HOOFSTUK VIER
Waak teen ’n verraderlike hart
1, 2. Waarom is dit moeilik om te weet wat die ware toestand van ons figuurlike hart is?
SÊ NOU jy voel vroeg een oggend, terwyl jy nog in die bed lê, ’n skerp pyn in die middel van jou borskas en jy is kortasem? Jy sal dalk wonder: ‘Kan dit ’n hartaanval wees?’ Dit sal nie help om die probleem eenvoudig te ignoreer nie. Jy sal onmiddellik moet optree. Jy sal moontlik ’n ambulans laat kom sodat jy deskundige mediese sorg kan ontvang. ’n Dokter sal jou waarskynlik sorgvuldig ondersoek, dalk met behulp van ’n elektrokardiogram. ’n Vinnige diagnose en onmiddellike behandeling kan die verskil tussen lewe en dood beteken.
2 Wat van ons figuurlike hart? Dit is miskien nie maklik om te weet wat die ware toestand daarvan is nie. Waarom nie? Ons lees in die Bybel: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?” (Jer. 17:9). Ons hart kan ons dus bedrieg deur ons te laat glo dat daar nie werklik ’n geestelike probleem is nie, terwyl ander dalk waarskuwingstekens sien en besorg is. Waarom kan ons bedrieg word? Wel, ons sondige neigings kan teen ons werk, en Satan en sy stelsel van dinge kan ons ware situasie verberg. Wat ’n ondersoek van ons hart betref, kan ons leer by Jeremia en die volk van Juda in sy dag.
3. Wat het vir baie mense gode geword?
3 Die meeste Judeërs het getoon dat hulle harte geestelik in ’n slegte toestand is. Hulle het die enigste ware God sonder enige gewetenswroeging vir Kanaänitiese gode verlaat. Jehovah het daardie aanbidders uitgedaag: “Waar is jou gode wat jy vir jou gemaak het? Laat hulle opstaan as hulle jou in die tyd van jou rampspoed kan red. Want soos die getal van jou stede het jou gode geword” (Jer. 2:28). Wat ons betref, ons beskou ons beslis nie as aanbidders van afgode nie. Maar onder die opskrif “god” sê een woordeboek: “’n Persoon of ding van die allergrootste waarde.” Baie mense in die wêreld stel hulle loopbaan, gesondheid, gesin en selfs troeteldiere eerste in hulle lewe. Ander beskou sport, beroemdes, tegnologie, reise of hulle tradisies as van die allergrootste waarde. Baie jaag hierdie dinge na ten koste van hulle verhouding met die Skepper. Kan ware Christene beïnvloed word, soos die geval was met die mense van Juda in Jeremia se dag?
VERRADERLIKE HARTE KAN BEDRIEG
4. Hoe opreg was die mense wat gesê het: “Waar is die woord van Jehovah? Laat dit asseblief kom”?
4 Jy sal waarskynlik die konteks van Jeremia se stelling waarin hy die hart as desperaat beskryf, interessant vind. Hy het besef dat mense gesê het: “Waar is die woord van Jehovah? Laat dit asseblief kom” (Jer. 17:15). Maar was hulle opreg? Wel, daardie hoofstuk van Jeremia begin so: “Die sonde van Juda is met ’n ysterstif opgeskryf. Met ’n diamantpunt is dit gegraveer op die tafel van hulle hart.” ’n Fundamentele probleem was dat daardie Judeërs ‘op die mens vertrou het, vlees hulle arm gemaak het en hulle hart van Jehovah laat afwyk het’. Dit was in teenstelling met die minderheid, wat op God vertrou het en op hom staatgemaak het vir leiding en seëninge.—Jer. 17:1, 5, 7.
5. Hoe het Jeremia se landgenote op Jehovah se leiding gereageer?
5 Die hartstoestand van die meerderheid is geopenbaar deur hulle reaksie op wat God gesê het. (Lees Jeremia 17:21, 22.) Die Sabbat moes byvoorbeeld rus voorsien van gewone werk, asook ’n geleentheid om aan geestelike bedrywighede deel te neem. Jeremia se landgenote moes nie op die Sabbat sake doen of take verrig nie. Maar hulle reaksie het hulle hartstoestand geopenbaar. “Hulle het nie geluister of gehoor gegee nie, en hulle het hulle nek verhard om nie te hoor nie en om geen dissipline te ontvang nie.” Hoewel hulle God se wet geken het, het hulle hulle eie beskouing gehad—hulle het dinge gehad om op die Sabbat te doen.—Jer. 17:23; Jes. 58:13.
