Wie kan God se vriend wees?
JY KAN God se vriend wees. Sowat 4 000 jaar gelede het die man Abraham geloof in Jehovah God gestel. Dit is hom as regverdigheid toegereken, en daardie aartsvader is ’n “vriend van God” genoem (Jakobus 2:23). As jy geloof in Jehovah het, kan jy dus ook God se vriend wees.
’n Mens sal waarskynlik vriende as gaste vir ete uitnooi. Trouens, ’n deel van die bekende 23ste Psalm beeld God as ’n welwillende gasheer uit. Dit sê: “U [Jehovah] berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders. . . . My beker loop oor.”—Psalm 23:5.
By ’n ander geleentheid het dieselfde psalmis—koning Dawid van eertydse Israel—gevra: “O, Jehovah, wie sal ’n gas in u tent wees? Wie sal op u heilige berg bly?” (Psalm 15:1, NW). Figuurlik beteken dit om in aanvaarbare gebed en aanbidding toegang tot Jehovah te hê. Wat ’n ontsagwekkende voorreg! Hoe kan onvolmaakte mense aan die vereistes voldoen om God se vriende en gaste te wees?
Die 15de Psalm beantwoord hierdie vraag. Dit meld tien spesifieke vereistes vir die wat God se vriende en gaste wil wees. Laat ons hierdie vereistes een vir een beskou, vanaf vers 2. Ons haal uit die New World Translation of the Holy Scriptures aan.
“Hy wat onberispelik wandel en regverdigheid beoefen”
Abraham se nageslag het grootliks gefloreer omdat Abraham sedelik onberispelik voor Jehovah gewandel het (Genesis 17:1, 2, NW). “Om te wandel” beteken soms om ’n sekere gedragslyn in die lewe te volg (Psalm 1:1; 3 Johannes 3, 4). Vir God se vriende en gaste is dit nie genoeg om aan ’n godsdiens te behoort, behae te skep in die swierige geboue daarvan en aan formalistiese gebruike deel te neem nie. Nie almal wat sê “Here, Here” of verklaar dat hulle God ken, sal die seëninge van sy Koninkryk geniet nie (Mattheüs 7:21-23; Titus 1:16). Jehovah se vriende ‘wandel onberispelik’ voor sy aangesig en ‘beoefen geregtigheid’ volgens sy standaarde.—Miga 6:8, NW.
Dit laat geen plek vir enige oneerlikheid, geslagsonsedelikheid en korrupsie nie. God self gee vir ons die rede en sê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:16). Handhaaf jou godsdiens God se hoë standaarde, en sit dit selfs diegene uit wat weier om aan Sy vereistes te voldoen? Vereis jy regverdige gedrag van jouself en jou gesin? Indien wel sal jy aan die volgende vereiste vir God se vriende en gaste voldoen.
“En die waarheid in sy hart spreek”
As ons God se vriendskap wil hê, kan ons nie lieg of dubbelhartige vleitaal gebruik nie (Psalm 12:3). Ons moet ‘die waarheid in ons hart spreek’, dit nie net op ons lippe hê nie. Ja, ons moet innerlik eerlik wees en bewys lewer van ’n “ongeveinsde geloof” (1 Timotheüs 1:5). Sommige mense vertel leuens of halwe waarhede om die skyn te red. Ander kyk af in skooltoetse of vervals belastingopgawes. Sulke dade verraai ’n gebrek aan liefde vir waarheid. Maar waarheidsliefde en eerlike dade kom uit die harte van God se vriende (Mattheüs 15:18-20). Hulle is nie slinks of bedrieglik nie.—Spreuke 3:32; 6:16-19.
Die apostel Paulus het geskryf: “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het” (Kolossense 3:9, 10). Ja, diegene wat werklik die waarheid in hulle harte spreek, beklee hulle met “die nuwe mens”. Is jy heeltemal eerlik met jouself en ander, en spreek jy die waarheid in jou hart? Dan behoort dit ’n uitwerking te hê op wat jy van ander sê.
“Hy het met sy tong nie gelaster nie”
As ons hierdie vereiste vir God se gaste wil nakom, moet ons nooit kwaad praat van ander nie (Psalm 15:3, NW). Die Hebreeuse werkwoord wat met “gelaster” vertaal word, kom van die woord vir “voet” en beteken “om te stap” en dus “om rond te gaan”. Die Israeliete is beveel: “Jy mag nie as ’n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie. Ek is die HERE” (Levitikus 19:16; 1 Timotheüs 5:13). As ons iemand belaster, hom van sy goeie naam beroof, kan ons nie God se vriende wees nie.
Dawid het verklaar: “Wie in die geheim sy metgesel laster, hom lê ek die swye op” (Psalm 101:5, NW). Ons kan lasteraars ook die swye oplê as ons weier om na hulle te luister. En ’n goeie reël is om niks agter ’n persoon se rug te sê wat ons nie bereid sal wees om voor hom te sê nie. Dit is goed as ons ons tong so kan beheers. Maar hoe belangrik is dit tog om ook ons dade te beheers!
