Jehovah seën diegene wat al hul kragte inspan
“Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie . . . sal probeer om in te gaan maar sal dit nie regkry nie.”—Luk. 13:24, “Die Blye Boodskap”.
DIE neiging van onvolmaakte mense is om die maklikste weg te volg. Mense koester dikwels hoë verwagtinge, maar hulle bereik nooit hulle doelwitte nie omdat hulle onwillig is om die nodige poging aan te wend. Party is tevrede om net te droom en nou en dan ’n kans in ’n lotery te waag in die hoop dat hulle die geld sal kry om hulle drome te verwesenlik. Baie werkers maak propaganda vir hoër lone en ’n korter werkweek. Meer geld vir minder inspanning is vandag die meeste mense se ideaal. Maar party persone besef dat daar iets is wat baie kosbaarder as materiële rykdom is. Wat is dit?
Wat kan vir enige van ons waardevoller wees as God se goedkeuring wat redding meebring? Kan ons verwag om dit sonder inspanning te verkry? God het wel alles gedoen wat nodig is om die mensdom te red. Maar beteken dit dat mense outomaties, sonder enige inspanning van hulle kant, gered sal word? (Tit. 3:4-7). Jesus Christus het die antwoord verstrek toe hy geantwoord het op die vraag: “Is dié wat gered word maar min?” Hy het gesê: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan maar sal dit nie regkry nie.”—Luk. 13:23, 24, “Die Blye Boodskap”.
Is jy bereid om jouself so in te span om in God se regverdige nuwe orde te lewe? Baie mense sal graag wil lewe op ’n aarde waar daar geen siekte of dood is nie. Maar wanneer hierdie einste mense aangespoor word om die Bybel te bestudeer, voer hulle dikwels flou verskonings aan. En indien hulle daarmee volhou, kan hulle onwilligheid om ’n ware poging aan te wend om God te leer ken, verhoed dat hulle goddelike goedkeuring verkry. Almal wat Jehovah God se goedkeuring wil wegdra, moet bereid wees om ‘al hulle kragte in te span’ om vordering te maak as sy knegte, om die Skepper beter te leer ken en om ooreenkomstig hulle kennis van hom te lewe. Hy sal hulle natuurlik met sy gees help, mits hulle daardeur gelei wil word.
Daar is in werklikheid talle lewensituasies waar geleenthede deur ’n persoon se vingers kan glip indien hy hom nie inspan nie: Spreuke 26:15 gee ons ’n uiterste voorbeeld hiervan waar dit sê: “Het die luiaard sy hand in die skottel gesteek, is hy te moeg om dit na sy mond terug te bring.” In die geval van geestelike voedsel kom die situasie dikwels baie ooreen met die wat in die spreuk gemeld word. Talle mense met ’n Bybel in die huis is geestelik uitgehonger bloot omdat hulle nie die poging aanwend om dit van die boekrak af te haal en dit te lees nie.
Benewens ’n neiging tot luiheid moet ’n persoon ook negatiewe gedagtes beveg indien hy hom wil inspan. As hy byvoorbeeld dink dat huisbesoek om die Bybel se boodskap na mense te bring te moeilik is, sal dit hom verhoed om selfs te probeer. Maar indien hy dit op die proef stel, sal hy dikwels vind dat hy dit met behulp van God se gees kan doen.
Andersyds is dit soms die blote eenvoud van ’n wenk wat mense aan die waarde daarvan laat twyfel. Hulle kan dalk eenvoudig net nie sien dat dit sin het nie. Naäman is ’n man wat amper in hierdie strik getrap het. Hy het na Israel gereis in die hoop om van melaatsheid genees te word. As ’n vername man het hy verwag om spesiale behandeling van die profeet Elisa te ontvang. Maar Elisa het nie na hom uitgekom nie en bloot vir sy dienskneg gesê om vir Naäman te sê om hom sewe keer in die Jordaan rivier te gaan was. Naäman het dit benede sy waardigheid geag om in die modderige Jordaan te was. Hy het ’n skouspelagtige genesing verwag. Indien hy nie na die raad van sy diensknegte geluister het nie, sou Naäman melaats na Damaskus teruggekeer het. Maar hy het Elisa se eenvoudige instruksies uitgevoer en is genees.—2 Kon. 5:9-14.
Dit kan andersyds vrees wees dat hulle iemand sal mishaag of dat hulle ’n negatiewe antwoord van iemand in gesag kan kry wat persone verhinder om positief op te tree. Nehemia van die vyfde eeu v.G.J. is ’n goeie voorbeeld van iemand wat nie toegelaat het dat hierdie vrees hom terughou nie. Hoewel hy die verantwoordelike posisie van skinker in die hof van koning Artasasta beklee het, het Nehemia nie toegelaat dat gedagtes dat die koning waarskynlik sal weier of kwaad word hom laat stilbly nie. Toe die geleentheid hom voordoen, het Nehemia tot Jehovah gebid en toe eerbiedig sy versoek gerig. Die koning het nie alleen sy versoek toegestaan nie, maar briewe aan Nehemia gegee wat hom gemagtig het om na Jerusalem terug te keer en hout uit die koninklike woud te gebruik om die mure en poorte van Jerusalem te herbou.—Neh. 2:1-8.
Wat van ons? Party Christene is dalk bang om verlof te vra om byeenkomste saam met medegelowiges by te woon. Hoewel die vakansie dalk toegestaan sou gewees het indien hulle daarom gevra het, bring hulle vrees vir ’n negatiewe antwoord mee dat hulle puik geestelike onderrig mis. Party Christinne geniet soms net die helfte van die gemeente se vergaderinge omdat hulle dink dat hulle ongelowige mans dit sal afkeur indien hulle meer bywoon. Maar dalk het party van hulle nog nooit vir hulle mans gevra nie. Ander in soortgelyke omstandighede kan weer talle opbouende ondervindinge vertel omdat hulle wel gevra het. Dit is in verskeie sake so dat indien ’n mens nie vra nie, jy nie sal ontvang nie.—Vergelyk Mattheüs 7:7-11.
Ja, indien ons Jehovah se seën wil ontvang, moet ons al ons kragte inspan. Met hierdie doel voor oë moet ons enige neiging tot luiheid weerstaan, nie toelaat dat die omvang van ’n taak of die oënskynlike eenvoud daarvan ons mismoedig maak nie en nie aarsel om te vra uit vrees dat die antwoord ‘nee’ sal wees nie. Waar dit kom by bedrywigheid wat verband hou met ware aanbidding, kan jy welslae behaal met behulp van God se gees.