’n Voorbeeld om na te volg
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN CHILI
Giacomo Castelli het ’n woonstel in Antofagasta, ’n stad met ongeveer 170 000 inwoners, in die noorde van Chili. Verlede Junie het hy van sy balkon af ’n groep mense in ’n plaaslike park dopgehou. “Dit was ongelooflik om te sien hoe tieners saam met hulle ouers lag en ’n genotvolle tydjie deurbring”, het hy in ’n brief aan die koerant El Mercurio geskryf. Om seker te maak van hierdie ongewone gesig, het hy afgegaan na die park toe.
“Daar het nog ’n verrassing op my gewag”, het die nuuskierige skrywer gesê. “Toe van die gesinne klaar geëet het, het ’n ieder en ’n elk begin om dit wat per ongeluk op die grasperk laat val is op te tel en in sy eie vullissak te gooi . . .
“Ek wou weet wie hierdie ongewone mense was”, het die skrywer verder gesê. “Ek het na ’n meisie toe gestap wat mooi genoeg was om enige skoonheidswedstryd te wen, en sy het baie vriendelik vir my gesê: ‘Ons is Jehovah se Getuies, en ons is by die Regional-stadion byeen vir ’n byeenkoms.’” Gedurende die middagpouse het groepe van die kringbyeenkoms af, wat deur meer as 3000 mense bygewoon is, daar na die park toe gegaan om hulle middagete te geniet.
“Ek is ’n Apostoliese Rooms-Katoliek”, het die skrywer gesê. “Ek woon die heilige mis getrou by en het jare gelede selfs ’n pelgrimstog na Lourdes, in Frankryk, onderneem.
“Maar ter wille van my diepgaande Christelike opvoeding moet ek my eerlik afvra: Wat het hulle wat ons as Katolieke, die godsdiens van die meerderheid in Chili, nie het nie? Waarom lyk hierdie tieners so gemaklik by hulle ouers terwyl my drie dogters op die vlug slaan wanneer ek selfs net voorstel dat ons saam uitgaan?
“Waarom is ons Katolieke kinders gewelddadig; waarom skreeu hulle en speel hulle ‘Power Rangers’ en slaan dan ander kinders, . . . terwyl hierdie kinders vreedsaam, op ’n beskaafde manier opgewek en omgewingsbewus is? Waarom kan ons as Katolieke nie bymekaarkom sonder om by die verfoeilike kommersialisme betrokke te raak wat ons allerheiligste godsdiensplekke soos die heiligdomme by La Tirana, Andacollo en ander plekke omring nie?”
Die skrywer, mnr. Castelli, het sy brief aan die koerant afgesluit met die vraag: “Sal diegene van ons wat ons as Katolieke en Christene beskou ooit soos hulle word? Mag God en die Maagd ons help om dit te doen.”