Is dit ontwerp?
Die salm se doeltreffende swemstyl
● Baie salmspesies swem stroomop deur onstuimige water om by hulle broeiplekke uit te kom. Hoe kry hulle dit reg om ’n vermoeiende reis af te lê sonder om geheel en al uitgeput te raak? Hierdie visse word nie deur die onstuimige water oorweldig nie, maar gebruik dit eintlik tot hulle voordeel. Hoe?
Dink hieraan: Salms spook en spartel nie deur die woeste waters nie. Wanneer hulle stroomop swem, spaar hulle eerder energie deur gebruik te maak van klein draaikolke wat vorm waar die stroom deur klippe, takke of ander voorwerpe versteur word. Wanneer draaikolke weerskante van ’n voorwerp vorm, vleg die visse tussen die draaikolke deur. (Sien diagram.) Party skole vis swem in die stroom van die visse voor hulle en gebruik sodoende die draaikolke wat deur daardie visse gevorm word. Die visse kan selfs gebruik maak van die turbulensie wat deur hulle eie liggaam veroorsaak word!
Navorsers wil graag uit die salm se doeltreffende swemstyl leer sodat hulle die energie van stadig bewegende water kan benut. Tradisionele hidroëlektriese toerusting gebruik gewoonlik water wat teen omtrent vyf knope (9,3 kilometer per uur) of vinniger vloei om elektrisiteit op te wek. Nou kan ’n prototipe wat die vibrasies gebruik wat deur maalstrome veroorsaak word, elektrisiteit opwek in water wat teen net twee knope vloei.a Die tegnologie is egter nog nie naastenby so doeltreffend soos die swemstyl van visse soos die salm nie. Professor Michael Bernitsas van die Universiteit van Michigan, VSA, erken: “Op dié stadium is ons nie so slim soos visse nie.”
Wat dink jy? Het die salm se vermoë om die energie van onstuimige water te benut, per toeval ontstaan? Of is dit ontwerp?
[Voetnoot]
a Dit lyk belowend, aangesien die meeste van die aarde se waterstrome stadiger as drie knope vloei.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Bo: © photolibrary. All rights reserved.