Jehovah—“’n krygsman”
DIE keurtroepe van die Egiptiese leër was uitgewis. Die Rooi See se branders het die lyke van wadrywers en krygsmanne heen en weer gerol en die strand was met militêre toerusting besaai. Onder Moses se leiding het die manne van Israel gejubel met ’n oorwinningslied: “Laat my sing voor Jehovah, want hy het hoog verhewe geword. Die perd en sy ruiter het hy in die see gewerp. Jehovah is ’n krygsman. Jehovah is sy naam.”—Exodus 15:1, 3, NW.
Jehovah se oorwinning by die Rooi See was waarlik ’n bewys van sy uitnemendheid in oorlogvoering. Israel het Egipte in gevegsformasie, maar met min vegvermoë, verlaat. Jehovah het hulle met ’n wolkkolom wat snags ’n vuurkolom geword het van Raämses na “die kant van die woestyn” by Etam gelei (Exodus 12:37; 13:18, 20-22). Toe sê Jehovah vir Moses: “Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet omdraai en laer opslaan voor Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon . . . Dan sal Farao van die kinders van Israel sê: Hulle is verdwaal in die land . . . [En] hy [sal] hulle agtervolg” (Exodus 14:1-4). Israel het gehoorsaam omgedraai en na Pi-Hagirot getrek. Farao se spioene het die skynbare verwarring gerapporteer, en soos voorspel is, het Farao sy leër vir agtervolging gemobiliseer.—Exodus 14:5-9.
’n Strik—Vir Israel of vir Farao?
Met berge aan weerskante en met die see voor en die Egiptenaars agter hulle het dit gelyk asof die verskrikte Israeliete vasgekeer was, en daarom het hulle tot God om hulp geroep. Moses het die volk bemoedig en gesê: “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees” (Exodus 14:10-14). Getrou aan daardie belofte het “die wolkkolom . . . voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan; so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom . . . sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie”.—Exodus 14:15-20.
Moses het sy staf opgehef oor die see, soos Jehovah beveel het, en “die waters is gekloof” sodat die Israeliete kon ontsnap. En ’n verbasende wonderwerk het plaasgevind! (Exodus 14:16, 21). ’n Sterk oostewind het die waters van die Rooi See begin kloof en ’n deurloop gevorm wat wyd genoeg was vir die hele nasie—sowat driemiljoen sterk—om in gevegsformasie deur te gaan. Links en regs van die lang ry Israeliete het die ‘gestolde’ water soos twee hoë mure gestaan.—Exodus 15:8, NW.
Die Israeliete het met behulp van die lig uit die vuurkolom oor die seebodem wat deur die wind drooggewaai is, ontsnap. Teen die môre het die laaste Israeliete die oorkantste oewer bereik. “Toe het die Egiptenaars hulle gejaag en agter hulle aan getrek—al Farao se perde, sy strydwaens en sy ruiters—die see in.” Die agtervolgers het in ’n strik ingestorm!—Exodus 14:23.
“[Jehovah het] die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring. En Hy het die wiele van hulle strydwaens laat insak en hulle met moeite laat voortgaan.” Moses het nou sy hand oor die see uitgesteek en “die see het . . . in sy bedding teruggevloei”. Die mure van water het ineengestort en die Egiptenaars begin verswelg. Hulle het probeer vlug, maar “die HERE [het hulle] binne-in die see gestort”. Niemand het dit oorleef nie! Met gejubel het die Israeliete hulle oorwinningslied tot Jehovah gesing.—Exodus 14:24–15:3; Psalm 106:11.
Jehovah stry vir Josua
Jehovah was ’n “krygsman” in ander oorloë. Een was die stryd by Ai. Die eerste aanval op die stad het misluk vanweë Agan se ernstige oortreding. Toe hierdie saak reggestel is, het Jehovah Josua oorlogsbevele gegee.—Josua 7:1, 4, 5, 11-26; 8:1, 2.
Josua het Jehovah se bevele gehoorsaam en in die nag ’n hinderlaag opgestel agter die stad, aan die westekant. Sy hoofstrydmag is noordwaarts gestuur na ’n vallei net buite Ai en was blykbaar gereed vir ’n frontaanval. Die manne van Ai het in die hinderlaag ingeloop. In die roes van hulle vorige oorwinning het hulle die Israeliete halsoorkop uit die stad bestorm. Die Israeliete het in ’n skynterugtog “in die rigting van die woestyn” geretireer en die vyand al hoe verder van Ai af weggelok.—Josua 8:3-17.
Net op die regte oomblik het Jehovah vir Josua gesê: “Steek die spies wat in jou hand is, na Ai toe uit, want Ek wil dit in jou hand gee.” Toe hierdie teken gegee is, het die hinderlaag die stad aangeval en dit deur die swaard en met vuur vernietig. Toe die vyandelike magte buite die rook sien, het dit hulle heeltemal ontmoedig. Josua het nou opgehou om terug te val, tot die aanval oorgegaan en die vyand tussen sy twee magte vasgekeer. ’n Mense-oorwinning? Nee. Die Israeliete het die oorwinning behaal, want, soos Josua later vir hulle gesê het: “Die HERE julle God, Hy het vir julle gestry.”—Josua 8:18-27; 23:3.
