Hoofstuk 12
Jesus word gedoop
OMTRENT ses maande nadat Johannes begin preek het, kom Jesus, wat nou 30 jaar oud is, by die Jordaan na hom toe. Waarom? Vir ’n kuiertjie? Stel Jesus net belang in hoe Johannes se werk vorder? Nee, Jesus vra Johannes om hom te doop.
Johannes maak dadelik beswaar: “Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?” Johannes weet dat sy neef Jesus die spesiale Seun van God is. Johannes het immers uit vreugde in sy moeder se skoot gespring toe Maria, wat Jesus verwag het, hulle besoek het! Johannes se moeder, Elisabet, het hom ongetwyfeld later hiervan vertel. En sy sou hom ook vertel het van die engel se aankondiging van Jesus se geboorte en van hoe engele die nag toe Jesus gebore is aan herders verskyn het.
Johannes ken dus vir Jesus. En Johannes weet dat sy doop nie vir Jesus is nie. Dit is vir diegene wat hulle van hulle sondes bekeer, maar Jesus het geen sonde nie. Maar ondanks Johannes se beswaar dring Jesus aan: “Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.”
Waarom is dit reg dat Jesus gedoop word? Want Jesus se doop is ’n simbool, nie van bekering van sonde nie, maar dat hy hom aanbied om sy Vader se wil te doen. Jesus was tot nou toe ’n timmerman, maar nou het die tyd aangebreek vir hom om met die bediening te begin waarvoor Jehovah God hom aarde toe gestuur het. Dink jy Johannes verwag dat iets buitengewoons sal gebeur wanneer hy Jesus doop?
Wel, Johannes sê later: “Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.” Johannes verwag dus dat God se gees sal kom op iemand wat hy doop. Daarom is Johannes moontlik nie werklik verbaas wanneer hy sien hoe “die Gees van God soos ’n duif neerdaal en op Hom kom” toe Jesus uit die water opklim nie.
Maar meer as dit gebeur wanneer Jesus gedoop word. ‘Die hemel gaan oop’ vir hom. Wat beteken dit? Dit beteken blykbaar dat sy herinnering aan sy voormenslike lewe in die hemel na hom terugkeer terwyl hy gedoop word. Gevolglik onthou Jesus nou ten volle sy lewe as ’n geesseun van Jehovah God, sowel as al die dinge wat God gedurende sy voormenslike bestaan vir hom gesê het.
Daarbenewens sê ’n stem uit die hemel wanneer hy gedoop word: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.” Wie se stem is dit? Jesus se eie stem? Natuurlik nie! Dit is God s’n. Dit is duidelik dat Jesus God se Seun is, nie God self soos party mense beweer nie.
Maar Jesus is ’n menslike seun van God, net soos die eerste mens Adam was. Die dissipel Lukas skryf, nadat hy Jesus se doop beskryf het: “En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli, . . . die seun van Dawid, . . . die seun van Abraham, . . . die seun van Noag, . . . die seun van Adam, die seun van God.”
Net soos Adam ’n menslike “seun van God” was, is Jesus dit ook. Jesus is die grootste mens wat nog geleef het, en dit word duidelik wanneer ons Jesus se lewe ondersoek. Maar met sy doop betree Jesus ’n nuwe verhouding met God en word hy ook God se geestelike Seun. God roep hom nou as ’t ware terug hemel toe deur hom ’n weg te laat betree wat daartoe sal lei dat hy sy menslike lewe vir ewig ten behoewe van die veroordeelde mensdom opoffer. Mattheüs 3:13-17; Lukas 3:21-38; 1:34-36, 44; 2:10-14; Johannes 1:32-34; Hebreërs 10:5-9.
▪ Waarom ken Johannes vir Jesus?
▪ Waarom word Jesus gedoop, al het hy geen sonde gedoen nie?
▪ Waarom is Johannes, in die lig van wat hy van Jesus weet, moontlik nie verbaas toe God se gees op Jesus neerdaal nie?