Hoofstuk 100
Die gelykenis van die ponde
JESUS is moontlik nog in Saggeüs se huis, waar hy op pad na Jerusalem vertoef het. Sy dissipels glo dat hy, wanneer hulle in Jerusalem aankom, homself as die Messias sal bekend maak en sy Koninkryk sal oprig. Jesus vertel ’n gelykenis om hierdie idee reg te stel en te wys dat die Koninkryk nog ver is.
“’n Man van hoë geboorte”, vertel hy, “het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom.” Jesus is die “man van hoë geboorte”, en die hemel is die “ver land”. Wanneer Jesus daar aankom, sal sy Vader hom ’n koningskap gee.
Maar voordat hy vertrek, roep die man van hoë geboorte tien diensknegte en gee aan elkeen ’n silwerpond en sê: “Dryf handel daarmee totdat ek kom.” In die eerste vervulling beeld die tien diensknegte Jesus se vroeë dissipels af. In ’n groter toepassing beeld hulle almal af wat die vooruitsig het om erfgename saam met hom in die hemelse Koninkryk te wees.
Die silwerponde is waardevolle geldstukke, en elkeen is gelyk aan omtrent drie maande se loon vir ’n landarbeider. Maar wat beeld die ponde af? En watter soort handel moet die diensknegte met hulle dryf?
Die ponde beeld bates af wat die geesverwekte dissipels kan gebruik om meer erfgename van die hemelse Koninkryk in te bring totdat Jesus as Koning in die beloofde Koninkryk kom. Na sy opstanding en verskyning aan sy dissipels het hy hulle die simboliese ponde gegee om meer dissipels te maak en sodoende die ‘Koninkryk van die hemele’-klas te vermeerder.
“Maar”, gaan Jesus voort, “sy medeburgers het [die man van hoë geboorte] gehaat en ’n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie.” Die burgers is Israeliete, of Jode, met uitsondering van sy dissipels. Toe hierdie Jode Jesus se dissipels na sy hemelvaart vervolg het, het hulle getoon dat hulle hom nie as hulle koning wou hê nie. Sodoende het hulle soos die burgers opgetree wat die gesantskap uitgestuur het.
Hoe gebruik die tien diensknegte hulle ponde? Jesus verduidelik: “Toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede.”
Die dienskneg met tien ponde beeld ’n klas, of groep, dissipels van Pinkster 33 G.J. tot nou toe af wat die apostels insluit. Die dienskneg wat vyf ponde verdien het, verteenwoordig ook ’n groep gedurende daardie selfde tydperk wat, na gelang van hulle geleenthede en vermoëns, hulle koning se bates op aarde vermeerder. Albei groepe verkondig die goeie nuus ywerig, en baie mense met die regte hartstoestand word gevolglik Christene. Nege van die diensknegte het met welslae handel gedryf en dít wat aan hulle toevertrou is, vermeerder.
Jesus gaan voort: “En ’n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in ’n doek weggesit het; want ek was bang vir u, omdat u ’n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie. Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek ’n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het. En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het.”
Vir die slegte dienskneg beteken die verlies van die simboliese pond dat hy ’n plek in die hemelse Koninkryk verloor. Ja, hy verloor as ’t ware die voorreg om oor tien stede of vyf stede te regeer. Let ook op dat die dienskneg nie as sleg bestempel word omdat hy iets slegs gedoen het nie, maar eerder omdat hy versuim het om die rykdom van sy heer se koninkryk te vermeerder.
Wanneer die slegte dienskneg se pond aan die eerste slaaf gegee word, word die beswaar gemaak: “Meneer, hy het tien ponde.” Maar Jesus antwoord: “Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het. Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood.” Lukas 19:11-27; Mattheüs 28:19.
▪ Wat gee aanleiding tot Jesus se gelykenis van die ponde?
▪ Wie is die man van hoë geboorte, en wat is die land waarheen hy gaan?
▪ Wie is die diensknegte, en wat word deur die ponde afgebeeld?
▪ Wie is die medeburgers, en hoe toon hulle hul haat?
▪ Waarom word een dienskneg sleg genoem, en wat beteken die verlies van sy pond?