Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 3/1 bl. 23-24
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk—1977
  • Die einde van misdaad is nou naby!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Filemon en Onesimus—Verenig in Christenbroederskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Jesus genees blinde mans en help Saggeus
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 3/1 bl. 23-24

Vrae van lesers

• Ek gee Bybellesse aan ’n vrou wat onlangs aan my bely het dat sy in die verlede winkeldiefstal gepleeg het. Moet sy probeer om te vergoed vir alles wat sy gesteel het, of moet sy haar aan die polisie oorgee voordat sy sal kwalifiseer om ’n gedoopte Christen te word?

Persone in sulke situasies moet self besluit, volgens die voorskrifte van hulle gewete, of hulle enige van daardie twee stappe gaan doen voordat hulle hulle laat doop.

Die Skrif verseker ons dat dit God se wil is dat allerhande “mense gered word en tot kennis van die waarheid kom”. Om daardie rede het God sy Seun as ’n ooreenstemmende losprys gestuur (1 Tim. 2:4-6). Die reinigingswaarde van Jesus se bloed is beskikbaar aan persone wat uiters goddelose lewens gelei het of wat hulle aan growwe sondes skuldig gemaak het voordat hulle die waarheid van die Bybel geleer, berou getoon en hulle bekeer het.

Byvoorbeeld, die feit dat die Joodse gemeenskap in Jerusalem in 33 G.J. hulle godsdiensleiers gesteun het en daarop aangedring het dat Jesus doodgemaak moes word, het nie beteken dat hulle nooit Christene kon word nie. Op Pinksterdag het die apostel Petrus vir talle van hulle gesê: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” Ja, hulle was aandadig aan daardie moord. Diep ontroer het hulle gevra: “Wat moet ons doen, broeders?” Petrus het geantwoord: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word.”—Hand. 2:36-38.

Dit was dieselfde geval met Saulus, wat ‘dreiging en moord geblaas het’ teen Christene, en wat die moord op Stefanus gade geslaan en goedgekeur het (Hand. 7:58; 8:1; 9:1; 22:20). Saulus, wat beter bekend is as Paulus, het later erken “dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys.”—1 Tim. 1:15, 16.

Die vraag kan egter gestel word of ’n persoon moet probeer om al die misdade of sondes waaraan hy hom skuldig gemaak het voordat hy die Christelike geloof aanvaar het, ongedaan te maak.

’n Persoon dink dalk aan die feit dat die Mosaïese wet vereis het dat ’n dief gesteelde goedere moes teruggee en vergoeding moes doen. Indien ’n Israeliet byvoorbeeld ’n bul gesteel het en daarmee gevang is, moes hy dit teruggee, asook nog ’n bul om die eienaar te vergoed vir die verlies van sy bul se dienste.—Ex. 22:1, 3-9.

Of daar kan verwys word na Lukas se verslag oor Saggeüs, ’n hoof van die tollenaars in Jerigo, wat klaarblyklik van verdagte metodes gebruik gemaak het om geld in die hande te kry en in die proses ryk geword het. Toe hy gunstige aandag van Jesus ontvang, het Saggeüs gesê: “As ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Jesus het hierdie opregte woorde wat van geloof en berou getuig het, goedgekeur en vir hom gesê: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, . . . Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:1-10). Saggeüs kon klaarblyklik uit die belastingverslae vasstel wat hy geskuld het en hy het die geld gehad om terug te gee. Selfs al het die regering hom nie van afpersing aangekla nie, het sy gewete hom beweeg om te probeer terugbetaal wat hy afgepers het.

Dit is egter opmerkenswaardig dat die wet in Exodus 22:1, 3b-9 aan Israeliete gegee is wat in ’n toegewyde verhouding met God was. En Saggeüs was reeds ’n “seun van Abraham” wat homself moes verbind het om volgens die hoë standaarde van die Bybel te lewe; sy terugbetaling was ’n blyk van berou omdat hy dit nie gedoen het nie. Maar wat van ’n persoon wat besig is om van God se standaarde te leer en wat vantevore gesondig het of hom aan misdade skuldig gemaak het?

Die feit is dat mense nie vandag deur die Skrif verplig word om volgens die Mosaïese wet, Exodus 22:1, 3b-9 inkluis, te lewe nie (Rom. 6:14). En die Christelike Griekse Skrifte toon nie dat God van ’n persoon vereis om al sy sondes of misdade van die verlede ongedaan te maak voordat hy gedoop kan word nie.