“Hy het niks aan sy metgesel gedoen nie”
Jesus se woorde: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen”, is hier van belang (Mattheüs 7:12). As ons God se guns wil geniet, moet ons slegte dade vermy. Die psalmis het gesê: “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose” (Psalm 97:10). As ons dus God se vriendskap en hulp wil hê, moet ons sy standaarde aanvaar.
Om die kwaad te vermy, behels dat ’n mens niemand in saketransaksies of op ander maniere veronreg nie. Ons moenie in woord of daad iets doen om ons metgesel te benadeel nie, maar moet goeie dinge vir hom doen. Dit kan elke aspek van ons lewe raak. Wanneer ons bestuur, kan ons byvoorbeeld beleefd wag vir voetgangers wat reg van voorrang het. Ons kan die bejaardes help, die neerslagtiges bemoedig, die treurendes troos. Jehovah stel die beste voorbeeld in hierdie verband. Soos Jesus gesê het, laat God “sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Mattheüs 5:43-48). Goeie dade teenoor ander is verwant aan wat die psalmis vervolgens meld.
“En geen smaad het hy opgeneem teen sy intieme kennis nie”
Ons maak almal foute, en hoe dankbaar is ons tog nie wanneer vriende hierdie geringe foute oorsien nie! Ons sal bedroef wees as ’n intieme vriend ons geringe swakhede, wat nietemin verleentheid veroorsaak, aan ander bekendmaak. Party mense doen dit om die aandag van hulle eie foute af te lei of om hulleself beter as ander te laat voorkom. Maar sulke dade pas nie by diegene wat God se vriende wil wees nie.
“Wie ’n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ’n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar”, sê Spreuke 17:9. Ons moet natuurlik nie probeer om ernstige oortredings weg te steek nie (Levitikus 5:1; Spreuke 28:13). Maar as ons God se vriende wil wees, sal ons nie oneervolle stories oor regskape kennisse ‘opneem’, of as waar aanneem, nie (1 Timotheüs 5:19). Jehovah se vriende sê goeie dinge van God se knegte pleks van stories oor hulle te versprei en by te dra tot bose beskuldigings wat hulle reeds van goddelose mense moet verduur. God se vriende en gaste let ook op hulle omgang, want Dawid voeg in vers 4 by:
“In sy oë word die veragtelike stellig verwerp”
Sommige mense, wat selfsugtige voordeel soek, gaan met ryk of belangrike mense om al is hulle korrup. (Vergelyk Judas 16.) Maar ons kan nie Jehovah se vriende wees as ons met die goddeloses omgaan nie. Ons moet die kwaad só haat dat ons nie met die wat dit doen, wil omgaan nie (Romeine 12:9). Israel se koning Joram was so sleg dat die profeet Elisa vir hom gesê het: “Sowaar as die HERE van die leërskare leef voor wie se aangesig ek staan, as ek nie agting gehad het vir die persoon van Josafat, die koning van Juda, nie, sou ek na u nie kyk en u nie aansien nie” (2 Konings 3:14). As ons God se vriende wil wees, moet ons ag slaan op Paulus se waarskuwing: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:33.
As ons Jehovah se vriendskap op prys stel, sal ons dus weier om met kwaaddoeners om te gaan. Ons sal slegs die nodige sake met hulle doen. Ons sal ons vriende kies weens hulle goeie verhouding met God, nie weens hulle status in die wêreld nie. Ons sal vriende verstandig kies as ons ’n eerbiedige vrees vir God het. Let in hierdie verband op die sewende vereiste waaraan Jehovah se gaste moet voldoen.
“Maar aan die wat Jehovah vrees, bewys hy eer”
Ons moet God vrees as ons sy vriende en gaste wil wees. Spreuke 1:7 sê: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis.” Wat is “die vrees van die HERE”? Dit is eerbiedige ontsag vir God en ’n heilsame vrees om hom te mishaag. Dit lei tot ware kennis, lewensreddende dissipline en hemelse wysheid wat ’n onfeilbare gids is.
Diegene wat Jehovah vrees, hang sy regverdige standaarde aan, selfs al lei dit tot bespotting. Baie spot byvoorbeeld wanneer die wat God vrees vlytig werk, eerlik by die werk is, of probeer om ander geestelik te help. Maar hoe beskou ’n godvrugtige individu sulke regskape persone? ‘Hy bewys eer aan die wat Jehovah vrees’, het groot agting vir hulle, selfs al moet hy saam met hulle smaad verduur. Het jy sulke respek vir die wat God vrees? Die psalmis meld nog ’n vereiste vir goddelike guns deur by te voeg:
“Hy het gesweer met betrekking tot wat sleg is vir homself, en tog verander hy dit nie”
Die beginsel hier is dat ons ons beloftes moet nakom, soos God syne nakom (1 Konings 8:56; 2 Korinthiërs 1:20). Selfs as ons later vind dat dit moeilik is om te doen wat ons belowe het, moet ons nie van gedagte verander en ons belofte breek nie. Hier sê die teks van die Griekse Septuaginta, die Siriese Peshitta, en die Latynse Vulgata “gesweer aan sy naaste”. As ons sweer of onder eed verklaar om iets te doen, moet ons dit nakom (Prediker 5:4). As ons verneem dat iets wat ons belowe het onskriftuurlik is, moet ons dit natuurlik nie doen nie.
