HOOFSTUK 13
Koninkrykspredikers stel hulle saak in die hof
1, 2. (a) Wat het die godsdiensleiers omtrent die predikingswerk gedoen, maar hoe het die apostels gereageer? (b) Waarom het die apostels geweier om die verbod op die predikingswerk te gehoorsaam?
DIT is kort ná Pinkster 33 HJ. Die Christengemeente in Jerusalem is net ’n paar weke oud. Dit is duidelik dat Satan dit as die regte tyd beskou om op te tree. Hy wil die gemeente vernietig voordat dit stewig gevestig raak. Satan bewerk sake gou sodat die godsdiensleiers die Koninkrykspredikingswerk verbied. Maar die apostels hou moedig aan om te preek, en baie mans en vroue word “gelowiges in die Here”.—Hand. 4:18, 33; 5:14.
2 Die teenstanders is woedend en slaan weer toe—dié keer deur al die apostels te laat opsluit. Maar gedurende die nag maak Jehovah se engel die deure van die gevangenis oop, en teen dagbreek is die apostels weer besig om te preek! Hulle word weer eens in hegtenis geneem en voor die heersers gebring, wat die apostels daarvan beskuldig dat hulle die verbod op die predikingswerk oortree. In antwoord hierop sê die apostels moedig: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.” Die heersers is so woedend dat hulle die apostels ‘om die lewe wil bring’. Maar op hierdie kritieke oomblik waarsku Gamaliël, ’n hooggeagte leermeester van die Wet, die heersers: “Let op julleself . . . Moet julle nie met hierdie manne bemoei nie, maar laat staan hulle.” Verbasend genoeg slaan die heersers ag op sy raad en laat hulle die apostels gaan. Wat doen hierdie getroue manne? Hulle gaan onverskrokke voort ‘om sonder ophou te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak’.—Hand. 5:17-21, 27-42; Spr. 21:1, 30.
3, 4. (a) Watter beproefde metode gebruik Satan om God se volk aan te val? (b) Wat sal ons in hierdie hoofstuk en in die volgende twee hoofstukke bespreek?
3 Daardie hofsaak in 33 HJ was die eerste keer dat die Christengemeente deur die owerhede teëgestaan is, maar beslis nie die laaste keer nie (Hand. 4:5-8; 16:20; 17:6, 7). In ons tyd beweeg Satan teenstanders van ware aanbidding nog steeds om die owerhede aan te hits om ons predikingswerk te verbied. Teenstanders het al ’n verskeidenheid aanklagte teen God se volk ingebring. Een is dat ons versteurders van die openbare orde is—moeilikheidmakers. Nog een is dat ons oproermakers is; en nog een is dat ons handelaars is—smouse. Op die regte tye het ons broers hof toe gegaan om te bewys dat hierdie aantygings vals is. Wat was die resultaat van hierdie hofsake? Hoe raak hofbeslissings wat dekades gelede gelewer is, jou vandag? Kom ons kyk na ’n paar hofsake om te sien watter rol dit gespeel het “in die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus”.—Fil. 1:7.
4 In hierdie hoofstuk sal ons bespreek hoe ons ons reg op die vryheid om te preek, verdedig het. Die volgende twee hoofstukke sal ’n paar van die regstryde ondersoek wat ons gevoer het in ons poging om geen deel van die wêreld te wees nie en om volgens Koninkrykstandaarde te lewe.
Moeilikheidmakers—Of lojale voorstanders van God se Koninkryk?
5. Waarom is Koninkrykspredikers in die laat 1930’s in hegtenis geneem, en watter optrede het diegene wat die leiding geneem het, oorweeg?
5 In die laat 1930’s het stede en state regoor die Verenigde State van Amerika Jehovah se Getuies probeer dwing om ’n wetlike permit of lisensie te verkry om aan hulle bediening deel te neem. Maar ons broers het nie om lisensies aansoek gedoen nie. ’n Lisensie kan teruggetrek word, en hulle het geglo dat geen regering die reg het om in te meng met die uitvoering van Jesus se opdrag aan Christene om die Koninkryksboodskap te verkondig nie (Mark. 13:10). Gevolglik is honderde Koninkrykspredikers in hegtenis geneem. In reaksie hierop het diegene wat die leiding in die organisasie geneem het, dit oorweeg om hof toe te gaan. Hulle het gehoop om te bewys dat die Staat die Getuies se reg op godsdiensvryheid onwettig beperk. Toe het iets in 1938 gebeur wat tot ’n mylpaalhofsaak gelei het. Wat was dit?
