hulle ’n groot ondiens. So ’n boodskap is vals en gevaarlik. Dit maak ’n bespotting van een van die fundamentele leringe van die Christelike godsdiens. Sonde en vergifnis vorm ’n sentrale deel van die goeie nuus wat Jesus en sy apostels ander geleer het. Lees gerus verder om te sien hoe dit die geval is.
[Voetnote]
a Die feit dat die limbus uit die mees onlangse Katolieke kategismusse weggelaat is, weerspieël moontlik die verwarring wat hierdie onskriftuurlike leerstelling veroorsaak het. Sien die venster “’n Teologiese U-draai”, op bladsy 10.
b Die opvatting dat mense vir ewig in ’n helse vuur gefolter word, word glad nie deur die Bybel gesteun nie. Vir besonderhede, sien hoofstuk 6, “Waar is die dooies?”, in die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 7]
’n Goed-voel-godsdienskultuur bring slegte vrugte voort
[Venster op bladsy 6]
Sonde? ‘Ons het dit ontgroei’
▪ “Vandag is een van die kerk se grootste hindernisse juis hierdie kwessie. Ons sien onsself nie meer as ‘sondaars’ wat vergifnis nodig het nie. Dalk was sonde vroeër ’n probleem, maar ons het dit nou ontgroei. Hoewel die kerk dus ’n oplossing vir die probleem van sonde het, is dit in die oë van die meeste Amerikaners nie ’n probleem nie—ten minste nie ’n ernstige probleem nie.”—John A. Studebaker jr., godsdiensskrywer.
▪ “Mense sê: ‘Ek koester hoë sedelike verwagtinge van myself en van ander, maar ek weet ons is almal menslik; daarom mik ek net vir ’n goeie gemiddelde.’ Ons vind ’n sedelike gemaksone, ’n soort middelklas-middeweg waar ons dink ons goed vaar. Ons sny die gras. Ons parkeer nie dubbel nie. Maar ons ignoreer die groter kwessies wat sonde betref.”—Albert Mohler, president van die Suidelike Baptiste- Teologiese Kweekskool.
▪ “Die samelewing vier wat hulle voorheen verbied het [soos die sogenaamde sewe hoofsondes]: ouers moedig hulle kinders aan om trots te wees omdat hulle voel dat dit onontbeerlik is vir ’n goeie selfbeeld; ’n groep opkomende Franse kokke het ’n petisie by die Vatikaan ingedien dat vraatsug nie as ’n sonde gereken moet word nie. Jaloesie hou die poniekoerantkultuur aan die gang. Wellus is ’n reklamestrategie; woede, die reg van die gegriefdes. Die meeste dae sal ek wat wil gee om ’n bietjie lui te kan wees.”—Nancy Gibbs, in die tydskrif Time.
[Prent op bladsy 5]
Vandag beskou baie die verslag van Adam en Eva as ’n mite
-
-
Die waarheid oor sondeDie Wagtoring — 2010 | Junie 1
-
-
Die waarheid oor sonde
KAN ’n siek man bewys dat hy nie ’n koors het nie deur die koorspen te breek? Natuurlik nie! En net omdat baie mense God se beskouing van sonde verwerp, beteken dit eweneens nie dat sonde nie bestaan nie. Sy Woord, die Bybel, het baie oor die onderwerp te sê. Presies wat sê dit oor sonde?
Almal skiet te kort
Sowat tweeduisend jaar gelede het die apostel Paulus sy frustrasie uitgespreek oor die feit dat ‘hy die goeie wat hy wil, nie doen nie, maar die slegte wat hy nie wil nie, beoefen’ (Romeine 7:19). As ons eerlik is, moet ons erken dat ons eie situasie dieselfde is. Dalk wil ons graag volgens die Tien Gebooie of volgens ’n ander gedragstandaard lewe, maar of ons nou daarvan hou of nie, ons almal skiet te kort. Dit is nie dat ons doelbewus besluit om ’n gedragsreël te verbreek nie, dit is net dat ons swak is. Wat is die verklaring hiervoor? Paulus self gee die antwoord: “As ek dan nou doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit bewerk nie, maar die sonde wat in my woon.”—Romeine 7:20.
