Jona
1 Dít is die woord van Jehovah aan Jona,*+ die seun van Amitʹtai: 2 “Staan op, gaan na Niʹneve+ die groot stad, en verkondig oordeel teen die stad, want ek weet van hulle slegtheid.”
3 Maar Jona het opgestaan om na Tarsis te vlug, weg van Jehovah af. Hy het na Joppe gegaan en ’n skip gevind wat na Tarsis gaan. Toe het hy vir die reis betaal en op die skip geklim om saam met hulle na Tarsis te gaan, weg van Jehovah af.
4 Toe het Jehovah ’n sterk wind oor die see laat opkom, en daar was so ’n groot storm op die see dat die skip op die punt was om te vergaan. 5 Die seemanne was so bang dat elkeen van hulle tot sy god om hulp begin roep het. En hulle het die goed wat in die skip was, in die see begin gooi om dit ligter te maak.+ Maar Jona het na die onderste deel van die skip gegaan, en hy het daar gaan lê en vas aan die slaap geraak. 6 Die skeepskaptein het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Hoekom slaap jy? Staan op, roep tot jou god! Miskien sal die ware God toon dat hy vir ons omgee en sal ons nie doodgaan nie.”+
7 Toe het hulle vir mekaar gesê: “Kom ons werp die lot+ om uit te vind wie vir hierdie ramp blameer moet word.” Hulle het toe die lot gewerp, en die lot het op Jona geval.+ 8 Hulle het vir hom gesê: “Sê asseblief vir ons of dit jou skuld is dat hierdie ramp ons getref het. Wat is jou werk, en waar kom jy vandaan? Uit watter land kom jy, en van watter volk is jy?”
9 Hy het geantwoord: “Ek is ’n Hebreër, en ek vrees* Jehovah, die God van die hemel, die Een wat die see en die droë grond gemaak het.”
10 Toe die manne dit hoor, het hulle nog banger geword, en hulle het vir hom gevra: “Wat het jy gedoen?” (Die manne het uitgevind dat hy van Jehovah af weggehardloop het, omdat hy hulle vertel het.) 11 Hulle het toe vir hom gevra: “Wat moet ons met jou doen om die see vir ons te laat bedaar?” Want die see het al hoe stormagtiger geword. 12 Hy het geantwoord: “Tel my op en gooi my in die see, en die see sal vir julle bedaar, want ek weet dat hierdie groot storm weens my oor julle gekom het.” 13 Maar die manne het hard geroei* om die skip na die droë grond terug te bring, maar hulle kon nie, want die see het al hoe stormagtiger om hulle geword.
14 Toe het hulle tot Jehovah geroep en gesê: “Ag, o Jehovah, moet ons asseblief nie weens hierdie man laat doodgaan nie! Moet ons nie verantwoordelik hou vir onskuldige bloed nie, want u het gedoen wat u gedink het goed is, o Jehovah!” 15 Toe het hulle Jona opgetel en hom in die see gegooi, en die woede van die see het bedaar. 16 Die manne is toe met groot vrees vir Jehovah gevul,+ en hulle het ’n offerande aan Jehovah gebring en geloftes gemaak.
17 Jehovah het toe ’n groot vis gestuur om Jona in te sluk, en Jona was drie dae en drie nagte in die vis se maag.+