6, 7. (a) Hoe kan ’n Christen onverstandig redeneer, ondanks die raad wat die ‘getroue slaaf’-klas ons vandag gee? (b) Watter uitwerking kan dit op ons vergaderingbywoning hê?
6 Ons is vandag nie onder die Sabbatswet nie. Maar daar is ’n waarskuwende les in die manier waarop daardie mense gereageer en hulle hartstoestand geopenbaar het (Kol. 2:16). Ons het ons selfsugtige en alledaagse strewes opsygeskuif om God se wil te doen. Ons besef hoe dwaas dit sal wees om God te probeer behaag op ’n manier wat vir ons gerieflik is. En ons het waarskynlik al baie mense leer ken wat hulle daarop toegespits het om God se wil te doen en wat dit werklik verkwikkend en kalmerend gevind het. Hoe kan ons dan mislei word?
7 ’n Christen kan verkeerdelik dink dat sy hart hom nooit kan bedrieg nie, soos met baie in Jeremia se dag gebeur het. ’n Man kan byvoorbeeld redeneer: ‘Ek moet werk om my gesin te onderhou’, wat verstaanbaar is. Sê nou dit laat hom dink: ‘Ek het meer geleerdheid nodig om ’n ordentlike werk te kry of te behou’? Dit kan ook logies klink, wat hom tot die slotsom kan laat kom: ‘Tye het verander, en om vandag ’n bestaan te maak, het jy kollege- of universiteitsopleiding nodig om jou werk te behou.’ Hoe maklik kan ’n mens tog die wyse, gebalanseerde raad van die “getroue en verstandige slaaf”-klas oor bykomende opleiding begin geringag en van vergaderinge begin wegbly! In hierdie opsig is sommige geleidelik deur die wêreld se redenering en beskouings gevorm (Ef. 2:2, 3). Die Bybel waarsku ons gepas: “Moenie toelaat dat die wêreld om julle julle in sy vorm druk nie.”—Rom. 12:2, Phillips.a
8. (a) Waaroor kan ’n Christen ’n mate van trots voel? (b) Waarom is meer nodig as om net feite oor God en sy handelinge te ken?
8 Sommige Christene in die eerste eeu het wel rykdom en dalk ’n geringe mate van vernaamheid in die wêreld gehad. Dit is ook waar van party Christene in ons tyd. Hoe moet hulle oor hulle prestasies voel, en hoe moet ons sulke persone beskou? Jehovah het die antwoord deur middel van Jeremia voorsien. (Lees Jeremia 9:23, 24.) Dit is verstandig om nie oor menslike prestasies te spog nie, maar om eerder te erken dat kennis van die Universele Soewerein van die grootste waarde is (1 Kor. 1:31). Wat beteken dit egter om insig en kennis van Jehovah te hê? Wel, die mense van Jeremia se dag het God se naam geken. Hulle was ook bewus van wat hy gedoen het om hulle voorouers te red by die Rooisee, toe hulle die Beloofde Land ingegaan het, in die tyd van die rigters en gedurende die heerskappy van getroue konings. Nietemin het hulle Jehovah nie werklik geken of ware geloof in hom beoefen nie. Tog het hulle gesê: “Ek het onskuldig gebly. [God se] toorn het gewis van my gewyk.”—Jer. 2:35.
Waarom is dit belangrik om te erken dat ons hart verraderlik is? Hoe kan ons ons hart ondersoek en uitvind hoe die Groot Ondersoeker van harte ons moontlik beskou?
