Van ons lesers
Ontwaak! het verbeter Ek het onlangs ’n eksemplaar van die Ontwaak! van 8 April 1994 in my gaasdeur gekry. Sjoe! Wat het gebeur? Julle het ’n moderne, leersame publikasie vir die negentigerjare geskep. Ek dink die oorgang is ongelooflik, en vir die eerste keer het ek wel die artikels gelees. (Ek sou gewoonlik dink: ‘O, hulle was al weer hier’, en dit dan weggooi.) Daar was iets vir almal. Ek het veral die artikels oor kanker en oor “Kanada se luisterryke ‘bewegende pad’” geniet. Julle is op die regte spoor. Hou aan met die goeie werk, en ek belowe dat ek nie ’n tydskrif sal weggooi voordat ek dit gelees het nie.
D. G., Verenigde State
Geografiese verwarring In julle artikels van 22 Oktober 1994 oor sendelinge, met die titel “Weswaarts na Europa”, sê julle dat Bonifacius ‘dit gewaag het om die heilige eik van Thor af te kap’ by Geismar, naby Göttingen, Duitsland. Sover ek weet, is die Geismar onder bespreking nie naby Göttingen nie, maar wel naby Fritzlar.
A. L., Duitsland
Jy is heeltemal reg. Daar is blykbaar twee plekke wat Geismar genoem word, en ons het die twee met mekaar verwar. Dankie dat jy ons op die fout gewys het.—RED.
Godsdiens en oorlog Julle reeks oor “Wanneer godsdiens kant kies in oorlog” van 22 Oktober 1994 het bespreek wat julle beskou as ’n versuim van die Katolieke leiers om oorlog onomwonde af te keur. Maar die geskiedenis toon iets anders. Toe Hitler Duitse Jode begin vervolg het, het kardinaal Faulhaber van München die Jode in sy preke verdedig. Ander dapper geestelikes het die Nazi-wette wat ondertrouery tussen “Ariërs” en Jode verbied het onomwonde afgekeur. Ná die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitgebreek het, het Hitler Katolieke skole gesluit, die Katolieke pers onderdruk en, in Pole, alle kloosters en seminaries gesluit.
J. L., Verenigde State
Die artikels is op eerlike en hoog aangeskrewe bronne gebaseer. Die boek “German Catholics and Hitler’s Wars” is byvoorbeeld geskryf deur Gordon C. Zahn, wat ’n Katolieke professor is. Om eerlik te wees, die getuienis is oorweldigend dat die Katolieke hiërargie ten minste in die vroeë stadium algehele steun aan die Nazi-party gegee het. Dit beteken nie dat daar nie party individuele Katolieke geestelikes was wat die Nazi’s teëgestaan het nie. Maar hulle was beslis uitsonderings.—RED.
Borsvoeding Julle artikel “Die basiese feite oor borsvoeding” (22 Augustus 1994) het meer inligting verskaf as julle vorige artikels oor hierdie onderwerp. Vaders laat dit meestal aan hulle vrouens oor om dit te laat slaag of nie. Maar julle artikel het eintlik vir vaders en ander gesinslede gesê hoe hulle kan help sodat borsvoeding suksesvol sal wees.
D. D., Verenigde State
Ek het die wonderlike ervaring gehad om albei my kinders te borsvoed. In die begin was daar probleme, soos seerheid, maar met die aanmoediging van my suster en raad van my dokter het ek die probleem oorkom. Ek wil elke moeder wat kan, aanmoedig om te borsvoed, aangesien die innige binding tussen moeder en kind ’n fassinerende ervaring is wat ’n mens nooit vergeet nie.
U. B., Duitsland
Raaiselagtige siekte Ek is al van vyfjarige ouderdom af ’n leser van julle tydskrifte en ek het die artikel oor “Guam se raaiselagtige siektes” (8 Augustus 1994) regtig waardeer. My moeder, wat tot haar dood in 1972 ’n getroue dienaar van God was, was ’n slagoffer van hierdie siekte. Ek wil julle bedank vir die inligting en die deeglike verduideliking wat julle gegee het. Ek het hierdie eksemplaar vir my familie en vriende gewys om die waarde van julle tydskrif te toon.
W. A., Verenigde State