“Die onderstebo boom”
DIT is ’n bynaam vir Afrika se baobab. Wanneer dit met blare en blomme bedek is, is die baobab ’n pragtige gesig. Maar in die winter steek die kort, kaal takke by die dik stam uit en lyk dit soos die wortels van ’n omgekeerde boom.
’n Groep baobabs in Noord-Botswana word die Sewe Susters genoem. Kunstenaar-ontdekkingsreisiger Thomas Baines het dit in die 19de eeu geskilder. Wanneer ’n mens Baines se skildery wat meer as ’n eeu gelede geskilder is met die bome vergelyk soos hulle vandag lyk, kan ’n mens baie min verskille sien.
Dit toon hoe sterk en langlewend die baobab is. Volgens skatting is die grootste bome duisende jare oud. Die baobab aard goed in die warm, droë streke van Afrika en het baie lewensonderhoudende eienskappe. Daar is krytwit sade in die peule, wat soos kremetart proe. Olifante hou daarvan om die bas en die sagte hout wat ’n hoë voggehalte het, te eet. Trouens, daar is soms reënwater in die holtes waar takke bymekaarkom en in holtes wat in die boom gevorm word.
Nog ’n indrukwekkende kenmerk van die baobab is sy geweldige omvang. Volgens berig is die grootste van hierdie reuse teen die suidelike hang van die berg Kilimandjaro in Tanzanië geleë; dit het ’n omtrek van 28 meter. Een hol baobab in Zimbabwe is as ’n bushuisie gebruik en meer as 30 mense kon daarin sit.
Dit is ’n paradoks dat die intelligente mens ’n skrale sewentig jaar lewe terwyl “die onderstebo boom” duisende jare lank kan lewe. Gelukkig weet ons met sekerheid dat die Skepper van alle lewende dinge sy belofte dat die dae van sy volk “soos die dae van die bome” sal wees ten volle sal vervul.—Jesaja 65:22; Psalm 90:10.