DIE MANIER WAAROP JEHOVAH ONS VORM
9. Waarom kan ons seker wees dat ’n verandering van hartstoestand moontlik is, en hoe kan dit teweeggebring word?
9 Die Jode aan wie Jeremia God se boodskap oorgedra het, moes hulle hartstoestand verander. Dit was moontlik, want God het van dié wat uit ballingskap sou terugkeer, gesê: “Ek sal hulle ’n hart gee om my te ken, dat ek Jehovah is; en hulle sal my volk word, en ek sal hulle God word, want hulle sal tot my terugkeer” (Jer. 24:7). So ’n verandering is ook vandag moontlik. Wat meer is, die meeste van ons kan die toestand van ons geestelike hart verbeter. Drie dinge is noodsaaklik: ernstige persoonlike studie van God se Woord, insig in hoe God in ons lewe te werk gaan en die toepassing van wat ons oor hom geleer het. In teenstelling met die mense in Jeremia se dag moet ons die begeerte hê dat die Groot Ondersoeker van harte ons hart moet ondersoek. En ons kan ons eie hart ondersoek in die lig van die Bybel, asook deur te let op hoe Jehovah ten behoewe van ons opgetree het (Ps. 17:3). Hoe verstandig is dit tog om dit te doen!
10, 11. (a) Waarom het Jeremia na ’n pottebakker toe gegaan? (b) Wat bepaal hoe Jehovah mense vorm?
10 Satan wil mense vorm deur hulle almal in ’n sekere vorm te druk, maar wanneer God mense vorm, neem hy individue in ag. Dit word duidelik deur Jeremia se ondervinding toegelig. Eendag het God vir hom gesê om na die huis van ’n pottebakker te gaan. Die pottebakker het by sy wiel gewerk, maar toe die houer wat hy besig was om te maak, bederf is, het hy eenvoudig van die klei, wat nog nat was, ’n ander houer gevorm. (Lees Jeremia 18:1-4.) Waarom is Jeremia aangesê om hierna te kyk, en wat kan ons uit sy ondervinding leer?
11 Jehovah wou vir Jeremia en Israel wys dat Hy die gesag het om volke en nasies te vorm tot wat Hy wil. Hoe hanteer God die klei? In teenstelling met menslike pottebakkers maak Jehovah nie foute nie; hy vernietig ook nie die werke van sy hand sonder goeie rede nie. Hoe mense op Jehovah se vorming reageer, bepaal wat hy met hulle doen.—Lees Jeremia 18:6-10.
12. (a) Hoe het Jojakim gereageer op Jehovah se pogings om hom te vorm? (b) Watter les leer jy uit die verslag oor Jojakim?
12 Hoe vorm Jehovah dan individue? Hy gebruik vandag hoofsaaklik die Bybel. Wanneer iemand God se Woord lees en daarop reageer, openbaar hy watter soort persoon hy is, en God kan hom vorm. Kom ons kyk nou na die voorbeeld van koning Jojakim om te sien hoe mense in Jeremia se dag moontlik in alledaagse aangeleenthede gevorm is. Die Wet het bepaal dat niemand ‘’n loonarbeider te kort mag doen nie’, maar dit is presies wat die koning gedoen het toe hy mede-Israeliete uitgebuit het deur hulle as ’n bron van goedkoop arbeid te gebruik om “’n ruim huis” te bou (Deut. 24:14; Jer. 22:13, 14, 17). God het Jojakim probeer vorm deur middel van Sy woord wat deur die profete oorgedra is. Maar die koning het die neiging van sy verraderlike hart gevolg. Hy het gesê: “Ek sal nie gehoorsaam nie” en het die weg wat hy al in sy jeug ingeslaan het, bly volg. Daarom het God gesê: “Met ’n eselsbegrafnis sal [Jojakim] begrawe word, rondgesleep en weggegooi” (Jer. 22:19, 21). Hoe dwaas sal dit tog van ons wees om te sê: ‘Dis maar net hoe ek is’! Vandag stuur God nie profete soos Jeremia nie, maar Hy bied wel leiding. Die “getroue en verstandige slaaf”-klas help ons om Bybelbeginsels te sien en toe te pas. Dit raak dalk aspekte van ons daaglikse lewe, soos ons kleredrag en persoonsversorging of die musiek en danse by ’n troue of ander geselligheid. Sal ons ons deur God se Woord laat vorm?
13, 14. (a) Waarom het slawe-eienaars in Jerusalem ingestem om hulle Hebreeuse slawe vry te stel? (b) Wat het die ware hartstoestand van die slawe-eienaars geopenbaar?
