“Hulle het geen ag daarop geslaan nie”
DIT kan ernstige gevolge hê as mense waarskuwings sommer net ignoreer.
In 1974 was Darwin, Australië, besig met voorbereidings vir vakansiefeesvieringe toe sirenes gewaarsku het oor ’n naderende sikloon. Maar Darwin is gedurende 30 jaar of wat nie deur ’n sikloon beskadig nie. Waarom dan nou? Die meeste van die inwoners het nie die gevaar as werklik ernstig beskou nie, totdat woeste winde begin het om dakke af te waai en mure om te waai van die huise waarin mense probeer skuil het. Teen die volgende oggend was die stad verwoes.
In November 1985 het ’n vulkaan in Colombia uitgebars. Smeltende sneeu en ys het ’n modderstroom veroorsaak wat meer as 20-000 inwoners van die dorp Armero begrawe het. Was daar geen waarskuwing hiervan nie? Die berg het maande lank gebewe. Maar die meeste mense in Armero was nie bekommerd nie omdat hulle daaraan gewoond was om langs ’n vulkaan te lewe. Amptenare is gewaarsku dat daar binnekort ’n ramp sou wees, maar hulle het nie veel gedoen om die publiek te waarsku nie. Radioaankondigings is gemaak in ’n poging om die mense gerus te stel. Die luidsprekerstelsel by die kerk is gebruik om die mense aan te spoor om kalm te bly. Gedurende die aand was daar twee skouspelagtige ontploffings. Sou jy jou besittings agtergelaat en gevlug het? Min mense het enige poging aangewend om dit te doen totdat dit te laat was.
Geoloë maak dikwels besonder akkurate voorspellings oor waar aardbewings gaan plaasvind. Maar hulle kan selde voorspel presies wanneer dit sal gebeur. In 1999 het aardbewings oor die hele wêreld sowat 20 000 lewens geëis. Baie van dié wat gesterf het, het gedink dat dit nooit met hulle sou gebeur nie.
Hoe reageer jy op waarskuwings wat van God self kom?
Die Bybel het lank voor die tyd die gebeure wat die laaste dae sou kenmerk, haarfyn beskryf. In verband hiermee spoor dit ons aan om aan “die dae van Noag” te dink. “In daardie dae voor die vloed” was mense besig met die alledaagse dinge van die lewe, hoewel hulle ongetwyfeld besorg was oor al die geweld. Wat die waarskuwing betref wat God deur sy kneg Noag gegee het, “hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie” (Matteus 24:37-39). Sou jy aan die waarskuwing gehoor gegee het? Doen jy dit nou?
Sê nou jy het in die dae van Lot, ’n broerskind van Abraham, in Sodom, naby die Dooie See, gewoon? Die landstreek was soos ’n paradys. Die stad was welvarend. Die mense was sorgvry. In die dae van Lot ‘het hulle geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant en gebou’. Die gemeenskap waarin hulle gelewe het, was ook uiters onsedelik. Sou jy die waarskuwing ter harte geneem het toe Lot slegte gedrag veroordeel het? Sou jy geluister het as hy vir jou vertel het dat God besluit het om die stad Sodom te vernietig? Of sou jy, soos Lot se aanstaande skoonseuns, gedink het dat dit ’n grap is? Sou jy moontlik begin vlug het, maar dan, soos Lot se vrou, teruggedraai het? Hoewel ander die waarskuwing nie ernstig opgeneem het nie, het daar, op die dag dat Lot uit Sodom uitgekom het, “vuur en swael uit die hemel gereën en [is] hulle almal vernietig”.—Lukas 17:28, 29.
Die meeste mense in ons dag slaan geen ag op waarskuwings nie. Maar hierdie voorbeelde is in God se Woord bewaar as ’n waarskuwing vir ons, om ons aan te moedig OM AAN TE HOU WAAK!
[Venster/Prent op bladsy 22]
Was daar werklik ’n wêreldwye vloed?
Baie kritici sê Nee. Maar die Bybel sê Ja.
Jesus Christus het self daarvan gepraat; hy het gelewe toe dit gebeur het en het dit uit die hemel gesien.
[Venster/Prent op bladsy 23]
Is Sodom en Gomorra werklik vernietig?
Argeologie getuig van hierdie gebeurtenis.
Sekulêre geskiedenis maak melding daarvan.
Jesus Christus het die gebeurtenis bevestig, en 14 afsonderlike Bybelboeke verwys na wat daar gebeur het.