Soos Paulus, word die ganse mensdom geteister deur inherente swakhede—’n bewys van ingebore sonde en onvolmaaktheid. “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God”, het die apostel gesê. Wat is die oorsaak van hierdie toestand? Paulus sê verder dat “deur een mens [Adam] die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het”.—Romeine 3:23; 5:12.
Hoewel baie die idee verwerp dat oortreding deur ons eerste ouers ons van God vervreem het en oorspronklike volmaaktheid laat verloor het, is dit inderdaad wat die Bybel leer. Jesus het getoon dat hy in die verslag van Adam en Eva glo deur uit die eerste hoofstukke van Genesis as ’n gesaghebbende bron aan te haal.—Genesis 1:27; 2:24; 5:2; Matteus 19:1-5.
Een van die hoofaspekte van die Bybel se boodskap is dat Jesus aarde toe gekom het om diegene wat geloof in hom beoefen, van hulle sondige toestand los te koop (Johannes 3:16). Ons lewensvooruitsigte vir die toekoms hang daarvan af dat ons die middel aanvaar waardeur Jehovah dankbare mense sal red uit ’n droewige situasie waaroor hulle geen beheer het nie. Maar as ons nie ’n duidelike begrip het van wat sonde vanuit God se standpunt is nie, kan ons nie die middel wat hy daargestel het om ons daarvan te red, waardeer nie.
Jesus se offerande, en waarom dit nodig was
Jehovah het die eerste mens die vooruitsig gegee om vir ewig te lewe. Slegs as Adam teen God in opstand sou kom, sou hy hierdie wonderlike vooruitsig verloor. Adam hét in opstand gekom, en toe hy dit gedoen het, het hy ’n sondaar geword (Genesis 2:15-17; 3:6). Adam het in stryd met God se wil opgetree, te kort geskiet aan volmaaktheid en sy verhouding met God geskend. Toe hy gesondig het deur die goddelike wet te verbreek, het hy begin sterf. Ongelukkig is al Adam se nakomelinge—ons inkluis—in sonde gebore, en gevolglik is dit ons lot om te sterf. Waarom?
Die rede is heel eenvoudig. Onvolmaakte ouers kan nie volmaakte kinders voortbring nie. Al Adam se nakomelinge is as sondaars gebore, en soos die apostel Paulus sê ‘is die loon wat die sonde betaal, die dood’ (Romeine 6:23). Die tweede helfte van daardie vers gee ons egter hoop: “Maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.” Met ander woorde, deur middel van Jesus se offerdood, is dit vir gehoorsame, dankbare mense moontlik om gereinig te word van die gevolge van Adam se sonde (Matteus 20:28; 1 Petrus 1:18, 19).a Hoe moet dit jou laat voel?
Christus se liefde “dring ons”
Die geïnspireerde apostel Paulus het God se antwoord op die vraag hierbo verstrek. Hy het geskryf: “Die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat ons só geoordeel het, dat een mens vir almal gesterf het; . . . en hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Korintiërs 5:14, 15). As iemand besef dat Jesus se offerande hom van die gevolge van sonde kan bevry—en hy graag waardering vir daardie voorsiening wil toon—moet hy daarna streef om sy lewe in ooreenstemming met God se wense vir hom te lei. Dit sluit in dat hy ’n begrip verkry van wat God vereis, sy gewete volgens Bybelstandaarde oplei en dan in ooreenstemming daarmee lewe.—Johannes 17:3, 17.
Oortredings skaad ons verhouding met Jehovah God. Toe koning Dawid die erns besef het van die egbreuk wat hy met Batseba gepleeg het en die moord op haar man, het hy ongetwyfeld baie beskaamd gevoel. Maar wat hom die meeste bekommer het—en heel tereg—was dat sy sondes God aanstoot gegee het. Hy het berouvol teenoor Jehovah erken: “Teen u, u alleen, het ek gesondig, en wat sleg is in u oë, het ek gedoen” (Psalm 51:4). Toe Josef in die versoeking gekom het om egbreuk te pleeg, het sy gewete hom eweneens laat vra: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?”—Genesis 39:9.
Sonde beteken dus nie net dat ons sleg voel oor onsself omdat ons dalk aansien verloor het nie. Dit is nie net dat ons aan die openbare mening of aan die samelewing verantwoording moet doen omdat ons moontlik nie aan die een of ander ideaal voldoen het nie. As ons God se wette in verband met seks, eerlikheid, respek, aanbidding, ensovoorts oortree, skaad ons ons persoonlike verhouding met hom. As ons doelbewus sonde beoefen, word ons ’n vyand van God. Dit is ’n waarheid wat ernstige nadenke vereis.—1 Johannes 3:4, 8.
