“Ons moet jou laat gaan”
DIE bestuur het hom Fantastiese Fred genoem.a Sy nuwe idees het die maatskappy ’n fortuin gespaar gedurende die ses jaar wat hy daar gewerk het. Toe hy dus na ’n bestuurder se kantoor geroep is, het Fred verwag dat hy ’n verhoging of bevordering sou kry. Maar in plaas daarvan het die bestuurder uit die bloute aangekondig: “Ons moet jou laat gaan.”
Fred kon sy ore nie glo nie. “Ek het ’n goeie salaris verdien en my werk geniet, maar in een oomblik het alles ineengestort”, sê hy. Later, toe Fred sy vrou, Adele, vertel wat gebeur het, was sy net so geskok. “Dit het gevoel of my wêreld tot ’n einde kom”, sê sy. “‘Wat gaan ons nou doen?’ het ek gedink.”
Wat met Fred gebeur het, het met miljoene ander gebeur, soos die bygaande grafiese voorstelling toon. Maar syfers alleen kan nie die verpletterende emosionele uitwerking van werkloosheid weergee nie. Neem byvoorbeeld Raúl, ’n immigrant van Peru wat afgedank is nadat hy 18 jaar lank by ’n groot hotel in die stad New York gewerk het. Raúl het werk gesoek, maar tevergeefs. “Ek het byna 30 jaar lank vir my gesin gesorg”, sê hy. “Nou het ek gevoel dat ek as ’n man misluk het.”
Raúl se ondervinding lig ’n feit toe waarmee werkloses goed bekend is—dat dit nie net finansiële druk veroorsaak as ’n mens jou werk verloor nie. Dit tref jou dikwels tot in jou diepste wese. “Ek het waardeloos begin voel”, sê Renée, wie se man, Matthew, meer as drie jaar lank nie werk gehad het nie. “As jy niks het nie, behandel mense jou asof jy niks is nie, en kort voor lank begin jy jouself beskou soos hulle jou beskou.”
Asof die emosionele druk nie genoeg is nie, kom elke persoon wat sy werk verloor, te staan voor die verdere uitdaging om met minder klaar te kom. “Toe ons die geld gehad het, het ons nooit daaraan gedink om ons lewe te vereenvoudig nie”, sê Fred. “Maar toe ons nog dieselfde uitgawes gehad het—en nog steeds geen werk gehad het nie—het ons geen keuse gehad as om ’n eenvoudiger lewe te lei nie.”
Terwyl jy na werk soek, moet jy die bekommernis en emosionele angstigheid verwerk wat deur werkloosheid veroorsaak word. Jy moet dalk ook met minder klaarkom. Kom ons kyk eers na twee praktiese stappe wat jy kan doen om die emosionele uitdagings die hoof te bied.
[Voetnoot]
a Van die name in hierdie reeks is verander.
[Grafiek op bladsy 3]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die getal werklose mense in 2008 in net drie lande
Japan 2 650 000
Spanje 2 590 000
Verenigde State 8 924 000