Die slag by die Kison
Jehovah se uitnemendheid in oorlogvoering is weer gedemonstreer by die Kisonvallei, naby Megiddo. Die Kanaänitiese koning Jabin het Israel reeds 20 jaar lank verdruk. Sy leër, onder bevel van Sisera, het onder andere uit 900 strydwaens met ystersense op hulle wiele bestaan—’n skynbaar onoorwinlike mag in daardie dae.—Rigters 4:1-3.
Nietemin het Jehovah rigter Barak, deur die profetes Debora, beveel om tienduisend krygsmanne bo-op die berg Tabor te versamel om Jabin se magte uit te daag. Sisera het vinnig op hierdie vermeerdering in militêre mag gereageer en hom gehaas van Haroset na die spruit Kison, tussen die berg Tabor en Megiddo. Hy het waarskynlik geredeneer dat Israel se swak toegeruste voetsoldate hier op gelyk grond nie ’n kans teen sy strydwaens sal hê nie. Maar hy het nie rekening gehou met die feit dat hy teen ’n hemelse Teenstander gaan veg nie.—Rigters 4:4-7, 12, 13.
Jehovah het Barak beveel om van die veilige hoogtes van Tabor af te kom na die valleivlakte en sodoende Sisera se troepe in ’n geveg te lok. Toe gaan Jehovah tot die aanval oor! ’n Oorstroming het die slagveld in ’n moeras omskep, sodat Sisera se troepe geïmmobiliseer is. In die daaropvolgende verwarring kon Israel se voetsoldate hul vyand maklik verslaan. “Die hele leër van Sisera het deur die skerpte van die swaard geval; daar het selfs nie een oorgebly nie.” Die geswolle vloedwaters van die Kison het die Kanaänitiese strydwaens in die modder laat vasval en het moontlik van die lyke weggespoel.—Rigters 4:14-16; 5:20, 21.
Oorwinning teen Gog en sy menigte
Hierdie eertydse gebeure het ons ’n voorskou gegee van Jehovah se grootste oorwinning wat nog gaan kom. ’n Slag wat “aan die einde van die jare” sal plaasvind, lê voor die deur. Volgens Esegiël se profesie sal Gog, ’n simbool van “die owerste van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, ’n internasionale aanvalsmag mobiliseer. Hy sal sy troepe beveel om die figuurlike “berge van Israel”, dit wil sê, die verhewe geestelike toestand van die Christelike “Israel van God”, binne te val.—Esegiël 38:1-9; Johannes 12:31; Galasiërs 6:16.
Wat laat Gog so ’n hewige aanval op God se volk doen? Die profesie wys na hulle vreedsame, geestelik voorspoedige toestand. Gog sê: “Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie; om buit te maak en roof te rowe . . . teen ’n volk . . . wat vee [“rykdom”, NW] en goed verwerf het.”—Esegiël 38:10-12.
Jehovah se volk is oor die algemeen nie ryk in materiële sin nie. Hulle het nietemin oorvloedige geestelike rykdom opgelewer as gevolg van hulle wêreldwye predikingswerk. “’n Groot menigte . . . uit alle nasies”, nou ruim viermiljoen, word ingesamel (Openbaring 7:9, 10). Voorwaar rykdom! Satan—woedend oor hierdie geestelike voorspoed—probeer om God se volk uit te wis.
Maar Gog val in werklikheid Jehovah God self aan deur teen die figuurlike land van Israel aan te kom. “My grimmigheid [sal] in my neus opkom”, sê Jehovah, wat namens sy volk sal wraak neem. Gog se leërs sal in verwarring uitmekaarspat. “Die swaard van die een sal teen die ander wees.” Jehovah sal dan sy vernietigende kragte ontketen—“oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel”. Soos by die Rooi See, Ai en die Kison sal Jehovah weer eens vir sy volk stry en sy naam verheerlik. “Ek [sal] my dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE [“Jehovah”, NW] is.”—Esegiël 38:18-23.
Die geskiedkundige verslag van Jehovah se oorloë in die ou tyd gee ons rede vir algehele vertroue in hierdie toekomstige oorwinning gedurende die “groot verdrukking” (Mattheüs 24:21, 22). Jehovah, wat altyd in beheer is, kan sy vyande uitoorlê en omstandighede bewerkstellig vir die redding van sy volk. Dit sal inderdaad wees soos Jesaja geprofeteer het: “Die HERE sal uittrek soos ’n held; Hy sal die ywer opwek soos ’n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar” (Jesaja 42:13). In die oë van sy Getuies sal hy tot in ewigheid JEHOVAH, DIE “KRYGSMAN”, wees!—Exodus 15:3.
[Kaart op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Roete van die Uittog uit Egipte
GOSEN
Memfis
Raämses
Sukkot
Migdol
Pi-Hagirot
Etam
[Prente op bladsy 26]
Hier, in die omgewing van Ai, het Jehovah Josua en Sy volk na ’n verstommende oorwinning gelei
Die water van die Kison het vinnig gestyg en tot die nederlaag van Jehovah se vyande bygedra
[Erkenning]
Photos: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.