6, 7. Wat het met die Cantwell-gesin gebeur?
6 Op Dinsdagoggend 26 April 1938 het Newton Cantwell, wat 60 was; sy vrou, Esther; en hulle seuns Henry, Russell en Jesse—al vyf spesiale pioniers—vertrek om die dag in die stad New Haven, Connecticut, te gaan preek. Hulle was in werklikheid voorbereid om langer as ’n dag weg te wees. Waarom? Hulle is al op verskeie geleenthede in hegtenis geneem, en daarom het hulle besef dat dit weer kan gebeur. Maar dit het nie die Cantwells se begeerte gedemp om die Koninkryksboodskap te verkondig nie. Hulle het in twee motors in New Haven aangekom. Newton het die gesinsmotor bestuur, wat vol Bybellektuur en draagbare grammofone was, terwyl die 22-jarige Henry ’n klankmotor bestuur het. En soos hulle verwag het, is hulle binne ’n paar uur deur die polisie voorgekeer.
7 Russell, wat 18 jaar oud was, is eerste in hegtenis geneem, en toe Newton en Esther. Jesse, wat 16 jaar oud was, het van ’n afstand toegekyk terwyl sy ouers en broer deur die polisie weggelei word. Aangesien Henry in ’n ander deel van die dorp gepreek het, het die jong Jesse op sy eie agtergebly. Nietemin het hy sy grammofoon opgetel en voortgegaan om te preek. Twee Katolieke mans het Jesse toegelaat om ’n opname van broer Rutherford se lesing met die titel “Vyande” te speel. Maar terwyl hulle na die lesing geluister het, het die mans so kwaad geword dat hulle Jesse wou slaan. Jesse het kalm weggeloop, maar kort daarna het ’n polisieman hom voorgekeer. Jesse is toe ook in hegtenis geneem. Die polisie het suster Cantwell nie aangekla nie, maar hulle het wel broer Cantwell en sy seuns aangekla. Hulle is egter daardie selfde dag op borgtog vrygelaat.
8. Waarom het die hof Jesse Cantwell daaraan skuldig bevind dat hy ’n moeilikheidmaker is?
8 ’n Paar maande later, in September 1938, het die Cantwell-gesin voor die verhoorhof in New Haven verskyn. Newton, Russell en Jesse is daaraan skuldig bevind dat hulle sonder ’n lisensie bydraes gevra het. Ten spyte van appèlle by die Hooggeregshof van Connecticut is Jesse daaraan skuldig bevind dat hy die vrede versteur het—dat hy ’n moeilikheidmaker is. Waarom? Omdat die twee Katolieke mans wat na die opname geluister het, in die hof getuig het dat die lesing hulle godsdiens beledig het en hulle kwaad gemaak het. In ’n poging om die beslissings te betwis, het die verantwoordelike broers in ons organisasie by die Amerikaanse Hooggeregshof—die hoogste hof in die land—appèl aangeteken.
9, 10. (a) Wat was die beslissing van die Amerikaanse Hooggeregshof in die saak van die Cantwell-gesin? (b) Hoe vind ons vandag nog by hierdie beslissing baat?
9 Vanaf 29 Maart 1940 het Charles E. Hughes, die hoofregter, en agt mederegters geluister na die argumente wat broer Hayden Covington, ’n regsverteenwoordiger van Jehovah se Getuies, voorgelê het.a Toe die prokureur vir die staat Connecticut sy argumente voorgelê het in ’n poging om te bewys dat die Getuies moeilikheidmakers is, het een regter gevra: “Is dit nie waar dat die boodskap wat Jesus Christus verkondig het, in sy dag ongewild was nie?” Die staat se prokureur het geantwoord: “Dit is waar; en as ek reg onthou, sê die Bybel ook wat met Jesus gebeur het omdat hy daardie boodskap verkondig het.” Hoe veelseggend was hierdie woorde tog! Sonder om dit te besef, het die prokureur die Getuies met Jesus vereenselwig, en die staat met diegene wat hom veroordeel het. Op 20 Mei 1940 het die Hof eenparig ten gunste van die Getuies beslis.
