Die opstanding van Jesus Christus—geen mite nie
KAN die Bybel se verslag oor die opstanding van Jesus ’n blote versinsel wees? Die International Herald Tribune het onlangs verslag gelewer oor ’n ondersoek wat deur ’n Joodse skrywer, Pinchas Lapide, gedoen is. Sy slotsom? Die opstanding was geen mite nie.
Verskeie dinge het Lapide tot hierdie slotsom gelei. Een hiervan is die feit dat die Evangelieverslae vertel dat drie vroue Jesus se graf besoek het en gesien het dat dit leeg is. Maar in vervloë tye was vroue “onbevoeg geag om gegronde getuienis te lewer”, sê die Tribune se verslag. Om die waarheid te sê, Jesus se eie dissipels het nie die vroue geglo nie! Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat so ’n storie opsetlik versin sou word.
Lapide maak ook melding van die stimulerende uitwerking wat Jesus se opstanding op Sy dissipels gehad het. Van ’n groep mans wat so lafhartig was dat hulle Jesus met sy inhegtenisneming in die steek gelaat het, is hulle “oornag verander in ’n sendinggenootskap vol vertroue, oortuig van redding”. Die Tribune doen verslag oor Lapide se redenasie: “Geen gesig of hallusinasie is voldoende om so ’n revolusionêre verandering te verklaar nie.”
Ten slotte is daar die aantyging dat Jesus se dissipels bloot sy liggaam gesteel het. Mnr. Lapide antwoord hierop: “Kan bedrieërs hulleself so laat martel en vervolg in die naam van ’n illusie, tot ’n vreugdevolle marteldood?” Alhoewel mnr. Lapide steeds nie geloof in Jesus as die Messias betuig nie, is daar by hom min twyfel dat wat ’n engel tweeduisend jaar gelede aangekondig het, waar was: ‘Christus het opgestaan.’—Mattheüs 28:6.