Assiriese annale werp lig op Hosea se bewind
DIE Bybel sê dat Hosea ’n sameswering gesmee het teen Peka en “in sy plek koning geword [het] in die twintigste jaar van Jotam, die seun van Ussia” (2 Kon. 15:30). Die 20ste jaar moet klaarblyklik verstaan word as ’n aanduiding van die tydperk wat verstryk het sedert Jotam koning geword het. Jotam het in werklikheid 16 jaar geregeer.—2 Kon. 15:32, 33.
Alhoewel Hosea in die vierde jaar van Jotam se opvolger Agas begin regeer het, is hy oënskynlik eers etlike jare later ten volle as koning van Israel erken. Volgens 2 Konings 17:1 het Hosea koning geword in die 12de jaar van Agas. Die annale van Tiglat-pileser III werp lig op die moontlike rede hiervoor. ’n Fragmentariese inskripsie wat dateer uit die bewind van hierdie koning, lui: “Ek het al sy bewoners (en) hulle besittings na Assirië weggevoer. Hulle [die Israeliete] het hulle koning Peka tot ’n val gebring . . . en ek het Hosea . . . as koning oor hulle aangestel” (Ancient Near Eastern Texts, geredigeer deur James B. Pritchard, 1955, bl. 284). Dit is dus heel moontlik dat dit met Assiriese steun was dat Hosea volle beheer oor Israel vanuit die hoofstad Samaria verkry het.