13 Kyk na nog ’n voorbeeld. Die Babiloniërs het Sedekia as onderhorige koning op die troon van Juda geplaas. Toe het Sedekia, in stryd met God se raad deur middel van Jeremia, in opstand gekom (Jer. 27:8, 12). Gevolglik het die Babiloniërs Jerusalem beleër. Die koning en sy vorste het gevoel dat hulle iets in ooreenstemming met die Wet moet doen sodat hulle God se guns kan verkry. Sedekia was daarvan bewus dat Hebreeuse slawe in die sewende jaar van hulle knegskap vrygestel moes word en het dus ’n verbond gesluit om hierdie slawe te bevry (Eks. 21:2; Jer. 34:14). Ja, met Jerusalem omsingel deur vyande, het dit skielik raadsaam gelyk dat die volk hulle slawe moet vrystel!—Lees Jeremia 34:8-10.
14 Later het ’n Egiptiese krygsmag Jerusalem te hulp gekom, wat daartoe gelei het dat die Babiloniërs die beleëring beëindig het (Jer. 37:5). Wat sou dié doen wat hulle slawe vrygestel het? Hulle het diegene wat hulle bevry het, gedwing om hulle weer te dien (Jer. 34:11). Die punt is dat die Jode, toe hulle in gevaar was, oënskynlik God se wette gehoorsaam het, asof dit vir hulle vorige optrede kon vergoed. Maar toe die gevaar verby was, het hulle in hulle ou weë verval. Al het hulle voorgegee dat hulle die gees van die Wet aanvaar, het hulle latere dade geopenbaar dat hulle in hulle hart nie die riglyne in God se Woord wou gehoorsaam en daardeur gevorm wou word nie.
Watter praktiese les kan jy leer uit wat Jeremia oor ’n pottebakker geskryf het? Hoe vorm Jehovah ons vandag?
LAAT JOU DEUR JEHOVAH VORM
15. In watter mate wil jy deur Jehovah gevorm word? Lig toe.
15 Met behulp van Jehovah se wêreldwye gemeente word ons dalk bewus van Bybelbeginsels wat met ’n spesifieke handelswyse verband hou. Byvoorbeeld, ons weet miskien hoe ons moet reageer as ’n broer ons irriteer (Ef. 4:32). Ons erken moontlik dat die Bybel se raad reg en wys is. Maar watter soort klei sal ons wees? Sal ons ons werklik deur Jehovah laat vorm? As ons hart vormbaar is, sal ons ten goede verander; die Groot Pottebakker sal ons tot ’n voorwerp vorm wat geskikter is vir sy gebruik. (Lees Romeine 9:20, 21; 2 Timoteus 2:20, 21.) Ons moenie ’n hartstoestand soos dié van Jojakim of die slawe-eienaars van Sedekia se dag openbaar nie, maar moet ons eerder deur Jehovah vir ’n eervolle doel laat vorm.
16. Van watter belangrike waarheid was Jeremia bewus?
16 Selfs Jeremia is deur God gevorm. Wat was die profeet se gesindheid? Jy kan dit aflei uit sy erkenning: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.” Toe het hy gesmeek: “Wys my tereg, o Jehovah” (Jer. 10:23, 24). Jongmense, sal julle Jeremia navolg? Julle sal waarskynlik nog baie besluite moet neem. Sommige jongmense wil ‘hulle eie voetstappe rig’. Sal julle op God se leiding vertrou wanneer julle besluite neem? Sal julle, soos Jeremia, nederig erken dat mense nie hulle eie voetstappe kan rig nie? Onthou: As julle God se leiding soek, sal hy julle vorm.
17-19. (a) Waarom het Jeremia ’n lang reis na die Eufraat onderneem? (b) Hoe kon dit Jeremia se gehoorsaamheid getoets het? (c) Wat is bereik deur wat Jeremia met die gordel gedoen het?
