Saterdag 12 September
Wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat aandring op ’n rede vir die hoop wat julle het. – 1 Pet. 3:15.
Ouers, berei jou kind voor om sy geloof in ’n Skepper te verdedig. Dit kan julle help om die artikels op jw.org in die reeks “Jongmense vra – Skepping of evolusie?” saam te bespreek. Bespreek dan die redenasie wat jou kind voel die beste sal werk om ander te help om die waarheid oor die Skepper te verstaan. Moedig hom aan om op ’n eenvoudige en logiese manier te redeneer as iemand graag oor die onderwerp wil praat. Byvoorbeeld, ’n skoolmaat sê dalk: “Ek glo net in dit wat ek kan sien, en ek het God nog nooit gesien nie.” ’n Jong Christen kan sê: “Sê nou jy loop deur ’n woud ver van enige stad of dorp en jy sien ’n waterput wat met klippe gebou is. Wat sou jy dink? As die feit dat daar ’n put is, duidelik bewys dat ’n intelligente persoon dit gemaak het, hoeveel te meer wanneer dit kom by die bestaan van die heelal!” w24.12 18 ¶16
Sondag 13 September
Word wysheid nie by die bejaardes gevind nie, en kom insig nie met die ouderdom nie? – Job 12:12.
Ons almal het leiding nodig om belangrike besluite in die lewe te maak. Ons kan baie van daardie leiding by ouermanne en ander volwasse Christene kry. As hulle baie ouer as ons is, moet ons nie outomaties dink dat hulle raad outyds is nie. Jehovah wil hê dat ons by ouer persone moet leer. Hulle het baie meer tyd as ons gehad om ondervinding, insig en wysheid op te doen. In Bybeltye het Jehovah getroue ouer persone gebruik om sy volk aan te moedig en te lei. Dink byvoorbeeld aan Moses, Dawid en die apostel Johannes. Hulle het op verskillende tye gelewe, en hulle omstandighede was baie anders. Soos hulle nader aan die einde van hulle lewe gekom het, het hulle wyse raad aan jonger persone gegee. Elkeen van hierdie getroue ouer mans het beklemtoon hoe belangrik dit is om aan God gehoorsaam te wees. Ons kan baat vind by hulle raad, of ons nou jonk of oud is. – Rom. 15:4; 2 Tim. 3:16. w24.11 8 ¶1-2
Maandag 14 September
As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. – Joh. 6:53.
In Noag se dag het God mense verbied om bloed te eet (Gen. 9:3, 4). Jehovah het daardie bevel in sy Wet aan Israel herhaal. Enige iemand wat bloed geëet het, moes “doodgemaak word” (Lev. 7:27). Jesus het die Jode geleer om al God se wette te gehoorsaam (Matt. 5:17-19). So hy sou nooit vir daardie Jode gesê het om sy letterlike vlees te eet of om die bloed in sy are te drink nie. Jesus het in ’n figuurlike sin gepraat, soos hy vroeër gedoen het toe hy vir ’n Samaritaanse vrou gesê het: “Die water wat ek . . . sal gee, sal . . . die ewige lewe . . . gee” (Joh. 4:7, 14). Jesus het nie gesê dat die Samaritaanse vrou die ewige lewe sou kry deur net ’n bietjie water van ’n spesifieke put te drink nie. Net so het hy nie gesê dat die skare met wie hy in Kapernaum gepraat het vir ewig sou lewe as hulle sy letterlike vlees geëet het en sy letterlike bloed gedrink het nie. w24.12 9 ¶4-6