Hoofstuk 129
Jesus se verdere verskynings
DIE dissipels is nog altyd mismoedig. Hulle verstaan nie wat die leë graf beteken nie, en hulle glo ook nie wat die vroue hulle vertel het nie. Later dié Sondag vertrek Kleopas en ’n ander dissipel uit Jerusalem na Emmaüs, omtrent elf kilometer daarvandaan.
Op pad, terwyl hulle die gebeure van die dag bespreek, sluit ’n vreemdeling hom by hulle aan. “Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel?” vra hy.
Die dissipels gaan staan, hulle gesigte bedruk, en Kleopas antwoord: “Is U alleen ’n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?” Hy vra: “Watter dinge?”
“Die dinge aangaande Jesus, die Nasarener”, antwoord hulle. “Hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom [aan ’n paal gehang] het. En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos.”
Kleopas en sy metgesel verduidelik die verstommende gebeure van die dag—die berig oor die bonatuurlike verskyning van engele en die leë graf—maar hulle erken dan dat hulle dronkgeslaan is oor die betekenis van al hierdie dinge. Die vreemdeling wys hulle tereg: “o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” Daarna lê hy vir hulle gedeeltes in die heilige Skrif uit wat op die Christus betrekking het.
Uiteindelik is hulle naby Emmaüs, en die vreemdeling maak asof hy verder wil gaan. Die dissipels wil meer hoor en dring aan: “Bly by ons, want dit is amper aand.” Hy bly dus vir ’n maaltyd. Terwyl hy ’n gebed doen en die brood breek en vir hulle gee, besef hulle dat hy werklik Jesus in ’n gematerialiseerde menseliggaam is. Maar dan verdwyn hy.
Nou verstaan hulle waarom die vreemdeling soveel geweet het! “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” vra hulle. Hulle staan dadelik op en haas hulle al die pad terug na Jerusalem toe waar hulle die apostels vind en diegene wat saam met hulle vergader is. Voor Kleopas en sy metgesel iets kan sê, sê die ander opgewonde: “Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn!” Toe vertel die twee hoe Jesus ook aan hulle verskyn het. Hy het dus al vier keer gedurende hierdie dag aan verskillende dissipels verskyn.
Skielik verskyn Jesus ’n vyfde keer. Selfs al is die deure gesluit omdat die dissipels bang is vir die Jode, kom hy in, gaan staan hy tussen hulle en sê: “Vrede vir julle!” Hulle is baie bang, want hulle dink dat hulle ’n gees sien. Jesus verduidelik dus vir hulle dat hy nie ’n gees is nie en sê: “Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ’n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Hulle is nog steeds huiwerig om te glo.
Om hulle te help besef dat hy werklik Jesus is, vra hy: “Het julle hier iets om te eet?” Nadat hy ’n stuk gebraaide vis geneem en dit geëet het, sê hy: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog [voor my dood] by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die Wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.”
Jesus hou as ’t ware ’n Bybelstudie met hulle en leer hulle verder: “So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge.”
Thomas is om die een of ander rede nie by hierdie belangrike vergadering dié Sondagaand nie. Gedurende die daaropvolgende dae vertel die ander hom met vreugde: “Ons het die Here gesien!”
“As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie”, maak Thomas beswaar.
Wel, agt dae later vergader die dissipels weer in ’n vertrek. Hierdie keer is Thomas saam met hulle. Hoewel die deure gesluit is, staan Jesus weer eens in hulle midde en sê: “Vrede vir julle!” Dan draai hy na Thomas en sê: “Bring jou vinger hier, en kyk my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie.”
“My Here en my God!” roep Thomas uit.
“Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo”, sê Jesus. “Salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” Lukas 24:11, 13-48; Johannes 20:19-29.
▪ Wat vra ’n vreemdeling vir twee dissipels wat op pad na Emmaüs is?
▪ Wat sê die vreemdeling wat die harte van die dissipels in hulle laat brand?
▪ Hoe kom die dissipels agter wie die vreemdeling is?
▪ Watter opwindende berig hoor Kleopas en sy metgesel wanneer hulle na Jerusalem terugkeer?
▪ Wat is die vyfde verskyning wat Jesus aan sy dissipels maak, en wat gebeur tydens daardie verskyning?
▪ Wat gebeur agt dae ná Jesus se vyfde verskyning, en hoe word Thomas uiteindelik oortuig dat Jesus leef?