17 Jeremia se toewysing het gehoorsaamheid aan God se bevele vereis. Sou jy, as jy Jeremia was, enige instruksies gevolg het wat jy gegee is? Op een stadium het Jehovah vir Jeremia gesê om ’n linnegordel aan te skaf en dit te dra. Toe het God hom beveel om na die Eufraat te gaan. As jy ’n kaart raadpleeg, sal jy sien dat dit ’n reis van sowat 500 kilometer behels het. Toe Jeremia daar kom, moes hy die gordel in die kloof van ’n krans wegsteek en toe die hele pad na Jerusalem teruggaan. En God het hom later teruggestuur om die gordel te gaan haal. (Lees Jeremia 13:1-9.) Jeremia sou altesaam omtrent 1 900 kilometer afgelê het. Bybelkritici kan eenvoudig nie glo dat hy so ver sou gereis het nie omdat dit maande se loop sou beteken het (Esra 7:9).b Nietemin is dit wat God gesê het en wat Jeremia gedoen het.
18 Stel jou voor hoe die profeet deur die Judese berge loop en dan, afhangende van sy roete, in ’n woestyn ingaan op pad na die Eufraat. Dit alles net om ’n linnegordel weg te steek! Sy lang afwesigheid moes sy bure nuuskierig gemaak het. En toe hy teruggekeer het, het hy nie die linnegordel by hom gehad nie. Toe het God vir hom gesê om weer die lang reis af te lê om die gordel te gaan haal, wat teen dié tyd verrot en “vir niks geskik” was nie. Stel jou voor hoe maklik dit sou gewees het om te dink: ‘Dis nou darem te veel. Dit het geen sin nie.’ Maar omdat hy deur God gevorm is, het hy nie so gereageer nie. Hy het nie gekla nie, maar het eerder gedoen wat hy beveel is!
19 Eers ná die tweede reis het God sake verduidelik. Jeremia se dade het die agtergrond verskaf vir ’n kragtige boodskap: “Hierdie slegte volk wat weier om my woorde te gehoorsaam, wat in die wederstrewigheid van hulle hart wandel en wat voortdurend agter ander gode aan loop om hulle te dien en om hulle voor hulle neer te buig, sal ook net soos hierdie gordel word wat vir niks geskik is nie” (Jer. 13:10). Wat ’n indrukwekkende manier vir Jehovah om sy volk te onderrig! Jeremia se opregte gehoorsaamheid aan Jehovah in iets wat dalk onbenullig gelyk het, het ’n rol gespeel in Sy pogings om die harte van die volk te bereik.—Jer. 13:11.
20. Waarom sal party dalk jou gehoorsaamheid vreemd vind, maar waarvan kan jy seker wees?
20 Christene word nie vandag gevra om honderde kilometers te loop as deel van ’n goddelike les nie. Maar vind bure of kennisse dalk die Christelike weg wat jy volg, vreemd of kritiseer hulle jou miskien selfs daaroor? Dit hou dalk verband met jou kleredrag en persoonsversorging, jou keuse van opleiding of loopbaan of selfs jou beskouing van drank. Sal jy so vasbeslote soos Jeremia wees om God se leiding te volg? Die keuses wat jy maak omdat jy jou hart deur God laat vorm het, kan daartoe lei dat jy ’n goeie getuienis gee. Hoe dit ook al sy, om Jehovah se riglyne in sy Woord te gehoorsaam en die leiding te aanvaar wat die ‘getroue slaaf’-klas gee, sal vir jou blywende voordele inhou. Jy kan soos Jeremia wees en jou nie deur ’n verraderlike hart laat lei nie. Wees dan vasbeslote om jou deur God te laat vorm; laat hy jou tot ’n eervolle voorwerp vorm wat hy altyd kan gebruik.
Waarom is dit noodsaaklik om te stry teen die druk wat Satan, ons onvolmaakte hart en die wêreld op ons plaas?
a Die NET Bible (2005) sê: “Moenie na hierdie teenswoordige wêreld gevorm word nie.” ’n Voetnoot voeg by: “Dit is baie insiggewend dat dit as ’n passiewe idee beskou word om na die teenswoordige wêreld ‘gevorm’ te word, want dit kan te kenne gee dat dit deels onbewustelik gebeur. Terselfdertyd . . . kan daar ’n mate van bewustheid wees van die vorming wat plaasvind. Dit is heel waarskynlik ’n kombinasie van die twee.”
b Sommige meen dat Jeremia se bestemming naby was, nie by die Eufraat nie. Waarom? “Die enigste doel van hierdie kritiek”, sê een geleerde, “is om die profeet die moeite van twee veronderstelde reise van Jerusalem na die Eufraat te spaar.”