Die eerste boek van Samuel
11 Toe het Nahas, die Ammoniet,+ opgetrek om teen Jabes+ in Giʹlead te veg. Al die manne van Jabes het vir Nahas gesê: “Maak ’n verbond* met ons, en ons sal u dien.” 2 Toe het Nahas, die Ammoniet, vir hulle gesê: “Ek sal ’n verbond met julle maak op die voorwaarde dat ek die regteroog van elkeen van julle uitsteek. Ek sal dit doen om die hele Israel te verneder.” 3 Die ouermanne van Jabes het vir hom gesê: “Gee ons sewe dae, sodat ons boodskappers deur die hele gebied van Israel kan stuur. Dan, as daar niemand is om ons te red nie, sal ons ons aan u oorgee.” 4 Ná verloop van tyd het die boodskappers by Giʹbea,+ Saul se woonplek, gekom en toe hulle vir die volk hierdie woorde sê, het die hele volk kliphard begin huil.
5 Maar Saul het van die veld af gekom, en hy was agter die beeste. Hy het gevra: “Wat makeer die volk? Hoekom huil hulle?” Toe het hulle vir hom vertel wat die manne van Jabes gesê het. 6 Die gees van God het Saul krag gegee+ toe hy hierdie woorde hoor, en hy het woedend geword. 7 Daarom het hy ’n paar bulle geneem en hulle in stukke gesny, en hy het dit met boodskappers deur die hele gebied van Israel gestuur. Hulle het gesê: “Elkeen wat Saul en Samuel nie volg nie, moet verwag dat dít met sy beeste gedoen sal word!” En Jehovah het die volk bang laat word, en hulle het soos een man uitgekom. 8 Toe het hy hulle in Beʹsek getel, en daar was 300 000 Israeliete en 30 000 manne van Juda. 9 Hulle het toe vir die boodskappers wat gekom het, gesê: “So moet julle vir die manne van Jabes in Giʹlead sê: ‘Wanneer die son môre op sy hoogste is,* sal julle gered word.’” Toe het die boodskappers gekom en dit vir die manne van Jabes vertel, en hulle was baie bly. 10 Die manne van Jabes het dus vir die Ammoniete gesê: “Môre sal ons ons aan julle oorgee, en julle kan aan ons doen wat julle ook al wil.”+
11 Die volgende dag het Saul die manne in drie afdelings verdeel, en hulle het gedurende die oggendwaak* in die kamp ingegaan en die Ammoniete+ doodgemaak totdat die son op sy hoogste was. Dié wat oorleef het, is verstrooi, en elke man wat weggekom het, het alleen weggekom. 12 Toe het die volk vir Samuel gesê: “Waar is daardie manne wat gesê het: ‘Saul moenie ons koning wees nie’?+ Lewer hulle aan ons oor, en ons sal hulle doodmaak.” 13 Saul het egter gesê: “Niemand moet vandag doodgemaak word nie,+ want vandag het Jehovah Israel gered.”
14 Samuel het later vir die volk gesê: “Kom, laat ons na Gilgal+ gaan sodat ons Saul se koningskap weer kan bevestig.”+ 15 Die hele volk het na Gilgal gegaan, en in Gilgal het hulle Saul voor Jehovah koning gemaak. Toe het hulle daar voor Jehovah vrede-offers* gebring,+ en Saul en al die manne van Israel het vreugdevol feesgevier.+