-
Markus 12:13-17Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
-
-
13 Daarna het hulle party van die Fariseërs en van Herodes se ondersteuners na hom toe gestuur sodat hulle Jesus kon kry om iets te sê wat hulle teen hom kan gebruik.+ 14 Toe hulle daar aankom, het hulle vir hom gesê: “Leermeester, ons weet dat u opreg is en niemand se goedkeuring soek nie, want u kyk nie na mense se uiterlike nie, maar u leer die waarheid oor God se weg. Is dit reg om hoofbelasting aan die keiser te betaal of nie? 15 Moet ons betaal of moet ons nie betaal nie?” Hy het geweet dat hulle skynheilig is en het vir hulle gesê: “Hoekom toets julle my? Bring vir my ’n denaʹrius* om na te kyk.” 16 Hulle het een gebring, en hy het vir hulle gevra: “Wie se beeld en titel is hierop?” Hulle het vir hom gesê: “Die keiser s’n.” 17 Jesus het toe gesê: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort,+ maar aan God wat aan God behoort.”+ En hulle was verstom oor wat hy gesê het.
-
-
Lukas 20:20-26Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
-
-
20 Nadat hulle hom fyn dopgehou het, het hulle manne gestuur wat in die geheim gehuur is om voor te gee dat hulle regverdig is. Hulle wou hom kry om iets te sê wat hulle teen hom kan gebruik,+ sodat hulle hom aan die regering en aan die gesag van die goewerneur kan oorlewer. 21 Hulle het vir hom gesê: “Leermeester, ons weet dat die dinge wat u sê en aan ander leer, reg is en dat u nie partydig is nie, maar dat u die waarheid oor God se weg leer. 22 Is dit reg vir ons om belasting aan die keiser te betaal of nie?” 23 Maar hy het geweet dat hulle slinks is en het vir hulle gesê: 24 “Wys vir my ’n denaʹrius.* Wie se beeld en titel is hierop?” Hulle het gesê: “Die keiser s’n.” 25 Hy het vir hulle gesê: “Betaal dan aan die keiser wat aan die keiser behoort,+ maar aan God wat aan God behoort.”+ 26 Hulle kon hom nie kry om iets voor die volk te sê wat hulle teen hom kon gebruik nie, maar hulle was verbaas oor sy antwoord en het niks gesê nie.
-