10 Waarom was die Hof se beslissing betekenisvol? Dit het die reg op die vrye beoefening van godsdiens uitgebrei sodat geen federale, staats- of plaaslike owerheid godsdiensvryheid wetlik kon beperk nie. Verder het die Hof bevind dat Jesse se gedrag “geen . . . bedreiging vir die openbare vrede en orde ingehou het nie”. Die beslissing het dus duidelik getoon dat Jehovah se Getuies nie versteurders van die openbare orde is nie. Wat ’n beslissende regsoorwinning vir God se knegte! Hoe vind ons vandag nog daarby baat? ’n Regsgeleerde wat ’n Getuie is, sê: “Die reg om ons godsdiens vryelik te beoefen sonder vrees vir onregverdige beperkings, stel ons as Getuies vandag in staat om ’n boodskap van hoop oor te dra aan ander mense in die gemeenskappe waar ons woon.”
Oproermakers—Of verkondigers van die waarheid?
11. Watter kampanje het ons broers in Kanada georganiseer, en waarom?
11 Gedurende die 1940’s het Jehovah se Getuies in Kanada hewige teenstand verduur. Om die Staat se minagting vir die reg op godsdiensvryheid bloot te lê, het ons broers dus in 1946 ’n 16 dae lange kampanje georganiseer waartydens hulle ’n traktaat versprei het met die titel Quebec’s Burning Hate for God and Christ and Freedom Is the Shame of All Canada. Hierdie traktaat met vier bladsye het ’n breedvoerige verslag bevat van die oproere, polisiewreedheid en massageweld wat teen ons broers in die Quebec-provinsie deur die geestelikes aangestook is. “Jehovah se Getuies word steeds onwettig in hegtenis geneem”, het die traktaat gesê. “Daar is omtrent 800 klagtes teen Jehovah se Getuies in Montreal en omstreke ingebring.”
12. (a) Hoe het teenstanders op die traktaatkampanje gereageer? (b) Van watter misdaad is ons broers beskuldig? (Sien ook die voetnoot.)
12 Quebec se eerste minister, Maurice Duplessis, wat kop in een mus met die Rooms-Katolieke kardinaal Villeneuve was, het in reaksie op die traktaat ’n “genadelose oorlog” teen die Getuies verklaar. Die klagtes het gou van 800 tot 1 600 verdubbel. “Die polisie het ons soveel keer in hegtenis geneem dat ons ophou tel het”, het ’n pioniersuster gesê. Getuies wat betrap is terwyl hulle die traktaat versprei het, is beskuldig van die misdaad dat hulle “opruiende laster” publiseer.b
13. Wie was die eerstes wat op ’n aanklag van sedisie verhoor is, en wat was die hof se beslissing?
13 In 1947 was broer Aimé Boucher en sy dogters Gisèle, wat 18 was, en Lucille, wat 11 was, die eerstes wat in die hof op ’n aanklag van sedisie verhoor is. Hulle het die Quebec’s Burning Hate-traktate naby hulle plaas in die heuwels suid van die stad Quebec versprei, maar hulle kon nouliks as wettelose moeilikheidmakers beskou word. Broer Boucher was ’n nederige en saggeaarde man wat vreedsaam na sy klein plasie omgesien het en elke nou en dan met sy perdekar dorp toe gery het. Nogtans het sy gesin van dieselfde mishandeling verduur wat in die traktaat gemeld is. Die verhoorhofregter, wat die Getuies gehaat het, het geweier om bewyse in die hof toe te laat wat getoon het dat die Bouchers onskuldig is. Hy het eerder die vervolging se standpunt aanvaar dat die traktaat vyandigheid bevorder het en dat die Bouchers dus skuldig bevind moet word. Die regter se beskouing het dus hierop neergekom: Dit is ’n misdaad om die waarheid te praat! Aimé en Gisèle is skuldig bevind aan opruiende laster, en selfs jong Lucille het twee dae in die tronk deurgebring. Die broers het appèl aangeteken by die Hooggeregshof van Kanada, die land se hoogste hof, wat ingestem het om die saak te verhoor.
14. Wat het die broers in Quebec gedurende die jare van vervolging gedoen?
14 Intussen het ons moedige broers en susters in Quebec voortgegaan om die Koninkryksboodskap te verkondig ondanks onophoudelike en gewelddadige aanvalle—dikwels met uitsonderlike resultate. In die vier jaar ná die begin van die traktaatkampanje in 1946 het die aantal Getuies in Quebec van 300 tot 1 000 toegeneem!c
15, 16. (a) Wat was die Hooggeregshof van Kanada se beslissing in die saak van die Boucher-gesin? (b) Wat het hierdie oorwinning vir ons broers en ander beteken?
15 In Junie 1950 het die Hooggeregshof van Kanada, wat uit nege regters bestaan het, die saak van Aimé Boucher verhoor. Ses maande later, op 18 Desember 1950, het die Hof in ons guns beslis. Waarom? Broer Glen How, ’n regsverteenwoordiger van die Getuies, het verduidelik dat die Hof saamgestem het met die verdediging se redenasie dat “sedisie” aanhitsing tot geweld of opstand teen die regering behels. Die traktaat het mense egter “glad nie tot sulke optrede aangehits nie en was gevolglik ’n wettige vorm van vryheid van spraak”. Broer How het bygevoeg: “Ek het met my eie oë gesien hoe Jehovah ons die oorwinning gee.”d
16 Die Hooggeregshof se beslissing was inderdaad ’n klinkende oorwinning vir God se Koninkryk. Dit het die grondslag verwyder vir al 122 hangende sake waarin Getuies in Quebec van opruiende laster beskuldig is. Bowendien het die Hof se beslissing beteken dat burgers van Kanada en die Statebond van toe af die vryheid gehad het om hulle kwellinge te lug oor die manier waarop daar regeer word. Wat meer is, hierdie oorwinning het die aanval wat Quebec se Kerk en Staat op die vryhede van Jehovah se Getuies geloods het, verydel.e
Smouse—Of ywerige verkondigers van God se Koninkryk?
17. Hoe probeer party regerings ons predikingswerk beheer?
17 Soos die vroeë Christene, is Jehovah se hedendaagse knegte “nie smouse van die woord van God” nie. (Lees 2 Korintiërs 2:17.) Nogtans probeer party regerings ons predikingswerk deur middel van handelswette beheer. Kom ons kyk na twee van die hofsake wat gehandel het oor die kwessie of Jehovah se Getuies smouse of bedienaars is.
18, 19. Hoe het die owerheid in Denemarke die predikingswerk aan bande probeer lê?
18 Denemarke. Op 1 Oktober 1932 het ’n wet in werking getree wat dit onwettig gemaak het om gedrukte materiaal sonder ’n handelslisensie te verkoop. Maar ons broers het nie om ’n lisensie aansoek gedoen nie. Die volgende dag het vyf verkondigers in Roskilde gepreek, ’n dorp meer as 30 kilometer wes van Kopenhagen, die hoofstad. Aan die einde van die dag was een van die verkondigers, August Lehmann, weg. Hy is in hegtenis geneem omdat hy goedere verkoop het sonder ’n lisensie.
19 Op 19 Desember 1932 het August Lehmann in die hof verskyn. Hy het bevestig dat hy mense besoek het om Bybellektuur aan te bied, maar hy het ontken dat hy handel gedryf het. Die verhoorhof het met hom saamgestem. Dit het gesê: “Die beskuldigde . . . kan homself finansieel onderhou, en [hy] het geen ekonomiese voordeel daaruit getrek nie of beoog om voordeel daaruit te trek nie, maar hy het eerder ’n finansiële verlies gely as gevolg van sy bedrywighede.” Die hof het ten gunste van die Getuies beslis en gesê dat Lehmann se bedrywighede nie “as handel geklassifiseer” kan word nie. Maar die teenstanders van God se volk was vasbeslote om die predikingswerk regoor die land aan bande te lê (Ps. 94:20). Die staatsaanklaer het die saak tot by die land se Hooggeregshof geneem. Hoe het ons broers gereageer?
20. Wat was die Hooggeregshof van Denemarke se beslissing, en wat was ons broers se reaksie?
20 Gedurende die week voor die verhoor in die Hooggeregshof het Getuies regoor Denemarke hulle predikingsbedrywighede verskerp. Op Dinsdag 3 Oktober 1933 het die Hooggeregshof sy beslissing bekend gemaak. Dit het die laer hof se uitspraak bevestig dat August Lehmann nie die wet verbreek het nie. Hierdie beslissing het beteken dat die Getuies kon voortgaan om vryelik te preek. Om hulle dankbaarheid teenoor Jehovah te toon vir hierdie regsoorwinning, het die broers en susters selfs meer in die predikingswerk gedoen. Sedert hierdie hofbeslissing kan ons broers in Denemarke hulle bediening uitvoer sonder inmenging van die regering.
21, 22. Wat was die beslissing van die Amerikaanse Hooggeregshof in die saak van broer Murdock?
21 Verenigde State. Op Sondag 25 Februarie 1940 is Robert Murdock jr., ’n pionier, en sewe ander Getuies in hegtenis geneem terwyl hulle in Jeanette gepreek het, ’n stad naby Pittsburgh, in die staat Pennsilvanië. Hulle is daaraan skuldig bevind dat hulle versuim het om ’n lisensie te koop om lektuur aan te bied. Toe hulle appèl aangeteken het, het die Amerikaanse Hooggeregshof ingestem om die saak te verhoor.
22 Op 3 Mei 1943 het die Hooggeregshof ’n beslissing ten gunste van die Getuies gelewer. Die Hof het die vereiste dat ’n lisensie verkry moet word, afgekeur, omdat dit ’n “prys [sou plaas] op ’n reg wat deur die federale grondwet beskerm word”. Die Hof het die stad se wet ongeldig verklaar omdat “dit persvryheid en godsdiensvryheid beperk”. Toe die regter William O. Douglas die Hof se meerderheidsuitspraak bekend gemaak het, het hy omtrent die bedrywighede van Jehovah se Getuies gesê: “Dit is meer as ’n predikingswerk; dit is meer as ’n verspreiding van godsdienslektuur. Dit is ’n kombinasie van al twee.” Hy het bygevoeg: “Hierdie vorm van godsdiensbedrywigheid beklee dieselfde hoë posisie . . . as aanbidding in die kerke en preke van die kansel af.”
23. Waarom is die regsoorwinnings van 1943 vandag vir ons belangrik?
23 Hierdie beslissing deur die Hooggeregshof was ’n groot regsoorwinning vir God se volk. Dit het bevestig wat ons werklik is—Christenbedienaars, nie kommersiële handelaars nie. Op daardie onvergeetlike dag in 1943 het Jehovah se Getuies 12 van hulle 13 sake in die Hooggeregshof gewen, insluitende die Murdock-saak. Hierdie hofbeslissings het as ’n kragtige presedent gedien in onlangser hofsake waarin ons teenstanders weer ons reg aangeval het om die Koninkryksboodskap in die openbaar en van huis tot huis te verkondig.
“Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”
24. Hoe reageer ons wanneer ’n regering ’n verbod op ons predikingswerk plaas?
24 As Jehovah se knegte waardeer ons dit baie wanneer regerings aan ons die wetlike reg verleen om die Koninkryksboodskap vryelik te verkondig. Maar wanneer ’n regering ’n verbod op ons predikingswerk plaas, pas ons eenvoudig ons metodes aan en sit ons ons werk op alle moontlike maniere voort. Soos die apostels, “moet [ons] eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Hand. 5:29; Matt. 28:19, 20). Terselfdertyd appelleer ons by die howe om die verbod op ons bedrywighede op te hef. Kyk na twee voorbeelde.
25, 26. Watter gebeure in Nicaragua het tot ’n saak in die land se Hooggeregshof gelei, en wat was die uitslag?
25 Nicaragua. Op 19 November 1952 het die sendeling en takkneg Donovan Munsterman in die Immigrasiekantoor in Managua, die hoofstad, ingeloop. Hy is beveel om voor kaptein Arnoldo García, die hoof van die kantoor, te verskyn. Die kaptein het vir Donovan gesê dat alle Getuies van Jehovah in Nicaragua “verbied word om voort te gaan met die verkondiging van hulle leerstellings en die bevordering van hulle godsdiensbedrywighede”. Toe Donovan gevra het waarom, het kaptein García verduidelik dat die Getuies nie toestemming van die regeringsminister het om hulle bediening uit te voer nie en dat hulle daarvan beskuldig word dat hulle kommuniste is. Wie het ons beskuldig? Die geestelikes van die Rooms-Katolieke Kerk.