Dit word toegelig in die geval van Onesimus, wat in die Bybelboek Filemon gemeld word. Hy was ’n slaaf in Kolosse, maar het gevlug. Dit was ’n kriminele oortreding wat hom ’n wegloperslaaf (Latyn, fugitivus) gemaak het. Party meen ook dat Onesimus sy heer moes besteel het om in staat te wees om na afgeleë Italië te vlug. In Rome het hy die apostel Paulus raakgeloop en ’n gedoopte Christen geword. Paulus het nie daarop aangedring dat Onesimus homself aan die owerheid moes uitlewer om gestraf te word voordat hy gedoop kon word nie, en hy het ook nie eens vereis dat hy eers na sy slawe-eienaar moes terugkeer nie, hoewel Onesimus, ’n ruk nadat hy ’n Christen geword het, deur Paulus aangespoor is om terug te keer, en bereid was om te gaan.

’n Persoon wat vandag die Bybelboodskap aanvaar, het homself eweneens dalk voorheen aan ’n misdaad skuldig gemaak en word moontlik selfs daarvoor gesoek, met die gevolg dat hy ’n voortvlugtende is. Die Bybel toon dat hy ‘tot inkeer moet kom en hom moet bekeer, sodat sy sondes uitgewis kan word’ (Hand. 3:19). Dit beteken klaarblyklik dat hy sy eertydse sondige, misdadige handelwyse moet staak. Petrus het aan Christene geskryf; “Niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ’n ander bemoei nie.”—1 Pet. 4:15.

Die persoon moet self besluit of hy gaan probeer om, sover moontlik, diegene van wie hy goedere of geld gesteel het, skadeloos te stel. Naasteliefde beveel hierdie weg aan (Matt. 22:39; 7:12).a In talle gevalle in die verlede het hierdie vereffening van ’n mens se “skuld’’ ’n voortreflike getuienis gelewer van die goeie uitwerking wat die ware godsdiens kan hê.

In party gevalle weet die skuldige egter nie waar en van wie hy gesteel het nie. Of die misdaad is dalk van so ’n aard dat dit op geen manier ongedaan gemaak kan word nie. Hy het moontlik iemand se dood veroorsaak. Al word hy ook hoe deur sy gewete gekwel, hy kan nie daardie lewe teruggee nie—net Jehovah kan (Joh. 5:28, 29). Maar selfs al kan hy nie die verlede ongedaan maak nie, moet hy hom op God se genade verlaat en om vergifnis op grond van Jesus se offerande smeek. Die Bybel sê onomwonde vir ons dat dit is wat diewe en afpersers in die eerste eeu gedoen het: hulle is ‘afgewas, geheilig en geregverdig in die naam van Jesus Christus en met die gees van onse God’.—1 Kor. 6:9-11; 1 Pet. 4:1-4.

Daar moet erken word dat indien iemand met ’n misdaadverlede die Christelike geloof aanvaar en nie die saak wetlik uitstryk voordat hy gedoop word nie, sy verlede later rugbaar kan word; hy kan selfs in hegtenis geneem en opgesluit word. Daardie wending kan hom nie alleen ’n slegte reputasie gee nie, maar kan ook die Christengemeente in ’n slegte lig stel. Maar Jesus is gekritiseer omdat hy saam met sondaars en tollenaars geëet het en hulle as sy dissipels aanvaar het. Sy antwoord daarop was dat hy gekom het om sondaars te red; hy het gekom om die siekes te genees, nie die gesondes nie.—Matt. 9:10-13.

Enige redelike, nadenkende persoon kan die hoë sedelike standaarde van diegene in die Christengemeente van Jehovah se Getuies sien. Hierdie voortreflike sedelikheid, wat al in die openbaar deur buitestaanders geloof is, is nie die gevolg omdat almal wat nou Christene is altyd eerlik en beginselvas was nie. Dit is eerder bewys van die veranderinge wat aangebring kan word wanneer persone van alle stande hulle daarop toelê om hulle lewens te skik na die sedelikheid wat in God se Woord geleer word. Dit is net soos die geskiedkundige, dr. John Lord, oor die vroeë Christene geskryf het: “Die ware triomf van die Christelike geloof was die vermoë daarvan om goeie mense te maak van diegene wat die leerstellinge daarvan bely het, eerder as om uiterlik gewilde instellings, of die regering of wette te verander of selfs die groot massa ongelowiges te verhef. . . . Ons het getuienis van hulle onbesproke lewens, van hulle onberispelike sedes, van hulle goeie burgerskap . . .”—The Old Roman World, ble. 551, 578.

[Voetnoot]

a Dit sal veral die geval wees indien iemand anders onregverdig weens die misdaad ly.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel