Terreuraanval in Moembaai—Hulle het dit oorleef
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË
DIE stad Moembaai, wat tevore as Bombaai bekend gestaan het, het ’n snelgroeiende bevolking van meer as 18 miljoen. Tussen sesmiljoen en sewemiljoen van hierdie bewoners reis daagliks op vinnige en gereelde voorstedelike treine na hulle werksplek, na skole en kolleges, na winkels of na plaaslike besienswaardighede. Gedurende spitstye vervoer elke stampvol trein, wat nege waens het, omtrent 5 000 passasiers, hoewel hulle normaalweg vir net 1 710 passasiers plek het. Dit was tydens so ’n spitstyd op 11 Julie 2006 dat die treine in Moembaai die teiken van terroriste geword het. In minder as 15 minute het sewe bomme op verskillende treine op die Westelike Spoorweg ontplof en meer as 200 mense se lewens geëis en 800 beseer.
’n Hele paar lede van die 22 gemeentes van Jehovah se Getuies in Moembaai en sy voorstede reis gereeld met die treine en was op dié wat aangeval is. Gelukkig het nie een van hulle hulle lewe verloor nie, maar baie is beseer. Anita was op pad huis toe van die werk af. Die trein was vol, en daarom het sy naby die deur van die eersteklaskompartement gestaan sodat sy maklik kon afklim. Terwyl die trein voortgesnel het, was daar skielik ’n hewige ontploffing, en haar kompartement het vol swart rook geraak. Toe sy by die deur uitleun en regs kyk, het sy gesien dat die metaalwand van die volgende kompartement weggeruk is en dat dit teen ’n hoek van 45 grade van die bak van die trein afhang. Sy is met afgryse vervul toe sy sien hoe liggame en liggaamsdele by die gat uitval en op die treinspoor beland. Ná wat vir haar soos ’n ewigheid gevoel het—maar in werklikheid net ’n paar sekondes was—het die trein tot stilstand gekom. Sy het saam met ander passasiers op die treinspoor afgespring en gehardloop om ver van die trein af weg te kom. Anita het haar man, John, op haar selfoon gebel en het gelukkig na hom deurgekom; binne minute was die hele stad se telefoonstelsel oorlaai met angstige mense wat mekaar bel. Sy was redelik kalm totdat sy met haar man gepraat het. Toe het sy in trane uitgebars. Sy het hom vertel wat gebeur het en hom gevra om haar te kom haal. Terwyl sy op hom gewag het, het dit swaar begin reën, en baie van die bewyse wat vir die speurders nuttig sou gewees het, is weggespoel.
Claudius, nog een van Jehovah se Getuies, het sy kantoor vroeër as gewoonlik verlaat. Hy het op die 17:18-trein geklim by Churchgate-stasie, die stedelike terminus van die Westelike Spoorweg, en na ’n eersteklaskompartement gegaan. Terwyl hy na ’n sitplek gesoek het vir die uur lange rit na Bhayandar-stasie, het hy Joseph, van ’n nabygeleë gemeente van Jehovah se Getuies, gesien. Die tyd het vinnig verbygegaan terwyl die twee gesit en gesels het. Toe het Joseph, wat moeg was van die dag se werk, ’n uiltjie geknip. Aangesien die trein stampvol was, het Claudius by die stasie voor syne opgestaan om nader aan die deur te beweeg. Terwyl Claudius daar gestaan het, het Joseph wakker geword en oor die agterkant van sy sitplek geleun om totsiens te sê. Claudius het vasgehou aan ’n reling aan die sitplek en oorgeleun om met hom te praat. Dít het moontlik Claudius se lewe gered. Skielik was daar ’n groot geraas. Die kompartement het hewig geskud, vol rook geraak en heeltemal donker geword. Claudius is op die vloer neergegooi tussen rye sitplekke, en behalwe vir ’n gesuis in sy ore het dit gevoel asof hy sy gehoor verloor het. Waar hy vroeër gestaan het, was daar net ’n gapende opening. Die passasiers wat langs hom gestaan het, het óf op die spoor geval óf dood op die vloer gelê. Hy het die vyfde van sewe ontploffings oorleef wat die spoorwegstelsel daardie noodlottige Dinsdag getref het.
Claudius is hospitaal toe geneem, met bloed oral op sy klere. Maar dit was hoofsaaklik die bloed van ander passasiers wat nie so gelukkig soos hy was nie. Hy het net ligte beserings opgedoen—’n gebarste oordrom, brandwonde op een hand en geskroeide hare. By die hospitaal het hy Joseph en Joseph se vrou, Angela, raakgeloop, wat nie beseer is nie, aangesien sy in die volgende kompartement was wat vir dames gereserveer is. Joseph se regteroog is beseer en hy het gehoorverlies opgedoen. Hierdie drie Getuies het Jehovah gedank dat hulle nog lewe. Claudius het gesê dat sy eerste gedagte toe hy bygekom het, was: ‘Hoe tevergeefs is dit tog om geld en materiële voorspoed in hierdie stelsel na te jaag wanneer jou lewe in ’n oomblik uitgeblus kan word!’ Hy was bly dat hy sy verhouding met sy God, Jehovah, die belangrikste ding in sy lewe gemaak het!
Die stad Moembaai het binne ’n kort tydperk onder hewige vloede, oproere en toe die bomontploffings deurgeloop. Nogtans het die meer as 1 700 Getuies wat daar woon, ’n goeie, ywerige gees. Hulle vertel hulle bure gereeld van die wonderlike hoop van ’n nuwe wêreld, waar alle geweld iets van die verlede sal wees.—Openbaring 21:1-4.
[Lokteks op bladsy 23]
Waar hy vroeër gestaan het, was daar net ’n gapende opening
[Prent op bladsy 23]
Anita
[Prent op bladsy 23]
Claudius
[Prent op bladsy 23]
Joseph en Angela
[Foto-erkenning op bladsy 22]
Sebastian D’Souza/AFP/Getty Images