26 Broer Munsterman het onmiddellik ’n beroep gedoen op die Departement van Regering en Godsdienste sowel as op president Anastasio Somoza García, maar tevergeefs. Gevolglik het die broers hulle metodes aangepas. Hulle het die Koninkryksaal gesluit, in kleiner groepe bymekaargekom en opgehou om straatgetuieniswerk te doen, maar hulle het nog steeds die Koninkryksboodskap verkondig. Terselfdertyd het hulle ’n versoek by die Hooggeregshof van Nicaragua ingedien, waarin hulle die Hof gevra het om die verbod nietig te verklaar. Koerante het wyd en syd berig gelewer oor die verbod en die inhoud van die versoek, en die Hooggeregshof het ingestem om die saak te verhoor. Wat was die uitslag? Op 19 Junie 1953 het die Hooggeregshof sy eenparige beslissing ten gunste van die Getuies gepubliseer. Die Hof het bevind dat die verbod die grondwetlike waarborg van vrye meningsuiting, gewetensvryheid en vrye godsdiensbeoefening skend. Dit het ook beveel dat verhoudings tussen die regering van Nicaragua en die Getuies tot hulle vorige toestand herstel word.
27. Waarom was die bevolking van Nicaragua verbaas oor die Hof se beslissing, en hoe het die broers hierdie oorwinning beskou?
27 Die bevolking van Nicaragua was verbaas dat die Hooggeregshof ten gunste van die Getuies beslis het. Tot op daardie stadium was die invloed van die geestelikes so sterk dat die Hof konflik met hulle vermy het. Boonop was die mag van regeringsamptenare so groot dat die Hof selde beslissings in stryd met die amptenare se besluite gelewer het. Ons broers was oortuig dat hulle hierdie oorwinning behaal het omdat hulle Koning hulle beskerm het en hulle aangehou preek het.—Hand. 1:8.
28, 29. Watter verandering het in die middel-1980’s in Zaïre plaasgevind?
28 Zaïre. In die middel-1980’s was daar omtrent 35 000 Getuies in Zaïre, nou die Demokratiese Republiek van die Kongo. Om tred te hou met die bestendige groei in Koninkryksbedrywighede, het die takkantoor nuwe fasiliteite gebou. In Desember 1985 is ’n internasionale byeenkoms in die hoofstad, Kinshasa, gehou, en 32 000 byeenkomsgangers uit baie dele van die wêreld het die stad se stadion gevul. Maar toe het toestande vir Jehovah se knegte begin verander. Wat het gebeur?
29 Broer Marcel Filteau, ’n sendeling van Quebec, Kanada, wat die vervolging van die Duplessis-bewind ondervind het, het destyds in Zaïre gedien. Hy het vertel wat gebeur het: “Op 12 Maart 1986 het die verantwoordelike broers ’n brief ontvang wat die vereniging van Jehovah se Getuies van Zaïre onwettig verklaar het.” Die verbod is geteken deur die land se president, Mobutu Sese Seko.
30. Watter belangrike besluit moes die Takkomitee neem, en wat het hulle besluit om te doen?
30 Die volgende dag het die nasionale radio aangekondig: “Ons sal nooit weer in [Zaïre] van Jehovah se Getuies hoor nie.” Die vervolging het onmiddellik begin. Koninkryksale is vernietig, en ons broers is beroof, in hegtenis geneem, opgesluit en geslaan. Selfs Getuiekinders is in die tronk gegooi. Op 12 Oktober 1988 het die regering beslag gelê op ons organisasie se besittings, en die Burgerwag, ’n afdeling van die leër, het die takkantoor in besit geneem. Die verantwoordelike broers het ’n beroep op president Mobutu gedoen, maar hulle het geen antwoord ontvang nie. Op hierdie stadium moes die Takkomitee ’n belangrike besluit neem: “Moet ons appèl by die Hooggeregshof aanteken of moet ons wag?” Timothy Holmes, wat ’n sendeling en destyds die koördineerder van die land se Takkomitee was, vertel: “Ons het ons tot Jehovah gewend vir wysheid en leiding.” Nadat hulle dit biddend oorweeg het, het die komitee besluit dat dit nie die regte tyd is om regstappe te doen nie. Hulle het hulle eerder daarop toegespits om na die broederskap om te sien en nuwe maniere te vind om die predikingswerk voort te sit.
“Gedurende daardie regsgeding het ons gesien hoe Jehovah dinge kan verander”
31, 32. Watter merkwaardige beslissing het die Hooggeregshof van Zaïre gelewer, en watter uitwerking het dit op ons broers gehad?