Josua het nie ’n verbond met die Gibeoniete verbreek nie, selfs al het hy later verneem dat hulle hom bedrieg het sodat hy dit sou sluit (Josua 9:16-19). Ons moet dus mans, vroue en jongmense wees wat ons woord hou. Laat ons nooit beloftes aan ander maak en hulle dan in die steek laat wanneer aantrekliker geleenthede hulle voordoen nie. Jesus het gesê: “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’” (Mattheüs 5:37, NAV). Diegene wat aan Jehovah toegewy is, moet veral vasbeslote wees om hulle belofte gestand te doen om hom vir ewig te dien as sy Getuies. Ons moet nie alleen ons beloftes hou nie, maar ook bedagsaam wees in finansiële aangeleenthede, soos Dawid in die 15de Psalm, vers 5, toon.
“Sy geld het hy nie op rente gegee nie”
Geld wat vir sakedoeleindes uitgeleen word, kan tereg met rente terugbetaal word. Maar hier het Dawid “geld” bedoel wat aan die behoeftiges “gegee” word. Die Mosaïese Wet het gespesifiseer: “As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ’n skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie” (Exodus 22:25; Levitikus 25:35, 36). Toe Nehemia gevind het dat die armes as slagoffers van woekering gely het, het hy sulke uitbuiting stopgesit.—Nehemia 5:1-13.
Vir “rente” gebruik Dawid ’n Hebreeuse woord wat afkomstig is van ’n ander een wat beteken “om te byt”. Dit dui daarop dat gulsige woekeraars die armes en die bietjie wat hulle gehad het, verswelg het. Dit is beslis baie beter om die behoeftiges te help sonder om iets terug te verwag. Jesus het so ’n punt gestel deur te sê: “Wanneer jy ’n môre- of middagete gee, . . . nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges” (Lukas 14:12-14). ’n Persoon wat God se vriend en gas wil wees, sal nooit sy naaste se armoede uitbuit nie en sal aan die psalmis se volgende woorde gehoor gee:
“En omkoopgeld teen die onskuldige het hy nie aangeneem nie”
Omkopery het ’n verderflike invloed. Die Israeliete is beveel: “Jy mag . . . geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het” (Deuteronomium 16:19). Dit is veral sleg om ’n omkoopgeskenk te aanvaar om ’n “onskuldige” te verongelyk, miskien deur getuienis in die hof te verdraai. Hoe veragtelik was Judas Iskariot toe hy omkoopgeld aanvaar het om die onskuldige Jesus te verraai!—Mattheüs 26:14-16.
Ons beskou onsself dalk as onberispelik in hierdie verband. Maar was ons al ooit in die versoeking om ons uit ’n lastige situasie los te koop? Die profeet Samuel het nooit “omkoopgeld” aangeneem nie (1 Samuel 12:3, 4). Ons almal moet só optree as ons God se vriende en gaste wil wees.
“Wie hierdie dinge doen, sal nimmer wankel nie”
Na sy tienvoudige beskrywing van ’n regskape persoon sluit die 15de Psalm met die voorgaande woorde af. Dit kan ons heel moontlik ons godsdiens laat ontleed. As dit die ware geloof is, moet dit ons leer om (1) onberispelik te wandel en regverdigheid te beoefen, (2) die waarheid te spreek, selfs in ons hart, (3) nie ander te laster nie en (4) niks slegs te doen nie. Godsdiens wat vir God aanvaarbaar is, sal (5) ons verhinder om smaad teen regskape kennisse op te neem en sal (6) ons omgang met veragtelike mense laat vermy. Die ware geloof sal ons beweeg om (7) diegene wat Jehovah vrees te eer, (8) te doen wat ons belowe het as dit reg is, (9) aan die behoeftiges te gee sonder om rente te vra en (10) nooit omkoopgeld teen ’n onskuldige mens aan te neem nie.
Dawid sê nie dat enigeen wat hierdie dinge lees, hoor, spreek of selfs glo ‘nimmer sal wankel nie’. Dit sal slegs geld vir die individu wat “hierdie dinge doen”. Geloof sonder werke om dit te steun, is dood en lei nie tot goddelike goedkeuring nie (Jakobus 2:26). Daders van die goeie dinge wat in die 15de Psalm gemeld word, sal nie wankel nie, want Jehovah sal hulle beskerm en ondersteun.—Psalm 55:23.
Daar is natuurlik meer by ware aanbidding betrokke as die tien punte wat in die 15de Psalm gemeld word. Jesus se volgelinge het later ander dinge geleer oor hoe God “met gees en waarheid” aanbid moet word (Johannes 4:23, 24). Jy kan ook, want daar bestaan vandag mense wat hierdie dinge doen. Gereelde omgang met hierdie Getuies van Jehovah en ’n studie van die Bybel sal jou die hoop gee om in ’n aardse paradys te lewe waar jy vir ewig God se gas en vriend kan wees.