123ste Gileadgraduering
Gileadgegradueerdes word aangespoor om te “begin grawe”
OP Saterdag, 8 September 2007, was ’n skare van 6 352 uit 41 lande teenwoordig by die graduering van die 123ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Die voorsitter van die program, Anthony Morris van die Bestuursliggaam, het die gehoor om 10:00 verwelkom. Ná ’n paar openingskommentare het hy die eerste spreker, Gary Breaux van die Verenigde State se Takkomitee, aan die woord gestel.
Broer Breaux het die studente verseker dat diegene wat Jehovah se wil doen, pragtig is in Sy oë, ongeag hulle voorkoms (Jer. 13:11). Hy het die gegradueerdes aangemoedig om daardie soort prag te behou. Toe het Gerrit Lösch van die Bestuursliggaam beklemtoon dat dit gepas is om op ’n beloning te hoop wanneer ons Jehovah dien (Heb. 11:6). Maar ons beweegrede moet onselfsugtige liefde wees.
Die opsiener van die Teokratiese Skole-afdeling, William Samuelson, het die gegradueerdes daarna aangemoedig om te bly by die waardige toewysing om die heersende Koning aan te kondig en om hulle waardigheid deur middel van hulle goeie gedrag te toon.a Sam Roberson, assistentopsiener van die Teokratiese Skole-afdeling, het die studente aangemoedig om altyd na die goeie in ander te soek. Dan sal hulle dit makliker vind om “lief [te wees] vir die hele gemeenskap van broers”.—1 Pet. 2:17.
Ná hierdie besielende toesprake het die Gileadinstrukteur Mark Noumair onderhoude gevoer met ’n aantal gegradueerdes wat ondervindinge vertel het wat hulle gedurende die Gileadkursus in die veldbediening gehad het. Hulle het geen twyfel by die gehoor gelaat oor hulle liefde vir die bediening en hulle begeerte om ander te help nie. Daarna het Kent Fischer van die Bethelkantoor by Patterson onderhoude gevoer met Takkomiteelede van drie lande wat sendelinge ontvang het. Die woorde van hierdie dierbare broers het die gehoor, wat baie gegradueerdes se ouers ingesluit het, verseker dat daar goed na nuwe sendelinge in hulle toewysings omgesien word. Izak Marais van die Vertaaldiensteafdeling het toe onderhoude gevoer met ’n paar ervare sendelinge, en hulle ondervindinge het die gegradueerdes ’n voorsmakie gegee van die vreugdes wat vir hulle voorlê.
Die hooftoespraak op die program, wat deur Geoffrey Jackson van die Bestuursliggaam gehou is, het gehandel oor die tema: “Ná alles wat jy gehoor het—Wat nou?” Broer Jackson, wat byna 25 jaar lank as ’n sendeling in die Stille Suidsee gedien het, het die slot van die Bergpredikasie bespreek. Jesus het in daardie toespraak gepraat van twee mans wat huise gebou het, een verstandig en die ander dwaas. Die spreker het daarop gewys dat albei huise in min of meer dieselfde omgewing kon gewees het. Maar die dwase man het sy huis op die oppervlak, op sand, gebou, terwyl die verstandige man gegrawe het totdat hy ’n rotsbodem gekry het waarop hy kon bou. Toe ’n hewige storm gekom het, het die huis wat op rots gebou is, bly staan, maar die een wat op sand gebou is, het ineengestort.—Matt. 7:24-27; Luk. 6:48.
Jesus het verduidelik dat die dwase man soos diegene was wat na Jesus se leringe geluister het, maar niks daaromtrent gedoen het nie. Die verstandige man was soos diegene wat nie net na Jesus se woorde geluister het nie, maar dit ook toegepas het. Broer Jackson het vir die gegradueerdes gesê: “Wanneer julle in die sendingveld toepas wat julle deur middel van Bybelstudie geleer het, sal julle soos die verstandige man wees.” Ten slotte het hy die studente dus aangespoor om te “begin grawe” in hulle sendingtoewysings.
Uiteindelik het die gegradueerdes hulle diplomas en toewysings ontvang, en broer Morris het ’n paar slotopmerkings gemaak. Hy het hulle aangemoedig om Jesus altyd te volg en om nooit op te hou om op Jehovah te vertrou vir krag nie. Die gradueringsprogram het toe tot ’n einde gekom.
[Voetnoot]
a Die Teokratiese Skole-afdeling, onder die toesig van die Onderrigtingskomitee, hou toesig oor Gilead, die skool vir Takkomiteelede en die skool vir reisende opsieners.
[Venster op bladsy 31]
KLASSTATISTIEK
Aantal lande verteenwoordig: 10
Aantal lande waarheen gestuur: 24
Aantal studente: 56
Gemiddelde ouderdom: 33,5
Gemiddelde jare in waarheid: 17,9
Gemiddelde jare in voltydse diens: 13,8
[Prent op bladsy 32]
123ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Esparza, E.; Papaya, S.; Bilal, A.; Suárez, M.; Evers, E.; Dimichino, K. (2) Rosa, M.; Fujii, R.; Ratey, O.; Leveton, J.; Van Leemputten, M. (3) Boscaino, A.; Beck, K.; Budanov, H.; Braz, C.; Peltz, K.; Siaw, A. (4) Leveton, S.; Santikko, H.; Conte, S.; Wilson, J.; Rylatt, J.; Pierce, S.; Fujii, K. (5) Rosa, D.; Boscaino, M.; Austin, V.; Rodiel, P.; Bilal, P.; Dimichino, P. (6) Ratey, B.; Czyzyk, D.; Clarke, C.; Riedel, A.; Esparza, F.; Siaw, P.; Van Leemputten, T.(7) Rodiel, J.; Evers, J.; Green, J.; Czyzyk, J.; Santikko, M.; Rylatt, M. (8) Peltz, L.; Austin, D.; Riedel, T.; Beck, M.; Pierce, W.; Conte, S.; Green, S. (9) Suárez, J.; Clarke, J.; Papaya, S.; Budanov, M.; Wilson, R.; Braz, R.