Van ons lesers
Getuies se byeenkomste Dankie vir die ondervinding getiteld “’n Dag wat haar lewe verander het” (22 Maart 1995). Die ondervinding van die jong vrou wie se tante haar na ’n spesiale byeenkomsdag van Jehovah se Getuies genooi het, het my daaraan herinner dat dieselfde met my gebeur het. Ek het my eerste byeenkoms in die somer van 1985 bygewoon, nadat my broer my uitgenooi het. My aanvanklike wantroue is gou deur ’n gevoel van warmte vervang; dit het gevoel asof ek in die middel van ’n groot familie was. Ek het besluit om met my studie van die Bybel voort te gaan, en vandag is ek ’n gewone pionier, ’n voltydse evangeliedienaar.
E. F., Italië
Skuld Dankie vir julle artikel “Betaal dit om skuld te maak?” (8 Junie 1995). Ek is net 13 jaar oud, maar ek het nie goed met my geld gewerk nie. Ek dink dat hierdie artikel my baie sal help.
C. A., Verenigde State
Slawerny As ’n swart Amerikaanse vrou het ek die reeks artikels “Die kettings en trane van slawerny” van 8 Junie 1995 baie waardeer. Die voorbladfoto het my laat huil. Ek was ontroer deur die feit dat julle die moed gehad het om hierdie skandelike feite van die geskiedenis te bespreek. Die artikel is met baie deernis aangebied en was baie leersaam.
B. M., Verenigde State
Die artikel het net op die regte tyd verskyn, aangesien ons besig was om die onderwerp in die geskiedenisklas te bespreek. Ek het die artikel gebruik om opsionele huiswerk te voltooi en het goeie punte gekry. Ek het ook baie jammer gevoel vir die slawe.
M. C., Duitsland
Lewensverhaal “My suksesvolle soeke na die betekenis van die lewe” (22 Mei 1995) was ’n baie roerende artikel. Harold Dies se verhaal het my help besluit of ek die voltydse bediening moet betree. Ek het ook die geleentheid gehad om Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, te besoek en ek was baie beïndruk. Ek gaan nou beslis die voltydse diens betree!
A. C., Verenigde State
Vergewe en vergeet Dankie vir die uitstekende artikel “Die Bybelse beskouing: Vergewe en vergeet—Hoe is dit moontlik?” (8 Junie 1995). Ek het altyd gewonder of die Bybel iets onmoontliks van onvolmaakte mense verwag. Maar ek verstaan nou wat dit beteken om te vergewe en te vergeet. Die artikel het bygedra tot my oortuiging dat God se gebooie nie swaar is nie.
C. I. C., Nigerië
Ek moes net skryf en vir julle sê hoeveel ek die artikel waardeer. As ’n jong kind is ek seksueel deur twee van my ooms gemolesteer. Later is ek deur my man misbruik en mishandel. Toe ek ’n Christen geword het, het ek probeer om liefde te bewys en vergewensgesind te wees. Maar ek kon nooit met eerlikheid sê dat ek hierdie drie persone wat my baie jare lank leed veroorsaak het, vergewe het nie. Ek besef nou dat daar sekere dinge is wat aan Jehovah oorgelaat moet word, en ek kan met my lewe voortgaan. Openbaring 21:4 verseker my dat hierdie diep pyn wat ek het binnekort weg sal wees.
A. B., Verenigde State
Ek het die artikel nou net klaar gelees, en ek het nog nooit nader aan Jehovah God gevoel as op hierdie oomblik nie. ’n Tyd gelede was ek betrokke by ’n ernstige sonde waarvoor ek die hulp van die gemeentelike ouer manne gesoek het. Hoewel ek vriendelike, liefdevolle raad van hulle ontvang het, het ek steeds teruggehou om in gebed met Jehovah te praat. Hierdie artikel het my die duideliker begrip van hoe ons hemelse Vader vergewe en vergeet gegee wat ek so dringend nodig gehad het. Dit het my in staat gestel om hom vryelik in opregte gebed te nader—’n voorreg wat ek dwaas genoeg was om te vermy. Ek dank Jehovah dat hy my my “voedsel op die regte tyd” gegee het.—Matteus 24:45.
D. J. S., Verenigde State