Wat het dus van sonde geword? In werklikheid niks nie. Mense het dit net ander name begin gee in die hoop dat dit minder ernstig sal lyk as wat dit is. Baie het hulle gewete afgestomp laat raak of dit geïgnoreer. Almal wat God se guns wil hê, moet hierdie neiging weerstaan. Soos ons gesien het, is die loon van die sonde nie net ’n gekwetste ego of verleentheid nie, maar die dood. Sonde is ’n saak van lewe of dood.
Die goeie nuus is dat vergifnis deur middel van die loskoopwaarde van Jesus se offerande moontlik is as ons opregte berou oor ons sondes toon en dit laat staan. “Gelukkig is dié wie se wettelose dade vergewe is en wie se sondes bedek is”, het Paulus geskryf. “Gelukkig is die mens wie se sonde Jehovah hom hoegenaamd nie sal toereken nie.”—Romeine 4:7, 8.
[Voetnoot]
a Vir ’n volledige verduideliking van hoe Jesus se offerdood die mag het om gehoorsame mense te red, sien Wat leer die Bybel werklik?, bladsye 47 tot 54, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prent op bladsy 10]
’n Teologiese U-draai
Vir die meeste Katolieke kerkgangers was die idee van limbus nog altyd ietwat duister. In onlangse dekades het dit geleidelik vervaag—in so ’n mate dat die idee nie meer in kategismusse verskyn nie. In 2007 het die Katolieke Kerk amptelik limbus se “doodsertifikaat” geteken in ’n dokument wat verwys het na “teologiese en liturgiese redes om te hoop dat babas wat sterf sonder dat hulle gedoop was, gered kan word en tot in ewige geluk gebring kan word”.—Internasionale Teologiese Kommissie.
Waarom hierdie verandering van standpunt, hierdie teologiese U-draai? Dit het die kerk in staat gestel om hom te bevry van wat volgens die Franse rubriekskrywer Henri Tincq “’n swaar erfenis was, wat van die Middeleeue tot die 20ste eeu verdedig is deur ’n manipulerende Kerk, wat maar te gretig was om die dreigement van limbus te gebruik om ouers aan te spoor om hulle kinders so gou as moontlik te laat doop”. Maar die einde van limbus laat ook ander kwessies ontstaan.
Tradisie of die Skrif? Geskiedkundig het geloof in limbus voortgespruit uit 12de-eeuse teologiese debatte wat met die vaevuur verband gehou het. Die Katolieke Kerk het geleer dat die siel ná die dood voortleef, en daarom moes hulle ’n plek vind vir die siele van kinders wat nie hemel toe kon gaan nie omdat hulle nie gedoop was nie, maar wat terselfdertyd nie die hel verdien het nie. So het die idee van limbus ontstaan.
Die Bybel leer egter nie dat die siel ná die dood voortleef nie. Dit sê eerder duidelik dat mensesiele nie onsterflik is nie, maar dat dié wat sondig, “uitgeroei” kan word en “moet sterwe” (Handelinge 3:23; Esegiël 18:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Aangesien die siel sterflik is, kan ’n plek soos limbus nie bestaan nie. Daarbenewens praat die Bybel van die dood as ’n toestand van onbewustheid, soortgelyk aan die slaap.—Prediker 9:5, 10; Johannes 11:11-14.
Die Bybel toon dat God die jong kinders van Christenouers as heilig beskou (1 Korintiërs 7:14). So ’n stelling sou sinloos wees as babas se redding van doop afgehang het.
Die leerstelling van limbus was waarlik ’n belediging vir God, omdat dit hom uitgebeeld het as ’n wrede tiran wat onskuldiges straf, eerder as die regverdige en liefdevolle Vader wat hy is (Deuteronomium 32:4; Matteus 5:45; 1 Johannes 4:8). Dit is dus geen wonder dat hierdie onskriftuurlike leerstelling nog altyd teen die gesonde verstand van opregte Christene ingedruis het nie!
[Prente op bladsy 9]
Om in ooreenstemming met God se Woord te lewe, lei tot ’n gesonde verhouding met God en mense
-