31 Etlike jare het verloop. Die Getuies het minder druk begin ondervind, en respek vir menseregte het in die land toegeneem. Die Takkomitee het besluit dat die tyd aangebreek het om by die Hooggeregshof van Zaïre appèl aan te teken teen die verbod. Die Hooggeregshof het verbasend genoeg ingestem om die saak te verhoor. Toe, op 8 Januarie 1993, byna sewe jaar ná die presidensiële verbod, het die Hof beslis dat die regering se optrede teen die Getuies onwettig was, en die verbod is opgehef. Dink net aan wat dit beteken het! Die regters het hulle lewe op die spel geplaas toe hulle ’n besluit van die land se president nietig verklaar het! Broer Holmes sê: “Gedurende daardie regsgeding het ons gesien hoe Jehovah dinge kan verander” (Dan. 2:21). Hierdie oorwinning het ons broers se geloof versterk. Hulle was oortuig dat die Koning, Jesus, sy volk gehelp het om te weet wanneer en hoe om op te tree.
32 Danksy die opheffing van die verbod is die takkantoor toegelaat om sendelinge in die land in te bring, nuwe takfasiliteite te bou en Bybellektuur in te voer.f Wat ’n vreugde is dit tog vir God se knegte regoor die wêreld om te sien hoe Jehovah die geestelike welsyn van sy volk beskerm!—Jes. 52:10.
“Jehovah is my helper”
33. Wat leer ons uit hierdie kort bespreking van ’n paar hofsake?
33 Ons bespreking van ’n paar regstryde bewys dat Jesus sy belofte nagekom het: “Ek sal aan julle ’n mond en wysheid gee, wat al julle teenstanders tesame nie sal kan weerstaan of betwis nie.” (Lees Lukas 21:12-15.) Soms het Jehovah klaarblyklik hedendaagse Gamaliëls gebruik om sy volk te beskerm of moedige regters en regsgeleerdes beweeg om vir geregtigheid op te kom. Jehovah het die wapens van ons teenstanders nutteloos gemaak. (Lees Jesaja 54:17.) Teenstand kan nie God se werk keer nie.
34. Waarom is ons regsoorwinnings so merkwaardig, en wat bewys dit? (Sien ook die venster “Noemenswaardige oorwinnings in Hooggeregshowe wat die Koninkrykspredikingswerk bevorder het”.)
34 Waarom is ons regsoorwinnings so merkwaardig? Dink hieraan: Jehovah se Getuies is nie vooraanstaande of invloedryke mense nie. Ons stem nie, ondersteun nie politieke kampanjes nie en probeer nie politici beïnvloed nie. Wat meer is, dié van ons wat by sake in hoër howe betrek word, word gewoonlik beskou as “ongeleerde en gewone mense” (Hand. 4:13). Uit ’n menslike oogpunt het die howe dus min rede om téén ons magtige politieke en godsdiensteenstanders te beslis en ons te help. Nietemin het howe herhaaldelik in ons guns beslis! Ons regsoorwinnings bewys dat ons “ten aanskoue van God, in gemeenskap met Christus,” wandel (2 Kor. 2:17). Daarom sê ons net soos die apostel Paulus: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie.”—Heb. 13:6.
a Hierdie saak, Cantwell v. State of Connecticut, was die eerste van 43 sake waarin broer Hayden Covington die broers voor die Amerikaanse Hooggeregshof verdedig het. Hy is in 1978 oorlede.Sy vrou, Dorothy, is in 2015 op 92-jarige ouderdom oorlede. Sy het Jehovah tot haar dood toe getrou gedien.
b Die beskuldiging was gegrond op ’n wet wat in 1606 aangeneem is. Dit het ’n jurie toegelaat om ’n persoon skuldig te verklaar as hulle gemeen het dat die persoon se woorde vyandigheid bevorder het—al was wat gesê is, waar.
c In 1950 het 164 voltydse bedienaars in Quebec gedien—insluitende 63 Gileadgegradueerdes wat hulle toewysing gewillig aanvaar het ondanks die hewige teenstand wat vir hulle voorgelê het.
d Broer W. Glen How was ’n moedige regsgeleerde wat van 1943 tot 2003 honderde regstryde vir Jehovah se Getuies in Kanada en ander lande op vaardige wyse gevoer het.
e Vir meer besonderhede oor hierdie saak, sien die artikel “Die stryd is nie julle s’n nie, maar God s’n” in die Ontwaak! van 22 April 2000, bladsye 18-24.
f Die Burgermag het uiteindelik die takkantoor verlaat; maar nuwe takfasiliteite is op ’n ander plek gebou.