HOOFSTUK 8
Hulle vlug van ’n goddelose koning
JESUS SE GESIN VLUG NA EGIPTE
JOSEF TREK MET SY GESIN NA NASARET
Josef maak Maria wakker om haar iets dringends te vertel. Jehovah se engel het nou net aan hom in ’n droom verskyn en vir hom gesê: “Staan op, neem die jong kind en sy ma en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die jong kind te soek om hom dood te maak.” – Matteus 2:13.
Daardie selfde nag vlug Josef, Maria en hulle seun. Hulle doen dit net betyds, want Herodes het agtergekom dat die sterrevoorspellers hom bedrieg het. Hy het vir hulle gesê dat hulle weer na hom toe moet terugkom, maar hulle het nie en het die land verlaat. Herodes is woedend. Hy wil Jesus nog steeds doodmaak, en daarom beveel hy dat al die seuntjies van twee jaar en jonger in Betlehem en in die omliggende gebiede doodgemaak moet word. Hy besluit op hierdie ouderdom as gevolg van wat die sterrevoorspellers uit die Ooste vir hom gesê het.
Die dood van al hierdie seuntjies is iets verskrikliks! Ons weet nie presies hoeveel seuntjies doodgemaak is nie, maar die bittere gehuil en getreur van die hartseer ma’s vervul ’n Bybelprofesie wat deur Jeremia, God se profeet, gegee is. – Jeremia 31:15.
Intussen het Josef en sy gesin na Egipte gevlug, en hulle bly nou daar. Een nag verskyn Jehovah se engel weer aan Josef in ’n droom. Die engel sê: “Staan op, neem die jong kind en sy ma en gaan na die land van Israel, want die mense wat die jong kind wou doodmaak, is dood” (Matteus 2:20). Josef besef nou dat sy gesin na hulle eie land kan terugkeer. Op hierdie manier word nog ’n Bybelprofesie vervul – God se Seun word uit Egipte geroep. – Hosea 11:1.
Josef wou blykbaar hê dat sy gesin in Judea moet gaan woon, dalk naby die dorpie Betlehem waar hulle gewoon het voordat hulle na Egipte gevlug het. Maar hy hoor dat Herodes se goddelose seun Argelaus nou die koning van Judea is. God waarsku Josef weer in ’n droom van die gevaar. Daarom trek Josef en sy gesin verder noord en gaan woon hulle in die stad Nasaret, wat in die gebied van Galilea is, ver weg van die middelpunt van die Joodse godsdienslewe. Jesus word in hierdie gemeenskap groot, en so word nog ’n profesie vervul: “Hy sal ’n Nasarener genoem word.” – Matteus 2:23.