Jesus se lewe en bediening
Die dissipels stry terwyl Jesus se dood nader
JESUS en sy dissipels is naby die Jordaanrivier, wat hulle oorsteek om van die gebied Perea na Judea te gaan. Baie ander reis saam met hulle na die Pasga van 33 G.J., wat ongeveer ’n week later sal plaasvind.
Jesus gaan voor sy dissipels uit, en hulle is verbaas oor sy moedige vasberadenheid. Onthou dat Thomas die ander ’n paar weke vroeër, toe Lasarus gesterf en Jesus van Perea na Judea sou gaan, aangemoedig het: “Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.” Onthou ook dat die Sanhedrin planne beraam het om Jesus om die lewe te bring nadat hy Lasarus opgewek het. Geen wonder dat die dissipels bang is wanneer hulle nou in Judea ingaan nie.
Om hulle voor te berei op wat voorlê, neem Jesus die 12 eenkant toe en sê vir hulle: “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gesel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan.”
Dit is die derde keer in die laaste paar maande dat Jesus sy dissipels van sy dood en opstanding vertel. En hoewel hulle na hom luister, snap hulle nie sy woorde nie. Miskien is dit omdat hulle glo dat die koninkryk van Israel op aarde herstel gaan word en hulle daarna uitsien om heerlikheid en eer saam met Christus in ’n aardse koninkryk te geniet.
Salome, die moeder van die apostels Jakobus en Johannes, is onder diegene wat na die Pasga opgaan. Jesus het hierdie manne “seuns van die donder” genoem, ongetwyfeld vanweë hulle vurige geaardheid. Hierdie twee koester al geruime tyd die ideaal om prominent in Christus se Koninkryk te wees, en hulle het hul moeder van hul wens vertel. Sy nader Jesus nou namens hulle, buig haar voor hom neer en vra hom ’n guns.
“Wat wil jy hê?” vra Jesus.
“Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand.”
Jesus besef wie se versoek dit is en sê vir Jakobus en Johannes: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink?”
“Ons kan”, antwoord hulle. Al het Jesus hulle pas vertel dat hy verskriklike vervolging en uiteindelik teregstelling sal moet verduur, besef hulle blykbaar nie dat dit is wat hy bedoel met “die beker” wat hy aanstons gaan drink nie.
Jesus sê nietemin vir hulle: “Dis waar, my beker sal julle drink . . . maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.”
Die ander tien apostels vind later uit wat Jakobus en Johannes versoek het, en hulle is kwaad. Dalk was Jakobus en Johannes prominent in die vroeëre argument onder die apostels oor wie die grootste is. Hulle huidige versoek toon dat hulle nie die raad toegepas het wat Jesus oor hierdie aangeleentheid gegee het nie. Hulle begeerte om vernaam te wees is ongelukkig nog sterk.
Jesus roep die 12 byeen om aandag te skenk aan hierdie jongste geskil en die onmin wat dit veroorsaak het. Hy gee hulle liefdevol raad en sê: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.”
Jesus het die voorbeeld gestel wat hulle moet volg, soos hy verduidelik: “Net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.” Jesus het nie net ander gedien nie, maar hy is selfs bereid om vir die mensdom te sterf! Die dissipels moet daardie selfde Christelike gesindheid hê, naamlik om te wil dien pleks van gedien te word en om ’n mindere te wees pleks van ’n vername posisie te beklee. Mattheüs 20:17-28; Markus 3:17; 9:33-37; 10:32-45; Lukas 18:31-34; Johannes 11:16.
◆ Waarom is die dissipels nou bang?
◆ Hoe berei Jesus sy dissipels voor op wat voorlê?
◆ Watter versoek word tot Jesus gerig, en watter uitwerking het dit op die ander apostels?
◆ Hoe skenk Jesus aandag aan die probleem onder sy apostels?